Behou KOERS in tye van onrus en vyandigheid.

Ons leef in ’n tyd waar dit voel asof die wêreld se kompas in die rondte tol, sonder rigting. Hoe behou ons koers wanneer alles rondom ons onstuimig raak?

Behou KOERS in tye van onrus en vyandigheid.
Die SEWE geeste van God

Ons leef in ’n tyd waar dit voel asof die wêreld se kompas in die rondte tol, sonder rigting. Terwyl nog ’n oorlog in Iran woed, vuurpyle en hommeltuie die Midde-Ooste bedreig, vlugte gestaak word, en onsekerheid oor brandstofpryse die ekonomie laat bewe, word die gewone mens oorval met ’n gevoel van spanning, vrees en magteloosheid. Elke dag bring nuwe nuus, nuwe gerugte, nuwe ontledings — en tog minder sekerheid oor wat werklik waar is. Aanlyn is daar soveel teenstrydige retoriek, soveel opinies, soveel propaganda, dat ’n mens later nie meer weet wie en wat om te glo nie.

Maar as hierdie gebeure net daar ver was, sou dit nog draaglik gewees het. Ons het ook ons eie plaaslike onrus. Politieke partye met teenstrydige agendas, beskuldigings oor en weer, ’n voortdurende stryd om mag en beheer. Leiers wat mekaar wantrou. Gemeenskappe wat verdeeld raak. Besluite wat onsekerheid skep oor die toekoms. En in die middel van dit alles staan gewone mense wat net wil weet: Waarheen is ons op pad? Wie hou nog koers?

En asof dit nie genoeg is nie, hoor ’n mens in die kerk harde stemme wat die eindtye aankondig. Elke konflik word as ’n geestelike teken gesien. Elke ramp as ’n profesie. Elke krisis as die begin van die einde. En vir baie gelowiges bring dit nie vrede nie, maar nog meer vrees. Nog meer onsekerheid. Nog meer verwarring.

Dit is juis in sulke tye dat die grootste gevaar nie die oorlog daar buite is nie, maar die verlies van rigting hier binne in my eie hart.  Nie die geraas van die wêreld nie, maar die verwarring van die hart. Nie die storm rondom ons nie, maar die kompas wat ek verloor.

Die vraag is: Hoe behou ons koers wanneer alles rondom ons onstuimig raak?

Want deur die hele Bybel sien ons dieselfde patroon:

  • Nasies kom en gaan.
  • Ryke staan op en val.
  • Oorloë kom en oorloë gaan.

Maar die mens wat sy hart op God rig, verloor nooit sy rigting nie.

Hoe hou ons KOERS in tye van onrus en vyandigheid.

Hierdie pragtige en bekende teksvers hou vir ons 'n paar sleutels in. Want hierdie skrifgedeelte spreek nie net van die Messias nie, maar ook van hoe die wat IN Hom en DEUR Hom lewe ook dieselfde Heilige Gees in ons ontvang het om deur al hierdie onrus innerlik koers te hou.

en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here.  Jesaja 11:2 

“Die hand van die Here sal op hom wees” — wat beteken dit?

 Wanneer die Bybel sê “die hand van die Here was op hom”, beteken dit nie ’n fisiese hand nie, maar God se krag, leiding, gesag en teenwoordigheid wat op ’n persoon rus om hom toe te rus vir ’n spesifieke roeping. Dit dui op ’n toestand waar iemand nie net uit sy of haar eie vermoë optree nie, maar onder die invloed, beskerming en gesag van God self staan.

In die Ou Testament word hierdie uitdrukking gebruik wanneer God iemand uitkies, versterk, beskerm, lei of bemagtig vir ’n taak.

Byvoorbeeld, in Esra 7:6 lees ons dat Esra sukses gehad het omdat

“die hand van die Here sy God oor hom was.”

Dit beteken God het vir hom guns gegee, deure oopgemaak en hom die vermoë gegee om sy roeping te vervul.

In 1 Konings 18:46 staan daar:

“Die hand van die Here het oor Elia gekom.”

Hier beteken dit dat God hom bonatuurlike krag gegee het om te doen wat hy nie uit eie vermoë kon doen nie.

In Esegiël 1:3 lees ons:

“Die hand van die Here het daar op hom gekom.”

Dit dui op ’n profetiese aanraking — God neem beheer oor die profeet se lewe om sy woord te spreek.

In Lukas 1:66 word van Johannes die Doper gesê:

“Die hand van die Here was met hom.”

Dit beteken dat sy lewe onder God se spesiale leiding en doel gestaan het van kleins af.

Hierdie uitdrukking sluit dus verskeie dinge in:

  • God se teenwoordigheid is by die persoon
  • God se krag werk deur die persoon
  • God se leiding bepaal die rigting
  • God se guns maak die pad oop
  • God se gesag rus op die persoon
  • God se roeping word bevestig

Dit beteken:

Ons leef nie vir onsself nie, en ons word nie gedryf deur hierdie wêreld nie, en ons word nie beheer deur vrees nie, maar deur die Heilige Gees.

Wanneer die hand van die Here op ’n mens is, leef hy onder God se beheer, in God se krag, en volgens God se plan. 

WYSHEID 

Die Hebreeuse woord חָכְמָה (ḥokmah) beteken wysheid, vaardigheid, insig, ervaring en skerpsinnigheid. Dit is een van die belangrikste begrippe in die wysheidsliteratuur van die Ou Testament, veral in Spreuke, Prediker en Job. In hierdie boeke word wysheid nie net as kennis verstaan nie, maar as die vermoë om reg te leef volgens God se orde.

In Spreuke 8 bereik die begrip wysheid sy hoogtepunt, waar wysheid as ’n persoon voorgestel word. Wysheid is deur God geskep en is deel van die skeppingsorde self. God alleen weet waar wysheid vandaan kom (Job 28), en vir die mens begin ware wysheid by die vrees van die Here (Job 28:28; Spr. 1:7). God is die bron, Skepper en Gewer van wysheid, en Hy het deur wysheid die wêreld gemaak (Ps. 104:24; Jer. 10:12).

Wysheid word ook gesien in praktiese vaardigheid, soos by vakmanne wat die tabernakel gebou het (Eks. 31), in goeie oordeel, soos by ’n wyse vrou of ’n wyse koning, en in die vermoë om reg te regeer. Wysheid gaan saam met ander deugde soos verstandigheid, kennis en onderskeiding (Spr. 8:12).

Nie net Israel nie, maar ook ander volke soos die Babiloniërs, Egiptenare en Edomiete kon ’n vorm van wysheid hê, omdat alle mense na God se beeld geskep is. Tog kan menslike wysheid gevaarlik word as dit gebruik word vir trots en selfverheffing.

Ware wysheid lei tot eerbied vir God, heiligheid en gehoorsaamheid aan sy wil. Die psalmis bid vir ’n wyse hart (Ps. 90:12), en God gee wysheid deur sy Gees. In die Nuwe Testament word hierdie idee vervul in Christus, in wie al die skatte van wysheid opgesluit is (Kol. 1:15–16; 2:3).

In Spreuke word wysheid as ’n vrou uitgebeeld wat mense roep om na haar te luister. Wie haar volg, ontvang lewe en seën, maar wie wysheid verwerp, kies uiteindelik die dood (Spr. 8).

INSIG

Die Hebreeuse woord בִּינָה (binah) beteken begrip, insig, onderskeidingsvermoë en die vermoë om reg op te tree. Hierdie woord kom ook veral voor in die wysheidsliteratuur, die Psalms, die profete en Kronieke, en het byna altyd ’n sterk morele en geestelike betekenis. In die Bybel is begrip nie net om iets te weet nie, maar om reg te kan onderskei tussen goed en kwaad en dan ook reg te handel.

Volgens Job 28:28 is ware begrip om van die kwaad af weg te draai, en dit vereis dat ’n mens eers kan onderskei wat verkeerd is. ’n Gebrek aan hierdie soort begrip is nie net ’n swakheid nie, maar ’n morele fout wat tot sonde lei en selfs maak dat God Hom van mense onttrek (Jes. 27:11). Die goeie nuus is dat begrip verkry kan word (Spr. 4:5,7) en selfs kan groei by dié wat dit ernstig soek (Jes. 29:24).

Begrip het ook ’n verstandelike kant, want dit help ons om woorde, kennis en waarheid te verstaan (Spr. 1:2). Die hoogste vorm van begrip is egter die kennis van die Heilige, dit wil sê om God te ken en Hom reg te vrees (Spr. 9:10). Daarom moet begrip ’n kenmerk wees van God se volk. Die Skrif sê selfs dat God die skepping met begrip gemaak het (Ps. 136:5).

God het aan mense die vermoë gegee om te kan verstaan, maar ons verstand is nie volmaak nie. Daarom moet ons nie net op ons eie insig staatmaak nie, maar God se leiding soek (Spr. 3:5). Tog moet ons verstand gebruik word om reg te kan onderskei, byvoorbeeld oor geld, begeertes en die dinge van die wêreld (Spr. 23:4).

Hierdie begrip stel ons ook in staat om tale, geskrifte, drome en visioene te verstaan (Jes. 33:19; Dan. 1:20). Dit is die vermoë wat vir ons betekenis gee aan wat ons sien en hoor. In Spreuke word begrip saam met wysheid as ’n persoon voorgestel wat mense roep om na haar te luister (Spr. 2:3; 8:14).

RAAD

Die Hebreeuse woord עֵצָה (‘etsah) beteken raad, plan, besluit of strategie. Dit kan verwys na goeie en wyse raad, maar ook na ’n plan wat verkeerd of selfs boos kan wees, soos ’n komplot of sameswering (Neh. 4:15; Spr. 21:30). In sommige gevalle dui dit op ’n besluit of oordeel wat geneem moet word, veral in moeilike situasies (Rig. 20:7; 2 Sam. 16:20; Esra 10:3).

In die Bybel word raad dikwels verbind met wysheid en begrip, en goeie raad kom van mense wat as wys beskou word, soos die wyses van Israel of selfs die raadgewers van ander nasies (Job 12:13; Spr. 8:14; Jes. 47:13). Konings het dikwels raad gesoek voordat hulle besluite geneem het, maar die Skrif wys dat nie alle raad goed is nie, en dat ’n mens onderskeiding nodig het om die regte raad te kies (2 Sam. 17; 1 Kon. 12). Baie rampe het gekom omdat leiers na verkeerde raad geluister het.

Uiteindelik leer die Bybel dat die hoogste en betroubaarste raad by God self is. Menslike planne kan verander, maar God se raad staan vas (Spr. 19:21). Daarom word raad ook as ’n eienskap van God en van die beloofde Messias beskryf. In Jesaja 11:2 word gesê dat die Gees wat op die Messias rus, die Gees van raad is — die vermoë om die regte plan, die regte besluit en die regte rigting te gee.

Ware raad is dus nie net goeie advies nie, maar leiding wat in lyn is met God se wil.

KRAG

Die Hebreeuse woord גְּבוּרָה (geburah) beteken krag, mag, sterkte of vermoë. Dit word in die Bybel gebruik om veral God se magtige dade te beskryf — die krag waarmee Hy red, beskerm en regeer. Die Skrif praat van die sterk regterhand van die Here wat sy gesalfde verlos (Ps. 20:6), en van sy groot mag wat in die skepping en in die geskiedenis sigbaar is (Deut. 3:24; 1 Kron. 29:11–12; Ps. 65:7; 66:7).

Die woord kan ook gebruik word vir die krag van mense, diere of nasies. Dit kan verwys na fisiese sterkte, dapperheid in oorlog, of die vermoë om te regeer en te oorwin (Rig. 8:21; Spr. 8:14; Jes. 3:25). Selfs die krag van ’n leër, ’n militêre plan, of die mag van die son kan met hierdie woord beskryf word (2 Kon. 18:20; Rig. 5:31). Dit wys dat geburah nie net brute krag beteken nie, maar enige vorm van vermoë wat iets laat gebeur.

Wanneer dit van God gebruik word, beteken dit dat Hy die bron van alle ware krag is. Wanneer dit van mense gebruik word, wys die Bybel dat menslike krag beperk is en maklik verkeerd gebruik kan word. Tog is krag ook ’n gawe van God wat gebruik moet word om reg te doen, te beskerm en te regeer volgens sy wil.

Daarom is dit betekenisvol dat in Jesaja 11:2 die Messias beskryf word as een op wie die Gees van die Here rus — die Gees van wysheid, raad en krag. Dit beteken dat die ware krag nie net fisies is nie, maar krag wat deur God gegee word om reg te lei, reg te oordeel en reg te handel.

KENNIS

Die Hebreeuse woord דַּעַת (daʿat) beteken kennis, wete, insig, leer, onderskeiding en begrip. In die Bybel, veral in Spreuke, is dit een van die belangrikste woorde wat saam met wysheid en verstand gebruik word. Die basiese betekenis is om te ken, maar dit gaan nie net oor inligting nie — dit sluit ook ervaring, verhouding en geestelike insig in.

In Spreuke 24:3–4 word wysheid, verstand en kennis saam gebruik:

deur wysheid word ’n huis gebou, deur verstand word dit gevestig, en deur kennis word die kamers gevul. Dit wys dat kennis die vermoë is om die lewe prakties te vul met wat reg en goed is.

Kennis is ook ’n gawe van God. Hy het vir Besaleël kennis, wysheid en verstand gegee om die tabernakel te bou (Eks. 31:3). Wanneer mense egter nie die regte kennis van God het nie, lei dit tot sonde en ondergang (Jes. 5:13; Hos. 4:6). God hou mense verantwoordelik om Hom te ken, want ware kennis begin by die kennis van die Here (Spr. 9:10).

Die woord kan ook beteken om te ken deur ervaring of ontmoeting. Balaam het kennis van God ontvang deur ’n visioen (Num. 24:16), en in Jesaja 53:11 word gesê dat deur die kennis van die lydende Dienaar baie mense geregverdig word. Ware kennis van God bring dus nie net verstandelike insig nie, maar verander die lewe.

Kennis kan ook onderskeidingsvermoë beteken. God gee insig aan dié wat Hom vertrou (Ps. 119:66), maar woorde sonder kennis is dwaasheid (Job 34:35). God alleen het volmaakte kennis — Hy ken alles, selfs die diepste gedagtes van die mens (Job 21:22; Ps. 139:6).

Nie alle kennis is goed nie; daar is ook nuttelose kennis (Job 15:2). Maar ware kennis beskerm ’n mens, lei tot wysheid, en help om reg te leef (Pred. 7:12). Daarom is kennis ’n gawe van God wat die lewe kan bewaar, en in Jesaja 11:2word gesê dat die Messias die Gees van die Here sal hê — die Gees van wysheid, verstand en kennis in volheid.

EERBIED

23Die Here sê: “Mense met insig moenie spog met hulle kennis nie. Sterk mense moenie grootpraat oor hulle krag nie. Ryk mense moenie roem in hulle rykdom nie. 24Laat hulle wat wil spog, dit doen omdat hulle My ken, en begryp dat Ek die Here is wat reg en regverdig is, wie se liefde onfeilbaar is, want dit is die dinge wat My bly maak. Ek, die Here, het dit gesê!" Jer 9:23-24

Ons jaag voortdurend na woorde om die lewe te beskryf, maar die diepste ervarings van die mens kan nie volledig in woorde vasgevang word nie. Die grootste werklikhede — lewe, bestaan, God, misterie, verwondering — lê buite die grense van taal. Wanneer ons net wil leef volgens wat ons kan verklaar en definieer, verloor ons die diepte van die lewe, soos iemand wat net op die stof trap maar nooit die grond omspit nie.

In elke mens is daar ’n aangebore gevoel van verwondering en eerbied. Wanneer ons voor die grootsheid van die skepping staan — die sterre, die see, die sonsopkoms, die lewe self — word ons stil. In sulke oomblikke weet ons dat nie alles verklaar kan word nie. Ware eerbied wil nie praat nie; dit wil stil staan, luister, en besef dat ons deel is van ’n groter misterie.

Ons kennis laat ons maklik dink dat ons die wêreld verstaan, maar hoe meer ons weet, hoe meer besef ons hoe min ons werklik begryp. Wetenskap, filosofie en taal kan baie beskryf, maar daar bly altyd iets wat hulle nie kan bereik nie. Musiek, poësie en geloof raak juis daardie dimensie wat rede alleen nie kan verklaar nie.

Geloof begin nie net by gevoelens van verwondering nie, maar by die besef dat die misterie van die lewe iets van ons vra. Dit is asof die bestaan self ’n vraag aan ons stel: Wie is jy? Waarvoor leef jy? Aan wie behoort jy? Die wêreld bestaan nie net uit dinge nie, maar uit roeping en verantwoordelikheid.

Ware verwondering maak ons nederig. Dit herinner ons dat ons nie die middelpunt van alles is nie, maar dat ons lewe voor God staan. Wanneer ons eerbied verloor, raak ons trots en selfversekerd, en dan sien ons nie meer die lig nie. Maar wanneer ons weer leer om te verwonder, begin die pad na geloof.

Geloof kom nie vinnig of oppervlakkig nie. Dit groei uit ’n lewe wat leer om die misterie raak te sien, om stil te word, en om te erken dat die grootste waarhede nie net verstaan moet word nie, maar geleef moet word.

Ware wysheid is nie om alles te kan verklaar nie, maar om alles te sien vanuit God se perspektief — met eerbied, met nederigheid, en met die besef dat die doel van die lewe nie net is om te weet nie, maar om te antwoord op die roepstem van God.

Die Hebreeuse woord יִרְאָה (yir’ah) beteken vrees, maar in die Bybel verwys dit meestal nie na bang wees nie, maar na eerbied, ontsag en diepe respek vir God. Dit is ’n positiewe eienskap en word gesien as die begin van ’n regte verhouding met God.

Hierdie vrees erken dat God goed is en dat sy bedoelings reg is (Eks. 20:20). Daarom is die vrees van die Here nie iets wat ’n mens wegdryf van God nie, maar iets wat jou nader bring. In Jesaja 11:2–3 word selfs van die Messias gesê dat Hy vreugde sal hê in die vrees van die Here. Dit wys dat hierdie vrees nie swakheid is nie, maar ’n heilige ingesteldheid van die hart.

Die vrees van die Here kom deur die Woord van God (Ps. 119:38; Spr. 2:5), en dit maak ’n mens oop vir wysheid en kennis (Spr. 1:7; 9:10). In baie tekste word die vrees van die Here amper gelykgestel aan wysheid self (Job 28:28; Spr. 15:33), omdat ’n mens eers reg kan dink wanneer jy God reg eer.

Hierdie vrees het ook praktiese gevolge in die lewe.

  • Dit keer mense om te sondig (Gen. 20:11; Neh. 5:9).
  • Dit gee vertroue en innerlike sekerheid (Spr. 14:26).
  • Dit help leiers om regverdig te regeer (2 Sam. 23:3; 2 Kron. 19:9).
  • Dit bring rus en vrede, selfs in die nag (Spr. 19:23).
  • Saam met nederigheid lei dit tot lewe, eer en seën (Spr. 22:4).

Die Bybel waarsku ook dat hierdie vrees verlore kan gaan wanneer mense moed verloor, bitter word, of jaloers raak op sondaars wat lyk asof hulle voorspoedig is (Job 6:14; Spr. 23:17).

Hoewel die woord soms ook gewone vrees kan beteken, soos vrees vir gevaar of vyande, is die belangrikste betekenis in die Skrif:

Die vrees van die Here is die innerlike houding van iemand wat weet God is groot, God is heilig, en my lewe moet onder sy gesag bly.

Daarom is dit betekenisvol dat in Jesaja 11 die laaste eienskap van die Gees wat op die Messias rus, die vrees van die Here is. Wysheid, verstand, raad, krag en kennis is nie genoeg nie — alles moet eindig in eerbied vir God.

Want waar die vrees van die Here verdwyn,

verloor mense koers.

Maar waar die vrees van die Here bly,

bly die rigting reg, selfs in tye van onrus.