BRANDSTOF VIR GELOOF

Geloof is 'n kosbare juweel, kosbaarder as goud... Daarom moet jy dit oppas, beskerm, en verdedig teen die leuens van satan. Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud. 1 Pet 1:7

BRANDSTOF VIR GELOOF

Hoe Voed en Beskerm Jy Jou Geloof?

Dr. Jan Oosthuizen  |  Harvester Church Cederberg

 

SLEUTELTEKS

Hebreërs 12:2  ... terwyl ons die oog gevestig hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof...

Judas 1:20  Maar julle, geliefdes, moet julself opbou in jul allerheiligste geloof, en in die Heilige Gees bid.

Galasiërs 5:6b  ... maar geloof wat deur die liefde werk. 

I.  Die Werklikheid van Geloof

Elke mens leef vanuit 'n geloofsoortuiging stelsel. Mens dit 'n wêreldbeskouing, 'n lewensfilosofie, jy is 'n produk van wat jy glo. Nie 'n produk van jou omstandighede nie. Jou omstandighede is die produk van jou geloof.

Die wêreld dink andersom. Die wêreld sê: "Ek sal glo as ek sien." Die Skrif antwoord: "Jy sal sien as jy glo." Geloof bepaal jou werklikheid — nie andersom nie.

Romeine 12:3  ... soos God aan elkeen die maat van die geloof toebedeel het.
1 Johannes 5:4  ... en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.

Kyk na die wêreld om jou. Die huidige oorloë wat woed, die politieke verdeeldheid, die kloof tussen arm en ryk — dit is almal 'n botsing van geloofsoortuigings. Elkeen glo hulle is reg, en soek die wêreld se empatie en ondersteuning.  Dit is nie net 'n stryd van belange nie, maar 'n stryd van geloofsinhoud. Mense veg nie net vir grond nie — hulle veg vir die waarheid soos hulle dit glo.

En tog — die meeste van ons het nie tyd om oor geloof na te dink nie. Ons is in oorlewingsmodus: kinders grootmaak, rekeninge betaal, gesondheid handhaaf, lysies aftik. Geloof is die laaste ding op ons dagprogram.  Ons het nie tyd om te dink oor hoe ons geloofsoortuigings tot stand gekom het nie. Ons glo maar net blindelings. Ons glo wat ons ouers ons geleer het. Ons glo wat die kerk ons leer. Ons glo wat ons vriende glo.  

Maar dit is juis geloof wat ons lewe bepaal. Sonder 'n sterk geloof val alles uitmekaar — nie omdat die omstandighede te moeilik is nie, maar omdat die fondament te swak is.  Wanneer dinge regtig deurmekaar loop, en verkeerd loop. Dan miskien begin ons dink oor wat ons glo.  In die meeste gevalle, is ons die produk van ons dade, wat weereens 'n produk is van wat ons glo.  'n Man het gedurig wanneer hy en sy vrou baklei het, gedreig dat hulle moet skei, "miskien is dit beter dat jy my los as jy dan nie tevrede met my is nie". Toe sy vrou hom die dag los, toe is hy hartseer, en gekrenk.  Maar hy het dit die heeltyd oor homself en hulle huwelik gespreek.  

Geloof is 'n kosbare juweel, kosbaarder as goud... Daarom moet jy dit oppas, beskerm, en verdedig teen die leuens van satan.

Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud. 1 Pet 1:7

II.  Die Brandstof: Hoe Voed Jy Geloof?

A.  Geloof Werk deur Liefde

Die eerste vraag is nie: "Hoe kry ek meer geloof?" Die eerste vraag is: "Waarheen is my hart gerig?" Want liefde is die rigting van die hart. En geloof trek altyd saam met liefde.

Galasiërs 5:6b  ... maar geloof wat deur die liefde werk.

Liefde het 'n tuiste. Dit floreer in 'n atmosfeer van aanbidding, dankbaarheid, toewyding, gebed, en lewende verbinding met God. Sonder hierdie atmosfeer verwelk geloof soos 'n plant sonder water. Die vraag is dus: hoe lyk die atmosfeer van jou binnelewe?

B.  Geloof het 'n Woordeskat

Toe die dissipels vir Jesus gevra het om hulle geloof te vermeerder, het Hy hulle nie na 'n kursus gestuur nie. Hy het vir hulle gesê: Praat. Spreek. Maak deklarasies!  Dit is nie 'n saak van hoeveel geloof jy het nie, dit is óf jy die geloof wat jy ontvang het kan spreek, doen en leef.

Lukas 17:5-6  En die apostels het die Here gesê: Vermeerder ons geloof. Toe sê die Here: As julle geloof het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant — en hy sou julle gehoorsaam wees.

Geloof het 'n taal. Die taal van die Woord van God. God praat Bybel. En as jy die Bybel praat, praat jy God se taal terug na Hom. Dit is nie toorkuns nie — dit is verbondstaal. Die gelowige wat bly swyg, se berge staan nog op dieselfde plek.  

C.  Geloof Werk in Saadvorm

God verstaan plante.  Alles leef en plant voort in saadvorm.  'n Saad lyk na niks — tot dit in die grond kom. Dan word dit 'n pragtige boom! 'n landbouer weet ook, as hy nie plant nie, is daar niks om te oes nie. Om te oorleef, moet hy weer plant! So werk dit ook met jou geloof, jou moet dit spreek, en dan moet jy doen wat jy glo.  Jy oorwin nie 'n slegte gedagte met 'n goeie gedagte nie, jy oorwin die verkeerde gedagte met 'n regte gelowige daad!

Johannes 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  

God het sy eie Seun as saad gesaai om 'n oes van seuns en dogters te ontvang. Dit is die wiskunde van die Koninkryk: jy moet iets insit om iets uit te kry. Sorg vir jou geloof deur dit te saai in daad, in gebed, in gee, in gehoorsaamheid.

III.  Heilige Geloof: Waarvandaan Kom Dit?

God is heilig. Alles wat van Hom afkom, is heilig. Die geloof wat Hy in jou werk, sal heilige dade voortbring — nie geloof wat jou vet en selfgenoeg maak nie, maar geloof wat jou dankbaar, vrygewig en toegewyd maak.

Hierom kan die valse welvaartevangelie nie die laaste woord hê nie. As daar 'n valse welvaartsevangelie bestaan, bewys dit juis dat daar 'n ware een is — 'n heilige, Christusgesentreerde welvaart wat uit genade vloei, nie uit manipulasie nie. Alles wat deur die vlees verkry word, moet ook deur die vlees in stand gehou word. Maar dit wat God gee, hou Hy self in stand.

Hebreërs 12:2  ... terwyl ons die oog gevestig hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof...

Jesus is nie die middel tot 'n doel nie. Hy is die Begin en die Einde van ons geloof. Besittings kom en gaan. Aardse sukses is tydelik. Maar Hy bly. En as Hy jou anker is, sal jy ok bestedig vasstaan. Daarom is ware geloof se uitkoms, 'n lewe wat meer soos Jesus lyk. Dade en vrug wat van Jesus getuig!

Ons het 'n geloof-fabriek binne ons in Christus — 'n heilige fondasie in ons geestelike mens. Maar soos enige fabriek kan dit besoedel word. En besoedelde geloof dra siek vrugte.

Judas 1:20  Maar julle, geliefdes, moet julself opbou in jul allerheiligste geloof, en in die Heilige Gees bid. 

IV.  Tien Besoedelaars van Geloof

Net soos skoon water besoedel kan word deur een drup gif, kan rein geloof verswak word. Hier is tien geloof-besoedelaars wat ons moet leer om te herken:

1.  Onvergewensgesindheid

Onvergewensgesindheid is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon word siek. Dit eet jou geloof van binne af uit. Jy kan nie geloof hê in 'n God wat vergewe het, en dan self weier om te vergewe nie. Dit is teologiese teenstrydige spanning wat die siel lamlê.

Matthéüs 6:14-15  Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.
Markus 11:25  En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge mag vergewe.

2.  Twee Stemme

Jy het twee stemme in jou — die stem van die Gees en die stem van die ou mens. Die gevaar is nie dat die tweede stem té hard praat nie. Die gevaar is dat ons nie leer om die eerste stem te herken nie. Onderskeid tussen die stemme is 'n dissipline wat wesenlik nodig is, om te bemeester. Ons vleesmens, soek sy eie selfbehoud. Die Geesmens het gestref tot sy of haar eie belange en voordeel, die fokus is nou algehele gehoorsaamheid. Dis hoekom Jesus kon sê, Sy voedsel is om die wil van die Vader te doen. (John 4:34)

Romeine 8:14  Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.
Galasiërs 5:16-17  Maar ek sê: Wandel deur die Gees, en julle sal die begeertes van die vlees nooit vervul nie. Want die vlees begeer teen die Gees en die Gees teen die vlees...

3.  Twyfel

Twyfel en geloof kan nie in dieselfde boot roei nie. Dit is nie dat vrae sleg is nie — Jesus het self gevra. Maar twyfel as 'n lewensposisie, as permanente onsekerheid oor God se karakter en Woord, is 'n kanker wat jou geloofslewe verwoes.  Ons probleem is dikwels nie die afwesigheid van geloof nie, maar die teenwoordigheid van twyfel. Twyfel is onsekerheid. Hierdie onsekerheid beroof jou van die "bold conviction nessary to rule in this life". Onseker mense bereik niks in die lewe nie.

Jakobus 1:6-7  Maar hy moet in geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedryf en voortgeslaan word. Want so 'n mens moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
Matthéüs 14:31  En dadelik het Jesus sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?

4.  Wetteloosheid en Kompromie

Die hart wat stelselmatig met sonde 'n kompromie maak, verloor geleidelik sy sensitiwiteit vir God. Dit is nie dramaties nie — dit gebeur stadig, soos botter wat smelt. Een dag kyk jy op en jy voel niks meer nie. Sonde maak jou "dom en onnosel"! Hoeveel mense het al in die moeilikheid beland met die woorde: "Ek het nie gedink nie!" Sonde verdoof jou geestelike sintuie. Jy hoor, sien en voel nie meer wat regtig om jou gebeur nie, jy is heeltemal verblind in jou eie selfgerigthied.

Matthéüs 24:12  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
1 Timótheüs 1:19  ... terwyl jy die geloof en goeie gewete hou. Hierdie gewete het sommige verwerp en ly skipbreuk ten opsigte van die geloof.

5.  Ongeloofsdade: Die Kaïn-Patroon

Kaïn het sy geoffer gebring — maar nie in geloof nie en God het nie sy poging aanvaar nie. Dit is die skokkende vraag: watter dade in my lewe openbaar my ongeloof eerder as my geloof? Wat doen ek wat wys dat ek God nie regtig vertrou nie? God het dwarsdeur Kaïn se ongeloof gesien, hy het homself vertrou! Sy fokus was sy eie eer en aansien!

Génesis 4:3-5  En ná verloop van tyd het Kaïn van die vrugte van die grond 'n offer aan die HERE gebring. En Abel het ook gebring van die eersgeborenes van sy kleinvee... En die HERE het Abel en sy offer aangesien, maar Kaïn en sy offer het Hy nie aangesien nie.
Hebreërs 11:4  Deur die geloof het Abel aan God 'n beter offer gebring as Kaïn, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was...

6.  Valse Beelde van God

Die mees gevaarlike afgod is nie 'n goue kalf nie — dit is 'n verkeerde beeld van God wat ons in ons gedagtes dra. As jy nie die Woord ken, die stem van die Gees herken, en die getuienis van die heiliges deur die eeue verstaan nie, vul jy die leemte met kulturele projeksies, halfwaarhede, en die luidste stemme om jou.

Johannes 17:3  En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.
Hosea 4:6a  My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis...

7.  Wettisisme: Godsdiens Sonder Geloof

Die Fariseërs was die mees godsdienstige mense van hulle tyd — en Jesus het gesê hulle het geen geloof nie. Wettisisme koop jou 'n plek by die tafel sonder om ooit honger te word. Dit gee jou die regte antwoorde sonder om dié Antwoord te ken.  

Hebreërs 6:1  Daarom moet ons, met weglating van die eerste beginsels van die leer van Christus, voortgaan na die volmaaktheid, sonder om weer 'n fondament te lê van bekering uit dooie werke en van geloof in God.
Lukas 18:11-12  Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie... Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek kry.

8.  Swak Rentmeesterskap

Die ontroue dienaar het sy talent begrawe — nie gesteel nie. Begrawe. En God het dit as 'n daad van boosheid bestempel.  Geloofsdade gee getuienis vir nog meer geloofsdade, dit vermenigvuldig. Hoe minder ons in geloof lewe en doen, hoe minder getuienisse het ons om te deel.  

Matthéüs 25:25-26  En ek was bang en het gaan wegsteek u talent in die grond... Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en lui dienskneg...
Lukas 16:10  Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat in die minste onregverdig is, is ook in die grote onregverdig.

9.  Die Kennis van die Wêreld Sonder Openbaring

Petrus se erkenning dat Jesus die Messias is, is nie self uitgedink nie. Dit is aan hom geopenbaar. Christenskap is nie 'n godsdiens nie — dit is 'n openbaring wat ontvang word. Jy kan die wêreld se nuus ken soos jou handpalm, en steeds 'n totale vreemdeling wees teenoor die Geestelike Bybelse Werklikheid.  Jesus se lewe was nie op godsdiens gebou nie, maar op Goddelike Openbaring.

Matthéüs 16:17  En Jesus antwoord en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.
1 Korinthiërs 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

10.  Uitstel en Traagheid

Uitstel is nie bloot 'n produktiwiteitsprobleem nie — dit is 'n teologiese probleem. Dit beteken dat jy die stem van die Gees hoor en sê: "Later." Maar gehoorsaamheid wat uitgestel word, is gehoorsaamheid wat geweier word. En die gewoontes van uitstel word, word 'n patroon van weerstand teen God.

Spreuke 3:5-6  Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.
Jakobus 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
Hebreërs 3:15  ... terwyl dit gesê word: Vandag, as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbitterde dag nie.

V.  Afsluiting: Die Geloofslewe is 'n Keuse

Geloof is nie iets wat net gebeur nie. Dit is nie 'n gevoel wat oor jou spoel en weer verdwyn nie. Dit is 'n keuse, 'n dissipline, en 'n lewenswyse. Dit groei in 'n spesifieke atmosfeer. Dit het besoedelaars wat dit stadig uitdoof. Maar dit het ook brandstof wat dit wakker hou.

Watter atmosfeer kweek jy binne-in jou? Watter stemme voer jy? Watter besoedelaars ignoreer jy? En — die mees dringende vraag van alles:

Is jou geloof gerig op Jesus — die Begin en Einde —

Hebreërs 12:2  ... terwyl ons die oog gevestig hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat ter wille van die vreugde wat voor Hom gestel was, die kruis verdra het, die skande verag het, en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.