Die Krag van die Pouse

Terwyl die wêreld op volspoed teen 'n dolle gejaag voortsnel... neem 'n pouse, wag 'n bietjie, skep asem in die Gees.

Die Krag van die Pouse

Kyk die Sondagdiens op Youtube

TERWYL die wêreld op volspoed teen 'n dolle gejaag voortsnel... neem 'n pouse, wag 'n bietjie, skep asem in die Gees.

⏸️ Wat as God vir jou sê: Stop net vir ’n oomblik?

Be still, and know that I am God (Ps 46:10)

Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
(Ps 46:11)

In ’n wêreld wat aanhou jaag — tussen WhatsApp boodskappe, taaklysies, sperdatums en agendas — is daar ’n ou, Bybelse woord wat vir ons ’n verrassende uitnodiging inhou: Selah. Dié woord, wat meer as 70 keer in die Psalms verskyn, beteken nie net “hou 'n stilte” nie. Dis ’n uitnodiging om te wag, asem te haal, om te dink, te weeg, te rus en God weer in fokus te bring!

Voor jy sommer net antwoord en praat... ⏸️... wag...  "Sit 'n wag voor jou mond"

Maar dan is daar ook die oomblikke waar ons slegte nuus ontvang... en nie weet wat om te sê nie.  Hierdie week het ek en Chantal 'n paar keer saam met mense moes bid wat slegte nuus ontvang het... kanker...terminale siekte...daar is nie meer geld reserwes nie... "ons is op ons einde!!!"

Dit is moontlik in hierdie selfde omstandighede waar Dawid ook slegte nuus ontvang het, en Psalm 39 gedig het om 'n bekende wysie van 'n liedjie.  

Die Here is my enigste hoop

Vir die koorleier: op die wysie
van “Jedutun”. ’n Dawidspsalm.

2Ek het gesê: “Ek sal bedag wees
op wat ek doen en nie sondig met wat ek sê nie.
Ek sal versigtig wees om nie te praat
in die teenwoordigheid van die goddelose nie.”
3Maar toe ek daar in stilte bly staan
en nie oor goeie dinge kon praat nie,
het my ontsteltenis groter geword.
4Dit het in my begin kook.
Terwyl ek nagedink het, het ek kwaad geword,
en toe het ek begin praat:
5Here, sê my tog wanneer is my einde.
Wat is die getal van my lewensdae?
Laat my weet hoe lank my lewe nog sal wees!
6Kyk, U het my lewe ’n blote handbreedte lank gemaak.
My lewensduur is byna niks in u oë nie.
Al is hy hoe selfversekerd, die mens is verganklik.”    Sela
7Die mens is net ’n bewegende skaduwee.
Al sy gejaagdheid is tevergeefs:
Hy versamel rykdom, maar iemand anders gebruik dit.
8Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop.
9Red
my van my oortredings.
Moenie dat ek die spot van dwase mense word nie.
10Ek swyg voor U. Ek sal nie ’n woord sê nie,
want U het dit gedoen.
11Neem tog u beproewing weg van my!
Ek is uitgeput weens die las wat U op my lê.
12As U ’n mens straf oor sy sondes,
verteer U dit wat hy begeer soos ’n mot.
Daar is geen twyfel nie:
Elke mens is verganklik.    Sela
13Luister tog na my gebed, Here!
Luister na my geroep om hulp!
Moenie my trane miskyk nie.
Want ek is soos ’n vreemdeling by U,
’n bywoner soos my voorouers.
14Spaar my lewe sodat ek weer kan glimlag
voordat ek doodgaan en nie meer bestaan nie.  (Ps 39) 

Selah in Musiek, Kuns en die Psalms:  

Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil. Sela. (Ps 4:5)

Selah is soos ’n pouse in musiek — daardie oomblik van stilte tussen note wat die volgende klank meer betekenisvol maak. Sonder pouses is musiek 'n irreterende nimmereindigende geraas.  Pouse skep ritme, en klimaks.  

Die Franse kunstenaar Edgar Degas is bekend vir sy meesterlike vermoë om stilte en spanning in beeld vas te vang. In baie van sy skilderye, veral dié van balletdansers agter die verhoog, gebruik hy wit ruimtes, afsydige komposisies en onvoltooide areas om die kyker se oog na ’n spesifieke punt te lei. Hierdie “visuele stilte” skep ’n gevoel van afwagting — asof iets op die punt is om te gebeur, maar nog nie het nie. Anders as baie kunstenaars van sy tyd wat dramatiese tonele geskilder het, was Degas se krag juis in sy stille oomblikke: die dansers wat wag, oefen, of in hul eie wêreld vasgevang is. Hierdie pouses in aksie — die oomblikke tussen bewegings — trek jou nader, laat jou langer kyk, en nooi jou om te luister met jou . Soos in goeie musiek of poësie, is dit juis die spasie tussen die note of woorde wat die betekenis dieper maak. Degas bewys dat stilte op doek nie leeg is nie, maar vol emosie en teenwoordigheid.

In die Psalm is Selah ’n ritmiese oproep om nie net verder te lees nie, maar om te reflekteer.  "die mens is verganklik." Sela - Dink net bietjie daaroor... ons gaan nie vir ewig hier op aarde leef nie! Ons almal se lewe kom tot 'n einde hier.  

  • Later sê Dawid: Want ek is soos ’n vreemdeling by U 
  • Job: “‘Ek roep U aan, maar U antwoord nie…” (Job 30:20)
  • Psalm 13: “Hoe lank nog, o Here, sal U my heeltemal vergeet?”
  • Jesaja 45:15: “Waarlik, U is ’n God wat Hom verberg…”

Wanneer God Stil Blyk te Wees: Stiltes Voor ‘n Seisoen van Herlewing

Stiltes waar dit lyk of God se stem ophou spreek, is nie vreemd aan die Bybel of die geskiedenis nie. Trouens, dit is juis in hierdie “grys seisoene”—soos Mark Sayers dit noem—dat God diep werk doen, nie op die verhoog nie, maar agter die gordyne van die geskiedenis.

Die "Grys Sone" – Kultuuranalise van Tussenin-Tyd

Mark Sayers, kulturele kommentator en predikant, beskryf die tyd waarin ons tans leef as ’n “grys sone” – ’n soort liminale ruimte tussen twee eras. Volgens hom is ons nie meer in die ou wêreld nie, maar ook nog nie volledig in die nuwe nie. Die ou strukture val uitmekaar, maar die nuwe orde het nog nie volledig gevorm nie. Dis soos om op ’n brug te staan waarvan jy nie die einde kan sien nie. Ons is letterlik tussen seisoene, en dit skep ongemak én moontlikheid.

Sayers wys daarop dat baie van die instellings, waardes en oortuigings wat die moderne samelewing gevorm het, besig is om uitmekaar te val. Die na-oorlogse Westerse konsensus van vooruitgang, rede, en liberale demokrasie word toenemend bevraagteken. Vertroue in die regering, die media – en selfs die kerk – daal drasties. Die beloftes van sekularisme om ware vryheid te bring, het dikwels eerder tot doelloosheid, isolasie en sinloosheid gelei. In kort: die wêreld wat ons gevorm het, is besig om op te los – maar niks solieds het dit nog vervang nie.

Wat die grys sone so ingewikkeld maak, is dat dit vol paradokse is. Ons bevind onsself in ’n tyd van afbreek sonder duidelike herbou. Mense beleef vryheid, maar sonder rigting; keuses, maar sonder wysheid. Kultuurnarratiewe is gefragmenteerd, identiteit is vloeibaar, en waarheid is onder aanval. Hierdie oorgang voel soos ’n kulturele wildernis – ’n soort Selah-oomblik in die geskiedenis, waar ons wag vir wat God volgende gaan doen.

Grys Seisoene gebeur voor Herlewings.

Sayers verbind ons huidige oomblik aan vorige “grys seisoene” in die geskiedenis – soos die val van Rome, die ineenstorting van Middeleeuse Christendom, of selfs die kulturele rewolusies van die 1960’s. Interessant genoeg was hierdie seisoene dikwels die voorloper van geestelike herlewings en reformasiebewegings. Hy stel dit dat grys seisoene deur God toegelaat word – nie as ’n einde nie, maar as ’n geboortekanaal. Soos ’n moeder in kraam, bring hierdie pynlike oorgang nuwe lewe voort. “Grey zones are painful but pregnant with possibility,” sê Sayers.

Krisis as "Kairos" – ’n Goue Geleentheid vir die Kerk

Sayers glo dat God juis hierdie tyd van verwarring en disoriëntasie gebruik om oppervlakkige geloof en kulturele Christenskap te ontbloot. Ons afgode van gemak, nasionalisme en selfgerigtheid word afgesny. In hul plek roep God Sy Kerk terug na afhanklikheid, gebed, en Gees-vervulde hernuwing. Hierdie is nie ’n tyd om mag terug te eis nie, maar om ons profetiese stem te herwin – nie deur kulturele oorheersing nie, maar deur getroue teenwoordigheid en ’n lewe wat gevestig is in die koninkryk van Jesus Christus.

Volgens Sayers het die Kerk nou nie ’n oppervlakkige emosionele opwekking nodig nie, maar ’n diepgaande reformasie. Hy pleit vir heropbou van die fondament – waar geestelike volwassenheid bo kulturele aanvaarding kom, waar ware dissipelskap belangriker is as aantreklike-lyk-reg-christenskap, en waar apostoliese verbeelding nodig is om Sending, Leierskap en Gemeenskap in ’n post-Christelike wêreld te herbedink. Dis ’n oproep tot die soort volhardende geloof wat gebou is vir storms – nie net vir sonnige dae nie.

Mark Sayers sien hierdie grys tyd nie as ondergang nie, maar as God se voorbereidingsgrond. Soos met Israel in ballingskap, of die dissipels tussen die Hemelvaart en Pinkster, gebruik God tye van verwarring om Sy volk gereed te maak vir ’n nuwe uitstorting van Sy Gees.

Wat lyk soos agteruitgang, is moontlik goddelike snoeiwerk. Dit is nie tyd vir paniek nie, maar vir voorbereiding: gaan dieper, buig laer, gooi die afgode uit, en vestig jouself weer in Christus.

Die Boek van Rigters

Die Eerste Seisoene van Stilte en Siklusse van Vergetelheid

Na Josua se dood het die volk Israel God begin vergeet. Rigters 2:10 sê:

“En ook die hele geslag is by hul vaders versamel; en daar het ná hulle ’n ander geslag opgestaan wat die Here nie geken het nie, en ook nie die werke wat Hy vir Israel gedoen het nie.”

Daar begin toe sewe afsonderlike siklusse van sonde, oordeel, berou en redding – elk voorafgegaan deur ’n tyd van stilte, waarin geen goddelike leiding of openbaring prominent is nie. 

Na Josua se dood het Israel ’n tydperk van verwarring binnegegaan, waar daar:

“geen koning in Israel was nie, en elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë” (Rigters 21:25).

Dit was ‘n tyd van morele verval, afgodery en verdrukking—maar ook ‘n tyd waarin God profete begin roep het. 

Van Rigters tot Samuel – Stilte tussen Strukture

Die stilte van geestelike leiding word verbreek met die roeping van Samuel, die laaste regter en die eerste profeet-priester wat konings sou salf.

Van Salomo tot die Verdeelde Koninkryk – Glorie tot Verval

Na die glorie van Dawid en Salomo breek die koninkryk in twee. In die noordelike ryk (Israel) was daar nie een regverdige koning nie, en die volk gaan uiteindelik in ballingskap, geestelik en geografies verstrooi. In Juda, die suidelike ryk, was daar tóg seisoene van herlewing—veral onder konings soos Hiskia en Josia. Josia herstel die Pasga en bring die Woord van God terug na die volk, ‘n kort herlewing voor hulle ook uiteindelik in ballingskap beland.

Die Ballingskap – Stem in die Vreemdelingskap

Gedurende die 70 jaar van ballingskap is daar geen openbare openbaring of tempeldiens nie, behalwe vir die drome en visioene wat God aan Daniël gee, en die standvastigheid van sy vriende in Babel. Alhoewel die Here “stil” is, is Hy nie afwesig nie. Hy vorm leiers in die vreemde—‘n patroon wat Hy telkens in die geskiedenis gebruik.

Die Terugkeer – ‘n Nuwe Herlewing

Na die ballingskap sien ons die gebroke volk terugkeer na Jerusalem. Esra bring die wet terug. Nehemia herstel die mure. ‘n Herlewing breek uit—nie op grond van politieke mag nie, maar deur gebed, vas, trane en gehoorsaamheid. Stilte het weer ’n platform vir herlewing geskep.

Die 400 Jaar van Stilte – ‘n God wat Homself Voorberei

Van Maleági tot Matteus hoor ons geen profeet spreek nie. Geen openbaring nie. Tog is die wêreld nie dormant nie—die paaie van Rome, die Grieks-Romeinse wêreldtaal, die sinagogestelsel, en ‘n diep geestelike honger maak die wêreld gereed vir die stem van Johannes die Doper en die koms van Jesus Christus. God berei in stilte voor vir die grootste openbaring van alle tye: "die Woord het vlees geword" - Joh. 1.

Wag in die Bo-vertrek

Die Uitstorting van die Heilige Gees

In Handelinge 1 gee Jesus aan sy dissipels ’n baie spesifieke opdrag:

“Moenie van Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die belofte van die Vader…” (Handelinge 1:4)

Vir tien dae het die dissipels—ongeveer 120 van hulle—bymekaar gebly, saam gebid en gewag. Hulle het nie geweet presies wanneer die belofte sou kom nie. Hulle het geen voorsmakie of profesie oor Pinksterdag self gehad nie. Net die belofte: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom…” (Hand. 1:8)

Geskiedenis Se Ritmes Van Stiltes

Na Christus sien ons weer so ’n patroon: Na die apostoliese tyd kom daar ’n tyd van verval en dogmatiese konflik, maar ook diep geestelike stilte—die sogenaamde "Donker Eeue". En dan kom daar weer stemme: Franciskus van Assisi, Thomas à Kempis, Jan Hus, en uiteindelik Martin Luther. Die Reformasie breek oop na eeue van stilte.

Van die Puriteine tot die Groot Herlewings onder Jonathan Edwards en George Whitefield, tot die Azusa-straat-ontwaking en die Charismatiese beweging: elke herlewing was voorafgegaan deur ’n tydperk van verval of stilte.

Stiltes is nie leeg nie. Hulle is swanger. Swanger met God se planne. Soos ’n moeder haar kind in stilte dra, so dra God sy volgende openbaring dikwels in tye waar dit voel asof niks gebeur nie.
"Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie" Jesaja 30:15

Laat ons leer om nie bang te wees vir God se stiltes nie. Hulle is nie afwesigheid nie—dis voorbereiding. Mag ons leer wag, waak en ons ore spits, want dikwels kom die grootste herlewings na die langste stiltes.

Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop. Ps 39:8

Moenie jaag nie. Laat Sy teenwoordigheid in jou insink.  

Jesus Het Ook Onttrek en Gewag op die Vader

Al was Jesus in konstante aanvraag — omring deur skares, wonderwerke, en konfrontasies — lees ons gereeld dat Hy Hom “in ’n eensame plek teruggetrek het om te bid” (Luk. 5:16).

Jesus het geweet: die ware krag kom nie uit aktiwiteit nie, maar uit verbintenis met die Vader. As Jesus stil word, hoeveel te meer moet ons nie?

Die Swanger Pouse – Wag as Geboorteproses

In openbare toesprake noem ons dit ’n “pregnant pause” — ’n pouse wat vol betekenis is. Maar in die Bybel sien ons hoe God se pouses vol belofte is.

Jesaja 40:31 sê:

“Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag…”

Wag is nie passief nie — dis aktiewe hoop. Dis gebed, afwagting, stilte. Dis 'n swanger stilte.

Deur die eeue het Christene geleer dat stilte dikwels die mees dramatiese plek van ontmoeting met God is. Die woestynvaders van die vroeë kerk het juis die woestyn opgegaan om die stem van God sonder geraas te hoor. Skrywers soos Henri Nouwen en Richard Foster het herontdek dat stilte ’n geestelike oefening is — ’n manier om die geraas van die wêreld te deaktiveer, sodat jy weer sensitief raak vir die fluistering van die Gees.

Praktiese Maniere om ’n Selah in te Bou

Jy hoef nie ’n klooster toe te gaan om ’n "Selah" te ervaar nie. Jy kan dit elke dag prakties leef.

Stop, raak stil sonder musiek of foon. "Press into the Spirit - draw within your soul, the presence of God's Spirit within."

Skryf neer wat jy hoor. “Here, ek is hier. Spreek.”

En wanneer jy kwaad word, gejaag voel, of onseker is — PAUSE. Wag. Bid. Dink. Dit is Selah in aksie.

Selfs die Hemel Hou 'n Pouse

Openbaring 8:1 gee ’n ontsagwekkende beeld:

“En toe die Lam die sewende seël oopgemaak het, was daar stilte in die hemel, omtrent ’n halfuur lank.”

Stel jou dit voor — die hemel self hou asem op. Hoekom? Want iets gewigtig is oppad. 

God se pouses is nie leeg nie. Dis vol heilige verwagting.

Jou Uitnodiging: Wag op die Here!

Jesus nooi jou nie net om vir Hom te werk nie, maar om by Hom te rus.

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28).

Rus vir jou liggaam, ja — maar meer nog, rus vir jou siel.

Selah. Stop. Luister. Ontvang.

As jy vandag niks anders doen nie, doen net dit: ⏸️PAUSE. Wag voor jy praat. Wag voor jy oordeel. Wag voor jy besluit. En in daardie stilte, sal jy iets hoor — nie jou eie gedagtes nie, maar God se stem.