Die kuns om in God se AANGESIG jouself te versterk
Siel, Waarom is jy So Neerslagtig?
Psalms 42 & 43
'n diep dors en begeerte na die Lewende God
Het jy 'n onversadigbare honger en dors na die teenwoordigheid van die Here? Voel jy soms paradoksaal naby en tog ver van die Here. Jy is in Christus, en tog voel jy op 'n gegewe oomblik verlate van Christus.
Hierdie psalm begin met 'n soeke en begeerte ('n passievolle, emosionele werkwoord) na die lewende God. Ons soek Nie godsdiens, dooie gode en tradisies nie... maar na die lewend-makende bruisende Gees van die lewende God, die oorsprong van alle lewe!
Soms staan mens te midde van godsdienstige aktiwiteite... en voel verlate, dood, moeg, uitgeprop, verwyderd, ontkoppel. Die valsheid van godsdienspleging is soos lou water, mens voel om op te gooi, en naar te raak daarvan! (Rev 3:15-16)
Stel jou voor: 'n wildsbokkie, skugter en saggeaard, staan in 'n uitgedroogde woestynvallei. Haar kop is omhoog, haar neusgate wyd oopgesper... êrens ver af is water. Sy kan dit ruik. Sy snak daarna met elke vesel van haar lyf.
Dit is die beeld waarmee die psalmdigter sy gebed open. Nie 'n held op 'n perd nie. 'n wildsbokkie wat dors na water, lewe, voorsiening, versadiging.
Soos 'n hert smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. — Psalm 42:2
Maar hier is die ironie: hierdie man is nie 'n vreemdeling vir God nie. Hy ken die tempel. Hy het al gesing saam met gemeente menigtes, feesgevier met dansende mense, in God se heiligdom die lofprysing gelei. Die psalmdigter verlang na hierdie oomblikke, maar die werkwoord in hierdie verse is in die toekomstige tyd geskryf, hy verklaar dus dat hy dit weer so sal beleef.
Maar op die oomblik is hy ver in ballingskap, verstoot, verwyderd, voortvlugtende, naby Hermon se sneeukoppe in die koue Noorde, ver van sy bekende woning en tuiste.
Dawid en Absalom: 'n Vader se Grootste Seer
Absalom, Dawid se mooiste seun (2 Sam. 14:25), het sy broer Amnon vermoor omdat hy hul suster Tamar verkrag het (2 Sam. 13:28-29) — en toe Dawid niks gedoen het nie, het die stilte tussen vader en seun 'n kloof geword wat nooit weer heel sou word nie. Absalom het drie jaar gevlug, nog twee jaar in Jerusalem gewag sonder om sy vader se gesig te sien (2 Sam. 14:28), en toe hy uiteindelik voor Dawid gestaan het, was dit nie versoening wat gevolg het nie, maar 'n smeulende vuur wat uiteindelik tot ope rebellie ontvlam het — hy het die mense se harte van Dawid gesteel (2 Sam. 15:6), homself as koning verklaar, en sy vader uit Jerusalem uit gejaag. Die tragedie bereik sy hoogtepunt in die woud van Efraim (2 Sam. 18:9) waar Absalom se hare — sy trots — hom aan 'n eikeboom vashaak, en Joab hom doodsteek ten spyte van Dawid se uitdruklike bevel om hom te spaar. Die koninglike vader, ween soos 'n man wat alles verloor het: "O my seun Absalom! My seun, my seun Absalom! Was dit nie ek wat in jou plek gesterf het nie!" (2 Sam. 18:33) — want soms is die swaarste kruis wat 'n man dra, nie sy vyand se swaard nie, maar sy eie kind se keuse.
Soms is ons in situasie wat ons nooit self verkies of bepaal het nie!
Wanneer verdriet jou enigste spyskaart is.
'My trane was my brood dag en nag,' se hy. (42:4)
Trane as kos. Verdriet as voedsel. Dit is nie bloot metafoor nie — dit is fisiologie - "The BODY keeps the score" Wanneer verlies jou oorweldig soos die een golf na die ander, verdwyn die eetlus. Die liggaam treur saam met die siel.
Soms voel mens oorweldig as gevolg van die moeilikheid en swaarheid van die lewe! Neerslagtigheid is egter 'n diep gevoel van neerbuiging en afgedrukheid, wat jou stom en stil gemaak het… vuisvoos en sonder enige energie!
Die Geheue as Reddingsboei
5Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof—’n feesvierende menigte! Ps 42:5
Dan doen die digter iets merkwaardig. Hy onthou en oordink terug aan die dae toe hy met die menigte opgegaan het na die huis van God, met gejuig en lof en fees. Hy onthou die veelvoudige verlossings van die Here. Die deurbrake, die bonatuurlike voorsiening.
Wanneer Jy Jou Eie Sielversorger Word
ERKENNING en Woord Beskrywing
Drie keer in Psalms 42 en 43 verskyn dieselfde refrein — soos 'n refrein wat keer op keer terugkeer:
Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? (AOV)
Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? (NV)
Hoekom is ek so neerslagtig? Hoekom so verontrus? (Nuwe Lewende Vertaling)
Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. (Die Boodskap)
Waarom is jy neergewerp, o my siel? en waarom is jy onrustig in my? (Kontemporêre Afrikaans Bybel)
Emosies en gevoelens is die rooi liggie op ons siel se instrumentpaneel wat begin flikker, hier is moeilikheid. Die vinnigste manier om die liggie af te sit, is om te erken dat daar fout is. Dit 'n naam te gee. (Gen 2:15) Kyk hoe die beeldende woorde wat die verskillende vertalings gebruik om te verduidelik hoe hy voel .
Deur jou emosie 'n naam te gee, druk jy dit nie dood nie, jy ignoreer dit ook nie. Jy sien dit reg raak en verduidelik presies hoe dit voel!
SELFTOESPRAAK
Die psalmdigter doen egter ook hier iets buitengewoons: hy praat met sy eie siel. Hy daag homself uit. Hy gee sy siel instruksies.
Sielkundiges noem dit selftoespraak — een van die kragtigste gereedskapstukke vir emosionele regulering. Die feit dat hy sy emosie so beeldend akkuraat 'n naam gee, is al wat die siel wil hê, erkenning, hoor my noodroep.
Maar die psalmdigter voeg iets by wat die sielkunde alleen nie kan gee nie: die anker is nie inwaarts nie, maar Godswaarts. 'Hoop op God.' Nie op jouself nie. Nie op omstandighede nie.
DRAAI UIT DIE TOKSIESE WURGGREEP VAN SATAN
Die Hebreeuse woord beteken om te buig, om neer te sink onder die gewig van hartseer — nie 'n skielike val nie, maar 'n stadige, swaar afsak, soos 'n man wat langsaam deur modder loop totdat sy knieë swig. Die Griekse vertaling sê eenvoudig: περίλυπος — "doodbedruk." Dawid praat hier nie met God nie; hy praat met homself. Hy konfronteer sy eie siel soos 'n man wat sy vriend by die kraag gryp en sê: "Wag 'n bietjie — is dit regtig so erg?"
Dit is 'n ernstige selfondersoek, want hy besef dat hy toegelaat het dat sy gedagtes op die donker kant bly sit — en dat dit in 'n mate 'n keuse was.
Hier is die skerp waarheid wat hierdie vers ons leer:
Elke situasie het twee kante — 'n donker kant én 'n ligte kant. In sekere gemoedstoestande, dikwels verbind aan 'n uitgeputte senuweestelsel, kyk ons instinktief net na wat somber en ontmoedigend is. Hierdie neiging word mettertyd half-vrywillig — ons vind 'n soort swaarmoedige bevrediging in ons ellende, asof daar deug skuil in neerslagtigheid, asof God ons meer sal guns omdat ons so diep ly.
Dit is dieselfde as 'n man wat in 'n tuin vol vrugte van honger sterwe, of wat langs 'n lopende fontein doodgaan van dors — terwyl die verligting reg voor hom lê, maar hy weier om uit te steek en te neem.
"En waarom is jy onstuimig in my?" — die Hebreeuse woord beskryf die gebrom van 'n beer, die ruising van 'n harp in die wind, die gedreun van golwe. Dit is die innerlike geraas van 'n siel wat nie stilbly nie — angstig, maalend, onstuimig.
Dawid se antwoord op homself is nie 'n preek nie — dit is 'n opdrag: Hoop op God. Kyk na die verlede en tel die genadiges. Kyk na die hede en tel die seëninge. Kyk na die toekoms met verwagting, in hierdie lewe én die volgende.
'n Vrolike, onderworpe gees in tye van lyding getuig dikwels kragtiger as jare se aktiewe diens in tye van voorspoed.
WEERSTAAN DIE VURIGE PYLE VAN VERTWYFELING
Bo dit alles - voel jy uitgelewer - jy staan bekend as God se vriend - die man na God se hart - en tog loop alles verkeerd, gebeur die een slegte ding na die ander.
4My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
11Met ’n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
Die aanklag voel soos jou bene binne jou vergruis word, jy jou bestendigheid en balans verloor. Jy is kromgetrek van die pyn.
Ons ken almal hierdie knaende vraag. Nie altyd van vyande nie — soms van onsself, in die middernag. "Waar is U Here?" Hierdie vraag staan lynreg teen alle waarheid, en realiteit van die Skepper. "Het God regtig gesê?"
Leanna Crawford - Honest (Music Video)
Can I be honest?
I just wanna know that You still got this
When all I'm holding onto is a promise
God, You promised that You'll never leave me
When I'm scared of the dark, You're right there with me
Your kindness never fails, it's always reaching after me
But right now, God, all I needIs Your breath when I can't breathe
Your eyes when I can't see
An anchor as the waves crash all around
Be my heart when I can't feel
And show me something real
Just one taste of heaven here and now
DIEPTE ROEP NA DIEPTE - DIE GELUID VAN BAIE WATERS
In vers 8 staan een van die digterlikste verse in die Bybel:
Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan. Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, ’n gebed tot die God van my lewe. Ps 42:8-9
Hy staan waarskynlik naby die bopunt van die Jordaan, waar bergstrome soos wild perde afstorm. Golf roep na golf. Brander volg brander. En dit is sy beeld vir sy eie siel — nie 'n rustige meer nie, maar 'n stormsee. En tog — hoor dit goed — hy stuur hierdie stormsee na God toe. Hy verberg dit nie. Hy verfraai dit nie. Hy spreek dit uit voor die Een wat die waters geskep het. Hy sien as te ware hoe die een brander tot die volgende brander roep.
Soms in die diepste van ons grootste donker breek die LIG deur. Dink aan 'n argument met jou lewensmaat, eers is dit onstuimig en stormagtig, chaos van verkeerde woorde en sinsnedes wat verwoes en seermaak... maar skielik as jy dit kan sien, hoor jy die diepste van jou maat se geheime worsteling, vrees, feilbaarheid, en kwesbaarheid - op daardie oomblik breek waarheid deur.
Daarom se die digter: 'Bedags sal die HERE sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees.' Die allerheiligste was ook geheel en al in donkerte gevul... totdat die Here self die lig word! Die Allerheiligste (Qodesh HaQodashim) was in absolute duisternis gehul. Geen lamp, geen venster, geen natuurlike lig. Die enigste voorwerp daarin was die Ark van die Verbond.
Die digter verstaan die krag van lofprysing! Lofprysing in die nag is nie 'n gevoel wat jy hoop gaan vanself verander nie — dit is 'n keuse wat jy uitoefen. Die gevoel van dankbaarheid en verlossing kom nie eerste nie, jy moet begin sing, en die Here loof.
Dink aan Paulus en Silas, voete in die kettingblokke vasgebind, singend in die donkerte. Die gevangenis het geskud, en die deure is geopen. Nie omdat hulle gevoel het soos sing nie. Maar omdat hulle gesing het.
"En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing, en die gevangenes het na hulle geluister. En skielik was daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het; en dadelik het al die deure oopgegaan en almal se boeie losgeraak." Handelinge 16:25-26
Psalm 43: Stuur Lig en Waarheid
Psalm 43 is so nou verwant aan Psalm 42 dat geleerdes debatteer of dit oorspronklik een gedig was. Maar kyk hoe die gebed dieper gaan:
Stuur u lig en u waarheid — laat hulle my lei; laat hulle my bring na u heilige berg en na u woninge. — Psalm 43:3
Hier vra hy nie vir maklike antwoorde nie. Hy vra vir leiding - lig om die pad te sien, waarheid om dit te vertrou. Dit is 'n volwasse gebed. Iemand wat net wil hê dat alles beter voel, bid anders. Iemand wat weet die pad gaan moontlik steeds bergop, maar wat wil weet waarheen hy gaan — die een bid vir lig en waarheid.
Die einddoel? Die altaar. Nie omstandighede wat verander nie, maar 'n teenwoordigheid wat naderkom.
Die Siel wat Homself Begelei
Die psalmdigter begin met 'n dorstige wildsbokkie. Hy eindig met 'n siel wat homself begelei — nie uit die pyn weg nie, maar deur die pyn heen, na God.
Hierdie psalm leer ons nie hoe om vinnig beter te voel nie. Dit leer ons hoe om eg te wees: trane erken, golwe beskryf, vrae vra — en dit alles voor God bring.
Dit leer ons ook dat geestelike volwassenheid nie die afwesigheid van neerslagtigheid is nie. Dit is die vermoë om jouself te vra: 'Siel, waarom so neerslagtig?' — en dan te antwoord: 'Hoop op God.'
Die psalmdigter gee nie toe aan die donkerte nie.
Hoop op God, want ek sal Hom nog loof — die verlossing van my aangesig en my God.