Die Stryd om Te Groei en Die Genade om Nie op Te Gee Nie

Baie mense assosieer standaarde met pyn, mislukking en verwerping... maar wanneer jy standaarde begin gebruik as leermeesters kan jy groei en leer hoe om te oorwin

Die Stryd om Te Groei en Die Genade om Nie op Te Gee Nie

Baie mense assosieer standaarde met pyn, mislukking en verwerping. Dink aan ’n soldaat wat sy fisiese toets druip en nie tot die elite-eenheid toegelaat word nie; ’n student wat ’n swak punt behaal; of iemand wat verwerp word in ’n verhouding – almal ervarings wat impliseer: “Jy was nie genoeg nie.” Hierdie ervarings bou ’n kultuur waar standaarde as vyande beskou word. Maar wat as standaarde nie ’n struikelblok nie, maar God se instrument vir geestelike groei is? Wat as dit nie ’n oordeel is nie, maar ’n uitnodiging na volwassenheid? Vir baie is standaarde dus ’n bron van pyn. Maar vandag wil ek vir jou wys: Standaarde is nie ’n vloek nie – dis ’n seën. Dit is God se manier om ons te vorm, op te hef, en ons voor te berei vir groter dinge.

Kinders wat met 'n eksamen 'n 50% merk gekry is bly hulle is te minste deur, in plaas van om daaraan te dink dat hulle 50% van die werk nie geken het nie! ;) Hulle behoort nou werk daarvan te maak, om die 50% inhoud wat hulle nie geken het nie te leer. Moet nie verskonings soek nie, leer 'n meer effektiewe studio metode aan.

Ons word nie gebore met alle vaardighede nie:

’n Baba word nie gebore met Wiskunde, Taalgeletterdheid, Geografie of selfs die regte leefwyse vermoëns nie. Alles moet aangeleer word – dis deel van die menslike reis. Dis hoekom Jesus self ook moes leer:

Lukas 2:52 En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; en Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.

Selfs Hy moes leer! En dit bring hoop – jy is nie gebroke omdat jy nog nie klaar is nie. Jy is besig om gevorm te word. Ons word nie gebore met al die vaardighede en kennis wat ons nodig het om te oorleef in die lewe nie - nie in die natuur en ook nie in die gees nie. Groei gebeur deur blootstelling aan druk, toetse en ja – deur standaarde wat uitdagend is. Hierdie leerpad vorm ons karakter, en karakter is vir God belangriker as gemak.

Moenie opgee as jy die merk mis nie – dit is deel van die reis:

Standaarde is ’n vorm van oordeel: die syfer op ’n skaal, ’n spoedkaartjie, ’n belastingaanslag, die uitslag van ’n toets, of die resultate van ’n gesondheidsondersoek – dit alles meet waar ons staan teenoor ’n bepaalde norm. Wanneer hierdie oordele kom, beleef ons dikwels ’n storm van emosies: ons raak kwaad of voel verneder, ons bejammer onsself, blameer iemand anders, of probeer dit wegspot met ’n grap. Maar selde besef ons: hierdie oordeel is nie daar om ons te vernietig nie, maar om ons te wakker skud. In plaas daarvan dat dit ons afbreek, behoort dit ons te motiveer om te verbeter – om ons te dryf na groter volwassenheid, beter gesondheid, sterker karakter en hoër vlakke van lewensvaardigheid. Oordeel is nie ons vyand nie – passiviteit is.

Ons moet nie moed verloor wanneer ons struikel nie, want dit is deel van die karaktervormingsproses. Paulus skryf in

Romeine 5:3–4 ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. 4Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting
Spreuke 24:16 Selfs al val ’n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan. Die goddelose mens sal bly lê na net een ramp.

Elke mislukking is dus nie ’n einde nie, maar ’n uitnodiging om te leer, te verbeter, en 'n vaardigheid te bemeester. Daar is min dinge vir my so inspirerend soos om bejaarde mense te sien wat steeds leer – wat ’n boek lees, inskryf vir ’n aanlyn kursus, en doelbewus iets nuuts aanleer om hulself te bemagtig. Dit getuig van ’n gees wat nog leef, wat nie opgegee het nie. Te dikwels sien ons mense wat innerlik ophou leef lank voor hul liggaam ophou funksioneer – hulle wag bloot vir die einde.

Verwelkom die leerproses:

Die Here gebruik ook ander mense – mentors, coaches, vriende – om ons te slyp en op te hef. Soos in films soos Karate KidThe Last SamuraiThe Matrix, Whiplash, Queen of Katwe waar die onervare jong held ’n wyse mentor ontmoet wat hom of haar voorberei vir oorwinning, so gebruik God ook mense in ons lewe om ons te leer hoe om oor ons uitdagings te triomfeer. In die Bybel sien ons dit in verhoudings soos Moses en Jethro, Paulus en Timoteus, Elía en Elisa, en natuurlik Jesus en Sy dissipels.

Spreuke 27:17 Yster slyp yster en so vorm vriende mekaar. 18Wie sy vyeboom versorg, eet van sy vrugte. Wie omsien na die belange van sy werkgewer, sal voordeel daaruit trek.

Jocko Willink, ’n voormalige Navy SEAL en leierskapsafrigter, vertel in sy boek Extreme Ownership van ’n tragiese voorval in Irak waar “friendly fire” plaasgevind het. Hy het nie die blaam verskuif nie, maar gesê: “It’s my fault. I own it all.” Sy bekende mantra is: “Discipline equals freedom.”

Ware dissipelskap begin met die aanvaarding van verantwoordelikheid vir jou eie groei, jou mislukkings en jou vooruitgang. Soos 2 Timoteus 1:7: “Want God het ons nie ’n gees van vrees gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” As jy bereid is om standaarde te omhels, sal jy ontdek dat dissipline nie ’n tronk is nie – dit is die pad na vryheid.

Selfs wanneer iets buite bereik voel, is dit nie noodwendig onmoontlik nie. Mission Impossible-films wys hoe die onmoontlike oorkom kan word met vaardigheid, toewyding, spanwerk en vasberadenheid. In Mattheus 19:26 sê Jesus: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” In God se koninkryk bestaan daar nie iets soos ’n finale druip nie – net ’n nuwe roeping om te volhard.

2 Timoteus 3:16–17 16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ’n regte leefstyl. 17Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen

Feitlik elke advertensie en bemarking van nuwe gewigsverlies produkte verkoop gemak, gerief, kitsoplossings en 'n maklike manier om gewig te verloor. Dit is 'n verbeeldingsvlug... die werklikheid is, dit kos harde werk, fokus, deursettingsvermoë, geduld en inspanning om gewig te verloor en weer fiks en gesond te wees.

Kyk hoe ’n kind groei: spellingstoetse, redenaars, sportoefeninge, drama-optredes. Elke keer is daar ’n maatstaf, ’n standaard, en ja – die moontlikheid van mislukking. Maar dit is juis dít wat die kind leer om te fokus, aan te pas, te verbeter. Hierdie siklus van leer–herleer–afleer–heraanleer is God se vormingsritme.

LEARN - RELEARN - UNLEARN

Ons moet ook eerlik wees: standaarde maak soms seer. Dink aan die onfiks soldaat wat probeer om by te hou – hy val agter, hy sukkel om asem te kry, hy voel soos ’n mislukking. Of die leerling wat al soveel keer gedruip het, dat hy begin glo dat hy “dom” is. Hierdie ervarings kan verpletterend wees.

Maar die gevaar is dat ons hierdie pyn dan finaliseer: “Dis net wie ek is.”Wanneer ons beperkings as permanente grense begin sien, het ons geestelik gestop om te groei.

Begin net!! "Just do it"

Dieper Bybelstudie en teologie verg dissipline en volgehoue inspanning. Wanneer ons ander sien wat al ver gevorder het in kennis en insig, kan dit intimiderend en ingewikkeld voorkom. Maar soos met enige vaardigheid, hoe meer jy jouself daaraan toewy, hoe makliker en natuurliker word dit. Dis juis hoekom Jesus, die Seun van God, tot dertigjarige ouderdom as ’n gewone timmerman geleef het — om vir ons te wys dat ware spiritualiteit nie afgesonder is van die alledaagse lewe nie. Ons kán heilig leef en soos Jesus wees, selfs as gewone mense in gewone beroepe. Die pad van geestelike groei begin nie by volmaaktheid nie, maar by volharding.

Ons is nie passiewe toeskouers in ons geloof nie:

2 Korintiërs 6:1–2 As medewerkers smeek ons julle ernstig om positief te reageer op die genade wat julle van God ontvang het. 2Want Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek jou verhoor,
en op die dag van verlossing
het Ek jou gehelp.”
Inderdaad – dit is nóú die geskikte tyd; dit is nóú die dag van verlossing.

Baie Christene sien God as die enigste aktiewe agent in hul lewens, en hul gebede klink gereeld soos opdragte aan God om te red, te voorsien, te genees. Maar Jesus self het gewys dat Sy wonderwerke altyd ’n samewerkende aksie van mense vereis het: “Neem jou bed op en wandel” (Joh. 5:8), “Gaan was jou oë in die bad van Siloam” (Joh. 9:7), “Steek jou hand uit” (Mark. 3:5), en selfs “Gee julle vir hulle iets om te eet” (Matt. 14:16). Toe Sy dissipels passief was, het Hy hulle vermaan: “Hoe lank moet Ek julle nog verdra?” (Matt. 17:17). En die uitdrukking “kleingelowiges” dui nie net op swak vertroue nie, maar op ’n gebrek aan aksie. Jakobus het dit reguit gestel: “Geloof sonder werke is dood.” (Jak. 2:17)

Die lewe is nie maklik nie. Finansiële rentmeesterskap, taalkundige akkuraatheid, die vermoë om toesprake te lewer, strategies te beplan, jou tyd doeltreffend te bestuur en jou taaklyste af te handel – dit alles vra inspanning, selfdissipline en volharding. Maar wanneer ons faal of foute maak, is ons geneig om moed op te gee. Baie mense kies dan die pad van ontvlugting, soos verslawing aan middels of tydrowende afleidings, net om die ongemak van leer en groei te probeer vermy. Uiteindelik word hulle wakker op 35-jarige ouderdom en besef: hul liggaam is volwasse, maar hul emosies en karakter het agtergebly soos dié van ’n kind. Volwassenheid kom nie outomaties met jare nie – dit kom met die bereidheid om deur die moeilike dinge van die lewe te werk, en dit as God se vormingsinstrumente te omhels.

In Vroeë Kinderontwikkeling (VKO) is daar sewe hoof fokusareas van leer wat die holistiese ontwikkeling van die kind bevorder: Welstand fokus op fisiese gesondheid, voeding, veiligheid en emosionele sekuriteit; Identiteit en Behoort help kinders om hulself, hul gesin en kultuur te verstaan en ’n positiewe selfbeeld te ontwikkel; Kommunikasie sluit taalontwikkeling, luister, praat en vroeë geletterdheid in; Verkenning van Wiskunde ontwikkel getalbegrip, patrone, vorms en probleemoplossingsvaardighede; Kreatiwiteit moedig selfuitdrukking aan deur kuns, musiek, drama en verbeeldingryke spel; Kennis en Begrip van die Wêreld help kinders om hul omgewing, natuur, tegnologie en eenvoudige wetenskaplike konsepte te verken; en Sosiale en Emosionele Ontwikkeling fokus op verhoudings, empatie, emosionele regulering en samewerking. Hierdie areas werk saam om kinders voor te berei vir skool én die lewe, en vorm die grondslag vir volhoubare leer en karakterontwikkeling.

Wanneer ons 'n LEERFASE oorslaan en mis, betaal ons later die prys in onvolwassenheid in 'n area.
(Heb. 5:12–14), 5Julle het ook vergeet van die woord van aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie. Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. 6Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem.” 7Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram. Watter kind word nie gedissiplineer nie? 8As God julle nie dissiplineer soos Hy met al sy kinders doen nie, is julle nie regtig sy eie kinders nie, maar buite-egtelik. 9Ons fisiese vaders het ons gedissiplineer, en ons het hulle daarvoor gerespekteer. Sal ons ons dan nie nog veel eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en só waarlik lewe nie? 10Eersgenoemdes het ons vir ’n kort tydjie gedissiplineer soos hulle dit goedgevind het, maar God doen dit absoluut tot ons beswil, met die doel om ons te laat deel in sy heiligheid. 11Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ’n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gebrei is, die blye oes oplewer van ’n lewe volgens die wil van God. 12Versterk daarom daardie hande wat slap geword het en die knieë wat knak, 13en laat julle voete reguit vorentoe hardloop. Dan sal die beseerde voet nie ingee nie, maar eerder gesond word. 

Die pyn van mislukking is werklik, en dit kan soms verpletterend wees. Dink aan die onfiks soldaat wat nie kan bybly saam met se peloton nie, die kind wat al herhaaldelik druip. Die gevaar is nie die mislukking self nie, maar die gevolgtrekking wat ons daaruit maak: “Ek is nie goed genoeg nie,” of erger: “Ek sal nooit wees nie.” Maar Spreuke 24:16 sê: “Die regverdige val sewe maal, maar staan weer op.” Filippense 3:13-14 bevestig dit: ons vergeet wat agter is en strek onsself uit na wat voor is, na die wenprys van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Die geloofspad is nie ’n eenmalige besluit nie, maar ’n ritme van val, opstaan, leer, en weer begin – dit is God se genade in aksie.

God gebruik standaarde om ons van afhanklikheid na volwassenheid te lei. In Galasiërs 4 beskryf Paulus ’n erfgenaam wat, al besit hy alles, tog soos ’n slaaf leef totdat hy ryp is. Net so vorm God ons deur dissipline en standaarde, totdat ons as volwasse kinders in Sy huis kan leef. Daarom kon Paulus sê: “Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind… maar toe ek ’n man geword het, het ek die kinderlike dinge afgelê.” (1 Kor. 13:11)

Volwasse geloof beteken om op te daag saam met God, en saam met Hom te werk. God werk in jou – maar jy moet ook werk. God red, ja. Maar Hy doen dit deur jou gehoorsaamheid. Jy moet opdaag. Jy moet leer. Jy moet groei. Jy moet oefen. Jy moet aksie neem.

Filippense 2:12–13 werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Met ander woorde, jou arbeid is nie teen God se genade nie – dit is juis deur Sy genade dat jy die vermoë het om te werk, te leer, te verander.

Jy sal nooit jou volle geestelike potensiaal bereik deur op ’n geestelike rusbank te sit en wag dat God alles doen nie. Jy is geroep om met Hom saam te werk, aktief te leer, foute te maak, weer op te staan, weer te probeer, en so te groei tot volwassenheid in Christus. Daar is geen vinnige pad na geestelike volwassenheid nie. Net die pad van oefening, standaarde en standvastige volharding.

Soos Jocko Willink sê:

“You don’t rise to the occasion, you fall to the level of your training.”

Laat dit dan ons gebed wees: “Here, wys my U standaarde – en leer my om dit met dade van geloof na te jaag.” Bely jou swakhede, tekortkominge en vra die Here vir die GENADE en GELOOF om 'n regdoen aksie aan te pak en te bemeester. "Here help my om te doen!"

Extreme Ownership: How U.S. Navy Seals Lead and Win: 1 : Willink, Jocko: Amazon.co.za: Books
Extreme Ownership: How U.S. Navy Seals Lead and Win: 1 : Willink, Jocko: Amazon.co.za: Books