Herontdek die waarde van die Heilige Samekoms
Herontdek die krag en werklikheid van die Heilige Geestelike Samekoms!

In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens,
staan God op om uitspraak te lewer:
“Hoe lank gaan julle nog onregverdige beslissings vel,
nog partydig wees vir die goddelose? Sela
Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind,
'n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer,
julle moet die mens in nood en die arme bevry,
hulle uit die mag van die goddelose red;
maar julle weet niks,
julle verstaan niks,
julle gaan eenvoudig in duisternis voort,
en so word die fondamente van die wêreld geskud.
Ek het wel gesê:
Julle is almal gode, almal met mag beklee.
Maar nou, julle sal elkeen sterwe soos 'n mens
en aan julle einde kom soos enige maghebber.”
Kom tog, o God! Lewer uitspraak oor die wêreld,
want al die nasies behoort aan U. (Ps 82)
Lees gerus hierdie verduidelik van Dr Michael Heiser skrywer van die Unseen Realm oor die bogenoemde Psalm: https://thedivinecouncil.com/DivineCouncilLBD.pdf
Van die skepping af was dit God se hart en doel om met die mens te vergader, om saam te wees en gemeenskap te hê. Ons sien dit reeds in die tuin van Eden, waar Adam en Eva met God gewandel en sy stem gehoor het tussen die bome in die aandwind (Genesis 3:8). Eden dien as ’n deurlopende metafoor van die plek van ontmoeting tussen God en mens. Ná die sondeval herhaal God hierdie patroon deur die tabernakel in die woestyn te gee, ’n heilige plek waar sy heerlikheid tussen sy volk woon (Eksodus 25:8–9). Later word die tempel van Salomo gebou as ’n vaste plek waar sy Naam kan woon (1 Konings 8:10–11), en na die ballingskap word die tweede tempel in Jerusalem herbou (Esra 6:15–16). Esegiel sien selfs ’n toekomstige, hemelse tempel in sy visioen, vol van God se heerlikheid (Esegiel 43:1–5). In Jesus se tyd staan Herodus se uitgebreide tempel as sentrum van aanbidding (Markus 13:1–2). Maar in Christus word hierdie ontmoeting nog dieper en meer persoonlik: ons liggame word tempels van die Heilige Gees (1 Korintiërs 6:19), die plaaslike gemeente word saam ’n geestelike huis en tempel (Efesiërs 2:21–22), en uiteindelik word die universele, ewige gemeente God se woning waar Hy onder sy mense sal woon in volheid (Openbaring 21:3).
Die vyand se eeue oue strategie is om die voorsiening wat God vir ons gee te verdraai — soos heilige, gewyde samekomste — en dit vervelig en dooie rituele te maak, sodat ons die waarde en krag van die saamwees verloor. Uiteindelik begin ons eet vanuit die vyand se leë blikke, wat nie ons gees versadig nie. Geskiedenis word altyd gemaak in ’n samekoms, ’n vergadering: by die Toring van Babel, by Sinai, by Pinkster.
Ons is sosiale wesens — ons saamwees bepaal ons toekoms en identiteit. ’n samekoms ook negatief wees: kyk na die hooliganisme by sokkerbyeenkomste of die verwoestende energie van sommige protesaksies. Soos Douglas Murray in The Madness of Crowds skryf, neem ons maklik die kollektiewe bewussyn van die groep aan, selfs as dit irrasioneel of selfvernietigend is.
Oor die jare het ek begin verstaan dat die wonderlike heerlikheid van die Here nie net iets is wat ek alleen in my binnekamer beleef nie, maar dat dit op ’n besonderse manier in ons saamwees openbaar word. Ja, daar is ’n plek vir die persoonlike stilte, die innerlike ontmoeting met God — maar die volheid van Sy heerlikheid kom dikwels juis wanneer die liggaam van Christus saamkom en elkeen getrou bring wat hy of sy van Hom ontvang het. Wanneer ek my bietjie lig saam met jou s’n en ander s’n bring, word dit ’n vuurgloed wat die duisternis verdryf.
Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik 'n bydrae om te lewer: 'n psalm, 'n onderwysing, 'n openbaring, 'n ongewone taal of klank, 'n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop. (1 Korintiërs 14:16)
Dit is in die deel van ons gawes, ons stories, ons belydenisse en ons gesamentlike aanbidding en lofprysing waar die liggaam gebou en gestig word en God se teenwoordigheid tasbaar word. Dit is hier waar die verskillende fasette van God se karakter en werk in mekaar weerspieël word — soos stukke van ’n mosaïek wat saam die prentjie volledig maak.
Ek het geleer dat dit wat ek in myself ontvang, eintlik eers ten volle sy doel bereik wanneer ek dit uitleef en uitdeel. Dit is soos manna in die woestyn: as ek dit net vir myself opgaar, bederf dit; maar as ek dit met ander deel, is daar genoeg vir almal en word almal versadig. Die heerlikheid van die Here lê nie net daarin dat ek Hom beleef nie, maar dat ek dit wat ek beleef met ander deel — en hulle dit ook met my deel — sodat Sy lig en liefde in die gemeenskap volmaak sigbaar word.
Modernisme en tegnologie het die geestelike samekoms vervang. Winkels, eetplekke, inkopiesentrums, musiekkonserte — alles met ’n dun lagie betekenis wat ons siel en liggaam vermaak, maar nie die gees voed nie. Selfs die Somerset Mall word bemark as “The Sanctuary” en spog met groot baniere: “Be Fearless; Be Strong; Be Kind; Be Fun; Be United — This Is Us.” Maar ons gees roep na meer: ’n ware heilige, goddelike konneksie oomblik. Dit is wat ’n heilige samekoms behoort te wees.
Die realiteit is ook dat, as jy nog nooit ’n sekere soort geestelike byeenkoms beleef het waar die gawes van die Gees vryelik werk en waar die Here Homself in en deur die kollektief openbaar nie, jy eenvoudig nie kan weet wat jy mis nie. Dit is soos iemand wat nog nooit regtig musiek gehoor het nie — jy weet nie wat jy nie weet nie. Jou verwagtinge bly beperk tot wat jy al ervaar het, en jy dink dit is die volle prentjie.
Wanneer jy net gewoond is aan formele, geslote of voorspelbare byeenkomste waar alles deur ’n paar mense beheer word, kan jy begin glo dat dit al is wat daar is. Jy mis die vryheid en varsheid van die Gees, die spontane openbaring van sy Woord deur verskillende lede van die liggaam, die krag van belydenis en genesing, die vreugde wanneer mense in eenheid God aanbid en Hy teenwoordig is op ’n tasbare manier. Sonder so ’n ervaring van die kollektiewe werking van die Gees, soek jy dit nie, want jy het geen kriteria om dit te erken of ’n begeerte daarvoor te hê nie.
Die gevaar is dat jy dan tevrede raak met die “leë borde” van ’n godsdiens waarin God se heerlikheid nie meer sigbaar is nie — en jy vul die honger met die beste plaasvervangers wat jy kan kry: ’n bietjie emosionele inspirasie hier, ’n goeie toespraak daar, ’n mooi liedjie iewers. Maar diep binne-in bly daar ’n honger na die ware teenwoordigheid van God in die gemeente, ’n dors wat jy eers regtig versadig wanneer jy dit geproe het.
Daarom is dit so belangrik om oop te wees, om te bid: “Here, wys vir my wat ek nog nie gesien het nie; laat my proe wat ek nog nie geproe het nie; maak my oë oop vir u volle heerlikheid in u liggaam.” Want sodra jy beleef hoe die Gees deur die liggaam van Christus werk — in eenheid, in verskeidenheid, in krag en in liefde — kan jy nooit weer tevrede wees met minder nie.
Joodse Heilige Dae en Feeste
God het sy volk Israel opgeroep om Hom op sekere tye in die jaar te ontmoet in heilige samekomste — nie net as ’n ritueel nie, maar as ’n tyd van ontmoeting, herinnering en aanbidding.
1. Sabbat Levitikus 23:3
- Elke sewende dag, weekliks.
- Herdenk: God se rus op die sewende dag van die skepping en herinner die volk aan hul afhanklikheid van sy voorsiening en verlossing.
2. Pasga (Pesach) Levitikus 23:5; Eksodus 12:1–14
- 14de dag van die eerste maand (Nisan/Aviv).
- Herdenk: die nag toe God die Israeliete uit Egipte verlos het en die doodsengel hulle huise gespasieer het.
3. Fees van Ongesuurde Brood Levitikus 23:6–8; Eksodus 12:15–20
- 15–21 Nisan (direk ná Pasga).
- Herdenk: die volk se haastige vertrek uit Egipte, sonder tyd om brood met suurdeeg te laat rys — ’n beeld van reinheid en skeiding van sonde.
4. Eerstelinge (Bikkurim) Levitikus 23:9–14
- Die dag ná die Sabbat tydens die Fees van Ongezuurde Brood.
- Herdenk: die begin van die oes en die gee van die eerste vrugte aan God as danksegging.
5. Fees van Weke / Pinkster (Shavuot) Levitikus 23:15–21; Eksodus 34:22
- 50 dae ná Eerstelinge.
- Herdenk: die einde van die koringoes en volgens Joodse tradisie ook die gee van die Wet by Sinai.
6. Fees van die Basuine (Yom Teruah / Rosh Hashanah) Levitikus 23:23–25; Numeri 29:1–6
- 1ste dag van die 7de maand (Tishrei).
- Herdenk: ’n dag van herinnering, trompetgeskal en selfondersoek, wat die begin van die heilige dae aankondig.
7. Versoendag (Yom Kippur) Levitikus 23:26–32
- 10de Tishrei.
- Herdenk: die dag van nasionale versoening vir sondes deur die hoëpriester se offer in die Allerheiligste.
8. Huttefees (Soekot / Tabernakels) Levitikus 23:33–43
- 15–22 Tishrei.
- Herdenk: God se voorsiening en beskerming van die volk tydens hulle 40 jaar in die woestyn toe hulle in tente/hutte gewoon het.
Hierdie feeste het in Jerusalem in die tempel plaasgevind en was soms verpligtend vir alle mans van Israel, dikwels saam met hulle gesinne. Die sewe spesiale dae van die jaar het op spesifieke tye in die landbousiklus geval: die eerste oes in die lente, die graanoes in die somer, en die vrugte-oes in die herfs. Hierdie feeste het die volk gekoppel aan God se voorsiening en die betekenis van hulle geskiedenis as sy volk.
Verskillende Samekomste in die Bybel
Die Bybel wys vir ons ’n verskeidenheid van samekomste, elk met ’n unieke doel en atmosfeer:
1. Sabbat-samekomste: weeklikse heiliging van tyd en rus. (Levitikus 23:3)
2. Feestyd-samekomste: jaarlikse vieringe van God se groot dade. (Levitikus 23:4–44)
3. Tempelbyeenkomste: offers, gebed en sang in die huis van God. (2 Kronieke 5:13–14)
4. Huisbyeenkomste: intieme tye van gebed, lering en gemeenskap. (Handelinge 2:46–47)
5. Openbare prediking: evangelieverkondiging op strate en heuwels. (Handelinge 17:17, Matteus 5:1–2)
6. Leiersrade: beraadslag oor belangrike geestelike rigtings. (Handelinge 15:6–29)
7. Gebeds- en vasbyeenkomste: intensiewe soeke na God se leiding. (Handelinge 13:2–3)
Hoe Gereeld?
God het sy volk geleer dat heiligheid ingebou word in die ritme van die lewe: Daaglikse samekomste: die eerste gelowiges het daagliks in die tempel en in huise saamgekom vir lering, gebed, en gemeenskap : Handelinge 2:46–47. Weeklikse Sabbatte en Jaarlikse Feeste. Die Sabbat het hulle weekliks herinner dat hulle van God afhanklik is en nie van hulle eie arbeid nie.
Nuwe Testament-Perspektief
In die Nuwe Testament sien ons dat God se teenwoordigheid voortaan deur die Gees alle byeenkomste waar gelowiges bymekaar kom heilig maak, selfs as dit in gewone huise of op strate plaasvind.
“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde.” — Matteus 18:20
Wat kan gebeur by ’n geestelike byeenkoms?
Wanneer gelowiges saamkom in gehoorsaamheid en geloof, en die Heilige Gees vrye toegang het, kan merkwaardige dinge gebeur. Hier is ’n paar maniere waarop God by sulke byeenkomste werk:
- Openbaring van sy Woord deur lering en profetiese insig. (Deuteronomy 31:12; Nehemiah 8:1–81 Korintiërs 14:26; Handelinge 2:42)
- ’n Atmosfeer van diepe aanbidding waarin mense God se teenwoordigheid ervaar. (2 Kronieke 5:13–14; Johannes 4:23)
- Belydenis van sonde en innerlike genesing in die gemeenskap van gelowiges. (Jakobus 5:16; Handelinge 19:18)
- Sending-opdragte en nuwe roepings word bevestig, soos by Paulus en Barnabas. (Handelinge 13:2–3)
- Wonderwerke, genesing en bevryding soos dikwels in Handelinge gebeur het. (Handelinge 5:12–16; Handelinge 8:6–7)
- Eenheid en versoening tussen mense en groepe wat verdeel was. (Handelinge 15:6–29; Efesiërs 2:14–16)
- Die bewussyn van God se heiligheid en ’n nuwe vrees vir Hom, soos in Efese. (Handelinge 19:17–20)
- Goddelike krag en vrymoedigheid om die evangelie met dapperheid te verkondig. (Handelinge 1:8; 4:31; Efesiërs 6:19–20)
- Soms fisiese tekens: die plek is geskud (Handelinge 4:31; Handelinge 13:52)
Dit is hierdie werklike ontmoetings met die lewende God in die gemeenskap van gelowiges — wat niks op aarde kan vervang nie. Dit is ook hoekom die vyand alles in sy vermoë doen om hierdie byeenkomste te verdraai, te vernietig of irrelevant te maak.’n Heilige samekoms is ’n goddelike uitnodiging om saam te kom en Hom te ontmoet. Dit is nie ’n blote tradisie of plig nie, maar ’n geleentheid waar hemel en aarde mekaar ontmoet. As jy nog nooit so ’n samekoms beleef het waar die Gees beweeg en die Woord lewe kry nie, begin soek daarvoor — en wees bereid om self deel te word van wat God doen. Ons gees smag na meer as wat winkelsentrums en vermaak ons kan gee. Ons het ’n dors na die lewende God, en sy teenwoordigheid is die enigste wat ons kan versadig.
Die Verskillende Dinamika van Heilige Byeenkomste
In ons tyd sien ons ’n magdom verskillende tipes byeenkomste in die kerk — van klein groepies in huise tot reuse massa byeenkomste, van teologiese opleidingsentrums tot aanlyn-‘kathedrale’. Elkeen het sy eie dinamiek, doel en waarde. Dit is belangrik dat ons dit nie teenoor mekaar opstel nie, maar die regte waarde en plek van elkeen erken — en verstaan wat God in elk kan doen.
Klein Groep Byeenkomste
Die intiemste en mees persoonlike vorm van ’n geestelike byeenkoms is die klein groep. Dit is gewoonlik ’n handjievol mense wat in ’n huis of ’n stil ruimte saamkom vir gebed, Bybelstudie en onderlinge bemoediging.
Sterk punte:
- Dit bou diep, opregte verhoudings.
- Daar is ruimte vir almal om by te dra.
- Dit skep ’n veilige plek vir eerlike gesprek en gebed.
Beperkings:
- Dit kan maklik inwaarts en geslote raak.
- Dit verg goeie leierskap om gesond te bly.
Bybelskole
Bybelskole en opleidingsentrums is gestruktureerde plekke waar gelowiges oor tyd opgebou word in Skrifkennis, teologie en bediening.
Sterk punte:
- Dit bied vaste fondasie en leerstellige waarhede
- Dit rus mense toe vir bediening en dissipelskap.
Beperkings:
- Dit kan akademies en abstrak raak.
- Minder persoonlike verhouding as in klein groepe.
Konferensies
Konferensies is groter, dikwels streek- of landswye byeenkomste met ’n spesifieke tema of doel: inspirasie, toerusting, netwerk.
Sterk punte:
- Dit bring nuwe visie en vars passie.
- Dit verbind mense oor grense heen.
Beperkings:
- Min persoonlike opvolging.
- Kan oppervlakkig wees sonder dieper geestelike fondamente.
Leierskap of Spitsberaad
Leierskapberade bring geestelike en gemeenskapsleiers bymekaar om strategies te dink, probleme op te los en saam te groei.
Sterk punte:
- Dit slyp leierskap en gee nuwe gereedskap.
- Bou netwerk en samewerking.
Beperkings:
- Sluit dikwels gewone lidmate uit.
- Kan tegnies word sonder uitvoering van ideale.
Dinkskrum
’n Dinkskrum is selfs meer gefokus: ’n klein groep leiers, akademici en praktisyns wat dieper dink oor strategiese, teologiese of kulturele kwessies.
Sterk punte:
- Kreatiewe, intense gesprek en idees.
- Kan profeties en innoverend wees.
Beperkings:
- Nie altyd prakties of toepaslik vir almal nie.
Massa byeenkomste
Hier kry ons die reuse-evangelisasiebyeenkomste in stadions of op oop velde — soos Billy Graham of Reinhard Bonnke se bedieninge.
Sterk punte:
- Massiewe bereik; baie hoor die evangelie.
- Skep ’n gevoel van eenheid en momentum.
Beperkings:
- Opvolging is uitdagend.
- Kan ’n toeskouermentaliteit kweek.
Die Digitale Katedraal
In ons tyd het aanlyn-ruimtes ’n nuwe arena geword: ‘livestream’ eredienste, Zoom-gebedsbyeenkomste, aanlyn-gemeenskappe en sosiale media gee ons die vermoë om 24/7 die heerlikheid van die Here te versprei.
Sterk punte:
- Toeganklik vir almal, oral, altyd.
- Lae toegang drempel; selfs in lande waar vervolging is.
Beperkings:
- Geen fisiese teenwoordigheid of uitvoering van die sakramente nie.
- Maklik om passief te bly.
Historiese Samekomste
Hier is ’n goed-gedinkte en histories ingeligte lys van die mees historiese en invloedryke byeenkomste van die kerk sedert die opstanding van Christus. Hierdie is nie sommer net groot skares nie — dit is ontmoetings waar die Here sy kerk gesuiwer, gevorm en gerig het, en waar wêreldgeskiedenis beïnvloed is.
1. Pinksterdag (Jerusalem, ca. 30 n.C.)
Die uitstorting van die Heilige Gees.
2. Jerusalem-raad (Jerusalem, ca. 49 n.C.
Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: dat julle nie vleis moet eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. (Hand 15:28)
3. Raad van Nicea (325 n.C.)
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sienlike en onsienlike dinge; en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; (God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader; deur wie alle dinge ontstaan het; wat ter wille van ons, die mens, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is; en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte; wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader; wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie; en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete. Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes; ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu. Amen.
4. Wesley se Aldersgate-ervaring en Holy Club (1738)
’n Klein byeenkoms waar John Wesley se hart “vreemd warm” geword het en die Metodistiese herlewing begin. Hierdie herlewing beïnvloed Engeland en Amerika en dryf wêreldsending en sosiale hervorming.
https://www.thegospelcoalition.org/themelios/article/john-wesley-and-faith-at-aldersgate/
5. Edinburgh Sendingkonferensie (1910)
Die eerste groot internasionale byeenkoms gefokus op wêreldsending.
https://en.wikipedia.org/wiki/1910_World_Missionary_Conference
6. Azusa Straat-opwekking (Los Angeles, 1906–1909)
’n Nederige gebedsbyeenkoms waar die Pinksterbeweging begin, met massiewe invloed op wêreldwye sending en herlewing.
https://en.wikipedia.org/wiki/Azusa_Street_Revival
7. Lausanne Kongres oor Wêreldevangelisasie (1974)
’n Samekoms van leiers van regoor die wêreld in Lausanne, Switserland. Die Lausanne Verbond verduidelik en herbevestig die kerk se roeping tot wêreldevangelisasie en roep die kerk terug na die hart van die sending.
https://lausanne.org
8. Dr. Andre & Nola Pelser stage HARVESTER ( 4 Julie 1991 International Ministries Milnerton Kaapstad
9. Harvester Citrusdal se stiging (18 Januarie 1996)
Die gemeente in Citrusdal, is gestig op 18 Januarie 1996 op die plaas Grey’s pass, vandag Hebron, oorkant Piekenierskloof Lodge, deur Dr. André Pelser,
10. Jan & Chantal Oosthuizen arriveer in Citrusdal (1 Julie 2000)
