Jesus se sagtheid as dié Waarheid

Hier is die harde realiteit: sonde verwoes lewens—en gesinne. Sonde het ’n rippel-effek. Jy doen dit dalk in privaatheid, maar jou gesin, familie en geliefdes word dikwels onskuldige mede-slagoffers van die gevolge.

Jesus se sagtheid as dié Waarheid
18  Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ’n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. 19  Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. 20  ’n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ’n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. 21  En op sy Naam sal die heidene hoop.  Mat 12;18-21

Hierdie gedeelte verwoord die wonderlike paradoks van Jesus as die Seun van God, die uitdruklike beeld van God (Heb 1:3) se deernisvolle sagtheid en sensitiwiteit as die Waarheid! Hy is immers die volle vleeswording van Waarheid, die Logos, die volmaakte geregtigheid, heiligheid en volmaaktheid van God.

Matteus sien Jesaja 42:1-4 vervul word voor sy oë, in hoe Jesus met mense werk. Jesus laat toe dat sy dissipels handevol koring eet, en genees 'n man met 'n verdorwe hand op die Heilige Sabbat. Die fariseers en skrifgeleerdes veroordeel Jesus se dade. Jesus se verweer is: “Sou enigeen van julle, as sy enigste skaap op die Sabbatdag in ’n sloot val, versuim om hom te gryp en uit te trek? Natuurlik nie! 12Hoeveel kosbaarder is ’n mens nie as ’n skaap nie! Daarom is dit mos niks meer as reg om op die Sabbat goed te doen nie.” (Mat 22:11)

Die fariseers het REËLS bo mense gestel. Jesus herinner hulle: “Die sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die sabbat nie. Markus 2:27

’n Geknakte riet is reeds gebuig—amper klaar gebreek. Dit staan op die rand van totale ineenstorting. Net so is ’n lamppit wat rook se vlam byna dood: die geringste beweging kan dit uitdoof. Daarom sien ons iets van die Groot Geneesheer se hart én metodiek in hierdie Skrif: Hy is fyn ingestel. Hy sien nie net die oortreding raak nie; Hy sien die moontlikheid van genesing raak. Soos ’n dokter wat alles probeer om die lewe te red, selfs al is die verwonding ernstig, so tree Jesus op. Hy werk met mense soos hulle is—stukkend, skaam, kwesbaar—en Hy begin herstel waar ander klaar opgegee het.

Ons leef in ’n era waar mense baie vinnig  ge-label word, en dan gekanselleer word oor 'n oortreding of 'n fout. ’n Skermskoot word ’n vonnis. ’n Fout word jou identiteit.

Kristin Cabot, 53, het in ’n New York Times-profiel vir die eerste keer vertel hoe dit is om ná ’n viral “kiss cam”-oomblik by ’n Coldplay-konsert met haar toe-baas, Astronomer se CEO Andy Byron, te leef—’n oomblik wat uiteindelik albei se werk gekos het. Sy sê sy was “verneder en verskrik,” veral omdat sy hoof van HR was, en beskryf hoe openbare skande ontaard het in 500–600 oproepe per dag en na raming 50–60 doodsdreigemente. Cabot hou vol dat daar vóór die konsert geen verhouding was nie en dat die eerste soen juis dié op die stadion se groot skerm was; sy erken sy het ’n reuse groot fout gemaak, sy het te veel gedrink, onvanpas opgetree. Sy beklemtoon dat 'n fout nie ’n doodsvonnis behoort te word nie—veral nie vir haar kinders se ontwil. Sy vertel hoe sy by Astronomer begin het in November 2024, met Byron oor hul egskeidings gebond het, hom na die konsert genooi het, onverwags uitgevind het haar (eks-)man ook in die gehoor sou wees, en toe—net toe die kamera op hulle val—Byron gesoen het. Ná die insident het Byron bedank, die raad ondersoek ingestel en Cabot kon haar pos behou maar het self later in Julie bedank; sy het probeer wegkruip om te probeer herstel, maar het begin vrees vir haar en haar kinders se veiligheid. https://www.rollingstone.com/music/music-news/coldplay-kiss-cam-woman-breaks-silence-1235486599/

Ons lewe in 'n sondige wêreld!

23Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom. (Rom 3:23)

Hier is die harde realiteit: sonde verwoes lewens—en gesinne. Sonde het ’n rippel-effek. Jy doen dit dalk in privaatheid, maar jou gesin, familie en geliefdes word dikwels onskuldige mede-slagoffers van die gevolge. Die vyand maak ’n mens so bewus van jou eie pyn, dat jy later skaars raaksien hoeveel pyn jy veroorsaak.

Dit skep ’n spanningslyn in die geloofsgemeenskap: Ja, ons móét mense waarsku oor die gevare en gevolge van hulle besluite, maar ons móét ook genoeg liefde hê dat, as hulle nie geluister het nie en verwond by jou opdaag, jy troos, bemoediging en gesondmaking kan aanbied.

Die kerk moet ’n werkswinkel vir genesing en herstel wees, nie ’n vertoonvenster vir perfekte mense nie.

Liewe broers en susters, wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie. 2Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet.  (Gal 6:1-2)

Ware liefde is vol deernis, maar ook vol waarheid. Jesus is vol genade én waarheid (Joh. 1:14). ’n Kerk wat net waarsku, raak ’n sirene sonder ’n hospitaal, maar ’n kerk wat net omhels, raak ’n hospitaal sonder diagnose.

Terwyl jy magteloos op die grond lê, kom iemand met instruksies en waarskuwings Dis soos iemand wat sê: “Pasop dat jy nie oor daardie draad val nie,” terwyl jy sopas oor die draad geval het en nog lê. Jy wéét jy moes nie val nie—maar nou het jy.

Mense wat verwond is, hoor selde opdragte en instruksies. Hulle moet eers—soos ’n verwonde hond—versorg en omarm word. Eers wanneer vertroue stadig terugkeer, kan die rehabilitasieproses begin. Die skande van sonde is reeds ’n enorme straf: vir ’n oomblik verloor jy jou totale geloof in jouself, jou vermoëns, en selfs die drome waarin jy gefaal het. Soos ’n voël wat in ’n strik gevang is, is jy uitgevang deur die oormag en doodsvonnis-verwoesting van sonde.

Daarom sê Paulus: “God se goedheid is bedoel om jou tot bekering te lei” (Rom. 2:4). God se goedheid is nie ’n verskoning vir sonde nie—dit is God se manier om ’n mens uit sonde te roep.

Hoekom was Jesus hard met “religieuse mense” en sag met sondaars?

Hier is ’n ongemaklike waarheid: Jesus se skerpste woorde was meestal nie vir die “party crowd” nie, maar vir die godsdienstige skynheiliges—mense wat ander belas, maar self nie wil buig nie (Matt. 23).

Let op hoe sondaars tot Hom aangetrek is:

  • “Al die tollenaars en sondaars het nader gekom om na Hom te luister.” (Luk. 15:1)
  • “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.” (Mark. 2:17)
  • “Ek veroordeel jou ook nie… gaan en sondig nie meer nie.” (Joh. 8:11)

Jesus se sagtheid is nie ’n permit om aan te hou sondig en jouself verder te vernietig nie. Dis ’n brug uit die tronk van slawerny. “Jesus welcomed sinners, but they did not remain sinners”—die punt is: Jesus ontvang mense soos hulle is, maar Hy laat hulle nie soos hulle was nie.

Moenie ’n doem-profeet wees nie—maar moenie naïef wees oor vuur nie

Wanneer mense waarskuwings hoor, dink baie (veral jongmense met ’n gevoel van onsterflikheid):

  • “Dit sal nie met my gebeur nie.”
  • “Ek kan stop wanneer ek wil.”
  • “Ek speel net.”

Maar Spreuke sny deur die selfmisleiding:

“Kan iemand vuur in sy boesem dra en sy klere nie brand nie?” (Spr. 6:27–28)

Dis die logika van sonde:

  • Jy kan nie lank met vuur speel en verwag jy gaan nie na rook ruik nie.
  • Jy kan nie met gif flirteer en verwag jou liggaam bly ongeskonde nie.
  • Jy kan nie met porn, bitterheid, dwelms, leuens, bedrog, ontrouheid, haat of ’n dubbellewe speel en dink jou siel bly “okay” nie.

Die ander kant van hierdie boodskap is die oproep vir leiers om nie sonde onder die mat in te vee nie. Ron Cantor skryf in 'n “open letter” aan Kris Vallotton dat Vallotton (en volgens hom ook die breër “celebrity-charismatiese” ekosisteem) herhaaldelik te laat, te sag en te defensief reageer wanneer daar geloofwaardige beskuldigings van geestelike leiers se seksuele misbruik aan die lig kom. Dit is hulle Bybelse plig om die kudde te beskerm. Cantor verwys na Vallotton se vroeëre openbare simpatie met Mike Bickle ondanks klagtes wat reeds bekend was, en kritiseer Vallotton se hantering van die Shawn Bolz-kwessie: Hy argumenteer dat ware barmhartigheid nie beteken om ’n beskuldigde se naam “veilig” te hou terwyl kwesbares in gevaar bly nie, maar dat Skrif-dissipline, ondersoek, openbare aanspreeklikheid en duidelike diskwalifikasie van bediening-platforms soms noodsaaklik is; anders word “bediening” bo karakter gestel. Dieselfde geld vir die skandes van priesters in die Katolieke kerk. Die probleem met Mike Winger en Ron Cantor se aanval teen Bethel Leierskap is afskryf/veroordelende toon, ons het julle ware kleure nou gesien, ons het julle ontmasker, hierdie bediening moet nou geboikot word! Dit wen followers en subscribers!

Ons moet dus soos Jesus BAIE HARDER wees met die wat BINNE die geloofsirkel is, as die daar buite. Ons benodig dat almal in die geloofsgemeenskap aan 'n klein genoeg lokale gemeente behoort, waar jy openlik verantwoordbaar gehou kan word vir jou lewenstyl en karakter. Binne hierdie gemeenskap, moet ons sonde direk aanspreek, en berispe. (1 Kor 5)

6Dis erg dat julle nog oor julle spiritualiteit kan spog terwyl julle iets soos hierdie in julle midde toelaat.
12Dis nie my taak om oor die buitestanders te oordeel nie. Maar dit is tog sekerlik julle verantwoordelikheid om te oordeel oor dié binne die gemeente wat hulle op hierdie manier skuldig maak. 13Gód sal sy oordeel vel oor hulle wat buite staan. Maar die Skrif sê: “Julle moet die slegte persoon uit julle midde verwyder.”
speaking the truth in love Eph 4:15

Die geestelike oproep is baie duidelik!! Ons moet meer Toerekeningsvatbaar en Verantwoordbaar raak aan mekaar! Ons behoort daarvoor te vra!

Bekering is nie net trane nie—dis ’n U-draai

Bekering is nie net huil by ’n altaar nie. Dis ’n U-draai—’n nuwe rigting. Dis: “Ek was oppad af… nou draai ek huis toe.”

Hier’s 7 eenvoudige, harde, hoopvolle stappe:

  1. Noem die sonde by die naam. Moenie dit net “my struggle” noem nie. Noem en bely jou sonde, foute en tekortkominge eerlik. “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word…” (Jak. 5:16)
  2. Sê dit vir iemand wat jy kan vertrou. Sonde groei in geheimhouding. Genesing groei in die lig.
  3. Sny die toevoer af. As dit vuur is, moenie dit in jou boesem dra nie (Spr. 6:27). Sny af en stap weg. Laat dit staan. Moenie die sonde suurstof gee nie!
  4. Bou ’n nuwe ritme. Wat jy herhaal, word jy.
  5. Kry ’n span. Christenskap is nie ’n solo-wedloop nie.
  6. Aanvaar Jesus se sagtheid. Jy is nie weggooi-materiaal nie—jy’s herstelbaar (Jes. 42:3). God herstel en restoreer ons beter as die oorspronklike!
  7. Doen die volgende regte ding. Nie 50 dinge nie—net die volgende gehoorsame stap.

Soms is dit nie sonde en verkeerde dade wat ons kers uitgedoof het nie... dis net die ongenaakbaarheid van die lewe. Geen genade! Ons kry swaar, die lewe is moeilik! Ons het ons beste gegee, en nog steeds nie daai kontrak gekry nie, of die toets geslaag nie! Ons lewer ons beste produk as boer, en die mark wil nie betaal nie! Soms is jy moeg geprobeer werk aan jou huwelik! Soms is jy depressief, sonder enige werklike rede. Van ons word ouer, en kry net meer alles 100% reg nie! Dis nie sonde nie, dis bloot ouderdom!!

Laat die Heilige Gees ons kom vervul met die SAGTHEID en WAARHEID van Jesus Christus, wat uiteindelik die reg tot oorwinning uitbring vir ons almal!!