Konsentrasie en Fokus jou Spesiale Gawe van God

Ons is só besig, ons aandag vasgevang op verskeie skerms… ons is gevolglik meer ANGSTIG, ALLEEN en ONVERGENOEGD!! Ons het nodig om weer te leer hoe om te FOKUS op die HERE!

Konsentrasie en Fokus jou Spesiale Gawe van God
Konsentrasie en Fokus jou Spesiale Gawe van God

Konsentrasie en Fokus Jou Gawe van God

“You will keep him in perfect peace,
Whose mind is stayed on You,
Because he trusts in You.
Trust in the LORD forever,
 — Isaiah 26:3

Die onlangse vloede en oorstromings wat ons hier in die Cederberg en Matzikama beleef het, riviere wat vir jare droog was, het oornag water monsters geword. Paaie en verskeie brue is weggespoel. Plaashuise en gemeenskappe is geïsoleer.

En in daardie oomblik — het almal stilgestaan en aandag gegee.

Nie omdat hulle wou nie. Maar omdat die natuur ’n vraag gevra het wat nie geïgnoreer kon word nie. Dieselfde vraag wat God in die tuin gevra het toe alles verkeerd gegaan het:

Genesis 3:9  “Adam Waar is jy?”

Soos Adam word ons nog steeds gevang met die slapriem van die slang… “dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken” ons jaag kennis na… op google en AI, ons eet van die boom van kennis van goed en kwaad… Ons is só besig, ons aandag vasgevang op verskeie skerms… ons is gevolglik meer ANGSTIG, ALLEEN en ONVERGENOEGD!!

ons het lanklaas net STIL GEWORD… alles afgesit en geluister!

Nou is die TYD!! FOKUS!!

Kom ek begin met 'n woord.

"seks"

Dit kom van die Latynse secare. Om af te sny. Om te skei. Om weg te sny van die geheel. Dieselfde kernwoord gee ons seksiedissekteer. Chirurgiese taal. Skeidingstaal.

Ons is wesens wat weet dat ons onvolledig is. Rob Bell stel dit só: ons seksualiteit beweeg altyd langs twee realiteite. Eerste – ons bewustheid van hoe diep afgesny en aleen ons is. Tweede – al die maniere waarop ons probeer herverbind. Die hele drama van menslike seksualiteit word opgevang in hierdie twee sinne. Voor enige morele debat. Voor enige reël. Voor enige heiligheids verwagting.

Ons is mense wat weet ons is onvolledig, en ons liggame weet dit ook. Ons begeer, en verlang na eenwording, om geken te word, en om diep te ken, na intimiteit, die fokus op die een. Dopamien dryf die brein se soeksisteem aan met gefokusde begeerte en antisipasie; serotonien stabiliseer gemoedsrus sodat verbinding veilig voel; oksitosien – die "bindingshormoon" – vernou aandag na die spesifieke persoon voor jou; vasopressien versterk langdurige lojaliteit en bewaking van dié band; norepinefrien skerp alle sintuie en plaas die hele stelsel in 'n staat van waaksame intensiteit; en endorfiene verlam die pyngrens sodat nabyheid letterlik welgeluksalig voel — saam is hulle nie toevallige chemie nie, maar die liggaam se eie argitektuur vir gefokusde teenwoordigheid by 'n ander persoon.

Jy kan nie werklike intimiteit kry sonder aandag nie.  Distansie tussen twee mense wat herverbinding soek sonder werklike aandag op die ander persoon, sal nooit mekaar vind nie. Altwee is afwesig en hulle aandag vasgevang in hulle eie seer van verlies van werklike intimiteit en beskuldig die ander een.

Jesus het presies hierdie pynlike ontnugtering verstaan.

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.” (Mat 5:27-30)

In Matteus 5 begin Jesus met "Jy moenie egbreek nie." Duidelike grens. Definitiewe reël. Maklik om te bestuur. Maar dan verskuif Hy die raam heeltemal – want wellus is nie net 'n daad nie, dit is 'n tipe fokus. "Elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, het reeds in sy hart..."

En dan die hiperbool oor die oog en die hand. Moenie dit letterlik lees nie.

Jesus was nie besig om 'n bloedige ritueel voor te stel nie. Hy het 'n geestelike werklikheid beskryf: seksuele energie geskei van liefdevolle aandag, kontak sonder teenwoordigheid, 'n liggaam gebruik sonder hart en siel – verlig eensaamheid nie, dit vererger dit. So erg, dat Hy dit Gehenna noem. Die smeulende ashoop buite Jerusalem – waar dinge weggegooi is om te verbrand.

In Genesis 2:18, ná die mens volmaak geskape is, sê God: dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Hy het 'n ezer nodig. Dit word gewoonlik vertaal as "hulp" of "helper" – maar dit beteken iets veel ryker. Dit beteken ooreenstemmende resonansie. Een wat spieël. Een wat ontmoet. Want kommunikasie is nie bloot inligtingsoordrag nie – dit is 'n proses van weerklink, resoneer, praat en luister, sien en gesien word, begryp en aanvaar word, en die gevolglike sielvolle verbintenis wat daarin moontlik word. Ek sien jou. Ek hoor jou. Ek begryp jou.

Die eerste probleem wat in die skepping benoem word, was nie sonde nie. Nie dood nie. Nie lyding nie.

Alleenwees.

Die Johannesproloog verklaar dat voor enigiets bestaan het, daar reeds 'n gemeenskap van persone in volkome wedersydse eenheid was – Vader, Seun, Gees. Nie geïsoleerde eenhede nie, maar 'n misterieusse, wondere eenwees-in-verhouding. As ons in dié beeld gemaak is, dan is ons honger na eenwording nie 'n biologiese ongemak wat bestuur moet word nie. Dit is die diepste begeerte in 'n mens – om met iemand een te wees.

Ons is gemaak om iets te weerspieël wat ewig is.

Elke verhouding wat teenwoordigheid omseil, lewer secare sonder genesing – afgekap, en steeds afsny. Elke pad wat beweeg na werklike wedersydse kennis – stadig, eerlik, kwesbaar, aandagtig – beweeg in die rigting van waarvoor jy altyd bedoel was.

So die vraag is nie "Is dit toegelaat?" Die vraag is 'n ouer een, 'n eerliker een:

Is jy werklik hier? Of speel jy net teenwoordig?

Aandag. Dit is waarvoor die liggaam wag. Dit is waarvoor die siel wag.

God soek ons aandag. 

Soos met enige verhouding is Israel se aandag nie altyd op die Here nie.

Nou pas alles wat ons gesê het oor seks en verbinding – die secare, die aandag, die Gehenna, die ezer kenegdo – op 'n verhouding wat al vir duisende jaar bestudeer word, maar selde só gelees word:

Die verhouding tussen God en Israel.

Want dit ís 'n verhouding. En dit lyk verbasend bekend.

Die patroon wat ons almal ken

Onthou die neurochemie. Dopamien dryf soekgedrag aan – nie bevrediging nie, maar antisipasie. Die brein brand helder wanneer iets ontbreek. Oksitosien bind jou aan 'n spesifieke persoon. Norepinefrien plaas jou in 'n toestand van waaksame intensiteit wanneer die verhouding bedreig word.

Met ander woorde: ons gee die meeste aandag wanneer ons die meeste pyn het.

Dit is nie 'n vleiende waarheid oor mense nie. Maar dit is 'n eerlike een.

Israel bewys dit oor en oor.

Vier honderd jaar stilte

Die storie begin by Egipte. Vier eeue van slawerny – en dan:
Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem. Eksodus 2:23-25: 

Die vraag is nie hoekom God so lank gewag het nie. Die vraag is: hoekom het dit vier honderd jaar geneem voordat hulle na God geroep het?

Drie maande later staan hulle by Sinai. Die mees intieme goddelike oomblik. God op die berg wat met sy volk wil ontmoet, hulle stuur vir Moses... Alles wat die HERE gesê het, sal ons doen – so het hulle geantwoord soos 'n bruid wat haar huweliksbeloftes aan haar man maak.

Moses is nog nie eens van die berg af nie, of hulle smelt hul goue oorbelle en halsnoere en maak 'n goue kalf.

Die Rigter-siklus: Die verhouding klink soos 'n verslawing siklus.

Sewe keer in die boek Rigters speel dieselfde storie af. En as jy dit teen die agtergrond van alles wat ons oor intimiteit gesê het lees, klink dit nie soos geskiedkundige inligting nie. Dit klink soos 'n verhouding wat vasgevang is in 'n patroon waaruit dit nie kan breek nie.

Sonde - Onderdrukking - Roep - Verlossing - Stilte - Herhaling.

Mesopotamiese onderdrukking – agt jaar voor hulle roep. Moabitiete – agtien jaar. Kanaänitiete – twintig jaar. Filistyne – veertig jaar. Die intervalle word langer. Die pyn moet al hoe swaarder word voor die uitroep na God kom.

Dit is nie geloofsgroei nie. Dit is 'n brein wat al hoe meer 'n groter dosis nodig het voordat hy reageer.

En God? God antwoord elke keer. Nie omdat Israel dit verdien het nie. Maar omdat dít is hoe hierdie God se hart werk – ezer kenegdo in sy mees volhardende vorm: die een wat bly ontmoet, bly weerklink, bly aanbied.

Die woesteyn-klagte en Gehenna se logika

Numeri 21 – hulle is al uit Egipte. Vry. Op pad. Maar die pad is moeilik en die kos is sleg, en hulle sê: "Ons is sat vir hierdie slegte kos." En die giftige slange kom.

Jesus verwys na presies hierdie oomblik in Johannes 3 – dieselfde hoofstuk as "God het die wêreld so liefgehad." Die slang op die paal. As jy kyk leef jy.

Aandag. Weer aandag.

Die slange was nie die straf van 'n woedende God nie. Dit was die geestelike fisika wat ons reeds beskryf het: ontkoppeling, distansie van die hart wat gehandhaaf word smeul soos die ashoop buite Jerusalem. Dinge wat heilsaam moet wees, word weggegooi, verstoor en brand sonder betekenis.

Die Profete: God as gewonde eggenoot

Hosea kry opdrag om met 'n vrou te trou wat hom sal verlaat. Meermale. En hy moet haar elke keer gaan terughaal.

Dit is nie allegorie nie. Dit is God wat sê: Ek weet hoe dit voel.

Esegiël 16 is waarskynlik die skerpste teks in die hele Ou Testament – God beskryf Israel se afgodery in eksplisiet huweliksontrou-beeldspraak. Nie as klinies-teologiese taal nie. As 'n gewonde minnaar wat praat.

Ek het jou gevind toe jy niemand was nie. Ek het jou versorg, jou geklee, jou mooi gemaak. En jy het gegaan na enigeen wat verbygegaan het.

Dit is nie woede nie. Dit is die pyn van verraad.

Ballingskap: Die Gehenna van 'n volk

Babilon is nie bloot 'n politieke katastrofe nie. Dit is die kollektiewe ervaring van secare – afgekap van land, tempel, kultuur, teenwoordigheid. Psalm 137: "By die riviere van Babel het ons gesit en geween, toe ons aan Sion gedink het."

Klaagliedere 1: "Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy 'n swerweling geword."

Die tempel verbrand. Die stad plat. Die ark weg.

En in dié absolute leegte – Daniël kniel drie keer per dag na Jerusalem toe en bid. Nie omdat dit iets verander nie. Maar omdat aandag die laaste ding is wat 'n mens kan bied wanneer alles anders weg is.

Die mees intense gebedskultuur in Israel se geskiedenis het nie in die tempel gebore nie. Dit het in ballingskap gebore. In Gehenna.

Want die brein – en die siel – soek die hardste wanneer die pyn die diepste is.

Die patroon in ons eie gesig

Kyk na hierdie hele geskiedenis en vra jouself: watter deel hiervan is Israel se verhaal, en watter deel is joune?

Want die siklus is nie antiek nie. Die dynamika is dieselfde: ons gee aandag wanneer ons pyn het. Ons herverbind wanneer dit seergenoeg is. En dan – wanneer die druk verlig – skuif ons aandag stadig, ongemerk, weg.

Sonder dat ons dit beplan.

Die vraag wat oor seks gevra is, is dieselfde vraag wat oor geloof gevra kan word:

Is jy werklik hier? Of speel jy net teenwoordig?

Die Bybelse Galery van Fokus-Verse

Spreuke 4:25–27  “Laat jou oë reguit kyk, en laat jou ooglede reguit voor jou wees. Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees. Wyk nie regs of links af nie.”

Hebreërs 12:2  “...terwyl ons die oog gevestig hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.”

Kolossense 3:2  “Bedink die dinge wat hierbo is, nie wat op die aarde is nie.”

Filippense 4:8  “Alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — bedink dit.”

Jesaja 26:3  “Hom wat ’n standvastige gesindheid het, bewaar U in volkome vrede, omdat hy op U vertrou.”

2 Korinthërs 10:5  “...en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid van Christus.”

Josua 1:8  “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag — sodat jy sorgvuldig doen alles wat daarin geskryf is.”

Psalm 1:2  “...en in sy wet peins hy dag en nag.”

Lukas 10:39, 42  “Maria het ook by die voete van Jesus gaan sit en na sy woord geluister... Maria het die goeie deel uitverkies.”

Matteus 14:30  Petrus, toe hy na die wind kyk in plaas van na Christus, het begin sink. Fokus-verlies het letterlike gevolge.

Die Aandag-Krisis — Wat die Navorsing Sê

Jonathan Haidt: The Anxious Generation (2024)

Die sosiale morele sielkundige Jonathan Haidt van New York Universiteit het in sy boek „The Anxious Generation” (2024) ’n verontrustende argument gemaak: rondom 2012 het ’n "groot herbedrading van die kinderjare” plaasgevind. Slimfone en sosiale media het die ontwikkelende brein fundamenteel verander.

Haidt se kernargument is dat die digitale wêreld vier fundamentele ervarings van kinders vervang het wat noodsaaklik is vir gesonde ontwikkeling:

1.     Vryespel-tyd sonder toesig (risiko en mislukking)

2.    Werklike gevaar en grensverkenning

3.    Verveling — die baarmoeder van kreatiwiteit

4.    Aangesig-tot-aangesig gemeenskap sonder skerms

Die gevolg: angs, depressie en aandag-fragmentasie het gestyg — veral by meisies na 2012. Haidt verwys na statistiek wat wys dat hospitalisasie vir selfbeskading by tienermeisies tussen 2009 en 2021 meer as verdubbel het in die VSA, VK en Kanada.

“Smartphones and social media have rewired childhood. We built the apps for adults. We handed them to children. We are now living with the consequences.”
 — Jonathan Haidt, The Anxious Generation (2024)

Die Multi-Taak-Mite

Neurowetenskaplike navorsing is duidelik: "multi-tasking” bestaan nie vir die menslike brein nie. Wat ons doen is "task-switching” — vinnig tussen take wissel. En elke keer as ons wissel, betaal ons ’n kognitiewe prys.

Navorsingsbevindings: Die Koste van Onderbrekings

Gloria Mark (Universiteit van Kalifornië, Irvine): Gemiddeld 23 minute en 15 sekondes om volledig te herkonsentreer na ’n onderbreking.

Multi-tasking verminder produktiwiteit met tot 40% (American Psychological Association).

Elke WhatsApp-kennisgewing wat jy vir 10 sekondes lees, kos jou ’n halfuur se fokus.

Microsoft-navorsing (2015): Die gemiddelde menslike aandagspan het van 12 sekondes (2000) tot 8 sekondes gedaal — korter as dié van ’n goudvis.

Nota: Sommige navorsers betwis die „8 sekonde”-syfer, maar die breere tendens van fragmentasie word breedweg bevestig.

 

Cal Newport: Deep Work (2016)

Cal Newport beskryf in sy werk "Deep Work” die vermoë om gefokus, diep werk te doen as die "superkrag van die 21ste eeu” — presies omdat dit so skaars word. Sosiale media-platforms is doelbewus ontwerp om aandag vas te vang en te hou, nie om jou lewe te verbeter nie, maar om advertensies te verkoop.

“Ons aandag is die produk. Ons koop dit nie — ons ís dit.”
 — Na aanleiding van Cal Newport

Sien jy die ironie? Die God van die heelal wil ons aandag hê — sonder advertensies, sonder algoritme, sonder dopamien-truuks. Maar ’n Silicon Valley-algoritme kry dit elke oggend voor God ’n kans kry.

Die Suid-Afrikaanse Konteks

Ons het ’n unieke uitdaging: ons lewe in ’n land waar drama soos politieke onsekerheid, misdaad, droogtes, vloede — ons "news feed” is elke dag. Dit beteken ons breine is konstant in ’n staat van lae-vlak-trauma.

En trauma, soos sielkundiges bevestig, sluit gefokusde aandag af. Die hippokampus — die deel van die brein wat verantwoordelik is vir diep leer en konsentrasie — krimp letterlik onder chroniese stres. Die amigdala (die "gevaar-radar”) neem oor. Alles word ’n bedreiging. Niemand kan fokus nie.

Oop Vraag:  Wanneer het jy laas werklik stilgestaan — nie uit moegheid nie, maar uit keuse?

Aandag as 'n Spier wat jy moet oefen

Hier is ’n metafoor wat die neurowetenskap bevestig: aandag werk soos ’n spier.

A. ’n Spier wat nie gebruik word nie, verswak — atrofie. B. ’n Spier wat oormatig gebruik word sonder rus, brand uit — uitputting. C. Maar ’n spier wat gereeld, gedissiplineerd, progressief geoefen word, word sterker, meer duursaam, meer betroubaar.

Navorsing op meditasie en gebed bevestig dit op neurologiese vlak. Sara Lazar van Harvard Mediese Skool het bevind dat gereelde meditasie die prefrontale korteks letterlik verdik — die deel van die brein verantwoordelik vir volgehoue aandag, selfbeheer en emosionele regulering.

Tibetaanse monnike met tienduisende ure se meditasie oefening toon breinaktiwiteitspatrone wat neurowetenskaplikes steeds verbaas. Hulle het nie geërf nie. Hulle het geoefen.

Die Drama-Paradoks

Maar hier is die slegste deel: drama en krisis is soos kortikosteroïede vir die aandag — dit gee ’n tydelike kragoplewing, maar op die lange duur verswak dit die spier.

Die Vloed het ons aandag gekry. Die Groot Pandemie het ons aandag gekry. Die droogtes kry ons aandag. En ons is dankbaar vir die krag van hierdie oomblikke. Maar God wil nie net ons krisis-aandag nie. Hy soek die geoefende aandag van ’n dissipel — iemand wat leer om gefokus te bly wanneer die drama bedaar.

Paulus skryf vanuit ’n tronk:

Filippense 4:11  “Ek het geleer om tevrede te wees in watter staat ek ook al is.”

Die woord geleer is emathon in Grieks (aoristus aktief indikatief van manthano). Die aoristus dui op 'n voltooide leerproses: iets wat werklik gebeur het, deur herhaaldelike ervaring en oefening. Nie 'n opwekking-oomblik nie. Geoefende toestand.

Oop Vraag:  Watter soort aandag bring jy na God wanneer daar geen krisis is nie?

Die 12 Geestelike Formasies as Aandag-Opleiding

Richard Foster, in sy klassieke werk "Celebration of Discipline” (1978), en Dallas Willard, in "The Spirit of the Disciplines” (1988), het die geestelike dissiplines beskryf as presies dit: oefeninge vir die siel.

Willard se sleutelinsig is elegant in sy eenvoud: "Genade is nie teen inspanning nie — dit is teen verdienste.” Dissipline is nie ’n poging om God se guns te verdien nie. Dit is die oefening van die spier waarmee ons Sy guns behou.

Beskou elkeen van die twaalf formasies as ’n spesifieke spieroefening vir die aandag:

Innerlike Dissiplines (Die Gees vorm van binne)

1. Meditasie (Lectio Divina)

Die kuns om ’n enkele Skriftuur stadig, herhaaldelik te lees — nie om inligting te versamel nie, maar om teenwoordig te wees. Dit is die direkte teenoorgestelde van scrolling. Jy neem EEN ding en gee dit jou volle aandag vir geruime tyd. Probeer dit: lees Psalm 23 sewe keer agtereen. Sien wat gebeur in die sewende lees.

2. Gebed

Nie as ’n lysie van versoeke nie, maar as ’n bewuste keuse om teenwoordig te wees voor God. Kontemplatiewe gebed — stilsit, luister, wag — is ’n direkte oefening in aandag-uithousvermoë. Die "Jesus-gebed” van die Oosterse kerk ("Here Jesus Christus, Seun van God, wees my genadig”, inasem en uitasem) is ’n duisend jaar oue aandag-anker.

3. Vas (Fasting)

Vas leer die liggaam om die aandag van begeerte te bevry. As jy leer om die begeerte na kos vir ’n dag te weerstaan, leer jy die brein om afleidings te weerstaan. Dit is wilskrag-opleiding in die mees basiese sin — en die neurowetenskap bevestig dat wilskrag ’n uitputtende bron is wat geoefen kan word.

4. Studie (Study)

Nie vinnige lees nie. Diep, stadige, aandagtige lees van die Woord — en van goeie boeke. Newport se navorsing bevestig: die vermoë om diep te lees word herstel deur dit te oefen. Begin met 20 minute diep aandagtige lees per dag. Bou op. Die spier groei.

Uitwaartse Dissiplines (Die Gees vorm deur keuse)

5. Eenvoud (Simplicity)

Die vereenvoudiging van jou lewe verminder kognitiewe lading. Minder opsies, minder besluite, minder aandag-afleibaarheid. Die monastiese tradisie het dit altyd geweet: minder besittings = meer gefokuste aandag. Vra jouself: watter drie tegnologiese gewoontes steel die meeste van jou aandag?

6. Eensaamheid (Solitude)

Jesus het herhaaldelik alleen weggegaan. (Markus 1:35; Lukas 5:16; Matteus 14:23) Aleenheid is nie Eensaamheid nie — dit is die bewuste skepping van ruimte waar jy nie hoef te reageer op ander se aandag-eise nie. Dit is die "offline”-modus vir die siel.

7. Onderdanigheid (Submission)

Die vermoë om jou wil aan ander te onderskik klink nie soos ’n aandag-oefening nie. Maar die ego is een van die grootste aandag-diewe — dit moniteer konstant hoe dit vaar, hoe dit lyk, of dit aanvaar word. Onderdanigheid skakel die ego-skerm af.  Deur take af te handel, bewys lojaliteit. 

8. Diens (Service)

Paradoksaal: wanneer ons ander dien, word ons aandag getrek uit ons eie narratief en gevestig op iemand anders se werklikheid. Diens herstel perspektief en breek die selfgesentreerdheid van angstigheid.

9. Belydenis (Confession)

Onbelyde sonde is soos ’n rekenaar met 47 oop tabs. Dit gebruik agtergrond-aandag voortdurend. Belydenis maak die tabs toe. Die vroeë kerk se gereelde gebruik van belydenis was nie masochisme nie — dit was kognitiewe higiëne.

10. Aanbidding (Worship)

Ware aanbidding is die mees gefokuste menslike aktiwiteit — wanneer dit reg gedoen word. Om voor God te kniel is om alles anders los te laat. Die vraag is: aanbid ons God, of onderhou ons ’n kerkprogram? 

11. Leiding (Guidance)

Die dissipline van geestelike begeleiding om die Here in ander te hoor.  Wanneer ons onsself onderwerp aan die wyse stem van ander gelowiges, keer dit ons aandag van ons eie blinde kolle af. 

12. Viering (Celebration)

Viering is gefokuste dankbaarheid. Die bewuste oefening om te sien wat God gedoen het — en dit te vier — herrig ons aandag van skaarsheid na genade, van krisis na voorsiening. Die vloede het verwoesting gebring. Maar gemeenskappe het bymekaar gekom. God het voorsien. Dit is worthy of sustained attention.

Die vloede in die Cederberg en Matzikama het iets gedoen wat maande se preke nie kon doen nie: dit het almal stilgemaak.

Paaie weggespoel — mense moes stop. Elektrisiteit af — skerms moes wag. Gemeenskappe geïsoleer — mense moes werklik met mekaar praat. En in daardie gedwonge stilte het sommige mense iets gehoor wat hulle lank nie meer gehoor het nie.

Elija het dit ook gehoor — nie in die storm, nie in die wind of aardbewing nie. Maar in die kleine, stille stem.

1 Konings 19:12–13  “En na die aardbewing 'n vuur — maar in die vuur was die HERE ook nie. En na die vuur was daar 'n stille, sagte stem. Toe Elija dit hoor, het hy sy gesig in sy mantel toegeslaan.”

Die ironie is dat God gewoonlik fluister. Maar ons het die volume van ons lewens so hoog gedraai dat ons Hom nie meer hoor nie. Dan kom die storm. Dan kom die vloed. Dan kom die pandemie. Nie as straf nie — maar as ’n volume-knop wat afgedraai word.

Die tragiese ding is nie die vloed nie. Die tragiese ding is as ons die vloed beleef, die stilte hoor — en dan, sodra die paaie herstel word en die internet terugkom, presies dieselfde lewens hervat soos voor dit.

Die geestelike formasies bied ons iets anders: ’n manier om in die stilte te leef as ’n keuse, eerder as om te wag vir die volgende krisis wat dit af dwing.

 

“Aandag is die mees basiese vorm van liefde.”
 — Simone Weil, filosoof en mistikus

 

 

“Wees stil en weet dat Ek God is.”

Psalm 46:11

 

Bronne en Verdere Leesstof

Jonathan Haidt, The Anxious Generation (Penguin Press, 2024)

Cal Newport, Deep Work (Grand Central Publishing, 2016)

Richard Foster, Celebration of Discipline (Harper & Row, 1978)

Dallas Willard, The Spirit of the Disciplines (Harper & Row, 1988)

Nicholas Carr, The Shallows: What the Internet Is Doing to Our Brains (W. W. Norton, 2010)

Gloria Mark, UC Irvine — Aandag en Onderbrekings: Navorsing oor multi-tasking en fokus-herstel.

Sara Lazar et al., Meditation experience is associated with increased cortical thickness — NeuroReport, 2005.

Simone Weil, Waiting for God — oor aandag as die mees basiese vorm van liefde.