KRUISIGING EN OPSTANDING: Die Asemhaling van die Gees
Jesus het nie net vir ons gesterf en opgestaan nie. Hy het ons gewys hóé om te leef. Die kruis en die leë graf is nie net teologie om te glo nie — dit is 'n bloudruk om te leef.
Mat 16:24–25 · Rom 6:4–11 · Gal 2:20 · Kol 3:1–4 · Joh 12:24–25
Die Twee Oomblikke wat die Lewe Se Verloop Herrangskik Het
As jy die geskiedkundige rekord dophou, is daar min gebeurtenisse wat werklik 'n voor en 'n ná skep. Die meeste dinge gebeur, en die wêreld gaan aan sonder om asem te skep. Maar twee oomblikke in die geskiedkundige rekord het so hard geval dat selfs ons kalender vandag nog die breuk dra — v.C. en n.C. Voor Christus. Na Christus. Anno Domini: in die jaar van die Here.
Die twee oomblikke? Nie Sy geboorte nie. Nie Sy leringe nie — alhoewel dit ook tydlose waarde het. Die twee oomblikke wat alles verander het, is Sy kruisiging en Sy opstanding.
En hier is die waarheid wat ons dikwels mis: Jesus het nie net vir ons gesterf en opgestaan nie. Hy het ons gewys hóé om te leef. Die kruis en die leë graf is nie net teologie om te glo nie — dit is 'n bloudruk om te leef. 'n Lewenspatroon. 'n Templaat vir die diepste, mees volledige lewe waarvoor jy en ek geskape is.
Jesus se kruisiging en opstanding is nie net wat Hy vir ons gedoen het nie. Dit is wat Hy ons geleer het om te doen.
Christ died to save us from hell but not to save us from the cross. He died so that we could be glorified, but not to keep us from being crucified... never let the cross lose its crucifying power in your life! In other words if you would save your life, you must lose it, and if you would follow Jesus, you must take up your cross daily. The great tragedy of much contemporary Christianity is that the cross is safely relegated to the distant past. And practically what it means is that Jesus was soaked in blood so that I can soak in a Jacuzzi. And the bigger the tub, the more we honor the cross—so goes the prosperity gospel. John Piper
Die Bloudruk
Jesus is die Bloudruk — Nie Net die Redder
Ons is grootgemaak met 'n bepaalde verstaan van Jesus: Hy is die Redder. Hy het vir ons gesterf sodat ons nie hoef te sterwe nie. En dit is waar — maar dit is onvolledig. Onthou, die duiwels het ook geglo en geweet wie Jesus was. Geloof sonder navolging is net intellektuele ooreenstemming.
"As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry." — Matteus 16:24–25
Volg My. Nie net: Glo in My nie. Kyk hoe Ek leef — leef so. Kyk hoe Ek bid — bid so. Kyk hoe Ek die Vader gehoorsaam — doen so. Die woord dissipel beteken letterlik iemand wat die meester se lewenswyse naboots — so presies dat die rabbi se stofwolk op jou val terwyl jy hom volg.
Jesus is die bloudruk. En 'n bloudruk is nie bedoel om bewonder te word nie. Dit is bedoel om nagekom te word.
Let op wat Hy nié sê nie. Hy sê nie: As jy genoeg bid. Hy sê nie: As jy harder probeer. Hy sê nie: As jy jou lewe eers regkry. Hy sê: verloën jouself, neem jou kruis op, volg. Voortdurende daaglikse aksie. Geen eindpunt nie. 'n Lewenswyse.
Die Geheimenis van Selfverloëning
Die Woord wat Uit Jou Hande Glip
Selfverloëning is 'n diep geheimenis wat nie met die intellek uitgewerk kan word nie. Wanneer mens daaroor praat, glip dit uit jou hande nog voordat jy dit presies kan neerpen. Dit is seker om hierdie rede dat die woord selfverloëning nooit as 'n selfstandige naamwoord in die Bybel voorkom nie — eerder as verskeie werkwoorde. Dit is iets wat jy doen, nie iets wat jy besit.
"So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus... stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het." — Romeine 6:11–13
Reken jouself dood. Die woord reken in Grieks is logisomai — waarvan ons woord logies afgelei word. Dit beteken: werk iets uit, doen 'n berekening, kom tot 'n logiese gevolgtrekking. En verder — die werkwoord staan in die Aoristiese tyd, wat beteken die handeling het in die verlede begin, is steeds aan die gang, en sal voortgaan in die toekoms.
Dit werp heelwat lig op selfverloëning: ek dink daaroor na en kom tot die logiese gevolgtrekking dat ek alreeds my lewe vir die Here gegee het — en dat ek dit steeds nou moet doen — en ek sal dit nog 'n hele paar keer moet doen totdat ek in die hiernamaals met Hom verenig is.
"dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike (logiese) godsdiens." — Romeine 12:1
Dieselfde woord — logikos — word hier gebruik. Dit is nie blinde emosie nie. Dit is 'n berekende, daaglikse keuse.
Jy Kan Jouself Nie Doodmaak Nie
Die leer oor selfverloëning het al verskeie ekstreme interpretasies deurleef. Daar is geleer dat die liggaam boos is, dat dit van alle genot ontneem moet word, sodat ons aanneemlik voor God kan lewe. Hierdie pad lei nie na bevryding nie — dit lei na trots. Hoe lank jy gevas het, hoe baie jy gebid het, word indikators van geestelikheid — met 'n skreiende wanklank.
In my eie soeke na waarheid hieroor, het die Heilige Gees iets aan my geopenbaar wat my perspektief radikaal verander het: jy kan nie jouself probeer doodmaak nie — dit word selfmoord genoem. Enige selfverloëning wat uit self gebore is, is doodgebore. Self word juis op hierdie wyse verheerlik — net nou in godsdienstige drag.
Ons kan nie onsself doodmaak nie. Ons kan net toegee, ingee, oorgee — wanneer Hy besig is om ons dood te maak. Wanneer Hy vir jou vra om die beker te drink, en jy deur bloedsweet uiteindelik by die plek kom waar jy uitroep: nie meer my wil nie, Here, maar laat U wil geskied — op dáárdie tydstip word jy gekruisig en doodverklaar.
"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." — Galasiërs 2:20is anders.
Hierin lê die diep geheimenis: jy wen jou lewe deur dit te verloor — en jy kan dit nie self fabriseer nie.
Self-forgetfulness — Die Ander Kant van Dieselfde Munt
Hier is 'n manier om oor selfverloëning te dink wat dit effe anders belig: selfvergeetheid. Nie selfhaat nie. Nie selfuitwissing nie.
Die woord verloën in Matteus 16:24 is in die Nuwe Testament net op een ander plek gebruik — en dit is 'n oomblik wat elkeen van ons ken. Dit is toe Petrus by die vuur staan, en 'n diensmeisie hom uitwys as een van Jesus se volgelinge. En Petrus sê: Ek ken Hom nie. Hy het Hom verloën. Hy het Jesus se bestaan in sy eie lewe ontken.
Verloën jouself. Ontken jouself. Sê van jou eie ego, jou eie reputasie, jou eie agenda: ek ken hom nie meer nie.
"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my." — Galasiërs 2:20
Paulus druk dit so uit: ek leef nie meer nie. Nie: ek leef nie baie nie. Nie: ek leef minder nie. Ek. Leef. Nie. Meer. Nie. Die ou ek is dood. En omdat die ou ek dood is — het ek hom vergeet. Ek dink nie meer eerste aan homself nie.
C.S. Lewis het dit so geformuleer: die doel is nie om min aan jouself te dink nie — dit is om glad nie aan jouself te dink nie. Die verskil is enorm. Iemand wat min aan homself dink, is steeds besig om te tel. Iemand wat glad nie meer tel nie, is vry.
"Gospel-humility is not needing to think about myself. Not needing to connect things with myself... True gospel-humility means I stop connecting every experience, every conversation, with myself. In fact, I stop thinking about myself." "The essence of gospel-humility is not thinking more of myself or thinking less of myself, it is thinking of myself less." Timothy Keller - The Freedom of Self Forgetfulness
'n Dooie Mens Neem Nie Aanstoot Nie
Jy kan nie 'n dooie mens beledig nie. Jy kan nie van hom lieg nie. Jy kan nie iets van haar steel nie. Jy kan hom ignoreer, vergeet, verkeerd aanhaal, kleineer, buite rekening laat — en hy sal nie eens weet dit het gebeur nie. Hy is dood. Hy het opgehou om 'n staanplek in die wêreld te verdedig.
Nou vra jou: hoeveel van jou energie gaan elke dag na die verdediging van 'n self wat veronderstel is om dood te wees? Hoeveel slapelose nagte oor wat iemand van jou gedink het. Hoeveel gesprekke wat jy in jou kop gerepeteer het. Hoeveel aandag wat jy gegee het aan jou eie reputasie, jou eie posisie, jou eie naam — terwyl Paulus sê: dáárdie persoon leef nie meer nie.
Ons Beoordeel nie meer ons self nie.
Paulus maak 'n merkwaardige stelling in sy brief aan die Korinthiers.
Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur ’n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie, want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here. (1 Cor 4:3-4)
Dit is die teologiese onderbou van wat ek oor die dooie mens gesê het. 'n Dooie mens neem nie aanstoot nie — nie omdat hy emosieloos is nie, maar omdat sy identiteit nie meer bepaal word deur die hofsaal van mense se menings nie. Die vonnis is in. Die hof is verdaag. En dit is slegs in die evangelie van Jesus Christus dat jy die vonnis kry vóór die optrede.
Selfverloëning en selfvergeetlikheid is dus nie 'n morele prestasie wat jy moet behaal nie. Dit is die logiese gevolg van 'n vonnis wat reeds geval het — in Christus, aan die kruis, buite die stadspoort, op 'n Vrydagmiddag.
Jy Kan Jou ook Nie Self Opwek Nie
Die Geheimenis van die Leë Graf
Hier is 'n vraag wat ons selde vra: hoekom moes Jesus deur die Vader opgewek word? Hoekom het Hy nie net self opgestaan nie? Hy het immers water in wyn verander. Hy het dooies opgewek. Hy het storms gestil. En tog — toe Hy self in die graf lê, moes die Vader Hom opwek.
Dit is nie toevallig nie. Dit is die hart van die boodskap.
Selfverloëning beteken jy sterf nie net aan jou sonde nie — jy sterf aan jou vermoë om jouself te red. Jy sterf aan die illusie dat jy die laaste woord het oor jou eie lewensuitkoms. En dan vertrou jy. Soos Jesus in Getsemane: Nie My wil nie, maar U wil. Vader, in U hande.
"As die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon." — Romeine 8:11
Dit is nie jou opwekking nie. Dit is Syne. Die opstanding is nie die vrug van jou inspanning nie — dit is die vrug van jou oorgawe. Jy sterf. Hy wek op. Dit is die patroon. Dit bly die patroon.
"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge wat bo is... Want julle het gesterf, en julle lewe is verborge met Christus in God." — Kolossense 3:1,3
"God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde saam met Christus lewend gemaak — en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus." — Efesiërs 2:4–6
Die Worstelstryd
Onthou vir Jakob
Geloof in Christus voel soms soos 'n worstelstryd.
Jakob het letterlik met God geworstel. Die hele nag. Skaars voor dagbreek. En toe — iemand raak sy heup. Dis die oomblik. Nie die oomblik van oorwinning nie. Die oomblik van gebrokenheid. En juis dán sê Jakob: Ek sal nie loslaat tensy U my seën nie.
Hy het gewen deur nie te kán nie. Hy het seën ontvang toe hy nie meer sonder ondersteuning kon staan nie.
Ek ken iemand wat my onlangs vertel het van jare se weerstand. Siekte wat hy geweier het om te aanvaar. Medikasie wat hy verwerp het. Hy het gerebelleer teen alles — teen dokters, teen familie, teen die siekte self, byna teen God. En dan, op 'n dag, het iets diep binne hom net... geknak. Nie gebreek soos vernietig nie. Geknak soos oopgegaan. Hy het oorgegee. En skielik was daar vrede. Genesing. Nie noodwendig van die siekte nie — maar van die weerstand. Van die stryd om in beheer te wees.
"Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit ook wees deur dié aan sy opstanding." — Romeine 6:5
Dis Jakob se heup. Dis jou heup. Dis die oomblik waar beheer plek maak vir vertroue.
Ons wen nie deur harder te veg nie. Ons wen deur te weet
Die Doop
Nie 'n Seremonie Nie — 'n Begrafnis en 'n Geboorte
Die kerk het die doop oor baie jare iets pragtig gemaak. Mooi uitrustings. Musiek. Sertifikate. En dit is alles goed. Maar die oorspronklike doop was iets wild en ongemaklik.
Jy gaan onder. Heeltemal. Asof jy dood is. Asof die ou lewe finaal verby is. En dan — jy kom op. Nat. Snikkend soms. Verward. Maar nuut.
"Ons is saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat ons, net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ook in nuutheid van lewe kan wandel." — Romeine 6:4
"As iemand dan in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." — 2 Korintiërs 5:17
Dit is nie net simboliek nie. Dit is die geestelike werklikheid wat in 'n fisiese handeling ingedra word. Jy word begrawe saam met Christus. Jy word saam met Hom opgewek. Dít is wat die doop sê.
"As 'n koringkorrel nie in die aarde val en sterf nie, bly dit net een korrel. Maar as dit sterf, dra dit baie vrug." — Johannes 12:24
"Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; en wie sy lewe in hierdie wêreld haat, sal dit bewaar tot die ewige lewe." — Johannes 12:25
Die geheimenis wat Jesus wou verduidelik — die ding waarvoor Hy elke gelykenis, elke wonder, elke konfrontasie gebruik het — is hierdie: jy wen jou lewe deur dit te verloor. Nie as straf nie. As ontwerpsplan. As die manier waarop lewe werk.
'n Saad wat nie sterf nie, bly net 'n saad. Dit word nooit 'n boom nie. Nooit vrug nie. Nooit skaduwee vir iemand anders nie. Dit bly — onveranderd, onvervuld — presies wat dit altyd was.
Die Asemhaling
Voortdurend. Elke Dag. Elke Sekonde.
Haal asem in. Nou blaas uit.
Jy het dit nie gedink nie. Jy het dit nie verdien nie. Jou longe het dit net gedoen — die ritme wat God in die skeppingsorde ingebak het. In. Uit. Suurstof binne, koolstofdioksied buite.
Jy kan nie net inasem nie. Probeer dit — vir net 'n minuut. Hou die lug in. Voel hoe die druk bou. Voel hoe die nood groei. Lewe is nie net inasem nie. Lewe is die ritme tussen in en uit.
Die geestelike lewe werk presies so. Kruis en opstanding. Sterwe en lewe. Loslaat en ontvang. Oorgee en opstaan.
"...terwyl ons altyd die sterwe van die Here Jesus in die liggaam omdra, sodat ook die lewe van Jesus in ons liggaam openbaar kan word. Want ons wat lewe, word altyd aan die dood oorgegee ter wille van Jesus, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word." — 2 Korintiërs 4:10–11
"As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe; maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe." — Romeine 8:13
Matteus 16:24 is nie 'n eenmalige gebeurtenis nie — kyk na die Grieks. Die werkwoord staan in die teenwoordige tyd, voortdurende aspek: bly kruis-opneem. Bly jouself verloën. Elke dag. Elke oomblik. Soos asemhaling — nie een groot asemteug vir 'n leeftyd nie, maar 'n voortdurende, lewende ritme.
Die Heilige Gees — ruach in Hebreeus, pneuma in Grieks — beteken letterlik asem, wind. God se lewe in ons is nie 'n statiese toestand nie. Dit is 'n beweging. En beweging het ritme. En ritme het beide kante.
"Die liefde van Christus dring ons... dat die wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is." — 2 Korintiërs 5:14–15
Die geestelike lewe is nie 'n toestand wat jy bereik nie. Dit is 'n asemhaling wat jy daagliks leef.
Kerntekste
Matteus 16:24–25 — Verloëning van self, kruis-opneem, volg
Romeine 6:4–5,11–13 — Begrawe en opgewek; reken jouself dood
Romeine 8:11,13 — Die Gees maak lewend wat in jou woon
Romeine 12:1 — Lewende offer — logiese godsdiens
Galasiërs 2:20 — Gekruisig met Christus; Christus leef in my
Kolossense 3:1,3 — Saam opgewek; lewe verberg met Christus in God
Johannes 12:24–25 — Die koringkorrel wat moet sterf
2 Korintiërs 4:10–11 — Die sterwe van Jesus in die liggaam omdra
2 Korintiërs 5:14–15,17 — Nuwe skepsel; lewe vir Hom wat opgestaan het
Efesiërs 2:4–6 — Saam lewend gemaak, opgewek, in die hemele gesit
Matteus 19:26 — Vir mense onmoontlik, vir God alles moontlik
Genesis 32:22–31 — Jakob se worstelstryd (OT agtergrond)