Kaktus of Sonneblom

'n Verkeerde of slegte gees, verander die atmosfeer. Dit is soos 'n slegte reek, wat almal ongemaklik laat voel...

Kaktus of Sonneblom

Die ingesteldheid van Christus

Gesindheid is die rigting waarin al jou vermoëns—jou denke, emosies, wil, gewete, liggaam en gees—beweeg. Dit is soos ‘n innerlike kompas of rigtingwyser wat bepaal of jy na iets toe trek, of daarvan wegvlug. Jou gesindheid is nie net ’n gevoel of ’n bui nie; dit is ’n innerlike ingesteldheid wat rigting gee aan elke deel van jou menswees. As jou gesindheid gerig is op vertroue, dankbaarheid en nederigheid, dan sal jou denke helder wees, jou emosies gesond, jou wil volhardend, en jou liggaam energiek. Maar as jou gesindheid negatiewelik is—vol wantroue, bitterheid of trots—dan trek dit al jou vermoëns in die teenoorgestelde rigting: jou denke raak vertroebel, jou emosies onstabiel, en jou optrede disfunksioneel.

“You do not know what manner of spirit you are of. (Luk 9:55)

“Julle weet nie van watter gees julle is nie” is ’n skerp, deurdringende uitspraak van Jesus wat direk Jakobus en Johannes se gesindheid en motiewe aanspreek toe hulle vuur uit die hemel wil afroep op ’n Samaritaanse dorp wat Hom nie wou ontvang nie. Hierdie woorde ontbloot hoe maklik ons met vroom motiewe, Bybelverse of selfs regte leerstellings, ’n verkeerde gees kan dra — ’n gees van oordeel, straf, trots of selfs wraak — terwyl ons oortuig is ons is reg. Ons "gees" kan besoedel raak. laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. (2 Kor 7:1) Soms is ons eintlik kwaad vir iemand anders, of voel verontreg, en dan haal ons dit op die mense naaste aan ons uit.

People will forget your words, but they will never forget your attitude, and how you have made them feel. John Maxwell

Gesindheid bepaal dus die rigting van jou hele lewe—of jy toenemend in God se wil beweeg, of stadigaan daarvan wegdryf. Dis die onsigbare dryfveer agter jou keuses, jou reaksies, en uiteindelik, jou karakter.

In die Bybel het die manier waarop die innerlike lewe van die mens beskryf is, oor tyd ontwikkel—nie omdat die mens verander het nie, maar omdat taal, filosofie en kulturele denke gegroei het. In die Ou Testament (Hebreeus) was die mees algemene woord vir die innerlike mens “hart” (לֵב – lev). Hierdie term het nie net verwys na emosies soos in moderne gebruik nie, maar was die sentrum van denke, begeertes, wil en gewete. Die hart was die bron van motiewe en die rigtingwyser van die lewe. Soos Spreuke 4:23 sê: “Behoed jou hart bo alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”

Met die invloed van die Griekse wêreld en die skrywes van die Nuwe Testament, het die term “siel” (ψυχή – psuchē) prominent geraak. Die siel is nou meer as net die innerlike mens; dit verteenwoordig die bewuste self—dit wat voel, verlang, kies en leef. Markus 8:36 vra: “Wat help dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar sy siel skade ly?” Hier word die siel beskou as die wese van ‘n mens se identiteit en ewige waarde. Dit is ‘n brug tussen liggaam en gees, en ‘n manier om die menslike persoonlikheid en emosionele kapasiteit te verstaan.

Vervolgens begin Paulus in sy briewe fokus op die “verstand” (νοῦς – nous), en dit bring ‘n nuwe faset na vore.

1 EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggamestel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelikegodsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreldgelykvormig nie, maar word verander deurdie vernuwing van julle gemoed, sodat jullekan beproef wat die goeie en welgevallige envolmaakte wil van God is. (Romeine 12:1-2)

Die verstand is die plek waar geloof gevorm word, waar morele oortuiging ontwikkel, en waar die mens se ingesteldheid verander word. Hier begin ons sien dat houding nie net in die hart of siel bestaan nie, maar ook in denke—wat jy kies om te glo, te fokus, te herbedink. Hierdie klem op verstand pas in by die Hellenistiese klem op logika en redenasie, maar Paulus gebruik dit vir geestelike transformasie.

In die moderne tyd het hierdie begrippe verskuif na wat ons vandag noem “bewussyn,” “gesindheid,” en “geestesgesondheid.” Hierdie terme kom nie uit die Bybel nie, maar uit die velde van filosofie, neurologie en sielkunde. Bewussyn verwys na die mens se selfbewustheid en persepsie van werklikheid. Gesindheid verwys na ‘n persoon se innerlike ingesteldheid—die rigting waarin hulle gedagtes, emosies en wil neig. En geestesgesondheidverwys na die funksionele welstand van die hele psige: denke, emosies, gedrag en verhoudinge. Waar die Skrif ’n wanordelike hart beskryf as sondig of rebels, beskryf die moderne wêreld dit as trauma of disfunksie.

Tog sien ons by nadere ondersoek dat hierdie terme steeds dieselfde menslike werklikhede aanspreek—net met verskillende lense. Die Bybel praat van die hart wat mislei kan word, die siel wat verlang, die gees wat gebreek kan wees, en die verstand wat vernuwing nodig het. Die moderne taal praat van die onderbewusteemosionele ingesteldheidpersoonlikheidswanorde, of kognitiewe gedragspatrone. Maar in wese vra albei: Wat is die rigting waarin jou hele menswees beweeg? Dis juis wat attitude is—die innerlike rigtingwyser waarheen jou hart, verstand en lewe rig of wegdeins.

Die hart is dus gesien as die kern van wat ons vandag “gesindheid” sou noem — die innerlike ingesteldheid wat alles beïnvloed wat jy dink, voel en doen. Hierdie gesindheid kan maklik vergiftig en besoedel word deur afguns, haat, onafgehandelde weersin (resentment), ongeloof, vertwyfeling en ’n gevoel van minderwaardigheid. Soms is daar diepgewortelde skaamte of verlies wat maak dat jy niemand meer werklik vertrou nie, en jou houding teenoor mense word gekenmerk deur agterdog en selfbeskerming. Só word jou gesindheid nie ’n venster na God se lig nie, maar ’n muur van wantroue wat verhoudings verstik en jou eie vrede steel.

Bepaalde rigting en fokus van die Hart: 

Attitude is nie net ’n bui of ’n emosionele toestand nie — dit is die rigting van jou hart, die rigting waarin jou diepste innerlike motiewe, drome en begeertes beweeg. Soos ’n kompas wys na die noorde, wys jou gesindheid na daardie een ding waarop jy jou lewe rig: dit wat jy die meeste waardeer, vrees, of na streef. In Bybelse taal sou ons sê: jou hart is gerig op iets, en wat ook al die voorwerp van daardie fokus is, sal jou ingesteldheid, houding en optrede vorm.

As jou fokus geld is, sal jou gesindheid berekenend, gierig of kompeterend wees — altyd op soek na wins of voordeel. Jy sal mense beoordeel volgens hul ekonomiese waarde, nie hulle menswaardigheid nie. As jou fokus mag is, sal jou gesindheid dominant, manipulerend of selfs hard wees — jy sal alles sien as ’n spel van beheer. As jou fokus gewildheid is, sal jy dalk ’n aanpasbare of onopregte gesindheid hê, gedryf deur goedkeuring en erkenning van ander. Jou gesindheid sal verander afhangend van wie jy probeer beïndruk. Jou houding teenoor mense, besluite, konflikte, en selfs lyding, sal almal gevorm word deur die rigting van jou hart — wat jy die meeste vrees om te verloor, of die meeste hoop om te wen.

Jesus leer ons hierdie beginsel baie duidelik: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matteus 6:21). Jou skat — dit wat jy die meeste van waarde ag — trek jou hart, en dus jou gesindheid, in daardie rigting. Jy kan dus nie ’n regte gesindheid hê as jou hart in die verkeerde rigting wys nie. Ware transformasie begin nie by gedrag nie, maar by ’n verandering van rigting: ’n heroriëntasie van jou hart na God toe. Soos Paulus sê: “Rig julle gedagtes op die dinge daarbo… Laat hierdie gesindheid in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Kolossense 3:2; Filippense 2:5).

Gesindheid is dus nie bloot hoe jy voel oor dinge nie — dit is ’n diep, rigtinggewende dryfveer wat wys wat jy werklik glo, liefhet en begeer. Jou dade is bloot die vrug; jou gesindheid is die wortel. Waarna is jou hart gerig? Dít sal wys in jou houding teenoor God, mense en lewe self.

Gesindheid is die bedryfstelsel van jou siel.

Dis die lens waardeur jy alles in die lewe hanteer — mense, konflikte, uitdagings, kritiek en selfs seën. Dit bepaal nie net wat jy doen nie, maar hoe jy dit doen. ’n Gesindheid kan beleefd of onbeskof wees, oop of agterdogtig, vol geloof of vol vertwyfeling, positief of negatief, meewerkend of beheerend. Jou ingesteldheid bepaal of jy ’n kalm, oorgegewe teenwoordigheid bring, of of jy soos ’n oorpresteerder optree wat altyd in beheer wil wees en niks kan loslaat nie.

Die gevaar is: baie keer ontstaan hierdie gesindheid uit ’n verkeerde verwagting, of erger nog, uit ’n vooroordeel teenoor mense of situasies — ’n ongetoetste innerlike oordeel wat jy gemaak het sonder om die feite by die persoon self te bevestig. Jy sien iemand, en jy voel dadelik ongemaklik — nie omdat daardie persoon iets aan jou gedoen het nie, maar omdat jy alreeds ’n prentjie van hulle in jou kop het. Soos ’n innerlike “preview” wat jy self saamgestel het, en nou speel dit outomaties af elke keer as jy daardie persoon sien.

Ons brein leef nie net in die hede nie. Dit is altyd besig om materiaal uit die verlede te herroep — ’n versameling van mislukkings, teleurstellings, skaamtes, oordele — óf dit is besig om die toekoms te voorspel — ’n stel verwagtings en aannames gebaseer op vrees, hoop, en ramings. Hierdie innerlike stroom van denke bepaal jou gesindheid in die nou. As jy nie hierdie bedryfstelsel herprogrammeer deur waarheid, liefde, en geloof nie, leef jy met ’n verdraaide lens. En dan begin jy optree op grond van wat jy dink gaan gebeur, eerder as wat werklik aan die gang is.

Dr. Phil McGraw verwys na sulke mense as mense met ’n “bad spirit” — nie noodwendig boos nie, maar met ’n slegte ingesteldheid wat atmosfeer, vertroue, en verhoudings vergiftig. Dit is mense wat onbewustelik of bewustelik ’n ingesteldheid van klagtes, vrees, verdagmakery, of oordeel saamdra — en dit wys op hulle gesigte, in hulle liggaamstaal, in hulle woorde.  

Maar die goeie nuus is: gesindheid is nie iets waarmee jy vasval nie, dit is iets wat jy kan kies en verander. Soos Paulus sê in Filippense 2:5: “Laat hierdie gesindheid in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” Christus se gesindheid was een van nederigheid, oorgawe, diensbaarheid, en onwrikbare vertroue in die Vader.

So wat is jou gesindheid? Is jy ontvanklik en oop vir mense, of voorspel jy hulle reaksie op grond van jou innerlike geskiedenis? Is jy vriendelik, of verdedigend? Is jy hoopvol, of altyd op wag vir iets wat verkeerd gaan? Gesindheid is die rigting van jou hart — en jy kies elke dag waarheen dit wys.

Koersvaste Keuses van Ingesteldheid

Soos iemand ’n rekenaar kan instel of programmeer om sekere antwoorde te gee op spesifieke insette, net so het jy die keuse en vermoë om jou ingesteldheid doelbewus te vorm en te rig. Jy is nie ’n slagoffer van jou buie of omstandighede nie — jy is ’n vrywillige deelnemer in die vorming van jou eie innerlike houding. Jou gesindheid is die modus waarin jy funksioneer, die “bedryfstelsel” van jou siel, en jy kan kies wat die standaardinstellings is.

Eerbied – “God-inside-minded” (REVERENCE)

Kies om in alles en almal eerbied en respek te hê. Dis nie net ’n vroom gevoel nie — dis ’n ingesteldheid wat sê: “Ek sien die Here in hierdie persoon, en in hierdie situasie.”

Wanneer jy leef met vrees vir die Here (Spreuke 1:7), dan kyk jy anders na mense: nie as hindernisse of vyande nie, maar as draers van God se beeld. Hierdie heilige agting maak jou bewus van God se teenwoordigheid — oral, altyd, in alles.

📖 “Sien die ander hoër ag as julleself.” – Filippense 2:3

📖 “Wat julle aan die geringste van hierdie broers gedoen het, het julle aan My gedoen.” – Matteus 25:40

Dankbaarheid – Alles is genade

Dankbaarheid is nie maar net beleefdheid nie — dis ’n lewenshouding van erkenning: alles wat ek het, is ’n geskenk. Ek verdien niks; God gee uit genade. Hierdie ingesteldheid sien die seën in mense en situasies — selfs in die moeilikes. Dis die vermoë om te sê: “Hierdie is nie net toeval nie. God is besig.”

📖 “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” – 1 Thessalonisense 5:18

📖 “Moet oor niks bekommerd wees nie… maar bring alles in gebed en danksegging voor God.” – Filippense 4:6

Nederigheid – Nugter en eerlik oor jouself

Nederigheid is nie ’n lae selfbeeld nie, maar ’n regte siening van jouself voor God. Dis om nie groter of kleiner te dink as wat jy is nie, maar nugter (Romeine 12:3). Ware nederigheid kyk nie af op ander nie, maar ook nie op jouself as nutteloos nie. Jy weet jy’s ’n kind van God — geliefd, maar nie verhewe nie. Jy gee eer waar eer toekom, en jy weet alles is genade.

📖 “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” – Jakobus 4:6

📖 “Hy het Homself verneder… daarom het God Hom ook uitermate verhoog.” – Filippense 2:8-9

Vreugde – Die innerlike glimlag van vertroue

Vreugde is nie oppervlakkige geluk wat afhang van omstandighede nie — dis ’n diep, innerlike tevredenheid wat gewortel is in die wete dat God goed is, teenwoordig is, en in beheer is. Dit is die ingesteldheid van iemand wat kan sê: “Al verstaan ek nie alles nie, ek vertrou Hom.” Vreugde is ’n keuse. Dis die krag om hoop te hou wanneer dinge sleg lyk, want jy weet die storie is nog nie klaar nie.

📖 “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” – Filippense 4:4

📖 “Die vreugde van die Here — dit is julle beskutting.” – Nehemia 8:10

Humor – Heilige ligtheid van hart.  ’n Gesonde humor is nie wêrelds of oppervlakkig nie — dit is ’n teken van innerlike balans, wysheid en genade. Humor help ons om onsself nie te ernstig op te neem nie, bring genesing in gespanne situasies, en bou brûe tussen mense. Dit is ’n ingesteldheid van ligtheid wat nie ontsnap aan die werklikheid nie, maar dit verlig met wysheid en vrede. Jesus self het metafore gebruik wat humoristies en oorredend was — ‘n kameel deur ’n naald se oog, of ‘n mens wat ’n balk in sy eie oog het terwyl hy ander wil reghelp!

📖 “’n Vrolike hart is ’n goeie medisyne, maar ’n verslae gees droog die gebeente uit.” – Spreuke 17:22

📖 “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.” – Psalm 2:4 (die heilige humor van God se soewereiniteit)

Vreugde en humor is nie luukshede nie — dit is noodsaaklike ingesteldhede vir geestelike oorlewing en gesonde verhoudings. Waar daar vreugde is, is daar krag; waar daar humor is, is daar ruimte vir menslikheid, genade en herstel. Wanneer jy met hierdie ingesteldheid leef, wys jy dat jy in ’n God glo wat nie net regverdig en heilig is nie, maar ook goed en vriendelik — en vol van lewe in oorvloed.

📖 Efesiërs 4:23 – “En dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed [verstand].” (AVO: “En vernuwe word in die gees van julle verstand.”)

Hierdie vers wys vir ons dat daar nie net ’n verandering van gedagtes nodig is nie, maar van die gees van jou verstand— dit beteken die onderliggende ingesteldheid, atmosfeer, of gesindheid waarin jou denke funksioneer. Dit gaan dus nie net oor wat jy dink nie, maar hoe jy dink: met geloof of vrees, met hoop of wanhoop, met liefde of oordeel.

Paulus gebruik hierdie taal om aan te dui dat ons ou maniere van dink en voel, wat in duisternis gewortel is, plek moet maak vir die nuwe denkpatrone van die Gees. Hierdie vernuwing is nie eenmalig nie — dis ’n voortdurende proses van herprogrammering, soos jy daagliks kies om jou ingesteldheid onder Christus se heerskappy te bring.

Samevatting: 

Jou ingesteldheid is ’n keuse — daagliks, dikwels, in elke situasie. Jy kan nie altyd kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan kies hoe jy dit interpreteer en beantwoord. En dit is presies waar geloof prakties word: wanneer jy koersvas kies om met eerbied, dankbaarheid en nederigheid te leef, programmeer jy jou hart om die Here raak te sien, en te leef in Sy teenwoordigheid.