Vier lewenslesse vir die moderne mens uit die boek Prediker
Die skrywer noem homself Qohelet (קֹהֶלֶת). Die woord beteken letterlik "een wat byeenroep" — iemand wat sy mense in 'n kring versamel om met hulle eerlik oor die lewe te praat.
Onlangs het ek weer deur die boek Prediker gelees, en ek moet bely — daar is nie nog 'n boek in die Bybel wat my so help om reg na die lewe te kyk nie. Geen lang soetsappige inleiding en geveinsde antwoorde nie. Net 'n ou wyse man wat sy stoel nader sleep, na jou kyk, en sê: "Kom ek vertel jou hoe ek die lewe sien"
Die Amerikaanse filosoof Peter Kreeft:
"Die enigste boek in die Bybel wat 'n moderne mens regtig kan lees sonder om eers ʼn Christen te word, is Prediker. Want Prediker beskryf nie die lewe van die gelowige nie. Dit beskryf die lewe sonder God — en hy beskryf dit met sulke pynlike akkuraatheid dat die moderne mens nie kan ontken hy is daardie mens nie." — Peter Kreeft, Three Philosophies of Life
Hier is 'n boek, drie duisend jaar gelede geskryf, wat die moderne mens beter as wat ons onsself kan beskryf. Hier is 'n boek wat nie eers wag dat jy in iets glo voordat dit met jou praat nie. Hier is 'n boek wat by die deur van die kroeg, die boekklub, die universiteitsklas en die nagklub kan instap en sê: Ek weet wat jy voel. Ek weet hoe leeg jy van binne is. Kom sit, kom luister.
Dit is hoekom ek vandag oor Prediker wil praat.
Wie was hierdie skrywer?
Die skrywer noem homself Qohelet (קֹהֶלֶת). Die woord beteken letterlik "een wat byeenroep" — iemand wat sy mense in 'n kring versamel om met hulle eerlik oor die lewe te praat. Die Griekse vertalers het hierdie woord later vertaal as Ekklēsiastēs — en daarvandaan kom ons Afrikaanse woord Prediker.
Maar moenie dat die woord jou mislei nie. Qohelet lewer nie sy preek soos die meeste predikers van agter 'n preekstoel nie. Hy vertolk eerder die rol van 'n oupa wat sy kleinkind nader trek en sê:"Kom, kind, ek wil jou iets vertel voordat jy die lewe instap. Ek het al hierdie paaie geloop, ek het deur al hierdie deure gegaan, laat ek jou sê wat ek gevind het."
Die tradisie sê hierdie skrywer is koning Salomo self — die seun van Dawid, "koning oor Israel in Jerusalem" (Prediker 1:1). Die wysste man van sy tyd. Die rykste man van sy tyd. 'n Man met sewe honderd vroue en drie honderd byvroue. 'n Man met paleise, perde, wingerde, dienaars, goud en silwer. As enigiemand ooit kon glo hy kon kry wat sy hart begeer — was dit hierdie man.
Hoekom is hierdie boek relevant vir vandag?
Ek dink dat die hoofrede hoekom Prediker so akkuraat aktueel die werklikheid van die lewe beskryf, is omdat ons in 'n era leef wat beheer tot godsdiens verhef het.
Kyk net rondom jou:
Sosiale media manipuleer wat jy sien deur algoritmes wat presies uitwerk watter inhoud jou langer op die platform sal hou. Markte word "reggemaak" met invoertariewe, rentekoerse en monetêre beleid. Ons liggame word gereguleer met pille — pille om wakker te bly, pille om te slaap, pille om te eet, pille om nie te eet nie, pille om kalmte te koop wanneer jy nie kalmte kan vind nie. Ons lewens word geadministreer deur tegnologie — apps wat ons stappe tel, ons kalorieë meet, ons slaap monitor, ons banksaldo balanseer, ons lewensmaat uitkies, ons kos bestel, ons skedules dryf.
En tog — tog — voel die moderne mens méér magteloos as ooit tevore.
Hoekom?
Niemand wil beheer prysgee nie. Maar die rede waarom ons so magteloos voel, is presies omdat ons probeer om die een in beheer te wees. Ons skreeu nie omdat ons beheer haat nie. Ons skreeu omdat ons probeer om God te wees in 'n wêreld wat reeds 'n God het — daardie pos is reeds gevul.
Ons probeer met klein, klam handjies vasvat aan 'n heelal wat ons nie geskape het nie, ons nie onderhou nie, en ons uiteindelik nie kan beheer nie. Ons probeer 'n storm in 'n bottel toemaak. Ons probeer die wind in 'n hand vang. Ons probeer 'n wolk in 'n boks bêre.
En Prediker glimlag droewig en sê: het ek jou nie gewaarsku nie?
"Geen mens het mag oor die wind, om die wind teë te hou nie; en daar is geen mag oor die sterfdag nie, en daar is geen verlof in die oorlog nie, en goddeloosheid sal sy beoefenaar nie red nie." — Prediker 8:8
Niemand het mag oor die wind nie. Geen weervoorspeller, geen ingenieur, geen tegnoloog, geen biljoenêr. Niemand het mag oor die dag van sy dood nie. Geen mediese deurbraak, geen eindelose verbintenis, geen hoeveelheid vitamiene of toepassings of gesondheidsprogramme gaan jou vir ewig laat leef nie.
Ons leef in die mees beheerde era ooit, en ons is die meeste angstige geslag in die geskiedenis van die mensdom. Hoe verklaar 'n mens dit?
Prediker verklaar dit. Maklik.
So waarom hierdie preek?
Hierdie boek is nie 'n moedelose man se klaaglied nie. Dit is 'n liefdevolle vader se waarskuwing aan sy kinders: moenie jou hele lewe verspeel om iets te probeer beheer wat jy nooit kan beheer nie. Daar is reeds Iemand wat beheer. Leer ken Hom. Ontvang die lewe uit Sy hand. En jy sal vry wees op 'n manier wat geen algoritme jou ooit kan gee nie.
In hierdie preek wil ek met jou stap deur vier waarnemings wat hierdie ou wyse man oor die lewe maak. Twee is negatief en beslissend. Twee sal soos 'n verrassende geskenk jou laat glimlag. En aan die einde wil ek jou wys hoe een Persoon — wat vrywillig in die wêreld ingestap het wat Hy self gemaak het — die antwoord is op elke vraag wat Qohelet ooit gevra het.
Want as alles asem is, kom soek 'n mens iets met substansie. Iemand wat nie deur die wind weggewaai kan word nie. Iemand wat self oor die wind heers.
Kom ons gaan kyk saam.
'n Vraag om mee te begin: Wat in jou lewe probeer jy op die oomblik die hardste beheer? En hoe goed gaan dit eintlik met jou?
1. Die wêreld se absurditeit (slegte nuus)
Die belangrikste woord in Prediker is die Hebreeuse woord hewel (הֶבֶל) — letterlik asem of damp. Dis ook die moeilikste woord om te vertaal. Die ou Afrikaanse Bybel vertaal dit met "ydelheid". Hoor net hoe Prediker sy hele boek inlui:
"Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!" (Prediker 1:2, OAV)
Sommiges sê hewel beteken net verbygaande — soos jou asem op 'n koue oggend, 'n wolkie wat verdwyn voor jy dit kan vasvat. En ja, Prediker gebruik die woord soms só:
"...die jeug en die jonkheid is tevergeefs." (Prediker 11:10, OAV)
Maar as jy hewel net as verbygaande verstaan, mis jy Qohelet se diepste klagte. Sy diepste woord vir die lewe is dat dit absurd is. Dit maak nie sin nie! Absurd beskryf die afstand tussen wat ons wil hê en wat die wêreld gee. Tussen wat ons verdien en wat ons ontvang. Tussen ons skreeu en die hemel se stilte. Qohelet vat hierdie absurditeit saam in drie stellings.
Ons kry nie wat ons wil hê nie
Qohelet was 'n man met onbeperkte middele. Hy het besluit om die lewe se betekenis te toets deur self alles te probeer wat 'n mens kon begeer. Hoor wat sê hy aan die begin van sy soektog:
"Ek het in my hart gesê: Kom nou, ek wil jou met vreugde 'n proef laat neem; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit is tevergeefs." (Prediker 2:1, OAV)
"Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande gedoen het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie." — Prediker 2:11 (OAV)
Soms gee die wêreld eenvoudig nie wat ons wil hê nie. En meer dikwels — wanneer dit wel gee — is ons hart reeds aan't beweeg na die volgende ding. Ons is skaars klaar geniet aan een ding of ons begeer al weer iets anders, iets meer.
Wanneer ons kry wat ons wil hê is ons nie tevrede nie.
"Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie van rykdom hou, nie van inkomste nie. Ook dit is tevergeefs."— Prediker 5:9 (OAV)
Baddens het 'n veiligheidsklep tweederdes op die kant — sodat dit nie oorloop as jy te veel water intap nie. Geld het nie só 'n klep nie. Hoe groot ook al jou bankbalans, mens soek altyd na nog meer. Hoe meer jy dit liefhet, hoe meer bedrieg dit jou. Welvaart is soms ook flietend, jy kan dit alles baie gou verloor.
En as jy dink jy gaan jou rykdom met jou saamneem, hoor wat sê Qohelet:
"Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgekom het, gaan hy weer weg, naak soos hy gekom het, en niks neem hy mee vir sy moeite, wat hy in sy hand kan saamneem nie." (Prediker 5:14, OAV)
Ons kry nie wat ons verdien nie — die regverdige ly, die goddelose floreer
Hierdie een is die hardste skop teen die maag, luister:
"Daar is 'n ydelheid wat op die aarde plaasvind: dat daar regverdiges is wie dit vergaan na die werke van die goddelose, en daar is goddelose mense wie dit vergaan na die werke van die regverdiges. Ek het gesê: Ook dit is tevergeefs." (Prediker 8:14, OAV)
En verder:
"...ek het op die plek van die reg gesien dat daar onreg is, en op die plek van die geregtigheid dat daar onreg is." (Prediker 3:16, OAV)
Die plekke wat regverdig moes oordeel — die howe, die raadsale — is korrup. Die regverdige kry die straf wat die goddelose moes kry. Die goddelose loop weg met die seën wat die regverdige verdien het. Dit voel of iemand iewers die boeke verruil het. 'n Siek kosmiese rekeningverwarring.
En:
"...die wedloop is nie vir die snelles nie, en die oorlog nie vir die helde nie; en ook nie vir die wyses brood nie, en ook nie vir die slimmes rykdom nie, en ook nie vir die verstandiges guns nie; want tyd en lot tref hulle almal." (Prediker 9:11, OAV)
So hier staan ons. Ons kry nie wat ons wil hê nie. As ons dit kry, hou dit nie en bevredig dit nie. En boonop kry ons nie wat ons verdien nie. Qohelet sê nie hierdie dinge gebeur altyd nie — hy sê dit is die wêreld se patroon. Dis hoe die lewe onder die son werk.
2. Ons hart se onversadigbaarheid (slegte nuus)
Die tweede slegte nuus sny nog dieper. Dit gaan nie meer oor die wêreld daar buite nie — dit gaan oor die onversadigbare honger diep binne-in jou hart.
"Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie." (Prediker 1:8, OAV)
Dit is asof Qohelet sê: vir ons sintuie is genoeg nooit genoeg nie. Nie jou oog nie. Nie jou oor nie. Nie jou hand of jou tong nie. Niks wat hulle kan vat, kan hulle versadig nie.
Kyk hoe teken Qohelet die werkverslaafde:
"Daar is een, en geen tweede nie; ook het hy geen seun of broer nie, en daar is geen einde aan al sy moeite nie; ook word sy oog van rykdom nie versadig nie. En vir wie tog tob ek my af en ontsê my siel die goeie? Ook dit is tevergeefs en 'n verdrietige saak." (Prediker 4:8, OAV)
Hierdie man het niemand vir wie hy werk nie — geen seun, geen broer — en tog kan hy nie ophou nie. Hy slaaf homself vrywillig. Wat hardloop in sy eie selfgemaakte hamsterwiel. Sy oog word nie versadig van rykdom nie. Hoeveel hy ook al kry, hy is nooit vergenoegd nie.
En oor honger as beeld van die hart:
"Al die moeite van die mens is vir sy mond, en tog word sy begeerte nie versadig nie." (Prediker 6:7, OAV)
Hier gebruik Qohelet liggaamlike honger as beeld van iets dieper. 'n Mens sou amper kon sê: ons het nie net begeertes nie, ons is begeerte. Ons hart is soos 'n industriële afvalmaler wat aanhou loop — gooi in wat jy wil, dit verteer alles, en die masjien bly leeg en bly oop.
Prediker leer ons iets ongemakliks oor onsself: ons harte is nie net onversadig nie — ons is onversadigbaar. Niks in hierdie wêreld kan dit vol maak nie. En hierdie toestand is nie iets wat ons aangeleer het nie. Ons word só gebore. Daar is 'n uitroep in elke menshart wat te diep is om met aardse goed gevul te word.
Hier kom ons by die diepste oomblik van die preek.
- Die wêreld gee nie wat ons hart wil hê nie (absurd)
- Ons hart kan nie versadig word deur enigiets in die wêreld nie (onversadigbaar)
Saamgevat: daar staan 'n permanente afstand tussen wat die hart begeer en wat die wêreld bied. Nou moet ons vra: waarom? Waarom só 'n perfekte misplasing tussen ons en ons omgewing? Hoe kan ons dit verklaar?
Prediker self gee die antwoord:
"Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê, sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind." (Prediker 3:11, OAV)
Lees dit weer. Hy het die eeu in hulle hart gelê. Daar's 'n stuk ewigheid in die mensehart geplant. En dis presies hierdie ewigheid binne-in ons wat verseker dat geen tydelike ding ons kan versadig nie. Die hart se bodem is dieper as wat die wêreld kan vul.
Is dit dan 'n wrede grap van God se kant af? Asof Hy 'n honger geplant het wat nie gestil kan word nie?
Nee. God het ons vir Homself geskape. Hy het 'n oneindige honger in ons geplant — omdat Hy self die oneindige Goeie is wat ons kan versadig.
"Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar húlle soek allerhande slim planne uit." (Prediker 7:29, OAV)
Die wêreld waarin ons vandag leef weerspieël nie God se oorspronklike fabrieksinstellings nie. 'n Diep kloof loop tussen God se goeie skepping en die mensdom soos ons hulle vandag teëkom — onsself ingesluit. Wat normaal voel in ons ervaring, is abnormaal volgens ons Ontwerper.
John Piper: We are only happy when we are most satisfied in Him.
3. Die gawes en gawe van die lewe (goeie nuus)
Sewe keer weerklink die Prediker heeltemal 'n ander perspektief — die perspektief van gawe. Dieselfde sake wat eers hewel genoem is — eet, drink, werk, besittings — word nou herken as uit die hand van God: Hierdie is 'n radikale perspektief verandering.
"Daar is niks beter vir die mens as om te eet en te drink en sy siel die goeie te laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Dit het ek ook gesien, dat dit uit die hand van God is. Want wie kan eet en wie kan iets geniet sonder Hom? Want aan 'n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde; maar aan die sondaar gee Hy die taak om bymekaar te maak en op te gaar, om dit te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Dit is ook tevergeefs en 'n gejaag na wind." — Prediker 2:24–26 (OAV)
"Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee, want dit is sy deel. Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verbly by sy moeitevolle arbeid — dit is 'n gawe van God. Want hy dink nie veel aan die dae van sy lewe nie, omdat God hom verhoor in die vreugde van sy hart." — Prediker 5:17–19 (OAV)
Dink 'n bietjie aan die mooiste oomblikke van jou lewe. 'n Bekerwedstryd wat jou span gewen het. 'n Diploma of graad wat jy behaal het. Die dag toe jy getroud is. Die eerste keer wat jy jou kind in jou arms vasgehou het. Wat sê mense oor en oor by sulke oomblikke? Ek is so dankbaar. Dis 'n geskenk. Ek het dit nie verdien nie. Ek weet nie wat om te sê nie.
Selfs mense wat nie in God glo nie, sê dit. Die lewe is 'n geskenk.
Maar hier is die vraag: as die lewe 'n geskenk is — van wie?
As daar geen Gewer is nie, is geskenk maar net 'n leë metafoor. 'n Mooi woord met niks daaragter nie. Jy kan dankbaar voel solank jy wil, maar as daar niemand is om te bedank nie, is jou dankbaarheid 'n brief sonder adres.
"Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee, want dit is sy deel. Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verbly by sy moeitevolle arbeid — dit is 'n gawe van God." (Prediker 5:17–18, OAV)
Hoor jy dit? Dit is 'n gawe van God.
As jy regtig glo die lewe is 'n geskenk, maak dit elke dag soos 'n soort sneeudag. Hier in die Wes-Kaap is sneeu seldsaam — die Cederberg kry dit dalk twee, drie keer in 'n winter. Jy kan dit nie skeduleer nie. Jy kan dit nie bestel nie. Jy kan dit nie afdwing nie. As dit kom, los jy alles en gaan speel in die sneeu.
Só is die lewe — as jy dit ontvang as 'n geskenk uit ons Vaderhand. Jy het dit nie gemaak nie. Jy kan dit nie beheer nie. Al wat jy kan doen, is om te ontvang. Al wat jy kan doen, is om dit te geniet.
En dít beteken iets reusagtig: Die diepste werklikheid is persoonlik. Liefdevol. En Hy wens jou goed. Alles wat hier is, is hier omdat Hy dit hier wou hê. Jy is hier omdat Hy jou hier wou hê. Niks van dit moes wees nie. Dis 'n suiwer oorvloei van goedheid en blydskap dat God dit so gewil het.
Vir wie kan jy dankie sê vir die sagtheid van 'n pasgebore baba se wang? Vir wie kan jy dankie sê vir reën in April? Vir wie kan jy dankie sê vir die lewe self?
4. Die vreugdes van resonansie (goeie nuus)
Daar is oomblikke wanneer jou hart en die wêreld saamsing op dieselfde noot. Die wêreld raak jou aan, roep na jou, beweeg jou. Dis asof iemand 'n stemvurk gepluk het en jou hart ingestel was op presies daardie frekwensie — en nou sing alles saam.
Dink aan 'n sonsopkoms wat jou asem wegslaan. Dink aan die kyk van iemand wat jy liefhet wat alles sê wat jy nodig het om te hoor. Dink aan die eerste akkoorde van jou geliefkoosde lied.
Hierdie oomblikke kan nie afgedwing word nie. Probeer 'n bietjie. Hou jou geliefkoosde lied tien keer in 'n ry, vir tien dae. Teen die einde van die honderd herhalings is dit nie meer jou geliefkoosde lied nie. Probeer 'n perfekte sonsopkoms skeduleer. Probeer aan die slaap raak deur jouself harder te dwing. Hoe harder jy probeer, hoe verder vlug dit weg.
Resonansie is uit sy aard onbeheerbaar. Jy kan dit nie versamel nie. Jy kan dit nie spaar nie. Jy kan dit nie bottelvas maak vir 'n reëndag nie.
Hoor wat sê Qohelet:
"Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou ydele lewe wat Hy jou gegee het onder die son, al jou ydele dae lank; want dit is jou deel in die lewe..." (Prediker 9:9, OAV)
En:
"Want hy dink nie veel aan die dae van sy lewe nie, omdat God hom verhoor in die vreugde van sy hart."(Prediker 5:19, OAV)
God hou hom besig met vreugde in sy hart. Dis 'n pragtige sin. Nie blydskap oor wat môre kom nie. Nie nostalgie oor wat verby is nie. Nie eendag wanneer ek aftree nie. Net dít wat nóú in jou hand is.
Die genot kan nie opgegaar word nie. Die sneeu hou net so lank as wat dit hou. Om te geniet wat God vandag gee, moet jy hier wees. Nie by die volgende ding nie. Nie by die laaste ding nie. Hier!
As die eerste twee waarnemings ons gevra het hoekom is die wêreld só stukkend, vra hierdie twee 'n ander vraag: hoekom is daar enigiets om oor te juig?
Hoekom resoneer die wêreld ooit met ons hart? As alles bloot toeval is — as die heelal niks meer is as botsings van atome nie — hoekom slaan jou hart vinniger by 'n sonsopkoms? Hoekom sou jy huil by 'n musiekuitvoering? Hoekom roer daar iets binne jou wanneer jy iets pragtig sien?
As die heelal 'n stemvurk is — wie het dit gepluk? As jou hart 'n klok is — wie het dit gelui?
As jy glo die lewe is goed omdat dit 'n geskenk is — en dis 'n geskenk omdat God dit gee — dan is enige betekenis wat jy ontdek 'n inhaalpoging by die betekenis wat God reeds ingebou het. Enige goedheid wat jy geniet, krap maar net aan die oppervlak van die Goedheid wat God self is.
5 Die brug na Christus
Hierdie vier temas lei uiteindelik na Christus as 'n nog dieper realiteit. Die menswording van Jesus is absurd. 28 jaar verspil om tussen gewone nie invloedryke mense die meeste van jou tyd om te bring. AS jy die wêreld wou verander, sou dit nie mees sin gemaak het, om in Herodus se huis groot te word, en die invloed en ag te gebruik om nog meer mense jou boodskap te leer nie? Moes Jesus nie meer wonderdade in die openbaar gedoen het nie, soos die verheerliking op die berg? Dan sou mense mos geglo het? Hoekom het HY mense vermaan om stil te bly? Was dit nie dan sy doel dat almal moet glo nie? Jesus het die hewel in eie liggaam gedra, 'n vervloeking en skande geword in Sy marteling aan 'n kruis? Maar hier is die grootste raaisel - Hy het sy lewe vrywillig afgelê.
"Geen mens het mag oor die wind, om die wind teë te hou nie; en daar is geen mag oor die sterfdag nie, en daar is geen verlof in die oorlog nie, en goddeloosheid sal sy beoefenaar nie red nie." — Prediker 8:8 (OAV)
Christus se antwoord
"Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê, en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang." — Johannes 10:17–18 (OAV)
Qohelet sê: "Geen mens het mag oor die sterfdag nie." Jesus sê: "Niemand neem dit van My af nie."
Jesus beoefen uiteindelik BEHEER uit op 'n manier wat geensins sin maak nie: Hy stem toe om gemartel te word - en lê Sy lewe vir jou en my neer, sodat elkeen wat in Hom glo gered kan word!!
Om Jesus HERE van jou lewe te maak, herstel jy die skeppingsorde! God is in beheer! Hy is die somtotaal van jou lewe! Hy is jou fokus, en uitkoms, en ons is die meeste suksesvol, geseënd en aantreklik wanneer ons die meeste soos Hy lyk en leef!
Hierdie boodskap is geinspireer deur hierdie preek van BOBBY JAMIESON
https://www.thegospelcoalition.org/podcasts/tgc-podcast/ancient-remedies-ills-modernity/