Die Alchemis – Hoe Jesus ons Gebrokenheid in GOUD Verander

Ons leef in ’n wêreld wat mal is oor “formules vir sukses.” Van dieetplanne tot beleggingstrategieë, van geestelike oorwinning tot emosionele genesing – oral soek mense na die geheime resep - GEHOORSAAM JESUS is God se RESEP

Die Alchemis – Hoe Jesus ons Gebrokenheid in GOUD Verander

’n Eksegetiese oordenking uit 2 Korintiërs 3 & 4.

KYK SONDAGDIENS OP YOUTUBE

LUISTER POTGOOI OP SPOTIFY

ONS LEEF in ’n wêreld wat mal is oor “formules vir sukses.” Van dieëtplanne tot beleggingstrategieë, van geestelike oorwinning tot emosionele genesing – oral soek mense na die "geheime resep". Hierdie soeke is egter nie nuut nie. Die ou alchemiste het geglo daar bestaan ’n geheime klip – die “filosoofsteen” – wat gewone metaal in goud kan omskep.

Vandag is daar baie Christene wat onbewustelik op dieselfde wyse na God se krag kyk: as iets wat geaktiveer kan word deur die regte metode, formule of gebed. Maar 2 Korintiërs 3 en 4 stel ons aan ’n heel ander werklikheid bekend: die ware transformasie gebeur nie deur formule nie, maar deur Sy heerlikheid – ‘n innerlike werk van die Gees wat ons in Christus se beeld verander.

Negatiewe Reaksies op die LEWE

Baie mense voel asof alles in hul lewe verkeerd uitwerk en dat seën en voorspoed voortdurend van hulle weerhou word. Tog is dit juis hul reaksie op die uitdagings van die lewe wat die toestand van die hart blootlê. Wanneer iemand voortdurend murmureer, kla, ander blameer, kritiseer, oordeel, of bitter, snedig, sarkasties en vol spot praat, wys dit op ’n toksiese en gewonde hart. Skimpende opmerkings, ontevredenheid, aanstoot en siniese gedrag is nie net emosionele reaksies nie — dit is simptome van ’n hart wat deur negativiteit besmet is.

God Maak Ons BEKWAAM

In 2 Korintiërs 3:1–6 reageer Paulus met sterk teenstelling teen die algemene praktyke van sy tyd waarin geestelike leiers hulself aangewys het deur aanbevelingsbriewe en selfaanprysing. Hy begin met ’n retoriese vraag: “Begin ons weer onsself aanprys?” en wys daarmee dat hy nie belangstel om sy bediening te verdedig deur menslike sertifikate of briewe van goedkeuring nie. Hy sê eerder dat die gelowiges self die bewys is van sy bediening—’n lewende brief van Christus, nie geskryf met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op kliptafels nie, maar op mense se harte.

Paulus plaas dus die klem op innerlike transformasie eerder as uiterlike aanbeveling. Hy gaan verder deur te erken dat hulle as apostels nie hulle eie bekwaamheid uit hulleself het nie. In teenstelling met leiers wat op eie prestasie roem, bely Paulus dat hulle bekwaamheid slegs van God kom. Hierdie afhanklikheid lei hom tot ’n belangrike onderskeid: hulle is bedienaars van ’n nuwe verbond, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter, verwysend na die wet en uiterlike reëls, bring dood, maar die Gees bring lewe.

Paulus se hele argument is dat ware geestelike gesag, bekwaamheid en vrug nie voortspruit uit menslike pogings of strukture nie, maar uit ’n lewende verhouding met Christus deur die Gees. Hierdie benadering is radikaal teenkultureel en rig ons aandag terug na die kern van die evangelie:

Dit is nie ons prestasie of metode wat tel nie, maar God se werk in en deur ons.

Die Ou vs. Nuwe Verbond

Paulus beskryf in 2 Korintiërs 3 hoe die Ou Verbond, hoewel glansryk, steeds met ’n sluier bedek was. Dit was ’n bediening van die letter, van oordeel, van tydelike eenmalige oomblikke van glorie. Maar nou, sê hy, het daar iets radikaals nuuts gekom: 

“Wanneer iemand hom tot die Here bekeer, word die sluier weggeneem” (v. 16).

Hierdie dramatiese oomblik van openbaring is nie die gevolg van menslike strewe of metode nie, maar van ‘n oorgawe aan die Here wat Gees is –

“en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (v. 17).

Hier word die geestelike alchemie omvergewerp –

God werk nie volgens voorspelbare menslike patrone nie, maar bring verandering van binne af.

DRAAI Gedurig Na Die Here Toe

Let op hoe Paulus die proses van transformasie beskryf in 2 Kor.3:18: 

“Ons almal… aanskou die heerlikheid van die Here met onbedekte gesig en word van gedaante verander in dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, soos deur die Here wat Gees is.” 

Dis nie ’n eenmalige wonderwerk of formule nie – dit is ‘n progressiewe metamorfose, gebore uit verhouding, van aangesig tot aangesig, nie dooi wette en reëls nie. Hierdie verandering gebeur nie deur die kopie van metodes nie, maar deur die voortdurende aanskouing van Christus.  (Heb 12:1) 

2 Korintiërs 4 neem hierdie tema verder. Paulus erken dat ons:

“...hierdie skat in erdekruike” dra (v. 7).

In plaas van dramatiese magsvertoon, kies God om Sy heerlikheid in gebrokenheid te openbaar. Dis juis die swakheid van die kleipot wat die goud van Sy krag laat uitstaan (2 Kor 12:9-10). 

Geen Towerformules

Die Griekse woord “pharmakeía” verskyn in die Nuwe Testament en verwys nie na medisyne in die moderne sin nie, maar na towery, heksery en die gebruik van middels of potions in okkultiese praktyke. Dit kom voor in tekste soos Galasiërs 5:20 (“towery”), Openbaring 9:21 en 18:23, waar gesê word dat die nasies deur hul “towery” verlei is, asook Openbaring 21:8 en 22:15 waar “towenaars” uitgesluit word van die nuwe Jerusalem. In die antieke wêreld was towery dikwels verbind aan die gebruik van hallusinogene middels en afgodspraktyke. Daarom dui pharmakeía in die Skrif op geestelike misleiding deur kunsmatige middele – of dit nou middels, manipulasie of valse geestelike ervarings is. Dit dien as ‘n ernstige waarskuwing teen enige vorm van soeke na mag, genesing of openbaring buite ‘n suiwer verhouding met Christus en die waarheid van die Heilige Gees.

IN Christus is daar geen plek vir geestelike selfverheerliking of vleeslike tower-toertjies en alchemie nie. Ware geestelike transformasie gebeur nie wanneer ons die regte toertjies uitvoer nie, maar wanneer ons ons leë potte oopmaak vir die skat van Christus.  

Apostle André Pelser (Founder of Harvester) always taught:

Remain empty of self to be filled with His glory.  

Aanskou Sy Heerlikheid

In 2 Kor. 4 vers 6 lees ons: 

“Want God wat gesê het dat daar lig uit duisternis moet skyn, is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” 

Hier lê die geheim: Dieselfde God wat die wêrelde in Genesis geskep het met ‘n woord, herskep ons - ons innerlike wêreld deur Christus se teenwoordigheid. Die metode? Nie ‘n formule nie – maar ‘n aanskouing van die Heerlikheid. ‘n Fokus op Hom. ‘n Lewe wat nie draai om die vrae “hoe kry ek dit reg?” nie, maar eerder “hoe kyk ek na Hom?”

“Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.” (Eks. 34:34)  

“Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.  Ons moet nie net elke nou-en-dan na Hom toe draai nie! Ons draai sonder ophou, gedurig ("perpetually") na die Heilige Gees.  "Here help my! Here wat moet ek sê? Here hoe moet ek nou maak? Here leer my! Here wys my waar is ek verkeerd?..."  

Daar is baie bronne van inligting, die mees gevaarlikste vir gelowiges is "die boom van kennis van goed en kwaad"! 

Twee Bome Waarvan Mense "Eet"

Die twee bome in die Tuin van Eden simboliseer die twee “familiebome” wat vandag nog in die wêreld bestaan. Die "Boom van die Lewe" verteenwoordig Jesus en die genadepad na God se aanvaarding, terwyl die "Boom van die Kennis van Goed en Kwaad" simbolies is van die Wet en Werke—die mens se poging om “goed” op grond van sy eie wysheid te definieer en dit met sy eie krag na te jaag.

Christene kies voortdurend watter van hierdie twee geestelike bronne hulle, hul krag en antwoorde kry. 

Wanneer ons die konteks van Moses en die rots in Numbers 20:8-12 by hierdie waarheid voeg, sien ons hoe gevaarlik dit is om vas te hou aan die metode eerder as God se Stem. Moses was gewoond daaraan om die rots te slaan – want dit het laas gewerk! Maar hiérdie keer sê God: “Praat met die rots.” Moses doen weer wat gewerk het, en die wonder gebeur… maar hy verloor toegang tot die belofte.

Die les? Water kan vloei, mense kan geseën word, maar as ons nie gehoorsaam is aan God se huidige woord nie, is die pad na geestelike volwassenheid afgesny.

Die tragedie van gosdienstige is voorskriftelikheid – dit lewer resultate, maar openbaar nie God se krag en genade nie.

Gehoorsaamheid Produseer die "GOUD"

“Omdat julle My nie geglo het om My as heilig te erken in die oë van die kinders van Israel nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie bring in die land in wat Ek aan hulle gee nie.” (Numeri 20:12)

So ook die dissipels. Toe hulle die hele nag vis gevang het en niks gekry het nie, sê Jesus: “Gooi die net aan die ander kant.” Dieselfde boot, dieselfde net, dieselfde water – maar ‘n ander woord. En dit is die sleutel. Jesus self het nie uit Homself opgetree nie. In Johannes 5:19 sê Hy: 

“Die Seun kan niks uit Homself doen nie, tensy Hy die Vader dit sien doen.” 

In Joh. 8:28 herhaal Hy dit: 

“Uit Myself doen Ek niks nie, maar net wat My Vader My geleer het.”
Hierdie ingesteldheid – om niks sonder die Vader te doen nie, is die ware geestelike “filosoofsteen.”

In plaas daarvan om te probeer om God se resultate na te boots, word ons uitgenooi om in verhouding te leef, te wag, te kyk, te luister.

“...die natuurlike mens nie die dinge van die Gees van God aanneem nie; want dit is dwaasheid vir hom.” - 1 Korintiërs 2:14

Die geestelike lewe is dus nie ‘n menslike metode nie, maar ‘n geestelike fyn aanvoeling wat slegs kom deur oorgawe.

Die resultaat van hierdie lewe, sê Paulus in 2 Korintiërs 4:8–9, is nie ‘n lewe sonder pyn of probleme nie. Inteendeel, ons is “in alles verdruk, maar nie benoud nie; verleë, maar nie radeloos nie.” Die pad van die Gees lei nie om die kruis nie – dit lei daardeur. Want, soos Hebreërs 5:8 sê, “al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.” En ons ook.

Só word ons van kleipot tot goudpot – nie deur menslike alchemie nie, maar deur goddelike transformasie proses van gehoorsaamheid. 

Jesus verander ons nie deur towerspreuke of geestelike kitsoplossings nie. Hy verander ons deur Sy teenwoordigheid, deur die Gees, deur heerlikheid wat op ons neerdaal soos ons na Hom kyk. Dis nie ‘n formule wat jy memoriseer nie – dis ‘n Persoon wat jy leer ken. Dít is hoe ons gebrokenheid in goud verander word.