Wandel in die Gees
Ontdek die natuurlike bonatuurlike lewe van Christus in jou
Erfgename wat soos bedelaars leef
Daar is ’n ou storie van ’n arm man wat jare gelede per skip na Amerika is. Hy het al sy geld aan die kaartjie bestee en vir die reis net ’n sakkie beskuitjies en ’n stuk kaas saamgevat. Elke aand, terwyl die ander passasiers in die eetsaal feesvier, sit hy alleen op die dek en kou aan sy droë beskuitjies. Op die laaste dag vra ’n kelner hom: “Meneer, waarom het u nooit by ons kom eet nie?” Die man skaam hom: “Ek kon dit nie bekostig nie.” Die kelner kyk hom verbaas aan. “Maar Meneer, die etes was by u kaartjie ingesluit.”
Ek wonder of dit nie ’n prentjie van baie van ons is nie. Ons het in Christus ’n kaartjie ontvang waarby alles ingesluit is, maar ons sit op die dek en kou droë beskuitjies. Ons ken die regte woorde, ons sing die regte liedere, maar ons leef asof die eetsaal vir ander mense bedoel is.
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom die lof toe! In Christus het Hy ons geseën met elke geestelike seën in die hemele. (Efesiërs 1:3)
In Hom is al die skatte van die wysheid en kennis verborge. (Kolossense 2:3)
Feitlik elke verhaal in die Bybel het ’n bonatuurlike element in; God is immers onsigbaar en ’n geestelike wese, en elke interaksie met Hom is bonatuurlik. Hoe God mense dan lei, is om bonatuurlik dinge te doen. Abraham hoor ’n stem, Moses sien ’n bos wat brand, Josef droom, Elia sien vuur uit die hemel val, en Maria hoor van ’n engel. Die Bybel is nie ’n handboek oor goeie maniere nie. Dit is die verhaal van ’n onsigbare God wat in die sigbare wêreld inbreek.
Wat laat ons dink dat die lewe net gemeet kan word deur die sigbare, tydelike wêreld? Omdat hierdie ervarings in ons leeftyd yl gesaai is, en derhalwe ook nie gereeld gebeur nie, gebruik die vyand die geleentheid om ’n mens ongelowig te maak. Die lewe is moeilik en swaar, en ons is soos Noag voor die vloed. Die wêreld is besig om deur reuse katastrofiese veranderinge te gaan: weersomstandighede, maar ook menslike reaksie, die protesoptogte, selfs hier in ons eie land – ons kan nie Vrydag by Mugg & Bean gaan ’n ete geniet nie a.g.v. die taxistaking.
Hierdie is egter net ’n transisietyd, want die huidige stelsel waarvolgens mense hulself in die lewe sien funksioneer, werk nie meer nie. Die ou kaart pas nie meer op die nuwe pad nie. En juis in so ’n tyd het mense nie nog ’n slim praatjie nodig nie. Hulle het ’n God nodig wat werklik is.
Die koninkryk van God bestaan nie uit woorde nie, maar uit krag. (1 Korintiërs 4:20)
Die tekens van krag is nodig, sodat mense se geloof nie in welsprekende woorde en filosofieë sal wees nie, maar in die krag van God. Paulus was een van die slimste mense van sy tyd, en tog skryf hy:
Wat ek gesê en verkondig het, het nie berus op die oorredingskrag van menslike wysheid nie, maar dit was ’n bewys van die krag van die Gees. Julle geloof moet dan nie op menslike wysheid berus nie, maar op die krag van God. (1 Korintiërs 2:4-5)
Kathryn Kuhlman, in wie se byeenkomste talle mense genesing ontvang het, het dit baie eenvoudig gestel: “Ek glo in wonderwerke, omdat ek in God glo.” Dis nie ingewikkeld nie. As God lewe, dan is die bonatuurlike nie ’n uitsondering nie. Dan is dit die manier waarop die Vader met sy kinders werk.
Vandag wil ek met jou praat oor die sleutel tot daardie skatkamer. Paulus noem dit: wandel in die Gees. En ek wil dit so prakties as moontlik maak, want die Gees is nie net vir Sondagoggend nie. Hy is vir Maandagoggend in die verkeer, vir die kombuis, die kantoor en die citrusboord.
Die Man van Galilea
As ons wil weet hoe ’n lewe in die Gees lyk, moet ons nie by ’n teorie begin nie, maar by ’n Persoon. Bill Johnson sê: “Jesus Christus is volmaakte teologie.” As jy wil weet hoe God is, kyk na Jesus. As jy wil weet hoe ’n mens lyk wat in die Gees wandel, kyk ook na Jesus.
Het jy al opgelet watter titel Jesus die meeste vir Homself gebruik het? Nie “Seun van God” nie, nie “Messias” nie, maar “die Seun van die mens” – ongeveer tagtig keer in die evangelies. Dis ’n titel met twee kante. Aan die een kant beteken dit eenvoudig “’n mens”. Aan die ander kant verwys dit na die hemelse figuur in Daniël 7:13 wat “met die wolke van die hemel” kom. Een titel wat sowel die stof van die aarde as die heerlikheid van die hemel dra.
Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie plek om sy kop neer te lê nie. (Matteus 8:20)
Hy was moeg. Hy was honger. Hy het in die agterstewe van ’n boot op ’n kussing geslaap terwyl die storm woed. En toe Hy wakker word, het Hy die wind bestraf en vir die see gesê: “Swyg! Wees stil!” (Markus 4:39). Dieselfde Man wat moeg genoeg was om in ’n storm te slaap, was magtig genoeg om dit stil te maak.
Dit is wat my aan Jesus fassineer: Hy het die bonatuurlike natuurlik laat lyk. Sy eerste wonderwerk was nie in die tempel nie, maar by ’n troue, in die kombuis, en net die bediendes het geweet waar die wyn vandaan kom (Johannes 2). Toe Petrus belasting moes betaal, het Jesus hom gestuur om ’n vis te vang, en die munt was in die vis se bek (Matteus 17:27). God se ekonomie, met ’n knipoog.
Hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het, hoe Hy rondgegaan en goed gedoen het en almal gesond gemaak het wat onder die mag van die duiwel was, omdat God by Hom was. (Handelinge 10:38)
Let op: Hy het rondgegaan. Die meeste van Jesus se wonderwerke het langs die pad gebeur, tussen afsprake deur. Die vrou wat aan sy kleed raak, word genees terwyl Hy op pad is na Jaïrus se huis. Die bonatuurlike was nie ’n byeenkoms nie. Dit was die manier waarop Hy geloop het.
Die Seun kan niks uit Homself doen nie; Hy doen net wat Hy die Vader sien doen. (Johannes 5:19)
Dit is die geheim. Jesus het nie in sy eie krag gewandel nie, maar in volkome afhanklikheid van die Vader, gesalf deur die Gees. Daarom kon Hy sê: “Wie in My glo, sal self ook die werke doen wat Ek doen” (Johannes 14:12).
Prakties: Kyk hierdie week na jou eie “pad tussen afsprake”. Die tou by die kassier, die kollega wat stil is, die buurman oor die heining. Vra die Here: “Vader, wat doen U hier?” Jesus het nie gewag vir ’n podium nie. Hy het raakgesien wat die Vader op sy pad gesit het.
’n Seldsame balans
Die meeste mense val aan een kant van die perd af. Party is so hemels dat hulle op aarde niks werd is nie. Ander is so aards dat hulle geen hemelse gewig dra nie. Jesus het albei wêrelde in een lewe verenig. Hy het geëet, gekuier, by troues gedans en kinders op sy skoot laat klim. En in dieselfde asem het Hy siekes genees en demone uitgedryf.
Peter Kreeft waarsku dat een van die grootste bedreigings vir die kerk vandag ’n soort eiesinnige self gesentreerde spiritualisme is: mense bou hulle eie spiritualiteit en skuif God na die kantlyn. Die teenoorgestelde gevaar is net so werklik. Ons kan as kerk beleefd, vriendelik en goed georganiseer wees, maar sonder krag. Soos ’n mooi nuwe bakkie sonder ’n enjin: dit lyk goed op die verkoopsvloer, maar dit vat jou nêrens nie.
Julle dwaal omdat julle nie die Skrif ken of die krag van God nie. (Matteus 22:29)
Nie óf die Skrif óf die krag nie. Albei.
Wat beteken dit om in die Gees te wandel?
Laat die Gees julle lewe beheer, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie. (Galasiërs 5:16)
Ons het die lewe deur die Gees; laat ons dan ook deur die Gees ons lewe rig. (Galasiërs 5:25)
Paulus gebruik hier twee Griekse woorde wat albei met loop te make het. In vers 16 is dit peripateō: rondloop, jou alledaagse lewe lei – dieselfde gedagte as Jesus wat “rondgegaan het en goed gedoen het”. In vers 25 is dit stoicheō: in ’n ry loop, in die pas bly, soos soldate wat in gelid marsjeer.
Dink aan ’n voetpad hier in die Cederberg. As jy saam met ’n ou boer of ’n ervare gids stap, leer jy gou om nie voor hom uit te hardloop of agter te raak nie. Jy pas jou tree by syne aan. Jy trap waar hy trap. Na ’n ruk dink jy nie meer daaroor nie – jy loop net saam. So is die Heilige Gees nie ’n enjin wat jy aanskakel wanneer jy krag nodig het nie. Hy is ’n Persoon met wie jy in die pas bly.
Om in die Gees te wandel beteken om jou begeertes, gedagtes en dade in lyn te bring met God se wil, eerder as om selfsugtige impulse na te jaag. Dit is ’n heroriëntasie van waar jou denke tuisgaan en wat jou aandag vasvang: nie die dinge van die sondige natuur nie, maar die dinge van die Gees (Romeine 8:5-6). Dit word op twee maniere sigbaar. Eerstens sê jy nee vir die vernietigende impulse, want die begeertes van die sondige natuur is gedurig teen die Gees gekant (Galasiërs 5:17). Tweedens groei daar vrug: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).
Ek is die wingerdstok, julle is die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. (Johannes 15:5)
Kyk na ’n wingerdstok in Maart, net voor die oes. Die loot span nie sy spiere om ’n druif te maak nie. Hy bly net vas aan die stok, en die sap doen die werk. Dr André Pelser stel dit so: geen formule of tradisie kan die bonatuurlike na willekeur reproduseer nie. Dit word deur geloof ontvang, volgens God se doel, deur die Heilige Gees. Dit is nie ’n tegniek nie. Dit is die vrug van nabyheid.
Tog is dit nie passief nie. Ons werk ons verlossing met eerbied en ontsag uit, terwyl God self in ons werk om te wil en te doen (Filippense 2:12-13). En die vrug daarvan is vryheid: “Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Korintiërs 3:17). Nie die vryheid om te doen net wat jy wil nie, maar vryheid van die tirannie van vernietigende begeertes.
Broeder Lawrence, ’n eenvoudige kok in ’n klooster in die sewentiende eeu, het geleer om in die kombuis in die pas met God te bly. Hy het gesê dat die tyd van werk vir hom nie verskil van die tyd van gebed nie. Te midde van die geraas en gekletter van die kombuis, terwyl verskeie mense gelyk iets van hom vra, besit hy God in net so ’n groot stilte asof hy op sy knieë was.
Prakties: Begin die dag met een sin: “Heilige Gees, ek loop vandag saam met U.” Stop teen middagete vir ’n oomblik en vra: “Is ek nog in die pas, of het ek vooruit gehardloop?” En gaan slaap met dankbaarheid oor waar jy Hom vandag raakgesien het. Drie klein treë, elke dag. So word ’n voetpad gemaak.
Die wandel begin in jou denke
Julle moet nie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. (Romeine 12:2)
Die Griekse woord vir “verander” is metamorphoō – ons woord “metamorfose”. Dis wat met ’n ruspe gebeur wat ’n skoenlapper word. Die ruspe probeer nie harder kruip nie. Iets binne-in hom verander, en toe kan hy vlieg. Volgens Paulus begin daardie verandering in die denke.
Dink aan ’n skaappaadjie teen ’n bult. Die eerste skaap loop waar hy wil. Maar as genoeg skape dieselfde roete loop, word dit ’n paadjie, en later loop elke skaap outomaties daar. So werk jou gedagtes ook. Wat jy herhaaldelik dink en voel, trap ’n pad in jou brein. Na ’n ruk loop jou gedagtes vanself daarlangs, of dit nou ’n pad van vrees of van vrede is.
Baie mense leef permanent in oorlewingsmodus. Die liggaam is gedurig op alarm: spanning, vrees, angs, woede. Jou hart klop vinnig, jou spiere trek saam, en jou liggaam pomp streshormone asof daar elke oomblik ’n leeu om die hoek kan wees. Jy kan nie in die pas met die Gees bly as jy heeltyd vir jou lewe hardloop nie.
Smith Wigglesworth, die loodgieter van Bradford wat skaars kon lees maar deur wie God talle wonderwerke gedoen het, het gesê: “Ek word nie beweeg deur wat ek sien nie. Ek word net beweeg deur wat ek glo.” Dit is ’n nuwe paadjie wat getrap word. Nie ontkenning van die werklikheid nie, maar ’n besluit oor watter werklikheid die laaste woord kry.
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en gedagtes bewaar in Christus Jesus. (Filippense 4:6-7)
Die woord “bewaar” is phroureō – ’n militêre term vir ’n garnisoen wat ’n stad bewaak. God se vrede staan wag by die poort van jou hart en jou gedagtes, albei saam. Dankbaarheid is nie bloot goeie maniere nie; dit herprogrammeer jou innerlike wêreld (1 Tessalonisense 5:16-18). Stilte is nie leegheid nie: “Laat staan, en weet dat Ek God is” (Psalm 46:11).
Bewaar jou hart bo alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe. (Spreuke 4:23)
Prakties: Wanneer jy agterkom jou gedagtes loop weer met die ou paadjie van bekommernis af, moenie net probeer ophou dink nie. Draai om en trap bewustelik ’n nuwe pad: noem drie dinge waarvoor jy dankbaar is, sê ’n belofte uit die Woord hardop, en gee die saak in een sin vir die Here. Doen dit vandag, môre en oormôre. Die gras groei vinnig oor ’n paadjie wat niemand meer loop nie.
Die verskil wat alles verander
Die wêreld het ook hierdie dinge ontdek: meditasie, vernuwing van die denke, dankbaarheid, die invloed van die gees op die liggaam. Maar die wêreld soek ’n onpersoonlike krag, ’n energieveld waarop jy inskakel soos op ’n radiofrekwensie. Die wêreld soek die verborge krag. Die kerk het die verborge Persoon.
Reinhard Bonnke het daarop gewys dat ons omring is deur kragte wat ons nie kan sien nie: radiogolwe, magneetvelde, seine wat net instrumente kan opspoor. Die onsigbare is ewe werklik. Maar die onsigbare wêreld agter ons wêreld is nie ’n frekwensie nie. Dit is ’n Vader. “In Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons” (Handelinge 17:28).
Die eerste woorde van Jesus aan sy dissipels was ’n vraag en ’n uitnodiging: “Wat soek julle?” en “Kom kyk” (Johannes 1:38-39). Die evangelie vra nie dat jy oplos in die groot niks nie. Jy word nie uitgevee nie; jy kry ’n nuwe adres.
Ek leef nie meer self nie, maar Christus leef in my. (Galasiërs 2:20)
Die doel van die vernuwing van jou denke is nie ’n meer verligte weergawe van jouself nie. Dit is om gelykvormig te word “aan die beeld van sy Seun” (Romeine 8:29). Die doel is nie dat jy god word nie. Die doel is dat jy soos Jesus word.
My eie getuienis
Laat ek jou vertel waar ek kom.
Ek was dertien jaar oud. As jong seun het ek die gawe van tale en profesie ontvang. Van toe af het die bonatuurlike vir my, vreemd genoeg, natuurlik geword. Ek het gewoond geraak aan die manier waarop God se vermoëns in ons oopgesluit word wanneer ons saam is: wanneer ons deel, sing en in eenheid in Christus aan mekaar verbind is.
Ek het dit beleef as bonatuurlike wysheid in moeilike sake. Ek het vaardighede in konflikhantering en vredemaak wat ek nooit uit ’n handboek geleer het nie. Ek sing in die Gees – nuwe liedere waar die woorde én die melodie spontaan van binne af opwel. ’n Fontein van openbaring wat nie opdroog nie.
Baie keer, wanneer ek moet praat, is ek self verbaas oor die wysheid en die woorde wat uit my eie mond kom, en ek weet dit kom van God, nie van my nie. Verwondering is die vingerafdruk van ’n goddelike gawe.
En dan die paradoks. Hoe ouer ek word, hoe meer bewus word ek van my beperkinge en tekortkominge. En hoe meer staan ek in verwondering oor die genade wat ek in ander mense raaksien. Ek het geleer om aandagtig te luister, want ek hoor gedurig wat Petrus noem “die woorde van God” (1 Petrus 4:11) uit die mees onverwagte monde.
Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat dit duidelik kan wees dat die krag wat alles oortref, van God is en nie van ons nie. (2 Korintiërs 4:7)
Dink aan ’n ou klei-waterkruik op ’n plaasstoep in die somerhitte. Waarom bly die water koel? Nie omdat die kruik fyn porselein is nie, maar omdat die klei poreus is. ’n Bietjie vog sypel deur en verdamp, en dit hou die water koel. Die kruik se swakheid is presies hoe dit werk. Jou swakheid is nie die einde van God se krag in jou nie. Dit is dikwels die plek waar dit deursypel.
Die rooi draad deur die geskiedenis
Iemand sal dalk sê: “Maar Pastoor, die wonderwerke was mos net vir die apostels se tyd.” Die geskiedenis vertel ’n ander storie.
In die Karoo is daar riviere wat onder die sand verdwyn. Bo-op lyk dit droog en dood, maar kilometers verder borrel dit skielik as ’n fontein uit. So het die bonatuurlike werking van die Heilige Gees deur die eeue gevloei. Soms ondergronds, soms deur ’n klein groepie, ’n oorblyfsel, maar dit het nooit opgehou nie.
Net so is daar ook in die huidige tyd ’n oorblyfsel volgens die uitverkiesing van die genade. (Romeine 11:5)
Die vroeë kerk. Ireneüs, biskop van Lyon, skryf omstreeks 180 n.C. van broers in die kerk wat profetiese gawes het en deur die Gees in allerlei tale praat, en hy noem genesings en selfs dooies wat opgewek is. Augustinus het eers gedink die wonderwerke het opgehou, maar later, in Die Stad van God (boek 22), teken hy self genesings op wat by Hippo plaasgevind het.
Die woestyn en die mistici. Antonius van Egipte en die woestynvaders was bekend vir gebed, onderskeiding en genesing. Patrick van Ierland beskryf drome en visioene waardeur God hom gelei het, en Franciscus van Assisi se lewe was deurtrek van die bonatuurlike.
Die Hervorming en daarna. In 1540 lê Philipp Melanchthon op sterwe. Maarten Luther gaan bid by sy bed, en Melanchthon herstel. Onder die vervolgde Hugenote in die Cévennes was daar ’n beweging van profesie – dieselfde vervolgde gemeenskap waaruit die Hugenote gekom het wat in 1688 aan die Kaap aangeland het. In 1727 stort die Gees uit op die Morawiërs by Herrnhut, en ’n gebedswaak begin wat ongeveer honderd jaar duur. John Wesley se joernale is vol verhale van mense wat bevry en genees is.
Worcester, 1860. Hier naby ons, in die Wes-Kaap. By ’n jeugbidstond begin ’n jong diensmeisie bid, en die Gees kom op die vergadering. Die jong Andrew Murray wil eers orde herstel, totdat ’n besoeker hom waarsku dat die Gees van God hier aan die werk is. Die herlewing versprei deur die hele Kaap.
Die Gees het nooit die kerk verlaat nie. Die kerk het Hom soms net vergeet. Maar daar was altyd ’n oorblyfsel wat onthou het.
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, ja, tot in ewigheid. (Hebreërs 13:8)
Die getuienis van die Pinksterbeweging
In April 1906 gebeur daar iets in ’n vervalle gebou in Azusastraat, Los Angeles – ’n ou kerk wat as stoor en stal gebruik is. Die leier is William Seymour, die seun van voormalige slawe, blind in een oog. Nie ’n beroemde prediker nie. Nie ’n ryk man nie. Net ’n honger hart.
Daar kniel swart en wit, ryk en arm, mans en vroue saam op die vloer – in ’n tyd toe dit in Amerika feitlik ondenkbaar was. Een ooggetuie skryf dat die kleurgrens in die bloed van Jesus weggewas is. Twee jaar later, in 1908, kom John G. Lake en Thomas Hezmalhalch in Suid-Afrika aan, en uit hulle bediening groei die Apostoliese Geloofsending. Wat met ’n handjievol mense in ’n plaasstoor begin het, is vandag een van die grootste bewegings in die kerkgeskiedenis, met die vinnigste groei hier in Afrika.
In die laaste dae, sê God, sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Julle seuns en dogters sal profeteer, julle jongmanne sal gesigte sien, en julle oumense sal drome droom. (Handelinge 2:17)
Let op wie God gebruik: seuns en dogters, jongmanne en oumense, slawe en slavinne. Die bonatuurlike is nie vir ’n geestelike elite bedoel nie, maar vir gewone gelowiges. Vir die dertienjarige seun. Vir die diensmeisie in Worcester. Vir die eenoog-seun van slawe. En vir jou.
Die dissipels het uitgegaan en oral die evangelie verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. (Markus 16:20)
Die Here werk saam met ons. Ons doen nie wonderwerke nie; ons wandel saam met Hom wat dit doen.
’n Eerlike woord
Ons moet ook eerlik wees. Die bonatuurlike is al vervals en uitgebuit, soos die geldwisselaars in die tempel wat munt geslaan het uit mense se aanbidding (Matteus 21:12). Daarom skrik baie gelowiges weg van alles wat bonatuurlik is. Maar ’n vals R200-noot bestaan net omdat die regte een waarde het. Misbruik kanselleer nie die egte nie; dit vra net vir onderskeiding.
Die antwoord is Woord en Gees saam. Die Woord sonder die Gees is dood: “die letter maak dood, maar die Gees maak lewend” (2 Korintiërs 3:6). Die Gees sonder die Woord lei tot wanorde, soos in Korinte (1 Korintiërs 14). Clint Dixon gebruik die beeld van 1 Korintiërs 3:6-9: God se Woord is sowel saad as water. Soms saai ons, soms gee ons water, soms oes ons. Vrugbaarheid hang daarvan af dat jy onderskei watter een die oomblik vra.
A.W. Tozer word dikwels aangehaal met ’n ongemaklike waarskuwing: as die Heilige Gees vandag uit die kerk onttrek sou word, sou die meeste van wat ons doen, gewoon aangaan, en niemand sou die verskil agterkom nie. Ons vertrou so maklik op metodes, tegnieke, bekende name en mooi skyfies op die skerm. Maar mense word nie deur meer inligting vrygemaak nie. Hulle word vrygemaak deur ’n ontmoeting met die lewende Christus.
Wat sluit die skatkamer oop?
As die skatkamer reeds aan ons behoort, wat sluit dit oop? Ek sien drie sleutels in Jesus se lewe, en een waarskuwing.
Ontferming
Toe Jesus uit die skuit klim en die groot menigte sien, het Hy hulle innig jammer gekry en hulle siekes gesond gemaak. (Matteus 14:14)
Die Griekse woord is splagchnizomai. Dit kom van splagchna, die ingewande. Jesus het mense se lyding in sy maag gevoel. Elke keer dat hierdie woord oor Jesus gebruik word, volg daar ’n daad. Ontferming was die brandstof van sy wonderwerke.
Heidi Baker, wat al dekades lank tussen die armes in Mosambiek werk, sê: “Liefde lyk na iets.” En haar lewensleuse is: “Stop vir die een.” Die bonatuurlike begin nie by krag nie; dit begin by liefde wat stilstaan. Wie is die een op jou pad hierdie week vir wie jy moet stop?
Geloof
“Hierdie tekens sal die gelowiges vergesel” (Markus 16:17). Geloof is soos ’n lamp. In die helder middag is ’n lamp nutteloos. Dit is in die donker dat dit kosbaar word. In die hemel sal ons nie geloof nodig hê nie, want die Lam sal die lig wees. Geloof is vir nou, vir hierdie donker tye. Wigglesworth het sy boodskap dikwels in twee woorde opgesom: “Glo net!”
Nabyheid en eenheid
Kyk hoe dikwels Handelinge sê die gelowiges was eensgesind (homothumadon: met een hart, een passie): Handelinge 1:14; 2:1, 46; 4:24; 5:12. En dan lees ons: “Deur die apostels het baie wondertekens onder die volk plaasgevind.” Krag volg eenheid. Toe hulle saam gebid het, “het die plek waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul” (Handelinge 4:31).
Soos kole in ’n braaivleisvuur: hou hulle bymekaar, en hulle gloei; trek een uit, en dit word gou koud. Dis presies wat ek as dertienjarige beleef het en tot vandag toe beleef: die skatkamer gaan oop wanneer ons saam is – deel, sing, bid, verbind in Christus. En nabyheid aan God gee moed. Leonard Ravenhill het gesê: “’n Man wat intiem is met God, sal nooit deur mense geïntimideer word nie.”
Geen een formule nie
Een laaste ding. Jesus het nooit twee keer presies dieselfde manier gebruik nie. Een keer spoeg Hy op die grond en maak modder. ’n Ander keer spreek Hy net ’n woord van ver af. ’n Ander keer raak Hy aan. Hy het nie ’n resep gevolg nie. Die bonatuurlike is nie ’n koeldrankmasjien waarin jy die regte muntstukke gooi nie. Dit is ’n verhouding.
Ons skatkamer in moeilike tye
Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. (Johannes 1:16)
Die vyand se strategie was nog altyd om ons van God se voorsiening af te lei sodat ons ons vervulling elders soek. Hy maak van God se goeie gawes ’n karikatuur: intimiteit word wellus, leierskap word onderdrukking, orde word perfeksionisme. Die resultaat is altyd dieselfde: ontnugtering en geestelike ondervoeding. Erfgename wat beskuitjies eet terwyl die tafel gedek is.
Ons hoef nie in hierdie tye by die wêreld te gaan leen nie. Alles waarna die wêreld soek – vrede in die chaos, ’n vernude denke, genesing, betekenis, ’n verbinding met die onsigbare – lê reeds in Christus. Corrie ten Boom, wat die konsentrasiekamp oorleef het, het haar suster Betsie se woorde onthou: “Daar is geen put so diep dat God se liefde nie nog dieper is nie.”
Om in die Gees te wandel is om elke dag na daardie tafel toe te stap. Nie as bedelaar nie, maar as kind. Nie met ’n tegniek nie, maar in die pas met ’n Persoon. Nie om buitengewoon te word nie, maar om soos die Man van Galilea te word, wat die bonatuurlike so natuurlik gedoen het dat mense dit by ’n troue skaars raakgesien het.
Chris Gore sê die antwoord vir ’n dorp of stad is nie een of ander groot leier nie. Die antwoord is Christus in jou en Christus deur jou. Ook vir Clanwilliam, Citrusdal, Op die Berg en Vredendal. Bill Johnson sê dit so: “Ek skuld die wêreld ’n ontmoeting met God.” Dit is ons roeping. Nie net om oor God te praat nie, maar om mense na die tafel toe te bring.