Die ingang wat ons nodig het
Handelinge 9:15-17; 26-27
Handelinge 9:15-17; 26-27
Die versoeking van die blitslig
Kom ons wees eerlik: ons wil almal so nou en dan hê dat God iets bonatuurliks moet doen. 'n Stem uit die hemel. 'n Lig wat ons op die pad stop. Ons bid dit gewoonlik so: “Here, wys U my dan net een keer duidelik dat ek seker kan wees.” Saulus op die pad na Damaskus word verblind deur 'n lig, hoor 'n stem uit die hemel, val op sy knieë in vrees voor 'n lewende God! Ons noem dit 'n Damaskus-ervaring. Die interessante feit uit die Bybel is dat sulke ervarings nie 'n inligtingsessie is nie, nog minder 'n geloofsverifikasie van God se bestaan. Wanneer God dramaties en tasbaar aan iemand verskyn, is dit gewoonlik om daardie persoon te stuur. Kyk maar na die patroon: by die brandende bos sê God vir Moses: “Ek stuur jou na Farao” (Eks 3:2-10). Jesaja sien die Here in die tempel en hoor die vraag: “Wie sal Ek stuur?” (Jes 6:1-8). Vir Jeremia sê Hy: “na almal na wie Ek jou stuur, moet jy gaan” (Jer 1:4-7), en vir Esegël: “Ek stuur jou na die kinders van Israel” (Es 2:3). Gideon hoor dit ook in sy skuilplek: “Gaan in hierdie krag van jou — Ek stuur jou” (Rigt 6:14).
Ananias: Die ingang van roepingsopdragte
Maar Saulus ontvang nie sy roepingsopdrag van die Here Jesus in die lig nie. Hy stuur hom nie eers vir 'n vergadering met Petrus of Jakobus nie. "Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan.” (Hand 9:6)
Die Here verkyn aan Ananias wat wakker skrik uit sy slaap met 'n opdrag wat hy glad nie wou hê nie.
10Daar was ’n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ’n gesig geroep: “Ananias!”
“Ja, Here!” het hy geantwoord. 11Daarop sê die Here vir hom: “Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Hy is besig om tot My te bid. 12Ek het hom in ’n gesig laat sien dat ’n man met die naam Ananias inkom en sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien.” 13Maar Ananias het geantwoord: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor – watter kwaad hy die gelowiges in Jerusalem aangedoen het! 14En ons hoor hy het ’n mandaat van die leierpriesters om al die gelowiges hier in Damaskus te arresteer.” 15Die Here het egter vir hom gesê: “Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgesoek om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel. 16Ek sal inderdaad self vir hom wys hoeveel hy vir My moet ly." (Han 9:10-16)
Dink 'n oomblik saam met my hoe dit moes gevoel het. Dis nie of God vir Ananias vra om 'n vriendelike buurman te gaan groet nie. Dis of God vandag vir jou sê: “Gaan bid vir die mens wat jou geloof, jou werk of jou familie die meeste bedreig.” Vir party is dit die baas by wie jy gewerk het en wat jou sonder 'n woord laat loop het. Vir ander is dit die werker wat jou vertroue gebreek het. Vir party is dit die man wat op die hoek verkeerde goed verkoop, die eks wat die huis uitmekaar geskeur het, of die familie net anderkant die pad met wie daar al jare lank net stilte is. Ananias moes gaan bid en hande lê op die man wat Christene vervolg en laat arresteer het.
En hier is die interessante deel: God verduidelik nie eers vooraf vir Ananias hoekom nie. Hy gee net die opdrag, en ná Ananias gaan, kry hy eers die groter prentjie: “Want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra...” (Hand 9:15-17). Die beginsel is dus: gehoorsaamheid kom voor verduideliking. Ons wil eers die hele plan sien voordat ons die eerste tree gee, maar God werk andersom. Hy vra die tree, en die res verduidelik Hy later.
Barnabas: die ingang van vertroue
Spring saam met my na verse 26 en 27. Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almal was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ’n gelowige is nie. Hand 9:26 Sy bekering is intussen ou nuus vir ons wat die verhaal ken. Vir hulle was dit skrikwekkende, gerugte. Die man wat gister gelowiges laat opsluit het, staan nou by die deur en sê hy is een van julle.
Dan tree Barnabas in — en die teks is amper skerp in sy eenvoud: “Maar Barnabas het hom geneem en na die apostels gebring...” Een man se vertroue word die deur waardeur 'n hele lewe verander in Kerkgeskiedenis instap. Sonder Barnabas bly Paulus 'n verdagte figuur wat buite bly klop.
Ons het almal 'n Barnabas nodig — iemand wat sy of haar eie geloofwaardigheid op die spel plaas om vir ons 'n deur oop te maak. Dink na: wie het vir jou die pad gebaan na 'n nuwe beroep, 'n bediening? Wie het hulle kontakte met jou gedeel, vir jou gevra: “Kom saam, ek stel jou voor,” wat vir jou gesê het “dit is hoe jy dit doen?" Dit bly waar, al leef ons in 'n tyd van aanlyn aansoeke en programme wat CV's sif: die meeste mense kom nie by 'n nuwe werk, 'n nuwe stad of 'n nuwe gemeente in deur 'n webwerf nie, maar deur 'n mens wat bereid was om vir hulle vir iemand die deur te wees. Die "geestelike entrypoint".
Julle is die brief — en die deur
Jesus se opdrag aan ons is nie vaag nie: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies... en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mat 28:19-20). Om dissipels te maak, beteken iemand moet ín beweeg — uit die buitekant, deur 'n deur, in die geloofsgemeenskap in. En daardie deur is dikwels nie 'n leerstelling of 'n preek nie. Dis 'n mens. Maar laat ons mekaar nie mislei nie: ons is nooit die Deur self nie. Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh 14:6). Van Homself sê Hy ook: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word” (Joh 10:9). Hy is die Deur. Ons is hoogstens die mens wat iemand tot by daardie Deur bring.
Paulus skryf later self vir die Korintiërs: “Julle is ons brief... geskryf nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God” (2 Kor 3:2-3). Jou lewe is die brief wat mense lees lank voor hulle ooit die Bybel oopmaak. En wanneer hulle die uitnodiging aanvaar, stap hulle nie eintlik by “die kerk” in nie. Hulle stap deur jou in.
Ander deure in die Skrif
Barnabas is nie 'n uitsondering in die Bybel nie:
Andreas kry self nooit die kollig nie — sy hele funksie in die Evangelie is om mense te bring: eers sy broer Petrus (Joh 1:40-42), later die seuntjie met die brood en vis (Joh 6:8-9). Andreas is die Barnabas van die Evangelies.
Filippus bring vir Natanael met net vier woorde: “Kom kyk self” (Joh 1:45-46). Later, in Handelinge 8, word hy op 'n woestynpad gestuur na een enkele man — 'n Ethiopiese hofamptenaar — en word daardeur letterlik die deur waardeur die Evangelie die Afrika-vasteland binnegaan (Hand 8:26-39).
Die Samaritaanse vrou by die put is die onwaarskynlikste kandidaat vir 'n “ingang” tog word sy die deur waardeur 'n hele dorp Jesus ontmoet (Joh 4:28-30, 39).
Priscilla en Aquila neem vir Apollos eenkant — 'n man wat reeds welsprekend oor Jesus kon praat — en “verduidelik hom die weg van God meer noukeurig (Hand 18:24-26). Hulle is die deur na “'n meer voortreflike weg” vir iemand wat reeds gedink het hy weet die beste.
Lidia se huis word letterlik die eerste vergaderplek van die gemeente in Filippi (Hand 16:14-15, 40) — haar gasvryheid is die fisiese deur waardeur die kerk in Europa gebore word.
Ragab — buitestander, sondares volgens elke etiket van haar tyd — word ingesluit by die volk van die verbond (Jos 2), en verskyn later, verbasend genoeg, in Matteus se geslagsregister van Christus self (Mat 1:5). Selfs sy word 'n deur in die verhaal van verlossing.
Jou lyding kan iemand anders se ingang wees
Daar is nog 'n soort deur wat ons maklik miskyk: jou eie letsels. Paulus skryf iets amper skokkend aan die Kolossense: “Ek vul nou in my vlees aan wat nog ontbreek aan die verdrukkinge van Christus, ter wille van sy liggaam, wat die gemeente is” (Kol 1:24). En die Hebreërskrywer sê selfs van Jesus: “Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het” (Heb 5:8).
Jou grootste stryd — 'n verslawing waaruit jy vrygekom het, 'n huwelik wat amper op die rotse was, 'n verlies waaruit jy nog leer opstaan — is nie net iets wat jy oorleef het nie. Dit kan die presiese deur wees waardeur iemand anders, wat vasgevang is in dieselfde donker kamer, uiteindelik lig sien. Mense vertrou eerder iemand wat self daardeur moes gaan.
Deurwagter of slot?
Maar hier is die ongemaklike keersy. Jesus se skerpste woorde was nie vir tollenaars of sondaars nie — dit was vir die godsdienstige deurwagters van sy tyd: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou wil ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Mat 23:13). Lukas se weergawe is nog skerper: “Julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en die wat wou ingaan, het julle verhinder”(Luk 11:52).
Dink aan die verskil tussen 'n uitsmyter (bouncer) by 'n nagklub en 'n portier (doorman) by 'n hotel. Albei staan by 'n deur, albei het gesag, en albei besluit wie inkom. Maar hulle vra nie dieselfde vraag nie. Die uitsmyter se vraag is: wie moet ek uithou? Hy meet jou aan jou klere, aan die lys in sy hand, aan wat hy laas oor jou gehoor het. Hy staan met sy rug na die deur en sy gesig na jou toe. Die portier se vraag is presies andersom: hoe kry ek hierdie mens binne? Hy maak die deur oop, vat die tas, wys die pad, en stap saam tot jy weet waar jy is. Hy hou ook wag — 'n goeie portier laat nie sommer enigiets in nie — maar hy doen dit om die mense binne te beskerm, nie om te wys wie nie hier hoort nie. Die een verwelkom, ondersoek, en laat toe. Die ander een bestaan net om buite te hou. Dieselfde sleutel kan albei doen. Die vraag is net of jy dit gebruik om oop te sluit, en of jy dit wegsteek.
Dis nooit maklik vir 'n nuwe gesig om by 'n bestaande kultuur in te beweeg nie — nuwe gewoontes, nuwe gesigte, nuwe reëls wat nooit neergeskryf is nie, maar wat almal ken behalwe die nuweling. Presies daar het jy 'n keuse: wees die Fariseër by die drumpel, of wees Barnabas by die deur.
Die deur na nuwe dinge
Van tyd tot tyd gebruik God een mens as die deur waardeur 'n hele geslag by iets nuuts instap. Nie 'n nuwe evangelie nie — 'n dieper werklikheid van Christus wat die kerk verloor het of nog nooit gesien het nie.
Moses is die eerste patroon. God stuur een man terug na die plek waar hy weggehardloop het, en deur daardie een gehoorsame man stap 'n hele volk uit slawerny uit (Eks 3:10). Die volk het nie self die pad geken nie. Hulle het deur hom geloop.
In 1517 spyker Martin Luther sy stellings op 'n kerkdeur in Wittenberg vas. Hy wou nie 'n nuwe kerk begin nie; hy het net weer gesien wat Paulus lankal geskryf het: “die regverdige sal uit die geloof lewe” (Rom 1:17; Ef 2:8-9). Deur daardie een monnik se oortuiging het die kerk teruggekom by regverdigmaking deur geloof alleen — nie deur werke, boetedoening of geld nie.
Bykans vierhonderd jaar later staan William Seymour, die seun van vrygestelde slawe, blind in een oog en deur baie kerke weggewys, in 1906 in 'n eenvoudige gebou in Azusastraat, Los Angeles. Daar stort God sy Gees uit soos op Pinksterdag, en Joël se woord word weer sigbaar: “Ek sal my Gees uitstort op alle vlees” (Joël 2:28; Hand 2:17-18). Uit daardie onaansienlike straat kom die Pinksterbeweging wat vandag oor die hele wêreld strek.
En let op hoe die een deur op die volgende uitloop. Twee manne wat by Azusastraat was, John G. Lake en Thomas Hezmalhalch, kom in 1908 na Suid-Afrika. Uit hulle werk word die Apostoliese Geloofsending gebore, en die boodskap van die doop met die Heilige Gees kom tot in ons eie land, ons eie dorpe, ons eie gemeentes. Die deur waardeur jy vandag hier sit, is ver terug oopgemaak deur mense wat jy nooit ontmoet het nie.
Die beginsel is dus: God skuif sy kerk vorentoe deur mense, nie deur programme nie. Hy soek nog steeds sulke mense — dikwels dié wat die godsdienstige wêreld van hulle tyd nie ernstig opgeneem het nie. 'n Monnik, 'n halfblinde prediker in 'n stoorkamer, twee sendelinge met 'n enkelrigtingkaartjie. Die vraag is nie of God nog deure oopmaak nie. Die vraag is deur wie Hy dit in ons tyd wil doen.
Vrae om mee te loop (nie om te beantwoord nie — om oor te sit)
• Wie was jou Barnabas? Het jy hom of haar ooit eintlik gaan dankie sê?
• Is daar iemand — soos Ananias se “Saulus” — vir wie jy eintlik moet gaan bid, presies omdat dit die laaste is wat jy wil doen?
• Watter “straat wat reguit genoem word”, watter onopvallende plek, het God jou al gestuur — en het jy dit as te klein afgemaak vir jou roeping?
• Sou jou eie letsels — dit waarvoor jy die meeste skaam is — vandag vir iemand anders 'n deur kon wees eerder as 'n geheim?
• As iemand nuut by jou gemeente, jou huis, of jou vriendekring instap — is jy vandag eerder 'n deur, of 'n slot?
Ek gaan nie vir jou sê wat die antwoord is nie — dis presies die punt. Maar as Ananias reg was om te gaan, en Barnabas reg was om te vat, dan is die vraag nie of God nog deure oopmaak nie. Die vraag is net of jy een gaan wees.