Watter geestelike beginsels kan ons leer van die atleet?
5Volg die Here se gedragskode om sy werk te doen, net soos ’n atleet volgens die reëls meeding, of andersins gediskwalifiseer word en geen prys wen nie. — 2 Timoteus 2:5
'n Atleet wen nie sy wedloop op die dag van die resies nie. Hy wen dit — of verloor dit — in al die maande se voorbereiding: in elke etensuur waarin hy nee gesê het vir wat lekker was, in elke vroeë oggend waarin hy opgestaan het terwyl niemand kyk nie. Teen die tyd dat die skoot klap, is die uitslag reeds vasgelê in duisend klein besluite wat niemand sien nie.
In hierdie reeks het ons gekyk na die soldaat, wat homself verloën en opdragte eksplisiet gehoorsaam: “Ly verdrukking soos ’n goeie soldaat van Jesus Christus” (2 Timoteus 2:3) — IN die eerste preek het ons geleer van die landbouer en produsent wat sy geloof werk: “6Hardwerkende boere is die eerste wat die vrug van hulle arbeid geniet. 7Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp.”(2 Timoteus 2:6-7).
Vandag gaan ons leer van die atleet.
5Volg die Here se gedragskode om sy werk te doen, net soos ’n atleet volgens die reëls meeding, of andersins gediskwalifiseer word en geen prys wen nie. — 2 Timoteus 2:5
Die primêre les wat ons van die atleet gaan leer, is die atleet se dissipline en vermoë om hulleself sekere dinge te onthou. Ons sing gereeld “I Surrender All” met opregtheid, maar ’n mens moet vra: hoe lyk ’n liggaam wat werklik geleer het om oor te gee? Vir daardie antwoord gaan ons na twee plekke wat ver van mekaar af is in tyd, maar dieselfde wet gehoorsaam: die stadion by Korinte in Paulus se eie tyd, en ’n swembad in Baltimore, Maryland.
Waarom die Atleet-metafoor? Paulus skryf vanuit ’n Grieks-Atletiese Wêreld
Soos met sy soldaatbeelde, gryp Paulus nie na ’n vergesogte illustrasie nie. Korinte, die stad waaraan hierdie eerste brief gerig is, was self die gasheerstad van die Isthmiese Spele — gehou elke twee jaar, tweede net ná die Olimpiese Spele in aansien, ter ere van Poseidon. Handelinge 18:11 vertel dat Paulus 18 maande lank in Korinte gewoon het, presies in die tydperk waarin die Spele plaasgevind het (49 en 51 n.C.). Paulus se gehoor het soos die meeste mense saam met die toeskouers in verwondering die stadion, die oefenbane en die oorwinnaars met hulle vervlegte krans krone toegekyk en aangemoedig.
Maar dit is die reëls agter die Spele, nie net die skouspel nie, wat vir ons 2 Timoteus 2:5 ontsluit. By die Olimpiese Spele — die vader van al hierdie Griekse feeste — is die hele stelsel deur amptenare, die Hellanodikai (“regters van die Grieke”), beheer. Hierdie regters, burgers van Elis, is self tien maande lank spesiaal opgelei voor elke Olimpiade. Op die eerste dag van die Spele moes elke atleet en sy afrigter voor die altaar van Zeus Horkios (“Zeus van die Ede”) ’n eed aflê: dat hulle reeds tien volle maande getrou geoefen het, en dat hulle nie sou kul of ’n skandaal veroorsaak nie. Ons ken dieselfde stelsel uit die Olimpiese Spele van vandag. Voor enige finaal is daar kwalifiseringstandaarde, nasionale keuringsproewe en uitdunrondtes. ’n Swemmer wat nie sy tyd in die uitdunne haal nie, staan nie in die finaal nie — hoe talentvol hy ook al is. Net dié wat kwalifiseer, ding mee. Die antieke Spele het presies dieselfde sifting stelsel gehad: die laaste maand voor die Spele moes elke atleet in Elis onder die toesig van die Hellanodikai oefen, en wie nie die standaard gehaal het nie, is daar weggewys — nog voor hy die stadion by Olimpia gesien het.
Dít is presies die woord wat Paulus kies: nomimos — “wettig, volgens die reëls.”
Oriëntasie: Die dissipline van Onthouding
Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit kan behaal. En elkeen wat aan wedstryde deelneem, onthou hom van alles; hulle nou tog om ’n verganklike krans te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan só, nie soos iemand wat onseker is nie; ek skerm só, nie soos een wat in die lug slaan nie; maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie. — 1 Korintiërs 9:24-27
“Onthou hom van alles” vertaal die Grieks enkrateuetai, van enkrateia — selfbeheersing. Dit is nie ’n toevallige eienskap wat sommige mense het en ander nie besit nie; dit staan later in Galasiërs 5:22-23 as vrug van die Gees, langs liefde en vreugde en vrede.
“Ek kasty” is hupopiazo — bokstaal, letterlik om iemand ’n blouoog te gee. Paulus verklaar nie oorlog teen sy liggaam as vyand nie; hy plaas dit onder bevel as rekruut en dissipel. Dit moet leer volg, nie lei nie.
In ons eie tyd het niemand hierdie beginsel duideliker gedemonstreer as die swemmer Michael Phelps nie. Sy afrigter, Bob Bowman, vertel dat Phelps vir vyf agtereenvolgende jare — voor die Olimpiese Spele van 2004 — 365 dae per jaar geswem het. Hy het geen dag oorgeslaan nie. Nie Kersdag nie, nie sy eie verjaarsdag nie, nie ’n enkele Sondag in vyf jaar nie: 1 825 opeenvolgende dae in die water. Bowman en Phelps het bereken dat elke Sondag se ekstra oefening hom ’n bykomende vyftig oefendae per jaar bo sy mededingers gegee het — ’n gaping wat elke jaar groter geword het. Phelps het uiteindelik 28 Olimpiese medaljes verower, 23 daarvan goud: nie hoofsaaklik omdat hy langer arms as ander gehad het nie, maar omdat hy ’n dissipline-gaping opgebou het wat niemand anders bereid was om op te offer nie.
DIe Bybel is duidelik oor die een dag 'n week wat ons moet rus en aan die Here toewy, ek wil net die punt maak hoeveel toewyding en opoffering dit kos om die beste atleet te wees.
Let op: dit is nie ’n oomblik van heldhaftigheid wat hierdie rekord behaal het nie, dis ’n reeks kleiner, herhaaldelike nee-sê keuses en besluite. Presies die patroon wat Paulus tevore beskryf: onthouding, dag na dag, totdat dit karakter word.
Marginale Wins: Die Optel van Klein Getrouhede
In 2003 was Britse fietsry vir byna ’n eeu 'n voorwerp van am spot dryf en grappies. Sedert 1908 het ’n Britse fietsryder net één Olimpiese goue medalje gewen, en nooit die Tour de France nie — so swak dat een groot fietsvervaardiger geweier het om hulle fietse te verkoop uit vrees dat dit die handelsmerk sou skaad. Toe kom Dave Brailsford as nuwe prestasiedirekteur, met ’n enkele beginsel: die “aggregasie van marginale wins.” In plaas daarvan om na één groot deurbraak te soek, het hy elke denkbare onderdeel van fietsry — die stoelontwerp, die bande, die massering, selfs die kussings en matrasse waarop atlete slaap, selfs die manier waarop hulle hul hande was — met net 1% verbeter. Geen enkele verandering was op sy eie beduidend nie. Saam het hulle Brittanje binne vyf jaar na Olimpiese oorheersing gedra.
Dís presies wat ’n atleet se “tugtiging” in die Skrif beteken, en presies hoekom daar “geen verskonings” is om ’n perfekte mens in Christus te wees nie. Want ons maak Hom deel van ons elke dag bestaan.
Daagliks, Altyd, Sonder Ophou: Wat die Skrif as Deurlopende Dissipline Voorskryf
Die Skrif ken geen godsdiens wat net een dag in die week werk nie. Wanneer die Bybel praat van ons pligte teenoor God, val die woorde telkens op dieselfde ritme: elke dag, dag en nag, altyddeur, sonder ophou. Dit is die atleet se oefenprogram, in geestelike taal:
· Daaglikse selfverloëning — “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Lukas 9:23). Paulus sê dieselfde van homself: “ek sterf elke dag” (1 Korintiërs 15:31).
· Gebed sonder ophou — “Bid sonder ophou” (1 Tessalonisense 5:17); “Volhard in die gebed” (Kolossense 4:2; Romeine 12:12); “bid altyd in die Gees met alle gebed en smeking” (Efesiërs 6:18). Jesus vertel ’n gelykenis juis om te wys “dat ’n mens altyddeur moet bid en nie moedeloos word nie” (Lukas 18:1). Dawid bid “in die aand en in die môre en op die middag” (Psalm 55:17-18); Daniël drie keer per dag, selfs toe dit hom in die leeukuil kon kos (Daniël 6:10-11).
· Die Woord dag en nag — “sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag” (Psalm 1:2); “jy moet dit dag en nag oordink” (Josua 1:8). Die gelowiges in Berea het “daagliks die Skrifte ondersoek” (Handelinge 17:11).
· Lofprysing en danksegging deurlopend — “Laat ons dan gedurigdeur aan God ’n lofoffer bring” (Hebreërs 13:15); “Sewe maal elke dag prys ek U” (Psalm 119:164); “Wees altyddeur bly … wees in alles dankbaar” (1 Tessalonisense 5:16, 18); “dank altyddeur God die Vader vir alles” (Efesiërs 5:20).
· Soek die Here se aangesig altyddeur — “Soek die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur” (1 Kronieke 16:11; Psalm 105:4).
· Onderlinge bemoediging elke dag — “bemoedig mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word” (Hebreërs 3:13); moenie “die onderlinge byeenkoms versuim” nie (Hebreërs 10:25). Die eerste gemeente was “dag ná dag” eendragtig in die tempel en in die huise (Handelinge 2:46-47).
· Onderrig in die huis, van vroeg tot laat — “jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6-7).
· Daaglikse vernuwing — “die innerlike mens word van dag tot dag vernuwe” (2 Korintiërs 4:16); God se genade is “elke môre nuut” (Klaagliedere 3:22-23). “gee ons elke dag ons daaglikse brood” vars geestelike manna (Lukas 11:3). ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond.’"Mat 4:4.
Sit hierdie tekste langs mekaar en die prentjie is onmiskenbaar: nie een van hierdie pligte is weekliks nie. Die Sabbat bly die dag wat ons afsonder vir rus en erediens, maar die oefening self is daagliks. Phelps het 1 825 dae aaneen in die water geklim; die Skrif vra van ons ’n lewe wat elke dag, dag en nag, sonder ophou in die Here se teenwoordigheid geoefen word.
• Geen Groot Geveg, Net Duisend Klein Oorwinnings — Verwag nie een dramatiese deurbraakmoment van heiligmaking nie. Verwag ’n reeks klein, herhaalde weieringe — presies soos Phelps se 1 825 dae, presies soos Brailsford se 1%’s.
• Ken Jou Eie Liggaam — Paulus maak hierdie beginsel persoonlik in 1 Tessalonisense 4:4: “dat elkeen van julle moet weet om sy eie "vessel" te bestuur in heiligmaking en eer.” Die Griekse woord vir “vessel” is skeuos — die instrument, die vat waarin iets kosbaars gedra word. Ken jou eie drange, jou tye van swakheid, jou spesifieke versoekings. Marginale wins vir ’n fietsryer lyk anders as marginale wins vir ’n roeier; jou eie tugtiging sal ook nie soos iemand anders s’n lyk nie. Dis nie ’n verskoning om jouself te ontsien nie — dis ’n opdrag om jouself eerlik te ken.
• Herstruktureer, Moenie Net Bekeer Nie — Bekering verander die rigting; herstrukturering verander die gewoontes wat daardie rigting elke dag onderskraag. Vra nie net “is dit verkeerd?” nie, maar “dra dit my nader aan die wenstreep, of trek dit my terug?”
• Geen Verskonings — ’n Atleet wat sy afrigter vertel “ek was moeg” of “die omstandighede was ongunstig” word gediskwalifiseer. Absolute eienaarskap geld nie net vir soldate nie — dit geld ook vir die man op die baan.
5. Die Taal van die Atleet - Grieks-Atletiese Woordeskat
Die Nuwe-Testamentiese skrywers het ’n hele woordeskat uit die olimpiese spele geleen om die Christelike lewe te beskryf. Wanneer ’n mens hierdie terme in hulle oorspronklike, tegniese betekenis lees, verskuif die teks van vae inspirasie na presiese instruksie:
• Gymnazo (γυμνάζω) — “oefen, tug” — die wortel van ons woord “gimnasium.” Paulus gebruik dit direk: “oefen jouself tot godsvrug. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsvrug is nuttig vir alles” (1 Timoteus 4:7-8). Liggaamlike oefening word nie afgekraak nie — dit word as maatstaf gebruik om te wys hoeveel meer toewyding godsvrug verg.
• Dioko (διώκω) — “jaag, agtervolg” — ’n jagwoord, dieselfde een wat gebruik word vir ’n hond wat ’n haas agternasit. " 12Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!" Filippense 3:12-14 gebruik dit vir die gelowige se voortdurende, ingespanne agtervolging van die doel — nie ’n rustige wandeling nie.
• Skopos (σκοπός) — “merk, doelwit” — die vasgestelde punt waarna ’n boogskutter of hardloper mik. “Ek jaag na die doel (skopos), na die prys van die hoë roeping” "13Nee, liewe broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. 14Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys* wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het" (Filippense 3:14). ’n Atleet wat sonder ’n skopos meëding boks hou in die ‘in die lug’ 24Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. 25Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit nogal om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys. 26Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ’n bokser wat met elke hou tref. 27Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie. (1 Korintiërs 9:26).
• Brabeion (βραβεῖον) — “prys” — die prys wat deur die wedstrydregter (brabeus) toegeken word — dieselfde amp as die Hellanodikai. Dis nie ’n toevallige beloning nie, maar ’n amptelike, verdiende toekenning (1 Korintiërs 9:24; Filippense 3:14).
• Teleo (τελέω) — “voleindig, tot die einde bring” — die woord wat Paulus oor homself gebruik teen die einde van sy lewe: “7Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly. 8En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy wederkoms. En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na sy heerlike verskyning” (2 Timoteus 4:7-8). Nie ’n oomblik tot oomblik christenskap nie, maar ’n proses wat volgehou is tot op die laaste tree. Sommige mense dien die Here van oomblik tot oomblik, dan sien jy hulle in die kerk, dan sien jy hulle vir 'n jaar nie weer nie.
6. Die Beperkings wat Jou Baan Word
Ons geslag word gevoed met ’n ander evangelie: jy kan alles wees, jy kan alles kry, daar is geen grense nie. Wees wie jy wil wees. Volg elke drang. Beperking is onderdrukking. Dis ’n pragtige leuen, en soos alle pragtige leuens hou dit net tot dit teen die werklikheid getoets word — presies soos ’n atleet wat geglo het hy kon sonder tien maande se oefening wettig meeding.
Jesus self het nooit ’n grenslose pad aangebied nie:
Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. — Matteus 7:13-14
’n Atleet kies ook nie elke baan nie. Hy kies één, en hy oefen daarvoor. Die waarheid is dat jy reeds beperk is: deur jou intellek, jou kultuur, jou taal, jou vermoëns, jou finansiële klas, jou geslag, jou ouderdom, jou liggaam. Dis nie ’n vloek nie — dis die spesifieke baan waarop jý geplaas is. Niemand hardloop op almal se baan tegelyk nie. Eers wanneer jy jou eie beperkings ken, kan jy begin om hulle, een vir een, in te oefen tot krag.
Dink aan getemperde staal. Rou yster is sag; dit buig onder enige druk. Verhit dit, hamer dit, koel dit stelselmatig af, en herhaal dit oor en oor — en jy kry ’n lem wat sny sonder om te breek. Die staal het nie sterker geword deur meer staal nie. Dit het sterker geword deur beperk te word, doelbewus, herhaaldelik, oor tyd. Dissipline is nie die vyand van vryheid nie; dissipline is die smid wat vryheid vorm.
Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, sonder om vir die skande te skaam, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit het. — Hebreërs 12:1-2
Let op dat “die las” apart staan van “die sonde.” Nie alles wat jou stadig maak, is sondig nie — party dinge is net té swaar vir die spesifieke baan waarheen jy geroep is. ’n Atleet los nie net misdaad by die vertrekpunt nie; hy los ook sy oortollige bagasie, sy gewig, alles wat nie tot sy doel bydra nie.
En tog het selfs Paulus nooit gevoel hy het klaar aangekom nie:
Nie dat ek dit alreeds verkry het of alreeds volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding doen ek: terwyl ek die dinge wat agter is, vergeet en my uitstrek na wat voor is, jaag ek na die doel, na die prys van die hoë roeping van God in Christus Jesus. — Filippense 3:12-14
* *3:14a Of die prys van bo.