WAT SE GEESTELIKE BEGINSELS KAN ONS LEER VAN DIE SOLDAAT?

Lesse uit "Extreme Ownership" van Jocko Willink & Leif Babin — en die vorming van 'n Navy SEAL

WAT SE GEESTELIKE BEGINSELS KAN ONS LEER VAN DIE SOLDAAT?

Lesse uit "Extreme Ownership" van Jocko Willink & Leif Babin — en die vorming van 'n Navy SEAL

1. Met ons toewyding aan Christus, gee ons, ons lewe daagliks oor

'n Soldaat begin nie sy diens die dag wanneer die koeëls val nie. Hy gee sy lewe klaar weg, lank voordat hy ooit 'n vyand sien. Die oomblik toe hy die eed aflê, hou hy op om aan homself te behoort. 

Paulus gebruik hierdie beeld wanneer hy Timoteus vermaan: "Ly saam met my as 'n goeie soldaat van Christus Jesus" (2 Timoteus 2:3). Nie 'n vrywilliger wat uittree wanneer dit ongemaklik raak nie, maar 'n soldaat wat sy identiteit klaar oorgegee het aan 'n saak groter as homself toegewyd is.

"Niemand wat 'n krygsman is, wikkel hom in die werk van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom aangeneem het as krygsman." — 2 Timoteus 2:4

As kinders van die Here sing ons gereeld met opregtheid "I surrender All", maar hoe lyk 'n gekruisigde lewe? 

Vir daardie antwoord kyk ons na een van die moeilikste militêre vormingsprosesse wat die mens ooit ontwerp het: die opleiding van 'n Amerikaanse Navy SEAL.

2. Waarom die Soldaat metafoor? Paulus Skryf vanuit 'n Militêre Wêreld

Voordat ons by Coronado se sandduine kom, moet ons eers verstaan hoekom die Bybel self so gemaklik in soldaattaal praat. Paulus se militêre beelde is nie 'n vergesogte illustrasie nie; hy skryf uit 'n wêreld waar 'n mens nie 'n dag kon deurkom sonder om 'n gewapende man raak te loop nie.

Judea was 'n militêre besette gebied. Van Herodes se tyd tot die verwoesting van die tempel in 70 n.C. is die provinsie beheer deur ongeveer vyf infanterie-kohorte en een ruiterafdeling — in die orde van drieduisend man — met die administratiewe hoofkwartier in Sesarea, nie in Jerusalem nie. In Jerusalem self het 'n versterkte hulpkohort in die Antonia-vesting op die noordwestelike hoek van die tempelterrein gelê: na raming tussen 500 en 600 soldate, onder 'n kommandant oor duisend man (Grieks chiliarchos, Handelinge 21:31-32), met 'n uitsig reg oor die tempelhof. Tydens die groot feeste, wanneer die stad se bevolking toegeneem het, is die getalle doelbewus versterk. Josefus beweer selfs die vesting was groot genoeg om 'n hele legioen — tien kohorte, sowat sesduisend man — te huisves.

Die skaal daarvan is treffend in Paulus se eie arrestasie. Om één gevangene veilig van Jerusalem na Sesarea te kry, wys die kommandant tweehonderd soldate, sewentig ruiters en tweehonderd spiesdraers aan — byna vyfhonderd man vir een man in boeie (Handelinge 23:23). Paulus se briewe is deur iemand geskryf wat maande lank onder soldate se toesig geleef het, aan 'n gehoor wat presies geweet het wat 'n wapenrusting, 'n soldaatloon en 'n bevelsketting is.

Daarom gryp hy keer op keer na militêre beelde:

Die volle wapenrusting — Paulus se bekendste beeld beskryf nie 'n vae "geestelike stryd" nie, maar 'n stuk-vir-stuk inventaris van 'n soldaat se uitrusting: gordel, borsharnas, skoene, skild, helm, swaard (Efesiërs 6:10-18). Elke item was vir sy lesers 'n alledaagse gesig op straat.

"Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly staan teen die aanslae van die duiwel." — Efesiërs 6:11

Wapens wat nie vleeslik is nie — In 2 Korintiërs 10 skuif hy die hele veldtog na 'n ander vlak sonder om die militêre taal te laat vaar: vestings word neergewerp, skanse afgebreek, gedagtes as krygsgevangenes weggelei. Die stryd is werklik; net die wapens is van 'n ander aard.

"Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons tog nie 'n vleeslike oorlog nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus." — 2 Korintiërs 10:3-5

Medesoldate, nie ondersteuners nie — Sy woordkeuse vir medewerkers is militêr: Epafroditus is 'n "medestryder" (Filippense 2:25), so ook Archippus (Filemon 2). Timoteus moet "die goeie stryd stry" (1 Timoteus 1:18; 6:12) en "ly saam met my as 'n goeie soldaat van Christus Jesus" (2 Timoteus 2:3). Hy vra selfs: wie dien as soldaat op sy eie koste? (1 Korintiërs 9:7).

Bly waar jy is — dien net eerlik — Toe soldate tot bekering kom onder Johannes die Doper se bediening en kom vra wat hulle moet doen, stuur hy hulle nie huis toe nie en vra hulle nie om te bedank nie. Hy laat hulle in uniform bly staan en verander die manier waarop hulle dien: geen geweld, geen afpersing, en wees tevrede met julle loon (Lukas 3:14). 

"Party soldate het hom ook gevra: 'En ons, wat moet ons doen?' Hy sê vir hulle: 'Moet niemand geweld aandoen of van hulle geld afpers nie. Wees tevrede met julle betaling.'" — Lukas 3:14

Dít is die agtergrond waarop ek hierdie boodskap baseer.  Wanneer ons dus na 'n moderne elite-eenheid kyk om geestelike beginsels te leer, doen ons niks nuuts nie. Ons doen presies wat Paulus gedoen het: ons kyk na die soldaat naaste aan ons, en vra wat hulle vorming ons van gehoorsaamheid, spanwees en oorgawe leer.

3. Oriëntasie: Die Stelselmatige oorgawe van die Self

Wanneer 'n kandidaat by Coronado, Kalifornië aankom vir BUD/S-opleiding (Basic Underwater Demolition/SEAL), loop hy in 'n stelsel in wat status, ego en individuele identiteit doelbewus afstroop. 

Die syfers vertel die storie:

●      Uitvalsyfer — Die kursus van 24 weke het 'n historiese uitvalsyfer van tussen 68% en 80%, in party klasse selfs 94%. In Klas 264 het net 16 uit 256 kandidate geslaag.

●      Hell Week — Vyf en 'n half dae ononderbroke opleiding, meer as 320 km gehardloop, minder as vier uur slaap in totaal. Hell Week sien die meerderheid uit die klas uitval. 

●      Nie fisiek nie, maar innerlik — Navorsers wat kandidate met die NEO-Persoonlikheidsinventaris getoets het, bevind keer op keer dat fisieke krag nie oorlewing voorspel nie. Wêreldklasatlete val gereeld binne die eerste paar dae uit, terwyl minder indrukwekkende kandidate volhard. Dis die ingesteldheid van die soldaat wat tel! Kan hulle egoloos, hulleself vir die span beywer! 

●      Spanne, nie individue nie — Van dag een af plaas die instrukteurs kandidate in bootbemannings van sewe man wat saam 'n opblaasbare boot van 68 kg dra: oor duine, deur modder, in yswater. Die span slaag saam of val saam uit. Individuele talent tel nie.

Admiraal William H. McRaven, wat later bevel oor die operasie teen Osama bin Laden gevoer het, stel dit so aan die gegradueerdes van die Universiteit van Texas: klein, herhaalde dade van dissipline bou elite-prestasie, nie een oomblik van heldhaftigheid nie. Maak elke oggend jou bed op.

Hier lê die kern van militêre oriëntasie. Die kandidaat verloor sy gevoel van individualiteit nie omdat die stelsel hom wil verneder nie, maar omdat 'n man wat homself steeds as die middelpunt sien, nie implisiet gehoorsaam sal wees wanneer die opdrag lewe en dood beteken nie. Eers wanneer hy die self opsy skuif, voer hy 'n opdrag onmiddellik en volkome uit.

Dit klink hard vir 'n gehoor wat individualiteit as heilig beskou. Maar let op hoe Paulus dieselfde logika op homself toepas:

"Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe." — Galasiërs 2:20

Nie 'n uitwissing van die persoon nie, maar 'n heroriëntasie van waar die opdragte vandaan kom. Die SEAL-kandidaat verloor homself sodat hy volledig aan sy span en sy missie behoort. Die Christen verloor homself sodat Christus werklik in hom leef.  

4. Extreme Ownership: Wanneer ons absolute verantwoordelikheid vir ons eie lewe aanvaar. 

Jocko Willink en Leif Babin, twee van die mees gedekoreerde SEAL-offisiere van die Irak-oorlog wat saam in die Slag van Ramadi geveg het, fokus ná hul diens op een eenvoudige, ongemaklike beginsel: 'n leier neem volle verantwoordelikheid vir alles in sy wêreld. Sonder uitsondering, sonder verskonings, ongeag wat ander doen.

Geen "die span het gefaal" nie. Net: "ek het nie die span reggekry vir hierdie oomblik nie." Die evangelie vra dieselfde skuif van elke gelowige, nie net van leiers nie.

●      Absolute Eienaarskap — Wanneer 'n missie faal, dra 'ondergeskiktes' nooit die skuld nie. Die leier het nie duidelik genoeg gekommunikeer, opgelei of toesig gehou nie. Pas dit geestelik toe: wanneer ons geestelike lewe faal, is 'omstandighede' selde die oorsaak. Ons vat net nie eienaarskap van ons eie dissipline nie.

●      Geen Slegte Spanne, Net Slegte Leiers — 'n Span wat onderpresteer, is nie 'n "slegte span" nie. Dit is 'n leierskapsvakuum. 'n Gemeente se geestelike temperatuur is selde die gemeente se skuld alleen; dit weerspieël wie voorgaan. 

●      Glo — Instrukteurs leer SEALs om onvoorwaardelik in die missie te glo voordat hulle ander daarin lei. Jy oortuig niemand van iets waarvan jy self nie oortuig is nie. Geloof wat net woorde bly, oortuig niemand.

●      Check Jou Ego — Ego bly die grootste enkele hindernis vir eerlike self ontwikkeling. 'n Leier of gelowige wat sy ego nie opsy sit nie, sien sy eie foute nooit raak nie, laat staan nog regmaak.

Jesus praat dieselfde taal wanneer Hy sê 'n dissipel moet homself verloën en sy kruis daagliks opneem (Lukas 9:23). Eienaarskap sonder ego. Verantwoordelikheid sonder selfbejammering.

TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. (Mat 16:24)

7. Die wêreld van Bevele: Hoe die Grieks Werklik Praat

Die moderne Westerse leser hanteer die Bybel as 'n versameling mooi beginsels en vriendelike voorstelle: kies wat pas, laat staan die res. Die Grieks laat daardie leesverstaan nie toe nie. Die Nuwe Testament beskik oor 'n hele reeks woorde vir opdragte gee, en elkeen dra sy eie gewig — van 'n hofsaal-eed tot 'n geestelike herder en ouderling se pleitrede. 

Entolē (ἐντολή) — "gebod" — die formele, swaar woord. Gebruik vir die Tien Gebooie en vir Jesus se "nuwe gebod" 34Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is." (Johannes 13:34). Dit is wetstaal: gesaghebbend, nie onderhandelbaar nie, gespreek deur Iemand met die reg en volmag, mandaat om dit te sê.

Entellomai (ἐντέλλομαι) — "beveel, opdrag gee" — die werkwoordvorm, gebruik waar Jesus sy dissipels uitstuur (Matteus 28:20: 20Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”Dit dra die sin van 'n amptelike opdrag deur iemand in gesag aan iemand onder gesag. Jesus se woorde word eers van enige waarde wanneer jy dit toepas! Die voordele van Sy lewe, en waarheid begin by SY WEG! Dit impliseer 'n manier van leef en handel.  

Parangellō (παραγγέλλω) — "beveel, opdrag gee, belas" — meer militêr en amptelik van aard, dikwels vir apostoliese instruksie met institusionele gewig:  "Liewe broers en susters, ons beveel julle in die Naam van die Here Jesus Christus om julle te onttrek aan elke medegelowige wat leeglê en wat nie leef soos julle by ons geleer het nie." (2 Thess 3:6)

“Toe ons by julle was, het ons uitdruklik vir julle gesê: As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Thess 3:10)

“In die Naam van die Here Jesus Christus beveel ons sulke mense, ja, ons druk hulle dit op die hart, dat hulle rustig hulle werk moet verrig en so hulle eie brood moet verdien.” (2 Thess 3:12)

“Julle weet dat julle ons voorbeeld moet volg. Ons het tog nie by julle leeggelê of bedelbrood van enigeen geëet nie. Inteendeel, ons het dag en nag hard gewerk en geswoeg om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie. Nie dat ons nie op versorging aanspraak kon maak nie, maar ons wou onsself as ’n voorbeeld vir julle stel om te volg.” (2 Thess 3:7–9)

“sodat buitestanders agting vir julle leefstyl sal kry, en julle in geen opsig gebrek sal ly nie.” (1 Thess 4:12)

Dink aan bevele wat langs die bevelsketting afgegee word. 

Epitagē / epitassō (ἐπιταγή / ἐπιτάσσω) — "bevel, voorskrif" — sterker nog, en juis gebruik waar Paulus sy eie mening van 'n direkte bevel wil onderskei:

Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie. (1 Cor 7:6)

Wat die ongetroude meisies betref, beskik ek nie oor ’n absolute opdrag van die Here nie. Maar die Here het my begenadig om betroubare leiding te gee en daarom gee ek nou my mening aan julle deur.dít sê hy by wyse van toegewing, nie as 'n bevel nie). Hierdie woord merk die lyn tussen apostoliese raad en apostoliese mandaat. (1 Cor 7:25)

Parakaleō (παρακαλέω) — "vermaan, bid, aanspoor, troos" — merkwaardig buigbaar; dieselfde stam gee ons paraklētos, die Heilige Gees as Trooster en Voorspraak. Paulus gebruik dit gedurig (Romeine 12:1: "Nou wil ek julle baie ernstig vra, liewe broers en susters As julle dink aan alles wat God in sy groot ontferming vir julle gedoen het"). Dit is 'n beroep op die wil deur 'n verhouding, nie 'n bevel deur gesag nie: die pastoor se woord, nie die generaal se woord nie.

Didaskō / didachē (διδάσκω / διδαχή) — "leer / lering, leerstelling" — onderrigtend eerder as gebiedend. Die inhoud bly gesaghebbend, maar die wyse van aflewering is vorming, nie 'n dekreet nie. Dít is wat 'n dissipel ontvang (weer Matteus 28:20: "leer hulle").

Noutheteō (νουθετέω) — "waarsku, teregwys, onderrig" — korreksie wat op die denke gerig is 

Juis Hom verkondig ons! Ons doen dit deur elke mens te waarsku en met alle moontlike wysheid te onderrig. So wil ons graag elke mens in ’n volmaakte verhouding met Christus na God toe bring. Col 1:28

Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal. Met daardie wysheid moet julle mekaar onderrig en mekaar die regte pad wys. Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God. Col 3:16

Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane. Dit stel 'n verkeerde rigting van dink reg, nie bloot verkeerde gedrag nie. Acts 20:31

Erōtaō (ἐρωτάω) — "vra, versoek" — sagter nog as parakaleō; gebruik waar Paulus vra eerder as beveel (Filippense 4:3: "ek vra jou ook, opregte medewerker"). Dit is die register van 'n gelyke, nie van 'n meerdere nie.

Symbouleuō (συμβουλεύω) — "raad gee, aanraai" — in 18Ek gee jou daarom die raad om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is sodat jy ryk kan word; (Openbaring 3:18) gee die verheerlikte Christus die Laodicense raad in plaas van 'n bevel. Opvallend, gegewe wie praat: selfs verheerlikte gesag kies soms doelbewus die sagter woord.

Apostellō (ἀποστέλλω) — "stuur, uitstuur" — die stam van "apostel". Dit is die mandaat gee werkwoord: die Vader stuur Jesus, en Jesus stuur sy manne in dieselfde asem (Johannes 20:21: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook"). Kommissie as voortsetting, nie as afvaardiging nie.

Diamartyromai (διαμαρτύρομαι) — "ernstig beveel, betuig" — waar Paulus maksimum gewig soek, dikwels met 'n beroep op God as getuie 

In die teenwoordigheid van God en Christus Jesus en die heilige engele beveel ek jou ernstig om hierdie opdragte uit te voer sonder om kant te kies of besondere guns aan enigeen te bewys. (1 Tim 5:21)

Ek wil jou dus ernstig aanspoor voor God en voor Christus Jesus, wat die lewendes en dooies gaan oordeel wanneer Hy verskyn om sy koningsheerskappy te vestig:Die hofsaal-register: iemand roep getuies op om die erns van die oomblik vas te lê. (2 Tim 4:1)

'n Soldaat ken die verskil tussen 'n voorstel, 'n inligtingsessie en 'n bevel; sy lewe hang daarvan af. Die gelowige wat opdragte hoor of  lees en as 'n "goeie wenk" verstaan, het nie 'n vertaalprobleem nie; hy het 'n gehoorsaamheidsprobleem.

8. Die Bevelsorde: Elf Kernbevele van die Nuwe Testament

'n Operasieplan lys nooit bevele in willekeurige orde nie. Daar is 'n hoofdoel, en daar is take wat van dié doel afhang. Prioritiseer en voer uit, soos die wet van gevegte dit stel. Wanneer ons die Nuwe Testament se bevele so uitpak, kom elf sake na vore — hier gerangskik volgens afhanklikheid, nie volgens belangrikheid nie. Elke punt onder die eerste is 'n toepassing daarvan, nie 'n mededinger daarmee nie.

1.     Liefde vir God (Matteus 22:37-40; Johannes 13:34-35; Romeine 13:8-10). Jesus noem dít die skarnier waaraan die hele wet en die profete hang. Liefde word aan gehoorsaamheid gemeet: "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer" (Johannes 14:15, 21). As jy my waarlik liefhet sal jy! 

2.     Liefe vir "mekaar" (Johannes 13:34; Galasiërs 6:2; Efesiërs 4:32 — dra mekaar se laste, verdra mekaar, vergewe mekaar, wees onderdanig aan mekaar. Christus noem dit 'n nuwe gebod (Johannes 13:34), maar dit is eintlik die oudste instink in die heelal — net omgedraai: die drang om te beskerm en te versorg was altyd daar, net na die self gerig. En dit bly konkreet: wie sy broer wat hy gesien het nie liefhet nie, kan nie God liefhê wat hy nie gesien het nie (1 Johannes 4:20-21). 

3.     Bekeer julle en glo (Markus 1:15; Handelinge 2:38; 17:30). Die toegangspunt. Bekering is nie berou nie, maar 'n rigtingverandering; geloof is nie intellektuele instemming nie, maar diepgaande vertroue. Dis herhaaldelike oor en oor en weer en weer bely, soos jy die weg van die Waarheid sien wat die Heilige Gees uitwys. 

4.     Maak dissipels — gaan, doop, leer gehoorsaamheid (Matteus 28:19-20). Die kerk se volhoubaarheid voortplantingsmeganisme: Ons laat God se koninkryk kom hier op aarde soos wat dit in die hemel is net sover as wat ons harte verower om aan God toegewy te wees.  Let op hoe die bevel in die Grieks lê: "gaan" is 'n deelwoord m.a.w eerder "terwyl julle gaan", gewone beweging.  "maak dissipels" (matheteusate) is die enigste 'n direkte opdrag en imperatief; "doop" en "leer" is nie bykomende bevele nie, maar die hóe van dié mens dissipels maak. Dissipelskap is per definisie: leer hulle om Sy wee te onderhou, nie te weet nie: geen instrukteur toets of 'n kandidaat die handboek kan opsê nie, hy toets of die man in yswater kan oorleef. Daarom kan 'n gemeente vol lering en preke steeds nul dissipels oplewer: niemand gehoorsaam die bevele nie.

5.     Vergewe (Matteus 6:14-15; 18:21-22; Kolossense 3:13). Afsonderlik uitgesonder omdat Jesus dit 'n voorwaarde maak en nie 'n voorstel nie. Dit is die enigste bevel met 'n ingeboude wederkerigheidsklousule wat aan jou eie vergifnis vasgemaak is.  As jy vergifnis wil hê, sal jy moet vergewe. 

6.     Bid — sonder ophou, waaksaam (Lukas 18:1; 1 Tessalonisense 5:17; Efesiërs 6:18). Die onderhoudstaak onder al die ander take. Verwaarloos dit, en die res verval in wilskragprojekte wat mooi lyk en gou moeg word.  Ons kry krag om Sy opdragte uit te voer in Sy teenwoordigheid. 

7.     Wandel deur die Gees — lê die ou mens af, trek die nuwe aan (Galasiërs 5:16, 25; Efesiërs 4:22-24). Die binne-die-hart-innerlike-werk. Nie soseer 'n aparte handeling nie as die bedryfstelsel waarop al die ander take loop. En dit begin by bly, (proximity) nabyheid aan hom, nie by inspanning nie: 'n Loot probeer nie harder nie, dit bly net verbind aan die stam (Johannes 15:4). Al die dissipline in die wêreld dra geen vrug as die verbinding met die stam verbreek is nie.  

8.     Neem jou kruis daagliks op — verloën jouself (Lukas 9:23). Die kosteklousule. Nie 'n opsionele voorwoord nie, maar die deurlopende voorwaarde waarsonder ons Hom nie kan volg nie.  

9.     Wees heilig — jaag die heiligmaking na (1 Petrus 1:15-16; Hebreërs 12:14). Die koers, nie 'n enkele daad nie. Dit is die rigting waarheen al die voorafgaande take moet wys.

10.  Waak en wees gereed (Matteus 24:42; 25:13; 1 Petrus 5:8). Die eskatologiese raam om alles: die lys het 'n sluitingsdatum.  Ons is nie vir altyd hier nie, ons het 'n mylpaal, en ons beloning is nie hier in die tydelike nie, maar die ewige.