Wanneer God ver voel
Wanneer jy ver van God voel
Het jy al ooit wakker geword, gebid, en gevoel of die woorde teen die plafon terugbons en nêrens verder kom nie? Het jy al ooit in aanbidding gestaan met droë oë langs iemand wat huil, en gewonder of daar iets fout is met jou geesteslewe? Miskien soek jy 'n spesifieke antwoord van die Here, en jy kry nie 'n antwoord nie.
Elke gelowige — sonder uitsondering — voel op een of ander tydstip ver van God. Dis nie 'n teken van geestelike mislukking nie; dis 'n teken dat jy 'n gewone mens is met gevoelens, 'n senuweestelsel, en sekere denkpatrone wat deur verskeie ervarings bepaal word.
Jou serotonien-vlakke ken nie jou teologie nie. Jou uitputting, jou stresrespons, die argument van gisteraand, die rekening wat nie kan wag nie — dit alles skilder die lens waardeur jy vandag na God kyk.
Jou worsteling is nie oor God se bestaan nie, maar jou persoonlike distansie tot Hom.
Die waarheid is: God is alomteenwoordig.
23 Is Ek ’n God van naby, spreek die Here, en nie ’n God van ver nie? 24 Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die Here. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die Here. (Jer 23:23)
Jesus het al die werk gedoen om ons met Homself te versoen, hoekom sal Hy nou Homself van ons vervreem?
8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. 10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. 11 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het. (Rom 5:8-11)
Waarop bou jy jou geregtigheid?
Hier is die vraag wat regtig saak maak, en dis 'n ongemaklike een: Wanneer jy voel of God ver is, waarop is daardie gevoel van skuld of afstand eintlik gebaseer?
Was dit 'n stiltetyd wat jy gemis het? 'n Sonde wat jy nie kon oorwin nie? 'n Geestelike belewenis waarna jy verlang? As jou vrede in God afhang van hoeveel jy vandag gedoen het, dan het jy — sonder om dit te besef — teruggeval na 'n ander evangelie.
“Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” (Rom 3:23)
God stel nie belang in ons geregtigheid nie! Inteendeel!!
9 EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Luk 18:9
20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. Mat 5:20
Elke godsdiensstelsel wat ooit uitgedink is — reëls, rituele, prestasie — het dieselfde muur teëgekom: die mens kan homself nie genoeg goed maak om God se guns te verdien nie.
11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie—dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep (Rom 9:11)
“Dit is volbring”
En toe kom Christus.
My vriend Mike Wood sê dit so: ons nuwe lewe in Christus het nie begin met ons prestasie nie — dit het begin met sy laaste woord aan die kruis: “Dit is volbring.” (Joh 19:30)
Dink daaroor na soos 'n rekening wat ten volle betaal is. Nie afbetaal nie — betaal. Hy het al die geregtige eise van die wet vervul. Hy het die vloek van sonde tot op die bodem gedrink. Hy het sonde geword — nie net gedra nie, maar geword — sodat die volle regverdige oordeel van God een-maal-vir-altyd op Hom kon val, as ons Hoëpriester én ons offerlam tegelyk.
“21God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word.” (2 Kor 5:21)
“12Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. (Joh 1:12)
21Die gevolg hiervan is dat net soos die sonde oor almal regeer het en die dood oor hulle gebring het, God se genade nou regeer. Dit laat ons nou as regverdiges voor God staan, en loop uit op die ewige lewe wat ons deur Jesus Christus ons Here sal ontvang (Rom 5:21)
Let op die woord: reg. Nie 'n gevoel nie. 'n Regsposisie. Iets wat jou toekom, nie omdat jy dit verdien nie, maar omdat dit vir jou verkry is.
Twee bene: verbond en intimiteit
Kom ek gee vir jou 'n prentjie wat elke getroude mens onmiddellik verstaan.
Ek is wetlik getroud met my vrou. Dit beteken: of ek vanoggend warm en verlief voel al dan nie, sy is steeds my vrou. Ons verhouding staan nie en val op vandag se emosie nie — dit staan op 'n verbond wat ons jare gelede geteken het. Wanneer ons rusie maak, of wanneer ons tydelik van mekaar geskei is deur werk of omstandighede, verander die wettigheid van ons huwelik nie. Wat verander, is die intimiteit wat ek daagliks kies om na te jaag.
Dis presies hoe 'n verhouding met God werk — op twee bene, nie een nie.
Die een been is posisie: jou nuwe identiteit as kind, wettig deur God aangeneem, verseël, onbetwisbaar. Die ander been is intimiteit: die daaglikse, voelbare ervaring van naby-wees. Die een is 'n regsdokument; die ander is 'n verhouding. Jy het albei nodig — maar hulle is nie dieselfde been nie, en wanneer jy die twee verwar, val jy.
Wanneer die aanklaer van die broeders (want dit is wat hy doen — hy veroordeel en dis sy voltydse werk) fluister dat jy nie genoeg gebid het nie, nie genoeg geglo het nie, te vinnig kwaad geword het nie — daardie stem praat oor die intimiteit-been asof dit die verbond-been is. Hy wil hê jy moet dink jou status het verander omdat jou gevoel verander het.
“21Eers was julle ook ver van God af. Met verkeerde dade het julle gewys dat julle Hom vyandiggesind is. 22Maar nou het Hy die goeie verhouding met julle herstel deurdat Hy self liggaamlik aan die kruis gesterf het. Só het God julle naby aan Hom gebring. Julle staan voor Hom as sy eie mense, skoon en sonder enige foute. (Col 1:21-22)
Dis verlede tyd. Voltooide tyd. Nie 'n hoop nie — 'n voldonge feit.
13 Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen. (2 Cor 13:13)
Reken dit so
So hoe oriënteer jy jouself, wanneer die gevoel van afstand kom?
Nie deur harder te probeer nie. Deur te reken daaroor te dink, dat jy nie meer leef nie.
“Reken julle wel dat julle vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus.” (Rom 6:11)
20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. (Phil 2:20)
“Reken” is 'n rekeningkundige term — jy tel dit as waar, al voel dit nog nie waar nie. Nie ontkenning nie. Geloof wat kies om op die verbond te staan terwyl dit vir intimiteit werk. Dis nie jou geregtigheid, goeie werke of poging wat hierdie seunskap verwerf het nie. Dit was, van die begin af, 'n gawe.
“Sodat niemand kan roem nie.” (Ef 2:9)
Ons roem dan nie in ons sterkte nie — ons roem in ons swakhede, want juis daar word sy heerlikheid die duidelikste sigbaar (2 Kor 12:9-10). En omdat ons reeds veilig is, kan ons nou vrylik loop, lewe en praat soos Christus — nie om iets te verdien nie, maar omdat dit reeds ons s'n is.
Die Wekroep van God in ons Harte
Voor Augustinus het baie denkers reeds die paradoks raakgesien dat menslike liefde, op sy eie, nooit genoeg is nie. Selfs wanneer dit sy volste menslike uitdrukking bereik — storgē (familieliefde), philia (vriendskap) en eros (romantiese liefde) — kan dit nie die diepste verlange van die siel bevredig of tot blywende vervulling bring nie. Augustinus keer telkens terug na die woorde van Psalm 63:6: "Die mens is 'n diepte, en sy hart 'n afgrond." Hy verstaan dit so: in die middelpunt van die menslike bestaan lê die diepte van die skepsel wat roep na die oneindige diepte van die Skepper — soos wat soek na sy gelyke.
Homo capax Dei — die mens is bekwaam vir God. Dit is die skeppingsmisterie van ons bestaan: ons is geskep met beide die vermoë én die behoefte om deur God bemin te word, en om die ongeskape God op sy beurt lief te hê. Daarom open Augustinus sy Belydenisse met sy bekende gebed: "U het ons vir Uself gemaak, en ons hart is onrustig totdat dit in U tot rus kom." In die kern van die menslike natuur lê hierdie voortdurende beweging na God toe — 'n aanhoudende terugreik na Hom van wie ons kom.
Hierdie vermoë vir God is nie 'n opsionele godsdienstige neiging wat net vir die mistiek-begaafdes bedoel is nie. Dit is die diepste drang van ons menslike natuur — so natuurlik soos 'n plant wat na die lig draai. Ons kan geen blywende geluk vind los van die God wie se beeld en gelykenis in die middelpunt van ons wese ingedruk is nie. Watter ander dinge ook al mag aflei of mislei, die hart self ken hierdie waarheid.
Elke eindige liefde openbaar uiteindelik sy eie grense, want die mens is gemaak vir die Oneindige. Wat ek veral waardeer, is die gedagte dat hierdie verlange nie bloot 'n godsdienstige voorkeur of sielkundige behoefte is nie — dit is ingeweef in ons wese self. Die Kerkvaders praat dikwels hiervan as die beeld van God binne-in ons, 'n wesenlike gerigtheid op gemeenskap met ons Skepper. Ons kies nie eenvoudig vir God soos een opsie uit baie nie; ons harte is vír Hom saamgestel.
Uit 'n Ortodokse hoek sou ek egter nog een stap verder gaan. Ons rus in God is nie bloot die stilmaak van 'n innerlike onrus nie. Dit is deelname aan die lewe van God self, deur Christus — theosis. Die diepste verlange van die menslike hart word nie vervul deur bloot sekere waarhede oor God te glo nie, maar deur met Hom verenig te word deur genade, binne die lewe van sy Kerk.
Wanneer ek Sy lewe, karakter, gedagtes en waardes begin leef, voel ek vervuld, my lewe kry betekenis.
3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. (Col 3:2-3)
Elke mindere liefde wys verby homself. Skoonheid, vriendskap, huwelik, prestasie, selfs ons verlange na geregtigheid — almal wek 'n begeerte wat hulle nie uiteindelik kan bevredig nie. Hulle is ikone, nie bestemmings nie. Soos die heilige Maximus die Belyer leer: ons wanordelike hartstogte is dikwels niks anders as reg-geskape begeertes wat na die verkeerde doel gerig is nie. Die tragedie is nie dat ons te veel begeer nie, maar dat ons met te min tevrede raak. Uiteindelik word die afgrond van die menslike hart net beantwoord deur die oneindige afgrond van God se liefde.