Die Ware Betekenis: Sout Wat Laf Geword Het
Wanneer laas het iets presies reg gelyk – en toe nie die funksie verrig waarvoor dit vervaardig is nie? Dink aan 'n brandblusser wat, op die oomblik toe jy dit tydens 'n vuur moes gebruik, tot jou skok niks by die spuit uitkom nie.
Kyk Sondag 19 Julie 2026 Diens
’n Preek oor Lukas 14:34-35, met Matteus 5:13 en Markus 9:50
Wanneer laas het iets presies reg gelyk – en toe nie die funksie verrig waarvoor dit vervaardig is nie?
Dink aan 'n brandblusser wat, op die oomblik toe jy dit tydens 'n vuur moes gebruik, tot jou skok niks by die spuit uitkom nie. Of die selfoon se ekstra battery wat jy gedink het nog vol gelaai is, maar wat morsdood is wanneer jy dit wil gebruik. Of die noodnommer wat teen die yskas geskryf staan, maar wat, toe jy dit tydens 'n krisis bel, nie meer bestaan nie.
Dit is teen hierdie agtergrond dat Jesus hierdie vreemde enkel sinnetjie aankondig:
34 Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word? 35 Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. Lukas 14:34-35
Vissermanne op die see van Galilea – Petrus se mense – het hul vangs gesout en gedroog, want sonder dit het die vis gevrot voordat dit die binnelandse mark bereik het. Elke graanoffer in die Tempel moes sout op hê, op direkte opdrag: “elke offer van jou spysoffer moet jy met sout sout … jy mag die sout van die verbond van jou God nie laat ontbreek nie” (Levitikus 2:13). God sluit verbonde met
Israel se priesterdom en noem dit letterlik ’n ewige verbond van sout (Numeri 18:19; 2 Kronieke 13:5) – want sout vrot nie, verrot nie, verander nie stilweg van plan nie. Mens kry ook nie sout uit die kos, as daar eers te veel daarvan in die kos is nie.
Pasgeborenes is met sout ingevryf as reinigingshandeling (Esegiël 16:4). Job, in sy ellende, vra: “kan smaaklose kos sonder sout geëet word?” (Job 6:6). Elisa gooi sout in Jerigo se vergiftigde fontein en dit genees die water (2 Konings 2:19-22). Later sê Paulus vir die Kolossense hulle woorde moet altyd “met sout gesout” wees (Kolossense 4:6) – ’n nodige bestandeel in enige gesprek, wat ’n verhouding bewaar in plaas daarvan om dit te laat vrot in vleitaal of bitterheid.
Maar sout het ook ’n donker kant gehad. Abimeleg sout die puinhoop van Sigem doelbewus as vloek (Rigters 9:45). Soos om die dooie see, groei niks waar sout is nie. Daarom gooi jy nie Kalium-Chloried rondom plante nie! Om sout in 'n groot 'n hoeveelheid te drink, laat jou maag werk. Maak jou binnekant skoon!
Lot se vrou word ’n soutpilaar, vasgevang in ’n oomblik se terugkyk na Sodom (Genesis 19:26). Sy is uiteindelik die perfekte voorbeeld van ’n hart en gedagtes wat die lewe self verloor het – gered uit die stad, maar met die stad steeds in haar. Haar liggaam het uitbeweeg; haar begeerte het agtergebly. En op daardie oomblik het sy presies geword wat sy nagejaag het: leweloos, versteen, ’n pilaar wat niks meer kan bewaar nie. Mens sou dus kon sê die Woord van God, lewend gemaak deur die Heilige Gees, werk ook soos sout: mens moet toelaat dat dit die parasitiese idees in jou hart uitbrand en skoonmaak. Anders bly jy, soos Lot se vrou, verlangend terugkyk na die goed wat God haat en straf – en versteen jy stadig in die vorm van jou eie begeerte.
Die Raamwerk Waarbinne Jesus Werk
Sout was nooit neutraal
in die Joodse verbeelding nie
Dit was verbond óf vloek, preservering óf gif – en die verskil was nooit hoe dit gelyk het nie. Dit was wat dit gedoen het. Sout het nooit géén effek gehad nie: dit bewaar óf dit verwoes, dit genees óf dit verskroei – maar dit laat nooit iets onaangeraak nie. Dít is die punt: die vraag was nooit of iets sout ís nie, maar of dit soos sout wérk. Hy tel die bekendste mineraal in die antieke Judese ekonomie op – dit is hierdie sout waarmee soldate betaal is, vis gepreserveer is, verbondkontrakte beseël is. En hier is die raaisel: sout kan nie laf word
nie.
Dít is waarom “sout wat sy southeid verloor” geleerdes eeue lank verbyster het. Suiwer natriumchloried is chemies stabiel – dit kan nie laf word nie. NaCl breek nie sommer af terwyl dit in ’n pot staan nie. So, op die oppervlak, lyk dit of Jesus iets beskryf wat chemies onmoontlik is. En dít is juis die punt: sout is gebruik om ’n verbond te beseël omdat dit ’n bestendige, onveranderlike bestanddeel is – iets
wat nie stilweg van plan verander nie.
Wanneer Jesus dan sê dié sout kán laf word, gebruik Hy die metafoor doelbewus om ons te skok en diep te laat nadink. Selfs Plinius die Ouere, die groot Romeinse natuurkundige, het breedvoerig oor sout en sy eienskappe geskryf. Jesus beskryf dus nie ’n chemieboek nie – Hy beskryf iets wat almal op daardie heuwel self met hul eie oë gesien het.
Sout wat van die Dooie See se strand geoes is – die melach wat mense werklik mee gekook het – was nie suiwer nie. Dit was ’n gemengde kors van natriumchloried deurmekaar met gips, potas, broom, natrium, magnesia, magnesiumchloried en metaalmagnesium, afgeskraap van die vlaktes naby wat vandag nog Jebel Usdum, “Berg Sodom”, genoem word. Hierdie minerale is vandag nog die basis vir verskeie produkte, soos kunsmis wat die verbouing van groter hoeveelhede voedsel moontlik maak. Natriumchloried los maklik op. Die ander minerale nie.
So het reën, humiditeit, of ’n onsorgvuldige potjie die werklike sout stelselmatig laat uitloog, en ’n wit, kristallyne oorblyfsel agtergelaat wat steeds soos sout gelyk het, steeds in dieselfde pot gesit het, steeds dieselfde vorm gehad het – en niks meer oor gehad het om te gee nie.
Dis die prentjie:
Die item wat almal vertrou moet sout wees, is skielik nutteloos. Die egte item het uitgestap, en iets wat dit nageboots het, het agtergebly, geklee in sy klere.
Maar die Griekse woord wat in hierdie teks gebruik word dui op 'n nog 'n dieper nutteloosheid: “As die sout sy smaak verloor” – die werkwoord is μωραίνω (mōrainō). Ons kry die woord vir “onnosel” byna direk hieruit. Dit beteken nie “verflou” of “verswak” nie. Paulus gebruik presies hierdie werkwoord in 1 Korintiërs 1:20 om te sê God het die wysheid van die wêreld onnosel gemaak. Lukas sê nie vir ons die sout was laf nie. Hy sê vir ons die sout het "dom geword" – opgehou om homself te wees, terwyl dit
steeds sy eie vorm behou het.
'n Gebrek Aan Intelligensie
Jesus se eie woordeskat oor dwaasheid loop soos ’n draad deur die Evangelies, en dit gaan nooit oor ’n gebrek aan intelligensie nie.
- Die dwaas wat sy "huis op sand bou" (Matteus 7:26) hét die woorde gehoor – hy het net nie daarop gebou
nie. - Die vyf dwase maagde (Matteus 25:1-13) hét lampe gehad – net nie olie nie.
- Die ryk dwaas (Lukas 12:20) hét sy skure gevul – net nie sy siel nie.
- En vir die Fariseërs, noukeurig oor die buitekant maar blind vir die binnekant, sê Hy reguit: “julle dwases” (Lukas 11:40; Matteus 23:17).
Elke keer is die patroon dieselfde as dié van die laf sout: die vorm is daar, die kennis is daar, die woorde is daar – net die funksie het verdwyn.
Ons is dus dwaas, in Jesus se sin, nie wanneer ons te min weet nie, maar wanneer ons presies genoeg weet en steeds niks daarmee doen nie.
Kyk wat direk vóór die sout frase in Lukas 14 staan, want die plasing is nie toevallig nie.
Verse 28 tot 32, net voor die soutspreuk: ’n man wat ’n toring wil bou, moet eers gaan sit en bereken of hy genoeg het om dit te voltooi – anders lê hy ’n fondament en kan dit nie klaarmaak nie, en almal bespot hom. Dan ’n koning wat oorweeg of sy tienduisend soldate ’n vyand van twintigduisend kan trotseer, en indien nie,
stuur hy ’n afvaardiging om vrede te vra voordat die geveg begin. Albei
gelykenisse gaan eksplisiet oor die reken van die koste – rasionele, logiese
"common sense" risiko-beoordeling vóór jy jou verbind, nie emosionele
vasberadenheid nie. Dan gaan Lukas reguit oor na: “Sout is goed; maar as die
sout sy smaak verloor …”
Die toringbouer en die koning is albei gelykenisse oor die vermy van onnosel wanberekening – om te handel sonder om dit eers deur te dink. Dit stem presies ooreen met die Grieks wat ons reeds ondersoek het: μωραίνω beteken nie “het vaal geword” nie, dit beteken “het onnosel geword” – dieselfde kernwoord wat Paulus gebruik wanneer God die wysheid van die wêreld dom laat lyk. Lukas verbind die soutmetafoor met oordeelkundige wyse besluitneming.
Wat dit interessanter maak, is dat dieselfde argument nie so netjies pas in die Matteus of Markus weergawe nie. Matteus 5:13 staan direk ná die Saligsprekinge – karaktervorming, nie risikoberekening nie. Markus 9:50 volg op waarskuwings teen om ander te laat struikel, en “het sout in julleself, en hou vrede met mekaar” – gemeenskaplike selfdissipline, nie praktiese logiese oordeel nie.
Die verskille is nie problematies nie, maar versterk die sout-nuttigheid gedagte van kultivering en preservering as die natuurlike identiteit van sout. AS sout
dit nie meer doen nie is, dit tog nutteloos. In al ons verhoudings binne ons
familie tot die werksplek, is ons geroep om vrugbaar te wees, om 'n positiewe
bydrae te lewer. AS ons dit nie doen nie, is ons nutteloos!
Wat beteken dit dan konkreet? Sout doen twee dinge tegelyk: dit kultiveer én dit bewaar. Dit kultiveer deurdat dit lewe moontlik maak – dieselfde minerale wat ons vroeër genoem het, is vandag nog die basis van kunsmis wat oeste laat groei. En dit bewaar deurdat dit verrotting stuit – die vis wat gesout is, vrot nie voordat dit die mark bereik nie. Om sout te wees in die werksplek is presies hierdie twee dinge: om groei aan te help waar jy is, en om verval te keer waar dit begin insluip.
Kultivering by die werk is meer as om net jou take af te handel. Dit is om waarde toe te voeg wat nie sonder jou daar sou wees nie: om die kollega wat sukkel te help in plaas van om verby te loop; om jou kennis te deel eerder as om dit vir jouself te hou; om met 'n oplossing te kom waar ander net oor die probleem kla; om jou hand op te steek vir die werk wat niemand wil doen nie. Dit is om vrugbaar te wees – nie net om die vorm van 'n werknemer te hê nie, maar om werklik iets voort te bring.
Preservering is die stiller, moeiliker helfte. Dit is om die waarheid te praat waar dit makliker sou wees om te swyg; om 'n woord ‘met sout gesout’ te sê wat 'n verhouding heel hou, in plaas daarvan om dit te laat vrot in vleitaal of skinderpraatjies; om die verkeerde aan te spreek wanneer jy dit sien, in plaas van om weg te kyk; om integriteit te bewaar wanneer almal rondom jou hoeke begin afsny. Dit is om die verrotting te stuit voordat dit die hele span aansteek.
En hier lê die skerp punt van Jesus se woorde: 'n mens kan by die werk wees, die regte titel dra, die regte woorde ken, jare se ondervinding hê – en steeds niks van hierdie twee dinge doen nie. Dan het jy die vorm van sout behou, maar die funksie verloor. Jy lyk nog soos sout, jy sit nog in dieselfde pot, maar jy kultiveer niks en jy bewaar niks. En dít, sê Jesus, is nie 'n gebrek aan kennis nie – dit is die onnoselheid van iemand wat presies weet wat om te doen, en dit steeds nie doen nie.
Die stilswye-is-toestemming-beginsel
Wanneer ons Stilbly gee ons die leuen, en die vyand wettige plek. Die leuen kan net seëvier in die afwesigheid van die Waarheid. Duisternis kan net oorwin in die afwesigheid van die Lig.
Numeri 30:4-6 stel die patroon: as 'n dogter nog in haar vader se huis 'n gelofte aflê, en haar vader hoor dit en bly stil, staan die gelofte vas. Praat hy egter dieselfde dag en keer hy dit, val die gelofte weg en vergewe die Here haar. Die beginsel: swye, wanneer jy die geleentheid gehad het om te praat, tel as instemming.
Dit het regstreeks in die troue-seremonie oorgeleef — die predikant vra of enigeen 'n rede ken waarom die paar nie in die huwelik bevestig moet word nie: "spreek nou, of swyg vir ewig." As jy op daardie oomblik stilbly, het jy ingestem.
Dieselfde beginsel loop dwarsdeur die reg — Black's Law Dictionary noem dit tacit admission (Stilswygende erkenning): 'n erkenning wat redelik afgelei kan word uit iemand se versuim om te handel of te praat. Jy sien dit in strafreg, in skuldinvorderingsreg (te lank stilgebly, verjaring tree in), in eiendomsreg (onwettige okkupeerder wat deur regmatige manier eiendomsreg kan verkry as die eienaar weet en stilbly), in handelsmerkreg (as jy nie jou handelsmerk verdedig wanneer dit gekopieer word nie, verloor jy die reg daarop), en selfs in die Amerikaanse Grondwet, Artikel 1 Afdeling 7 — as die President 'n wetsontwerp tien dae lank net op sy lessenaar laat lê sonder om te reageer, word dit outomaties wet, asof hy dit onderteken het.
Die gevolgtrekking: Levitikus 20:1-5 spreek dit direk aan: enige Israeliet wat sy kind aan Molog offer, moet gedood word — en as die gemeenskap haar oë toemaak terwyl dit gebeur, sal die Here self Sy aangesig teen daardie man én sy hele familie draai, en hulle van hul volk afsny.
Sien gerus gerus William J Federer se kragtige preek oor hierdie onderwerp. Die Chaos wat Christene in die wêreld veroorsaak as hulle stilbly!
https://youtu.be/FSXTjXNOu9M
Dan: “dit is nóg vir die grond nóg vir die mishoop geskik.” Die woord is εὔθετος –
“goed geplaas”, van eu (goed) plus tithēmi (om te plaas, te posisioneer). Mislukte sout het nie net bruikbaarheid verloor nie. Dit het sy plek in die orde van dinge verloor. Dit is te uitgeput om selfs die mishoop te help – so laag soos eerste-eeuse landbou kon vra.
En laastens – “mense gooi dit weg.” ἔξω βάλλω – dieselfde frase wat Lukas elders gebruik vir die uitwerp van duiwels, vir die buitenste duisternis. Dis nie wegdoen-taal nie. Dis uitwerp-taal.
Jesus eindig met: “wie ore het om te hoor, laat hom hoor.” Daardie formule verskyn net wanneer Hy klaar iets baie belangrik uitgewys het, en wil hê jy moet self verder grawe.
Want dit is presies hoe laf sout in ’n mens se lewe lyk:
- Jy weet wat om te doen, maar jy doen dit nie!
- Jy weet jy moet iets sê, maar jy bly stil!
- Jy weet jy moenie dít doen nie, maar jy doen dit tog!
- Jy sien die verkeerde, maar jy korrigeer dit nie!
- Jy weet jy moet gaan, maar jy bly by die huis!
- Jy weet jy moet gaan regmaak, maar jy stel uit!
- Jy weet jy moet vergewe, maar jy hou vas!
- Jy weet jy moet gee, maar jy maak jou hand toe!
- Jy weet jy moet bid, maar jy skuif dit tot môre!
- Jy weet die waarheid, maar jy leef ’n leuen!
Juis Omdat Jy Geweet Het
Elkeen hiervan is sout wat sy krag verloor het – nie omdat jy nie geweet het nie, maar juis omdat jy geweet het. Jakobus stel dit reguit:
“...wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde” (Jakobus 4:17).
Die kennis was nooit die probleem nie. Die ontbrekende SOUT-funksie was.