Die gevaar van die enkel storiebeeld

Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Ons het Christus wel op die menslike manier leer ken, maar nou ken ons Hom nie meer so nie.  (2 Korintiërs 5:16)

Die gevaar van die enkel storiebeeld
Die gevaar van die enkel storiebeeld

Ons het almal al die pyn beleef wanneer iemand ons van iets beskuldig wat ons eerlikwaar nie gedoen het nie! Of wanneer ons 'n skinderstorie hoor wat heeltemal van die waarheid ontbloot is! Dit maak seer.

Omdat ons almal deesdae op een of ander manier swaarkry, raak ons maklik selfgefokus. Voeg daarby die ure wat ons op skerms deurbring en na mekaar se stories kyk sonder om werklik kontak te maak – en dit lei daartoe dat ons al hoe meer ENKEL-STORIE-BEELDE van mekaar vorm.

Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Ons het Christus wel op die menslike manier leer ken, maar nou ken ons Hom nie meer so nie.  (2 Korintiërs 5:16)

'n Kamera vang nooit die volle werklikheid nie – net een oomblik daarvan. Neem vinnige fotos een na die ander, en jy gaan 20 verskillende weergawes kry van hoe 'n persoon sy of haar gesig trek! In een foto 'n frons, en jy het 'n kwaai man. Trek dit een sekonde later op sy glimlag, en dieselfde gesig vertel 'n heel ander storie. Die kamera lieg nie. Dis net die realiteit van een oomblik vasgevang.  Ons hele lewe is egter 'n baie lang ingewikkelde rolprent, en nie alles is opgeneem vir 'n gehoor om te sien, daar is soveel wat agter die skerms gebeur het! 

Tog hanteer ons mekaar elke dag vanuit ons enkelstorie beelde.  

Die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie het dit die gevaar van die enkele storie genoem: Adichie vertel hoe sy as kind in Nigerië grootgeword en vroeg begin lees en skryf het – maar net Britse en Amerikaanse boeke gehad het. Haar eie storiekarakters was toe wit, het in die sneeu gespeel en koeldrank gedrink wat sy nog nooit self geproe het nie, bloot omdat dít die enigste soort verhale was wat sy geken het. Eers toe sy Afrika-skrywers soos Chinua Achebe ontdek, besef sy dat mense soos sy ook in boeke kan bestaan.  Sy vertel ook van Fide, die huisjonge se seun wat by hulle gewerk het. Omdat sy net gehoor het hoe arm sy familie was, kon sy hulle op geen ander manier sien nie – tot sy 'n mooi mandjie sien wat sy broer self gevleg het, en besef daar's baie meer aan hulle as net armoede. Later, op universiteit in Amerika, is haar kamermaat geskok dat sy vlot Engels praat en nie weet hoe 'n stoof werk nie – haar kamermaat het net een storie van Afrika gehad: ellende en jammerte. Adichie erken egter sy het presies dieselfde ding gedoen toe sy Mexiko besoek het: sy het die Amerikaanse mediaberig oor immigrante só internaliseer dat sy verras was toe sy gewone mense sien werk en lag. Sy koppel dit aan mag – wie die storie vertel, en hoe dikwels, bepaal watter een die "waarheid" oor 'n hele volk word. 'n Enkele storie maak nie 'n leuen nie, maar 'n onvolledige prentjie, en dit ontneem mense van hul waardigheid. Haar slotgedagte: wanneer ons baie stories van 'n plek of mens ken – nie net een nie – kry ons "'n soort paradys" terug.

As jy net een kant van iemand ken, en jy leer nooit die ander kante en fasette nie, word iemand 'n stereotipe.  'n Stereotipe is nooit 'n leuen nie. Dit is net 'n halwe waarheid wat voorgee om die hele waarheid te wees.  

Een-dimensioneel of multi-dimensioneel

'n Foto is plat. Twee dimensies – lengte en breedte, en niks meer nie. Daar is geen diepte in 'n foto nie; jy kan nie agter die gesig inloop nie. En tog is dit presies hoe ons mekaar meeste van die tyd hanteer: ons kyk na die oppervlak, en ons maak 'n beperkte oordeel. 

Voeg 'n derde dimensie by, en die prentjie verander. Nou is daar diepte, volume, 'n agterkant, 'n binnekant. Nou kan jy om die mens loop en sien wat van die voorkant af weggesteek was. Maar selfs drie dimensies is nog nie die volle waarheid nie, want 'n mens bestaan in tyd. Die vierde dimensie is die hele rolprent: die kind wat gebore is, die tiener wat geval het, die man wat opgestaan het, en die mens wat hy nog gaan word. Wie iemand net in hierdie oomblik sien, sien 'n dwarssnit van 'n lewe – nie die lewe self nie.

En God? God staan buite ruimte en tyd. Hy kyk nie van hierdie oomblik af nie, want Hy woon in die ewige nou. Vir Hom is jou verlede, jou hede en jou toekoms een prent. Hy sien nie net die vyeblare nie; Hy sien waarvoor jy hulle aangetrek het, en Hy sien wie jy daarsonder is. Dís hoekom Hy anders oordeel as ons:

Die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart.  (1 Samuel 16:7)

Om dus iemand op sy buitekant te beoordeel, en hom in 'n bekende kategorie in te druk – die kwaai man, die stil pa, die moeilike kind, die mislukking – is om met twee dimensies te werk in 'n werklikheid van vier. Dit is nie boosheid nie. Dit is net armoedig. Ons het 'n plat perspektief op mense wat vier dimensies diep is, en ons noem dit vooroordeel. 

Familie tog vreemdelinge

Hoeveel vroue in hierdie kerk kan jou vertel wat hulle man Maandagoggend om tienuur eintlik voel – die boer wat na die lug kyk en wag vir reën, die plaaswerker wat klaarmaak sonder dat iemand dankie sê, die ingenieur, die kontrakteur, die vakman wat weet sy naam hang aan elke stuk werk wat hy aflewer – wanneer hy in daardie vergadering sit en verneder word? Hoeveel mans ken die volle storie van wat hul vrou se kop afspeel – die boekhouer, die onderwyseres, die verpleegster, die sekretaresse – wanneer sy 'ek is oukei' sê? Ons leef saam in een wêreld, maar die man se vriendekring wanneer hy gaan fietsry is nie dieselfde mense as dié by die kerk nie, en weer anders as dié by die werk. Elke kring ken 'n ander stuk van hom, en niemand ken al die kringe nie. Ons trou met 'n mens, en spandeer dan die volgende twintig jaar getroud aan die fotobeeld wat ons op die troudag geneem het. Sy bly 'die een wat altyd kalm bly.' Hy bly 'die een wat nie praat nie.' Ons het net opgehou om nuwe foto's te neem. 

En kinders? Ons ken hul rapportkaart, hul eerste skoolliefde, die vriende wat ons goedgekeur het. Maar ken ons die storie wat hulle om 23:47 vir 'n selfoonskerm vertel, vir mense wat ons nooit ontmoet het nie? 'n Kind kan in jou huis grootword, aan jou tafel eet, en hulleself 'n vreemdeling en toeskouer hou van die konflik tussen man en vrou, "ek is maar net daar".  

Ons het toeskouers geword van ons eie gesin se drama. Ons sit in die gehoor van ons kinders se lewens en noem dit 'ruimte gee.' Ken ons werklik ons kind, die een wat rook, vloek, en drink maar Sondag vroom saam met jou in die kerk sit. Maar ken kinders hulle ouers, as blote mens nie net as 'n ouer nie? 

Die skerm ken jou 'beter' as jou eie mense

Intussen dink die wêreld daar buite dat hy jou beter ken as jou eie mense. Een plasing, een klip wat jy op sewentien laat val het, een oomblik uit konteks getrek – en dit word die enigste fotobeeld wat oorbly. Ons noem dit vandag kanselleerkultuur.  

En ons wonder hoekom ons kinders die angstigste generasie nog is. Hulle groei op met die wete dat enige oomblik die een fotobeeld kan word waarmee hulle vir altyd geïdentifiseer sal word. Geen kans om te verander, te groei, of net 'n slegte dag te hê sonder dat dit bewysstuk teen jou word nie. 

Naak, en nie skaam nie

God het nooit weggekruip nie. Hy het Homself bekend gemaak – in die skepping, in Sy Woord, in 'n stem by 'n brandende bos, en uiteindelik in 'n mens van vlees en bloed wat tussen ons kom woon het. Hy het nie gewag dat ons Hom eendag sou uitpluis nie; Hy het Homself onthul, en Hy doen dit steeds.

En as ons na Sy beeld gemaak is, dan is dit ook ons werk. Om geken te word, is nie iets wat met jou gebeur nie – dit is iets wat jy doen. Jy moet jouself bekend maak: die fotobeeld wys wat jy nog vir niemand gewys het nie, sê wat jy eintlik voel, en ophou hoop dat iemand dit uit jou stilte sal raai. Solank ons wag dat ander ons moet ontdek, bly ons net een foto met 'n mooi buitekant.

Maar dit werk twee kante toe. Om iemand te ken, vra moeite – aandag wat jy doelbewus gee. Jy moet vra, en dan stil bly lank genoeg dat die antwoord kan kom. Jy moet kyk, nie net na die gesig nie, maar na die mens agter die gesig; nie net na wat gesê word nie, maar na wat nie gesê word nie. Niemand word per ongeluk geken nie. Ons word geken deur mense wat besluit het om nog 'n foto te neem.

God het die mens geskep na sy beeld.  (Genesis 1:27)

In die tuin was Adam en Eva naak, en hulle het hulle nie geskaam nie – nie omdat daar niks was om te sien nie, maar omdat daar niks was om weg te steek nie. Elke fotobeeld was oop. Hulle kon die waarheid oor hulleself praat sonder om eers te bereken hoe dit gaan klink. Daar was niks om te verdoesel, niks om mooier te stel nie, en niemand het 'n weergawe van homself opgestel om aanvaar te word nie. Naak beteken hier nie net sonder klere nie – dit beteken deursigtig, eerlik, en sonder vrees.

Maar toe die sonde inkom, kom oordeel saam met dit. Skielik was daar 'n maatstaf waaraan gemeet word, 'n reg en 'n verkeerd wat aan 'n mens se naam bly hang. En waar oordeel kom, kom vrees – nie net die vrees dat iemand sien nie, maar die vrees vir straf oor wat gesien word. Die eerste ding wat Adam na die val gesê het, was nie 'ek is jammer' nie; dit was 'ek was bang, want ek is naak.'

Dís waar die wegkruipery begin het. Nie omdat die mens meer geword het om te wys nie, maar omdat hy nou geweet het wat dit kan kos om gesien te word. Vanaf daardie dag stel ons fotobeelde op: wys die kant wat veilig is, steek die kant weg wat straf kan uitlok. Elke vyeblaar sedertdien is dieselfde berekening – as jy die hele prent sien, gaan jy my daarvoor laat betaal.

En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, en hulle het hul nie geskaam nie.  (Genesis 2:25)

Toe die sonde inkom, was die eerste instink nie moord of diefstal nie – dit was vyeblare aanmekaarwerk. Ons het skielik 'n redigeerkamer nodig gehad.

Toe het hulle vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.  (Genesis 3:7)

'n Huwelik wat werk, is 'n huwelik waar twee mense weer waag om die vyeblare af te haal – nie net liggaamlik nie, emosioneel: 'hier's die fotobeeld wat ek nog vir niemand gewys het nie. En jy gaan dit nie teen my gebruik nie.'

Jesus hou ons nie vas in een prentjie nie

Hulle het haar in die tempel ingesleep en in die middel laat staan – op heterdaad gevang met 'n ander man se man. Hier was geen twyfel nie, geen versagtende omstandighede nie, geen ander kant van die storie om te oorweeg nie. Die wet was duidelik, die klippe was in hulle hande, en die saak was klaar. Sy was net een fotobeeld, en dit was die enigste fotobeeld wat enigiemand daar nodig gehad het.

Maar Jesus het nie eers na haar gekyk nie. Hy het gebuk en in die sand geskryf. En toe Hy praat, draai Hy die kamera om: wie van julle is sonder sonde, gooi die eerste klip. Die een ná die ander het hulle uitgeloop – want elkeen van hulle het geweet hulle het ook fotobeelde wat hulle nie wys nie.

Toe staan net sy en Hy oor – die enigste Een wat wel 'n klip kon gooi, en die enigste Een wat dit nie gedoen het nie.

Het niemand jou veroordeel nie? … Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.  (Johannes 8:10-11)

Let mooi op wat Hy nié gesê het nie. Hy het nie gesê dit was oukei nie. Hy het nie gemaak of die sonde nie sonde is nie. 'Sondig nie meer nie' is 'n eerlike woord oor 'n werklike verkeerd. Maar Hy weier om haar aan daardie een oomblik vas te maak. Die mense wou haar ná daardie fotobeeld noem; Hy praat met haar oor die fotobeelde wat nog kom.

Dit is die verskil tussen oordeel en waarheid. Oordeel vries jou in die slegste foto van jou lewe en hang dit op. Genade sien dieselfde foto, lieg nie daaroor nie, en sê dan: dis nie die laaste een nie. Ons is die mense wat klippe optel oor een fotobeeld. Hy is die Een wat by die vrou bly staan nadat almal geloop het.

Ons verklein God ook tot een fotobeeld! 

Maar hier's die ironie: ons doen presies dieselfde aan God wat ons aan ons huweliksmaats doen. Ons het Hom in een storie vasgevang – die streng Regter, of die Oupa in die lug wat alles regmaak, of net die stel reëls waarmee ons grootgeword het – en dan bou ons 'n hele teologie op daardie een fotobeeld, en weier om die res van die rolprent te bekyk. 'n God van toorn, maar nie ook van deernis nie. 'n God van reëls, maar nie ook van verrassing nie. Ons verklein Hom tot iets wat ons kan hanteer.

Matthew R. Richard noem twaalf van hierdie vals Christusse op die naam, en as jy die lys hoor, hoor jy die kerk se eie taal daarin: die Mascot-Jesus wat ons span moet laat wen, die Terapeut-Jesus wat net daar is om my beter te laat voel, die Bling-Jesus wat voorspoed uitdeel, die Nasionale Patriot-Jesus wat ons politiek ideologie moet seën, die Morele Voorbeeld-Jesus wat net 'n goeie mens was, en die Teddiebeer-Jesus wat nooit vir jou 'nee' sê nie. Elkeen van hulle is 'n ware fotobeeld – en elkeen van hulle is 'n leuen sodra dit die enigste fotobeeld word.

Kyk mooi wat gebeur hier: in plaas daarvan dat die dissipel na Christus se beeld verander, verander Christus stil-stil na die dissipel se beeld. Ons kies die weergawe van Hom wat by ons pas – ons politiek, ons gemak, ons behoeftes – en ons noem dit geloof. Maar 'n God wat presies lyk soos jy, is nie 'n God nie. Dis 'n spieël.

Die etiket wat jy op jouself geplak het

En dan is daar die wreedste enkele storie van almal: die een wat ons oor onsself vertel.

'Ek is maar so grootgemaak.' 'Dis in ons familie se bloed.' 'Ek kom nooit uit hierdie geldnood uit nie.' 'Ek is oorgewig, ek is siek, ek het beperkinge – dis wie ek is.' Ons neem een fotobeeld uit die album van ons lewe, dalk 'n pynlike een, dalk net 'n gewone een, en ons laat dit die opskrif van die hele boek word.

John Bradshaw skryf in Healing the Shame That Binds You oor presies hierdie ding. Hy onderskei tussen gesonde skaamte en wat hy giftige skaamte noem. Gesonde skaamte sê: ek het 'n fout gemaak. Giftige skaamte sê: ek is die fout. Die een gaan oor iets wat jy gedoen het; die ander een gaan oor wie jy is. En sodra skaamte van 'n gevoel in 'n identiteit verander, is dit nie meer 'n emosie wat kom en gaan nie – dit is die fotobeeld waarin jy permanent woon.

Bradshaw sê hierdie skaamte word geïnternaliseer: die stemme van buite – 'n ouer se woorde, 'n onderwyser se opmerking, 'n gemeenskap se oordeel – word oor jare jou eie binnestem. Uiteindelik het jy niemand meer nodig om jou te veroordeel nie. Jy doen dit self, met dieselfde woorde, in jou eie kop, elke dag. Dis 'n tronk waarvan jy self die wag geword het.

En 'n mens wat glo hy is fundamenteel verkeerd, moet wegkruip. Daarom, sê Bradshaw, bou ons 'n valse self – 'n rol, 'n masker, 'n weergawe wat aanvaarbaar is: die perfeksionis, die presteerder, die grapmaker, die sterk een wat nooit hulp vra nie, die een wat almal se probleme oplos sodat niemand na syne hoef te kyk nie. Dis dieselfde vyeblare, net beter gestik. En die tragedie is dat jy die masker aanhou om aanvaar te word, maar dan word die masker aanvaar, en nie jy nie. So bly die eensaamheid net waar dit was.

Dís hoe ons eie denke ons gevange hou. Nie omdat die storie waar is nie, maar omdat ons ophou het om dit te toets. 'Ek is nie goed genoeg nie' word nie bevraagteken nie; dit word 'n vesting. Ons neem besluite daaruit, ons kies vriende daaruit, ons aanvaar behandeling daaruit, en ons gee kanse op wat ons dink nie vir mense soos ons bedoel is nie. Die fotobeeld word 'n muur.

Maar hier is die punt waar die evangelie by Bradshaw se diagnose inkom: as skaamte in verhouding gebore is, kan dit net in verhouding genees word. Dit is hoekom Jesus wat by die vrou bly staan het so diep betekenisvol is vir my en jou vandag . Sy het nie nodig gehad dat iemand haar sonde ontken nie. Sy het nodig gehad dat Een wat die hele prent sien, nie wegstap nie.

Toe hulle Jesus in 'n boks probeer druk het

Niemand het dit ooit erger gekry as Jesus nie. Feitlik elkeen wat vir Jesus geken het, het 'n aanneemlike, bewysgebaseerde enkel storie oor Hom gehad — sy familie het gedink Hy is van Sy verstand af (Markus 3:21), Nasaret kon Hom nie anders sien as "Josef se seun" nie (Matteus 13:54–57), die Fariseërs het Hom as 'n godslasteraar en duiweluitdrywer-deur-die-duiwel afgemaak (Matteus 12:24; Markus 2:6–7), die skare wou Hom by geweld koning maak (Johannes 6:14–15), Petrus wou die oorwinnende Koning hê en nie die lydende Kneg nie (Matteus 16:22), die Emmausgangers het Hom afgeskryf toe die politieke verlossing nie gebeur het nie (Lukas 24:21), en selfs Pilatus kon Hom nie anders as 'n verwarrende kategorie – misdadiger, kranksinnige, of koning – verstaan nie (Johannes 18:37). Elkeen se twyfel was gebou op 'n fragment van inligting wat hulle iewers gehoor het – maar hulle het daardie een fragment vir die hele prentjie aangesien, en dít is wat Jesus se kruisdood die grootste gruweldaad in mense geskiedenis is - die mees onskuldigste mens, word op die wreedste denkbare manier gestraf vir dade wat Hy nooit gedoen het nie!!

Was jy al ooit in so 'n posisie? Dink net aan Jesus! Hy het daardie lyding op Hom geneem, sodat jy nie langer onder die misvorming van mense gevange hoef te bly nie!

Die oomblik van ware ontmoeting

Hier is die punt, en dis nie ingewikkeld nie: ons oordeel, ons klassifiseer, en ons vries mekaar vas in fotobeelde wat vir ons gerieflik is. Ons doen dit aan ons huweliksmaats, aan ons kinders, aan vreemdelinge op 'n skerm, aan God, en – die wreedste van almal – aan onsself.

Maar die waarheid is: ons is almal, op hierdie oomblik, net besig om te oorleef in ons eie storie van pyn. Elkeen dra 'n lading wat niemand langs jou heeltemal ken nie. Dis nie 'n verskoning om ander te oordeel nie. Dis die een ding wat ons almal gemeen het.

Elkeen van ons is meer as die fotobeeld wat 'n vorige generasie, 'n aanlyn opinie, of ons eie moedeloosheid oor onsself geneem het.

So hier is die vraag wat ek nie vir jou gaan beantwoord nie, want dit was nooit my werk om dit te doen nie: wanneer laas het jy vir iemand – jou man, jou vrou, jou kind, jouself, of vir God – die kans gegee om jou te verras?

Die mens is onvoorspelbaar – en dis goeie nuus

Want hier is die werklikheid van ons menswees: op enige gegewe oomblik kan 'n mens 'n besluit neem wat niemand kon voorsien nie. 'n Besluit wat teen sy geskiedenis ingaan, teen sy karakter soos ons dit ken, teen elke redelike voorspelling wat oor hom gemaak is. Nie omdat hy 'n ander mens geword het nie, maar omdat sy hele oriëntasie – die punt waaruit hy na die wêreld kyk – in een oomblik kan skuif.

Die Bybel is volop van hierdie stories, en let op hoe agterstevoor elkeen van hulle is.

  • Saulus is op pad Damaskus toe met arrestasiebriewe in sy sak, en staan op met 'n roeping om die naam te verkondig van die een wat hy probeer vernietig het.
  • Saggeus, die belastinggaarder wat sy hele lewe lank vir geld geleef het, klim uit 'n boom en begin uitdeel.
  • 'n Misdadiger aan 'n kruis, met ure oor om te lewe, draai sy kop en vra vir toegang tot 'n hemelse koninkryk – en kry dit.
  • Petrus, wat drie keer gesweer het hy ken nie die Man nie, staan sewe weke later op en preek voor duisende.
  • Nineve, die stad wat niemand kans gegee het nie, bekeer hulle na God.
  • En die pa in Jesus se gelykenis het na die seun gehardloop wat volgens elke berekening nie 'n tweede kans werd was nie.

Elkeen van daardie oomblikke het iemand se voorspelling oor 'n mens verkeerd bewys. En let op: voorspellings soek aardse feitlike bewyse. Hulle word gebou op regte bewyse, ware fotobeelde, 'n eerlike lees van die verlede. Hulle was net nie die laaste woord nie.

  • Wat beteken dit vir ons? Hou op voorspellings maak oor mense. Jy het nie die inligting nie. Jy sien 'n dwarssnit en jy praat asof jy die einde ken.
  • Hou op oordeel. Jy vries 'n mens vas in 'n oomblik wat God self nog nie afgehandel het nie. "Hou op om ’n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ’n oordeel oor julle uitspreek nie." Mat 7:1 Elkeen gaan voor die Here rekenskap gee. Jy kan net iets aan jouself doen! Wanneer iets wel voor jou gebeur, dan kan jy die direk beoordeel of veroordeel, dien verstane dat jy niemand kan forseer om met jou saam te stem nie.   
  • Hou op om net na mense te kyk – begin hulle sien. Kyk is wat 'n kamera doen: dit vat die oppervlak en dit sluit. Sien is wat God doen: Hy kyk na die hart, en Hy sien wie jy nog gaan word. Die een is 'n oordeel oor gister. Die ander een is 'n oop deur vir môre.
  • Moet geen verwagting van 'n mens hê nie! 8Dit is beter om by die Here te skuil as om staat te maak op mense. 9Dit is beter om by die Here te skuil as om op vername mense te vertrou. Ps 118:8-9
  • Gaan maak moeite om die mense wat vir jou werk, in 'n ander konteks te gaan ontmoet, in hulle huise, tydens hulle kerk byeenkomste, langs die sportveld. 
  • Sien mense binne die konteks van 'n gesin, dis iemand se kind, dit is iemand se ma en pa, of oupa of ouma! 
  • Sien mekaar verby 'n bepaalde groep identiteit (kleur, klas, ras, geslag) as individue! 
  • Moenie mense op die uiterlike oordeel nie.  "24Moenie oordeel net op wat julle sien nie; oordeel billik." John 7:24 
  • Sien mense mense in die Gees Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Ons het Christus wel op die menslike manier leer ken, maar nou ken ons Hom nie meer so nie.  (2 Korintiërs 5:16)

Kan 'n mense iemand oordeel en liefhê?

Oordeel-as-vonnis sluit die lêer. Dit sê: dis wie jy is, permanent, en ek het opgehou soek na bewyse van die teendeel. Hierdie soort oordeel kan nie saam met liefde bestaan nie, want liefde – per definisie – hou die storie oop. Paulus se definisie van liefde is volgens 1 Korintiërs 13; "glo alles, hoop alles" is 'n presiese beskrywing van 'n gemoed wat weier om sy vonnis oor 'n mens finaal te maak. Die oomblik wat jy iemand se einde reeds besluit het, het jy opgehou liefhê en begin argiveer.

Oordeel-as-onderskeiding is anders. Dis die dokter wat die siekte 'n naam gee terwyl hy steeds vir die pasiënt veg. Jesus verbied nié hierdie soort oordeel nie – Hy sê vir die skare om op te hou oordeel "na wat julle sien" en eerder "'n regverdige oordeel" te vel (Johannes 7:24). Onderskeiding sê: hierdie spesifieke ding wat jy gedoen het, is verkeerd, en ek gaan dit sê, want ek stel belang hoe en waar jy eindig. Paulus doen presies dit met die man in 1 Korintiërs 5 – skerp morele oordeel, gemik op uiteindelike herstel, nie op verdoeming nie.

Veroordeling en liefde sluit mekaar uit. Onderskeiding en liefde nie – trouens, ware liefde sonder enige vermoë tot morele helderheid is nie liefde nie, dis net goedkeuring, en goedkeuring vereis nie dat jy die mens eers ken nie.