“Die laaste Resies Oorwin”

Die een werklikheid waarteen ons die afgelope byna twee jaar so hard geveg het, het nou aangebreek:
Martin is nie meer hier nie. Hy is by die Here.
Baie van ons het met volle oortuiging geglo dat die Here hom sou genees, dat hy nog lank saam met ons sou leef. Ons het saam met Anelle en die kinders geglo, gewag, gehoop, en gebid. Tog het dinge anders verloop. Ons worstel met God, want alles waarvoor ons gebid het—dat hy nie septisemie sou kry nie, dat hy sy maag en slukderm sou behou, dat hy vinnig en sonder lyding sou sterf—het nie gebeur nie.
Vir ’n sportman, ’n doener, en ’n rateltaai, sterk man was die pype in en uit sy liggaam, die daaglikse wondskoonmaak, en die afhanklikheid van ’n sluksakkie en maagpyp ’n groot vernedering en foltering. Vir iemand wat selfstandig, hardwerkend en trots was, was dit ondraaglik om sy kragte bietjie vir bietjie elke dag te verloor, vasgevang in ’n bed, terwyl sy geliefdes magteloos moes toekyk en hoop teen hoop vir uitkoms.
En dan kom die vraag wat elke gelowige in tye van smart vra:
Waar is die Here?
Hoe kon ’n liefdevolle Hemelse Vader hierdie intense foltering en lyding toelaat?
Die Woord sê tog: “Die dae van die mens is in die hand van die Here” (Psalm 31:16). Kom ons kyk nie wat die Here nie gegee het nie, en sien wat Hy wel gegee het.
Martin kon reeds tydens die eerste operasie in April 2024 gesterf het. Selfs die dokters het gesê die tweede operasie was byna sy einde...
Die genade wat Anelle bonatuurlik ontvang het om Martin te kon versorg, en in die mees uitdagendste omstandighede getrou aan sy sy te staan, was ’n sigbare uitdrukking van God se tasbare teenwoordigheid.
Die geskenk van diepe verbondenheid en huweliksliefde wat Martin en Anelle gedeel het, was ’n heilige mooi wat menige kon aanskou en met sagte glimlag bewonder — terwyl hulle heimlik dieselfde begeer het.
En die genade wat die kinders, nog jonk en onervare, ontvang het om saam met François en die res van die NuSeason-span ’n groot onderneming nie net staande te hou nie, maar selfs te laat floreer, is ’n genade direk uit die hand van God self. Hierdie Finansiële voorsiening, was ook 'n geskenk van die Here!
Te midde van hartseer en verlies bly daar ’n onuitblusbare lig brand — die lig van geloof, hoop en liefde wat Martin agterlaat. Sy lewe was ’n getuienis dat ware krag lê in sagmoedigheid, en nederige getrouheid aan Christus. Hy het sy handewerk tot Sy eer as lofprysing aan die Here gedoen, sy mense met eerlikheid liefgehad, en sy God met volharding gedien. Sy nalatenskap leef voort in sy gesin, die werk van sy hande, en die mense wie se lewens hy aangeraak het. “Dié wat in die Here sterf, rus van hulle arbeid — en hulle werke volg hulle na.” (Openbaring 14:13)
Elke nag sedert die operasie toe hy tuiskom na maande in die hospitaal het Anelle met vrees en angs gelê en geluister na sy asemhaling—miskien onreëlmatig, of swaar—bang dat elke asem die laaste kon wees. Ek is egter wel dankbaar dat die Here Anelle hierdie spanning van alleen by hom wees as hy sterf gespaar het. Toe sy oomblik van oorstap uiteindelik kom, was sy en Martin omring deur liefde, gebed en vrede. Suster Irma het net die regte oomblik ingestap om te bevestig: Martin het sy wedloop voltooi.
Baie mense se Lewens word tans deur KANKER bedreig!
Ons as kinders van die Here word nie gevrywaar van die need en lyding van hierdie lewe op aarde nie. Ons sien hoe baie mense in hierdie tyd sterf aan hierdie wrede siekte - kanker - ’n ondraaglike krankheid wat niemand verdien nie. Dit is ’n siekte wat mens op elke vlak uitmergel en stukkie vir stukkie probeer vernietig. Martin is nie die enigste een wat gely het nie. Elkeen loop vandag hier rond met 'n verborge seer, verlies, siekte en pyn.
Alle krankheid is 'n wrede foltering.
En tog, selfs in hierdie stryd, het Martin aanhou getuig:
“Moenie ophou om die Here te dien en in Hom te glo nie! En moenie dat ek die rede wees dat julle geloof verloor nie!”
As boer het Martin geweet dat die lewe nie altyd regverdig sy lot uitdeel nie. Hy het verstaan dat vloede, droogtes, rampe en plae deel is van die werklikheid waarin ons leef—maar dat geloof die anker is wat ’n mens staande hou. Daarom was hy so streng oor akkuraatheid en dissipline: “Doen dit die eerste keer reg, dan hoef jy dit nie weer te doen nie.”
Hy het dikwels gesê: “’n Mens kan nie in vandag se tyd boer as jy nie glo nie.” op 'n ander keer tydens groot finansiële uitdagings, hael en droogte: "Hoe kan ek vir die Here 'n getuie wees, as dit net altyd met my goedgaan?" Martin het gekies om deur elke swaar die Here te bly vertrou dat daar "genoeg sal wees" om al sy verpligtinge, veral teenoor sy werkers na te kom. Dit is waarom hierdie lied wat ons vandag gesing het, Martin se gunsteling lied was:
I raise a hallelujah, in the presence of my enemies
I raise a hallelujah, louder than the unbelief
I raise a hallelujah, my weapon is a melody
I raise a hallelujah, Heaven comes to fight for me
I’m gonna sing, in the middle of the storm
Louder and louder, you’re gonna hear my praises roar
Up from the ashes, hope will arise
Death is defeated, the King is alive
Deur die Geloof
en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. 1 Joh 5:4
Deur geloof het hy gehoor om die pakhuis te bou—teen raad, teen weerstand, teen logika. Deur geloof het die Here sy en Anelle se paaie gekruis, en vir hulle 5 jaar saam gegee, waarvan drie jaar gevul was met ware liefde, vreugde en viering van die lewe!
Martin het een keer vir my gesê:
“Ek het alles gedoen wat ’n mens kan begeer. Ek het voluit geleef. Ek is nie bang vir die dood nie; ek is net bekommerd oor Anelle en die kinders wat agterbly.”
Met daardie geloof het hy die laaste twee jaar se harde wedloop geloop—met waardigheid, met moed, en met lof aan die Here ten spyte van die sleg. Wanneer ons vir hom gebid en hande opgelê het, het hy dikwels sy arms omhoog gehou, soos hy die Here in aanbidding in die kerk geloof en prys het. Ten spyte van vrae, vertwyfeling en pyn het hy bly glo, bly vertrou, bly hoop.
Hy het die groot wedloop van geloof voltooi — die heilige reis van lyding na heerlikheid, die ewige marathon wat eindig in die arms van sy Verlosser.
Het die Here Martin gefaal?
Was sy geloof tevergeefs?
Nee. Allermins.
Die Geloof van die Martelare
Die geloofshelde in die Bybel—Stefanus, die apostels, die profete—het nie een in hierdie lewe die vervulling van hulle geloof gesien nie. Hulle het, soos Stefanus, met oë op die hemel, vasgehou aan God se teenwoordigheid selfs in die uur van marteling.
Die geloofshelde in die Bybel, die apostels, Stefanus, en duisende ander het nie in hierdie lewe die hoop gesien waaraan hulle vasgehou het nie. Hulle het almal die dood van 'n martelaar gesterf!
Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. Maar hulle het met ’n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ’n jongman met die naam van Saulus. En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met ’n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap. (Handelinge 7:55-60)
Soos Stefanus, het Martin sy gees in vrede aan die Here oorgegee.
DIE ROUPROSES
Die bekende eertydse Ateis, en toe uitgesproke Bybelse apologeet C.S. Lewis het ook deur 'n donker dal van persoonlike verlies gegaan. In sy vroeë werk The Problem of Pain skryf hy dat pyn nodig is vir geestelike groei—’n instrument waardeur God ons volmaak maak.
Maar toe sy vrou Joy Gresham aan kanker sterf, word hy self getoets deur uitermatige wrede lyding. C.S. Lewis was 57 jaar oud toe hy in 1956 met Joy Davidman, toe 41, getrou het; hulle was sowat vier jaar getroud en het kort na hulle huwelik uitgevind sy het kanker. Vir vier jaar het hulle saam teen haar kanker geveg totdat sy in 1960 oorlede is. Hy sterf drie jaar later, op 22 November 1963.
In C.S. Lewis se boek A Grief Observed beskryf hy sy daaglikse rouproses, ’n diepgaande progressie en lewensreis van hoe hy God ervaar — ’n pad van wanhoop na genesing.
Die geslote deur – God as Afwesige
In die begin van sy routydperk sê Lewis:
“Toe ek na die Here gaan toe my nood die grootste is, vind ek ’n deur wat hard toeslaan, en ’n geluid van grendels wat aan die binnekant toegegooi word. Daarna stilte.”
Hy beleef God staan agter ’n dubbel deur wat vasgesluit is — koud, doof en onbereikbaar. Sy geloof, wat vroeër helder was, voel nou leeg en verward. Dit is die donker nag van die siel. Hy voel verlate en selfs bedrieg deur die Een wat hy gedien het. Hy wonder: is God werklik goed, of is Hy ’n “Kosmiese Sadis”?
Lewis beskryf hierdie stadium as 'n spirituele skok.
Die deur word ’n spieël – Selfontmaskering
Later begin Lewis besef dat die “deur” dalk nie gesluit is nie, maar eerder ’n spieël is wat homself weerkaats. Hy skryf dat hy ontdek dat sy geloof voorheen oppervlakkig was — ’n “huis van kaarte.” Die pyn breek sy teoretiese afstand toeskouer godsdiens af en dwing hom om eerlik te wees.
Hy sê: “Ek het gedink ek vertrou die tou — totdat ek moes hang daaraan.”
Hy het uiteindelik besef wat egte geloof vra: nie net woorde nie, maar volkome oorgawe en vertroue wanneer alles donker is en daar geen ander alternatief meer oor is nie. Geen valse gode meer staan nie. Waarvan die grootse afgod "my eie self aanbidding"!
God het nie verdwyn nie — Lewis se eie persepsie, sy “valse beelde van God,” het verkrummel. Die dubbele deur begin kraak en oopbreek — nie omdat God verander het nie, maar omdat Lewis se siening van God verander.
Die Chirurg – God as Geneser
Teen die einde beskryf hy ’n nuwe ontdekking en openbaring. God is nie die Sadis wat wonde maak uit argelose wreedheid nie, maar die Chirurg wat sny om te genees.
Hy skryf: “Die groot Chirurg kan jou nie genees tensy Hy jou wond oopmaak nie. Die pyn is deel van die genesing.”Lewis begin verstaan dat God se stilte nie afwesigheid is nie, maar ’n dieper soort teenwoordigheid — een wat hom louter, suiwer en hervorm. Die “deur” was nie gesluit om hom uit te hou nie, maar om hom in te lei na iets dieper: ’n geloof wat nie steun op emosie of gemak nie, maar op Werklikheid en Waarheid.
Die oop deur – God as Liefde self
Uiteindelik verander Lewis se rou in aanbidding. Hy sien dat selfs sy verlies ’n uitdrukking van liefde is — dat die verhouding met sy vrou ’n voorsmaak was van die groter liefde van God. Hy sê:
“Die verlies van H. was nie die einde van liefde nie, maar die voltooiing en vervulling daarvan"
Die deur wat toe gelyk het, was eintlik ’n poort — na dieper vertroue, dieper vrede, en ’n ryper liefde vir God.
Lewis, soos Martin, leer dat geloof nie ’n beskerming is om pyn te vermy nie, maar ’n anker deur pyn heen.
Teorieë, filosofie en opinies klink goed totdat jy self die donker pad moet stap.
Dan ontdek jy dat geloof nie meer ’n konsep is nie, maar ’n Persoon—die gekruisigde en opgestane Christus self. In Hom sien ons nie ’n wrede God nie, maar ’n God wat self gely het.
Nie ’n afsydige Skepper nie, maar ’n liefdevolle Chirurg wat met trane in sy oë sny om te genees.
Daarom sê ons vandag:
Martin is nie dood nie. Hy Lewe en is nou volmaak gesond!
Nie meer aan pype gekoppel nie, maar aan Christus self verbind vir ewig.
Nie meer in pyn nie, maar in vrede.
Nie meer in stryd nie, maar in heerlikheid.
GRAWE/ROOTS
’n Jaar gelede het ek ’n opleidingsessie gehou met die topbestuur van NuSeason. Die doel van die sessie was om die waardes waarvolgens Martin geleef het, duidelik uit te spel en seker te maak dat die maatskappy steeds koers hou op die fondament wat hy gelê het. Dit was vir my ’n diep ontroerende en bemoedigende getuienis — om te sien dat Martin nie net ’n goeie leier was nie, maar ook ’n ware leermeester. Die groep het sonder huiwering die kernwaardes wat hy nagelaat het, uitgelig en vasgelê as die pad vorentoe. Hulle het nie bloot sy visie onthou nie; hulle leef dit voort.
· Gehoorsaamheid
· Respek
· Akkuraatheid
· Waarheid
· Eienaarskap
· Respect
· Obedience
· Ownership
· Truth
· Spot On
Martin was ’n besondere mens – iemand wat oral waar hy gekom het ’n blywende indruk gemaak het. Hy het vriende gemaak van sy skooldae af, deur sy tyd in die weermag, op Elsenburg, en later as boer, eienaar, kind van God en leier in die kerk.
Maar ons mag nooit ons vertroue, hoop of voorsiening in ’n mens stel nie. Die wêreld het beslis meer vaders soos Martin nodig – sterk, eerbaar, betroubaar – maar hy kon en mag nooit die enigste bron van ons lewe en rigting wees nie.
Daar is niks mooier as ’n man en vrou wat mekaar diep en innig liefhet nie; tog is dit juis wanneer hulle saam van die Here afhanklik leef, en ook ander mense toelaat om draers van genade te wees, dat die verhouding sy volheid vind en die liefde dieper wortel skiet.
Martin was ook nie perfek nie, soos ons almal moes hy mense wat teen hom gesondig het vergewe, en sommige sal hom moet vergewe. Soms moes Martin vir vergifnis vra vir foute wat hy gemaak het, en soms het hy besluite geneem wat mense nie verstaan het nie. Sommige sal Martin onthou dat hy soms 'n moeilike en noukeurige mens was, wat hoë standaarde aan homself en ander gestel het.
Martin se laaste wens was, dat Anelle en die kinders waaragtig die Here sou dien, so ook elke mens wat vir hom gewerk het, en met wie hy in aanraking gekom het. Hy het dikwels gesels hoe wonderlik dit sou wees as die Here hom genees, want dink net hoeveel mense dit sou raak!
Martin is vandag volmaak gesond!!
Hy het die wêreld van die dooies verlaat en deel geword van die wolk van getuies wat ons aanspoor in die land van die lewendes! Saam met Oupa Martin, Andre Pelser, Leigh Collins, Elna Pretorius, Estelle Mc Gregor, Gerhard Bosman, Pa Ben en Ma Delene en Isa Martin staan sy lewe as aansporing om soos hulle ONS wedloop te voltooi. ons geloof te behou en soos hy die draer van die kroon van die ewige lewe te ontvang. (2 Timoteus 4:7–8)
Koester Familie
Die een waarheid wat vir my die duidelikste uitstaan oor my 24 jaar lange vriendskap met Martin, is dat die mees kosbare dinge in die lewe nie op die oppervlak lê nie. Goud, diamante en edelgesteentes moet met geduld en moeite ontdek word – en wanneer jy dit uiteindelik vind, besef jy dat dit gekoester, beskerm en met eerbied behandel moet word.
So is ware vriendskap: dit is baie dieper as ’n sosiale-media “like” of ’n vinnige emotikon. Dit weerlê die winde van die volgende skinderstorie, en menslike opinies en toeskouer oordele.
Egte vriendskap word gesmee deur by mekaar te staan, saam te stoei, mekaar reg te help, saam te gee en saam te dien. Dit vra opoffering, eerlikheid en opregte omgee – en juis daarom is dit so kosbaar en skaars. Ek onthou oor die jare die baie kuiers en vakansie saam, die diep betekenisvolle gesprekke, die avonture van lekker dinge saamdoen, fietsry, bote, kano, stap, en ski...
Die wêreld is besig om al hoe meer vyandig te raak, ons moet nou meer as ooit ons fone op 'n tafel neersit, en betrokke raak in mekaar se lewens. Martin het gehou van kuier, grappies maak, maar ook om die Here in mekaar te hoor. Hy het tot met sy laaste asemteug vir FAMILIE geveg.
Sy rykdom en nalatenskap was vir een doel alleen — sy familie.
Die opbou van sy plase en sakeondernemings was nooit vir eie gewin nie, maar om vir sy gesin, en veral vir sy kinders, ’n nalatenskap en erfenis te bou wat verder strek as geld of grond. Vir hom was 'n onderneming waarin ons saamwerk meer belangrik as geld in 'n bank.
Mag ons ook vandag leer om ons gesin, familie en vriendekring meer te koester en te beskerm.
Die stille harmonie van saamwees, die gunstige vrede van huis en hart, is waardevoller as enige eiebelang of prestasie.
Om saam die Here te dien, en saam die ewigheid te beërwe, is oneindig meer werd as aardse gesondheid, rykdom of sukses.
Martin het nooit begeer dat die lig op hom moet skyn nie — al was hy in elke sport en uitdaging besonder kompeterend — sy wens was altyd dat die lig op ander sal skyn.
Vir hom was dit nooit “ek” nie, altyd “ons”.
Mag ONS elkeen wat vandag hierdie boodskap hoor en luister, of lees! DIE HERE MET OORGAWE DIEN!!
Amen!