Die Oorlog teen Valse Persepsies
Die onlangse sluipmoord op Charlie Kirk in Amerika wys hoe ’n samelewing só verdeel kan raak dat een man vir sommige ’n held en ’n heilige is, en vir ander iemand wat die dood verdien.

Ons leef in ’n wêreld waar woorde al hoe skerper messe word — en soms dodeliker as wapens.
Die moord op Charlie Kirk – en nou die nuus dat sy vermeende moordenaar, Tyler Robinson, geïdentifiseer is – tref ons diep. Twee gesinne is verpletter: pa’s en ma’s, oupas en oumas, boeties en sussies wat nou in rou en twyfel leef. Twee slagoffers wat nooit weer dieselfde vreedsame dae sal beleef nie. Charlie se invloedryke toekoms kortstondig beëindig, sy kinders wat sonder ’n pa groot moet word. Al word die doodstraf alreeds opgeroep, bring dit geen ware troos of rus vir die oop wonde nie. Hierdie voorval wys hoe ’n samelewing só teen mekaar kan draai: vir sommige was Charlie ’n held en amper ’n heilige, vir ander iemand wat glo die dood verdien. Só lyk ’n wêreld wat vasgevang is onder die mag van die Bose (1 Joh. 5:19).
Paulus waarsku dat mense in die strik van die duiwel vasgevang word om sy wil te doen (2 Tim. 2:25–26). Jesus self het verklaar dat die duiwel van die begin af ’n mensemoordenaar en leuenaar was (Joh. 8:43–45).
Satan se strategie is nie nuut nie:
- Hy vang mense vas in ’n web van leuens.
- Hy vul hulle harte met haat, woede en vrees.
- Hy dryf verdeeldheid totdat mense mekaar wil uitwis.
Sy doel is altyd dieselfde: om ons van God te vervreem en te verhinder dat ons God se wil doen. Want die ware oorwinning en skeppingsdoel van die mens lê nie in mag of geweld nie, maar in om in God se geregtigheid te leef. Ons is inderdaad in 'n bloedige worstelstryd gewikkel tussen lewe en dood. (Eph 6:12)
Dieselfde giftige atmosfeer hang swaar oor Suid-Afrika. Ons politieke retoriek is grof, vulgêr en deurtrek van laster. Debatte gaan lankal nie meer oor feite en beginsels nie, maar word gedryf deur emosionele uitbarstings van woede, haatspraak en verdagmakery. Ja, vryheid van spraak is ’n kosbare reg – maar waar lê die grens waar dit ophou om ’n reg te wees en ’n gevaar word? Wanneer word woorde nie meer instrumente van waarheid en geregtigheid nie, maar wapens wat haat aanwakker, geweld ontketen, en ’n hele volk in vlamme kan dompel?
Jesus se Wêreld: ’n Kultuuroorlog
Dit is hier, tussen mense wat Hom van kleins af geken het, waar die eerste groot konfrontasie plaasvind. Hulle is eers beïndruk deur sy woorde, maar net ’n paar oomblikke later wil hulle Hom van ’n krans afgooi. Dit is geestelike oorlogvoering: die stryd om die waarheid, die stryd oor wie Jesus regtig is, en die stryd teen die leuen van menslike trots.
Jesus se lewe op aarde was ook ’n wêreld van haat, verdeeldheid en magspel tussen die invloedrykes. Dit was ’n toneel van kultuuroorloë tussen Sadduseërs en Fariseërs, Selote en Romeine, skrifgeleerdes en tollenaars, Samaritane en Jode. Soos vandag se botsings tussen regs en links, tussen ekstremiste en idealiste, tussen Charlie Kirk-aanvallers in die VSA of ons eie smoorgreep van Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie.
- Sadduseërs: aristokrate, priesterklas, gekoppel aan die Tempel en Rome.
- Fariseërs: volksbeweging, streng op die Wet, sosiaal gerespekteer maar wetties.
- Skrifgeleerdes: die “akademici”, meesters van interpretasie.
- Sanhedrin: die hoogste raad, polities en geestelik.
- Selote: militante nasionaliste, bereid om Romeinse soldate te vermoor.
- Samaritane: veragte bure, half-heiden in die oë van die Jode.
- Tollenaars: Jode wat Rome se belasting afgedwing het – gesien as verraaiers.
- Herodes Antipas: marionet-koning van Galilea.
- Romeinse soldate: die konstante herinnering dat Israel nie vry was nie – ’n militêre besettingsone.
Maar Jesus kies ’n ander pad. Hy kies nie die Sadduseërs se kompromie nie, of die Fariseërs se wettisisme, of die Selote se geweld nie. Hy bring die Woord: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring” (Luk. 4:18).
Soms is jou grootste stryd nie teen die wêreld nie, maar teen mense wat jou die beste ken. Geestelike oorlogvoering beteken jy hou vas aan die waarheid selfs al verwerp geliefdes jou.
Hoofteks: Lukas 4:14–31
14 EN Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ’n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan;
15 en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.
16 Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.
17 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:
18 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;
19 om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.
20 En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.
21 Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.
22 En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie?
23 En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook.
24 En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie.
25 Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar ’n groot hongersnood gekom het in die hele land,
26 en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na ’n weduwee.
27 En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër.
28 En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor;
29 en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi.
30 Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan
Jesus keer in die krag van die Gees na Galilea terug, nadat Hy veertig dae en nagte in die wildernis gevas het, versoek is deur die duiwel, maar staande gebly het deur die Woord van God. Met die geur van oorwinning nog vars op Hom, stap Hy terug na sy tuisdorp, Nasaret – die plek waar almal Hom geken het, maar waar min Hom regtig sou verstaan.
Eers is almal verwonderd oor die genadevolle woorde (Luk. 4:22). Maar toe Hy hulle herinner aan Elía wat na ’n weduwee in Sarfat gestuur is (1 Kon. 17:9–16), en Elísa wat Naäman die Siriër genees het (2 Kon. 5:1–14), draai bewondering in haat (Luk. 4:28). Hulle wil Hom van die krans af gooi (Luk. 4:29). Hoe is dit moontlik dat mense so gou van opinie kan verander.
Hierdie skrif gedeelte beeld geestelike oorlogvoering teen valse persepsies, kulturele trots en menslike verwagtinge duidelik uit.
Een Woord Vertel ’n Storie
Hermeneutiek – die kuns om te interpreteer – wys ons dat een woord ’n hele wêreld van herinneringe, emosies en betekenisse kan oopmaak. ’n Enkele naam kan mense laat glimlag, of dit kan bloeddruk laat styg.
In Johannes 1:43–50 vertel Filippus vir Natanael dat hy die Messias ontmoet het: Jesus, die seun van Josef, van Nasaret. Natanael bars uit: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Vir Filippus was “Nasaret” 'n plek van naby-liggende-hoop, maar vir Natanael was dit ’n plek met 'n negatiewe stigma wat vermy moet word.
Nou bring ons dit na ons eie tyd. Dink vir ’n oomblik: wat gebeur in jou gemoed as ek woorde noem soos: “Apartheid, Kleurling, Boer, Malema, ANC, Beurtkrag”? Elke woord dra ’n storie, ’n herinnering, ’n hermeneutiese raamwerk. Die “ANC” is vir sommige 'n relevante bevryding organisasie, vir ander die katalisator en beskermheer van staatskorrupsie. Die woord “Apartheid” roep by sommige die herinnering aan onmenslike onderdrukking en verlies op, terwyl ander dit onthou as ’n tyd waar dinge vir húlle goed gewerk het. Die woord “Kleurling” dra spanning van identiteit en etikettering. “Boer” kan ’n beroep selfbeskrywing of ’n skelwoord wees. “Malema” is vir party die stem van die onderdruktes, vir ander die stem van gevaar en geweld. Maar selfs die woord "Christen", is vir sommige 'n woord van oppressie en valsheid waarmee baie nie geassosieer wil word nie, vir ander is dit die grootste eer om as Volgeling van Jesus beskryf te word!
Soos in Nazaret, toe Jesus die woord “Sarfat” of “Naäman” noem en dit die mense se emosies laat kook het, so leef ons ook in ’n wêreld waar woorde nie neutraal is nie. Die taal wat ons gebruik, die herinneringe wat ons dra, en die raamwerke waaruit ons interpreteer, bepaal hoe ons op ’n krisis reageer.
Die naam Nasaret
- ’n Nasireër (נָזִיר, nāzîr), volgens Numeri 6, was iemand (soos Simson, Samuel, Johannes die Doper) wat ’n gelofte van heiligheid en afsondering afgelê het. Hulle het van wyn weerhou, nie hulle hare gesny nie, en kontak met dooies vermy.
- Die woord Nasaret kom egter van ’n ander Hebreeuse stamwoord, naamlik netser (נֵצֶר), wat “loot” of “tak” beteken. Dit word gebruik in Jesaja 11:1: “’n Loot sal uitspruit uit die stomp van Isai; en ’n tak (netser) uit sy wortels sal vrugte dra.”
Dus: Nasireër (die afgesonderde een) en Nasaret/Netser (tak-dorp) is nie dieselfde woord nie, al klink dit soortgelyk in Grieks of Engels.
Gevolgtrekking: Jesus was nie ’n Nasireër in die sin van Numeri 6 nie. Hy het immers wyn gedrink (Matt. 11:19), dooies aangeraak (Luk. 7:14), en sy hare gesny soos ander Jode. Johannes die Doper pas baie duideliker by die Nasireër-model.
Jesus is egter presies wat die naam suggereer: die afgesonderde, Eenkant-hou, heilige Jesaja 11:1 wat die saad van verlossing gebring het waaruit ’n hele nuwe nasie sou verrys. 1 Petrus 2:9
Nasaret: Die onbekende Dorp
Nasaret was ’n nederige dorp, skaars ’n kolletjie op die kaart – sowat 144 km noord van Jerusalem, 25 km van die See van Galilea, 6 km van Sefforis en ’n dagreis van Tiberias. Argeoloë skat hoogstens 400 inwoners, met nederige eenvertrek binneplaas, platdak, kalksteenhuise, met stalle, graanputte, olyf- en wynperse, waar mense hulle eie weefwerk en klipwerk moes doen. Nie elite nie, nie priesters nie, net bestaansboere en ambagsmanne, gewone mense vasgevang in armoede en Romeinse belasting en oorheers deur groter buurstede.
Kultureel was Nazaret Joods, met klem op die onderhouding van die Torah, ’n sinagoge, en die gebruik van reinheidswette; hoewel Galilea oor tyd Hellenistiese invloede geken het, het Nazaret self redelik tradisioneel gebly.
Judea en Galilea kon nie meer verskil het nie. Galilea het in Jesus se tyd die gebied van die ou Noordryk (Israel) verteenwoordig – veral bekend vir sy vermenging en latere ballingskap – terwyl Judea die oorblyfsel van die Suidryk (Juda) was, met Jerusalem en die tempel as die godsdienstige en politieke hart.
- Judea in die Suide, met Jerusalem en die Tempel, was die godsdienstige hart, waar die ortodokse Sadduseërs en Fariseërs die teologie, wet en offers beheer het.
- Galilea was meer op die rand. Hulle was aan meer buitelandse heerskappy en invloede onderwerp, het gemengde bevolkings gehad, naby kern handelsroetes, en meer blootstelling aan heidense invloed. Die Judese elite het Galileërs dikwels as plattelandse agtergeblewe mense beskou – met 'n minder verfynde aksent, minder geleerdheid, minder streng in reinheidswette (rituele reinheid, sabbatsnakoming), en meer los of uiteenlopend in hulle godsdienstige praktyk. Dit beteken egter nie dat Galileërs ongodsdienstig was nie; baie was opreg toegewy, maar sosiaal is hulle nie as die godsdienstige “middelpunt” gesien nie.
Nou verstaan ons hoekom Nathanael (Joh. 1:46) gesê het: “Kan daar uit Nazaret iets goeds wees?”
Waarom Nasaret?
Maria was van Nasaret (Luk. 1:26), Josef het waarskynlik ook familie en werk daar gehad. Dit was logies om na hulle tuisdorp terug te keer, maar ook deur die Gees bewerk om die profesie te vervul: “Hy sal ’n Nazarener genoem word” (Matt. 2:23).
Jesus se Eie Agtergrond: Vlug, Skande en Verwerping
Josef en Maria moes met die Kind na Egipte vlug om aan Herodes se moordplan te ontkom (Matt. 2:13–15). Daar het hulle gebly totdat Herodes gesterf het, waarskynlik vir ’n jaar of twee. Matteus haal die profesie aan: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep” (Hos. 11:1; Matt. 2:15). Soos Israel se geskiedenis begin het met ballingskap en die groot Eksodus, so begin Jesus se lewe met vlug en uitredding. Die Messias deel van die begin af in die lyding van sy volk en word self die nuwe Israel wat die pad van verlossing stap.
In Nazaret het ’n ander stryd op Hom gewag – die stigma van sy geboorte. In ’n klein dorpie van omtrent vierhonderd mense was daar geen geheime nie. Die feit dat Maria swanger was voor sy en Josef amptelik getroud was (Matt. 1:18–19), sou altyd soos ’n skadu oor Hom hang. In Johannes 8:41 sê sy vyande spottend: “Ons is nie uit hoerery gebore nie.” Hierdie fluisteringe verduidelik hoekom Jesus gesê het: “Geen profeet is aangeneem in sy vaderstad nie” (Luk. 4:24). Die mense kon eenvoudig nie verby die skinderstories kyk nie.
Sy Galilese aksent het Hom ook uitgewys as iemand van die platteland. In Jerusalem is Galileërs maklik herken aan hulle spraak en dikwels as minderwaardig afgemaak. Toe Petrus in die hoëpriester se hof betrap word, sê die mense vir hom: “Jou spraak verraai jou” (Matt. 26:73). Dieselfde sou van Jesus gegeld het. Hy het nie gekom met die gepoleerde taal van die elite nie, maar met die stem van gewone mense. God kies die stem van die alledaagse om sy grootste boodskap te bring.
Selfs sy eie familie het Hom aanvanklik nie aanvaar nie. Markus vertel dat hulle gedink het Hy is “buite Homself” (Mark. 3:21), en Johannes sê reguit dat sy broers nie in Hom geglo het nie (Joh. 7:5). Dit wys dat Sy sending selfs in sy eie huis weerstand gehad het. Tog verander alles ná die opstanding. Jakobus, sy broer, word die leier van die gemeente in Jerusalem (Hand. 15:13; Gal. 1:19), en Judas skryf later die brief wat ons in die Nuwe Testament het. Die skeptici word getuies – die krag van die opgestane Christus het hulle oortuig.
Opmerklik is dat Jesus geen dissipels uit Nazaret gekies het nie. Sy roepingsbassuin het in Kapernaüm en Betesda weerklink (Matt. 4:18–22; Joh. 1:44). Hy het ’n tollenaar by sy tolhuis geroep (Matt. 9:9), en selfs ’n seloot (Luk. 6:15). Maar nie een van sy eie tuisdorp nie. Hy het geweet die gees van familiariteit en ongeloof sou sy werk daar versmoor (Joh. 4:44). Hy kon ook nie enige wonderwerke verrig het in Nasaret nie. “Hy kon daar geen kragtige daad doen nie, behalwe dat Hy ’n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het. En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof.” (Mark. 6:5–6)
Die Warboel van Persepsies
Almal se oë was op Hom gevestig; Hy sê: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.” Die skare was verwonderd (ἐθαύμαζον) oor die genadevolle (χάρις-belaaide) woorde, maar dadelik: “Is dit nie Josef se seun nie?” Bekendheid verander die verwondering in ’n maatstok: As jy een van ons is, bewys dit hier. Onder die kompliment lê ’n eis vir tuisdorp-voorregte.
“Geneesheer, genees uself” – m.a.w. Doen hier wat ons hoor jy in Kapernaüm gedoen het.
Toe noem Hy die beginsel: “Geen profeet is aangeneem in sy vaderstad nie.” In ’n eer–skaamte wêreld gebind aan kader nepotisme en wedersydse familie verpligtinge, was ’n beroemde seun verplig om sy dorp voordeel te bring. Jesus weier om deur daardie sosiale kontrak vasgevang te word.
Jesus verwys na twee skokkende voorbeelde van genade: Elía het baie Israelitiese weduwees verbygeloop om die Sidonitiese weduwee van Sarfat te seën; Elísa het baie Israelitiese melaatses verbygegaan om Naäman die Siriër te reinig. Die punt is nie dat God Israel verwerp nie, maar dat God se profetiese genade dikwels ongeloof en selfgeregtigheid oorslaan en neersak op nederige buitestanders. Dit is die lont wat die vertrek laat ontplof het.
Hoekom die woede?
Vir Nazaret was dit ’n openbare skande (honor–shame logika): hulle gehoor het gevoel dat Jesus hulle eer geskend het deur die vyande (Sidoniërs, Siriërs) te verhef. Daarom draai die aanvanklike bewondering in moordlustige woede. Die voorbeelde (Sidon; Sirië) beklemtoon dat die Jubeljaar nie ’n plaaslike alleenreg is nie, maar ’n sendinghorison wat die nasies insluit.
Die skare hoor dit nie as goeie nuus nie, maar as statusverlies.
In ’n eer–skaamte kultuur het Jesus se voorbeelde die gemeenskap se verwagtinge in die openbaar verneder: Nasaret is nie die middelpunt nie; heidense buitestanders mag eerste die Jubeljaar geniet. Dit draai die sosiale teks om – en hulle probeer Hom van die krans af gooi. (Antieke bronne wys dat afstorting van ’n krans ’n bekende manier was om godslasteraars te verwyder.)
a) Eer–skaamte logika
In die Mediterreense wêreld was eer die morele geldeenheid. ’n Tuisdorp-“profeet” moes die dorp se eer verhoog met wonders en beskerming. Jesus se weiering om volgens daardie reëls te speel, was ’n eer-skending. Hy sou nie Nasaret se troetel-wonderwerker wees nie; Hy sou God se profeet vir die wêreld wees.
b) Kaderlojaliteit–sosiale kontrak van wedersydse verpligtigheid.
Die Slagveld van Familiariteit – “Is dit nie Josef se seun nie?” (v. 22) Geestelike blindheid deur bekendheid. Wanneer ons iemand té goed dink ons ken, sien ons nie meer God se hand in hulle nie. “Josef se seun” dui op verwantskapseise. Die ondertoon: Jou opgang moet tot ons voordeel strek. Deur Elía/Elísa aan te haal, ontken Jesus enige aanspraak van wederkerigheid op sy sending. Genade werk volgens God se soewereine vryheid, nie die dorp se magsdwang nie.
In ’n samelewing wat hulleself as die “uitverkorenes” gesien het, het Jesus gewaag om te sê: God se guns is vry, en Hy kies dikwels die buitestander bo die insider.
Jesus “loop tussen hulle deur” – Lukas se stille teken dat God se Gesalfde nie gevang kan word voor Sy uur nie.
Jesus se Reaksie op die Kultuuroorlog
Jesus kies nie die pad van die Sadduseërs se kompromie, die Fariseërs se wettisisme, die Selote se geweld of die Romeine se brute mag nie. Hy baan ’n nuwe pad:
- Hy proklameer Jubeljaar-vryheid vir almal wat in Hom glo (Jes. 61; Luk. 4:18).
- Hy wys dat God se guns nie deur etnisiteit, status, rykdom of plek van herkoms bepaal word nie.
- Hy breek deur mure van eksklusiwiteit en nooi buitestanders in.
- 'Hy stap bloot deur die betogers' en gaan voort met sy werk!
- Toe hulle Hom uiteindelik valslik kruisig, word die kruisdood die oomblik van ontelbare vermenigvuldiging.
Jesus se Geestelike Wapens
Hoe oorwin Hy die gees van die wêreld, vals godsdiens en demone self.
- Die Woord van God (Jes. 61; Luk. 4:1-13). Hy ken die Woord, en spreek satan met gesag aan.
- Vol van die Heilige Gees (Joh. 3:34). Jesus demonsteer wat dit beteken om nie net vol van die vrug van die Heilige Gees te wees nie, maar ook vol van al die genadegawes van die Heilige Gees deur hom werk.
- Gebed en vas (Matt. 4:1–2). Gereelde vas en gebed is noodsaaklik!
- Waarheid en integriteit (Joh. 14:6). Eerlikheid sonder weerga!
- Dade van Liefde en genade (Joh. 8:11). Liefde oorwin alles!
- Gehoorsaamheid aan die Vader (Joh. 5:19). Hy soek nie die eer, of aansien van mense nie, want Hy leef vir die Vader se eer!
👉 Vir my lê die kern van hierdie boodskap hierin: Is jy bereid om deur die skanse van kultuur, groepsidentiteit en menslike verwagtinge te breek, en die waarheid te begin praat – al kos dit jou jou gemak, jou reputasie, of selfs jou lewe? Ons leef in ’n tyd waar jongmense besig is om die vrees van stilbly af te skud. Die moord op Charlie Kirk het die wêreld laat sidder, want dit wys hoe gevaarlik die waarheid beskou word in ’n samelewing vasgevang in valse persepsies. Maar dit wys ook hoe nodig dit is dat daar mense opstaan wat sê: “Ek sal nie swyg nie. Ek sal nie toelaat dat leuens die laaste woord kry nie.”
Jesus van Nasaret het presies dit gedoen. Hy het geweier om die gevange van groepsdruk, eer–skaamte of valse lojaliteit te wees. Hy het die waarheid gepraat, al het dit die skare so woedend gemaak dat hulle Hom wou doodmaak (Luk. 4:28–29). Jongmense van vandag, Hy roep julle om dieselfde manmoedigheid aan te trek: praat die waarheid in liefde, al bring dit weerstand. Want dit is net die waarheid wat regtig vrymaak (Joh. 8:32).