“Die Sonde wat jy Weier om Dood te Maak, Sal Jou Eendag Vernietig: Die Tragedie van Saul.
Die Sonde wat jy Weier om Dood te Maak, Sal Jou Eendag Vernietig: Die Tragedie van Saul se "slow fade".

KYK OP YOUTUBE
DAAR is iets gevaarliks aan sonde wat klein begin. Dis skaars merkbaar—’n "wit leuentjie" hier, ’n verskoning daar, ’n kompromie wat skynbaar onskuldig lyk. Maar soos onkruid in ’n tuin groei dit stil, ondergronds, totdat dit eendag alles oorgroei.
Ons almal het hierdie “klein draak” al ontmoet—die groeiende skuldlas wat ons ignoreer, die bitterheid wat ons verswyg, die fout wat ons rasionaliseer. En soos Denethor, die voog van Gondor se troon in The Lord of the Rings, kan ons ons eie plek van verantwoordelikheid verloor—verblind deur trots, angs, en ’n wil om nie die werklikheid onder oë te sien nie. In die rolprent het Denethor geweier om te glo dat die koning ooit sou terugkeer; hy het gekies om te regeer sonder hoop, sonder visie, sonder oorgawe. Sy wilskrag het verkrummel omdat hy nie die waarheid wou sien nie.
So ook gebeur dit met ons: as ons nie die ware Koning erken nie, raak ons beheer verlore in illusie en selfbedrog. Hierdie preek is nie net ’n verhaal van Saul nie—dit is ’n spieël vir elkeen van ons. Dit gaan oor die dinge wat jy vermy om te konfronteer—en hoe dit jou lewe stil-stil begin oorheers. As jy eerlik is, weet jy: daar’s dalk ’n plek in jou lewe waar jy, soos Denethor, nog sit op ’n troon wat nie aan jou behoort nie, ’n besluit uitstel, ’n waarheid ignoreer. Hierdie boodskap is ’n oproep tot wakkerword, tot dapper waarheid, tot bevryding. Want as jy nie die sonde doodmaak nie, sal dit jou een of ander tyd vernietig.
Dis soos daardie kinderboek van Jack Kent: There’s No Such Thing as a Dragon. ’n Klein draak verskyn in ’n seuntjie se huis, maar sy ma sê: “Daar is nie so iets soos ’n draak nie.” Elke keer wat sy dit ignoreer, word die draak groter—totdat hy die hele huis vat. Eers toe hulle bereid is om te sê: “Ja, daar is ’n draak,” begin die draak krimp. Die storie is eenvoudig, maar die waarheid is diep: wat jy weier om te raak te sien, sal jou uiteindelik oorheers.
Wat jy vermy om te erken, word later te groot om te beheer. So is dit met sonde, wrokke, kompromieë en verwaarloosde verantwoordelikhede—hulle groei in die donker stiltes van ontkenning.
Klein Krake in Karakter
Koning Saul se storie begin met groot belofte. Hy is nederig—so nederig dat hy by sy eie inhuldiging tussen die pakgoed weggekruip (1 Sam. 10:22)—klaarblyklik onwillig om in die kollig te tree. Maar gou begin klein krake in sy karakter verskyn. Hierdie foute word geduld, verskoon en ongemerk—maar hulle sou uiteindelik sy ondergang beteken.
In 1 Samuel 13 bring Saul ’n onwettige offer. Dit lyk op die oog af na ’n klein oortreding, ’n praktiese oplossing vir ’n leier onder druk. Maar Samuel spreek hom ernstig aan:
“Jy het dwaas gehandel. Jy het nie die gebod van die Here jou God onderhou nie” (1 Sam. 13:13).
Hierdie daad was nie net impulsief nie; dit was ongehoorsaamheid wat ’n patroon begin het.
Maar Saul se foute was nie net groot openlike sondes nie—dikwels was dit die onwyse, oor-geestelike besluite wat sy leierskap ondermyn het. In 1 Samuel 14 lees ons van ’n dag toe Israel in die stryd was, en Saul ’n onbesonne eed aflê:
“Vervloek is die man wat voedsel eet tot vanaand, totdat ek my vyande gewreek het” (1 Sam. 14:24).
Hy dink hy doen dit vir God, maar dit was ’n wettiese, onpraktiese opdrag wat sy manskappe verswak het.
Ironies genoeg was dit sy seun, Jonatan, wat sonder om van die eed te weet, van die veld se natuurlike hulpbronne gebruik maak en heuning eet. En kyk wat gebeur: “… sy oë het verhelder” (1 Sam. 14:27). Waar Saul die oorlog bemoeilik het deur sy mense te verarm met ’n vrome maar dom besluit, bring Jonatan die oorwinning met insig, krag en vryheid van gees. En toe Saul dit ontdek, wil hy selfs sy eie seun doodmaak vir die oortreding van ’n eed wat die Here nooit geëis het nie!
Leierskap Sonder Eie Belang
Hier sien ons weer dieselfde patroon: Saul se geestelike blindheid. Sy oordrewe vroomheid verdoesel sy ongehoorsaamheid. Hy plaas godsdiens bo gesonde oordeel. Sy leierskap was nie geanker in wysheid of onderskeiding nie, maar in trots, selfsug en impulsiewe beloftes. Jonatan, aan die ander kant, staan as voorbeeld van ’n leier wat weet wanneer om te veg, wanneer om te eet, en wanneer om stil te bly—’n man wat nie sy eie belang soek nie, maar die volk se oorwinning.
Saul se onkunde het amper daardie dag die ware held laat sterf. En dit alles omdat hy weer die “draak” van selfverheffing en impulsiewe mag nie wou konfronteer nie.
In 1 Samuel 15 faal Saul weer. Hy voer nie die opdrag van die Here uit om die Amalekiete heeltemal te vernietig nie. Hy spaar koning Agag en hou die beste van die buit vir homself, en verskoon dit met ’n godsdienstige voorwendsel:
“Ek het die beste gespaar om aan die Here te offer!” (1 Sam. 15:15).
Maar Samuel antwoord:
Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. (1 Sam. 15:22).
Hier sien ons ’n patroon van vermyding, versagting, rasionalisering. Saul weier om sy sonde te benoem. Hy herformuleer dit, skuif verantwoordelikheid, en weier om volle aanspreeklikheid te neem. Hierdie ongehoorsaamheid word die begin van die einde. Van daardie oomblik af begin die salwing van God hom verlaat.
Saul sien vir 'n oomblik die waarheid van sy eie blindheid:
Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister. (1 Sam 15:24)
Sonde Sonder Ware Berou
Teen 1 Samuel 16 het die Here reeds ’n ander gekies—Dawid. Maar Saul kies nie berou nie. In plaas daarvan word hy toenemend paranoïes, onseker en gewelddadig. Die draak van onsekerheid en ongehoorsaamheid wat hy nie wou konfronteer nie, het hom nou verswelg. Hy gooi spiese na Dawid (1 Sam. 18:11), beveel die moord op priesters (1 Sam. 22:18), en raadpleeg selfs ’n waarsêer (1 Sam. 28:7). Die sonde wat eers “aanvaarbaar” gelyk het, verslind nou sy hele huis.
In die laaste toneel van sy lewe (1 Sam. 31) sterf Saul tragies—deur sy eie swaard. Die man wat geweier het om die sonde te konfronteer toe dit nog klein was, is uiteindelik daardeur verorber.
Die les is diep en sielkundig waar: Sonde begin selde groot. Dit begin as ’n kompromie, as ’n verskoning, as ’n rasionalisering. Maar wat ons vermy om aan te spreek, groei. Wat ons verdoesel, word later ons meester.
Dit is soos onvergewensgesindheid—’n grief wat stil gehou word, ’n wrok wat nie hanteer word nie, wat met tyd jou hele wese oorvat. Ek het dit gesien: mense wat nie vergewe nie, word ’n ander mens—hard, bitter, wraakgierig. Onvergewensgesindheid is ’n draak wat jy drup vir drup voer, totdat jy hom nie meer kan beheer nie.
Saul gefaal om sy “skadu” te integreer—die donker dele van sy innerlike lewe. In Bybelse terme het hy geweier om in die lig te wandel (1 Joh. 1:7), en die leuen geglo dat gedeeltelike gehoorsaamheid voldoende is. Soos Kain, is hy gewaarsku (Gen. 4:7), maar het tog nie die sonde bemeester wat by sy deur gelê het nie.
Hoe Gesinne, Huwelike en die Kerk Hieronder Lei
In gesinne sien ek dit ook. Mense wat voorgee alles is reg. Die kind wat deur vloermoere manipuleer en onbeskof is met sy ma, die pa wat stil raak, die ma wat moeg en emosioneel afwesig is. Niemand noem dit nie. Niemand konfronteer nie. En dan, een dag, bars alles.
Emosionele en gedragsprobleme groei en word persoonlikheidversteurings, as dit nie vroeg genoem en hanteer word nie.
Ek sien dit in huwelike—’n klein leuentjie, ’n bietjie bedrog, ’n skaduwee van geheime. En as dit nie bely en in die lig gebring word nie, word dit later ’n skeuring. Wat eers ’n foutjie was, word egskeiding. Ek sien dit in die politiek—’n sogenaamde “klein” kontrakkie wat nie reg verkry is nie, ’n politieke aanstelling om iemand te “help.” En nou het ons ’n stelsel waar dit makliker is om ryk te word deur jou politieke bande as deur eerlike werk.
Elkeen wat iets wil bou, moet baklei teen ’n stelsel wat korrupsie beloon. Die klein kompromieë het ’n nasionale draak geword.
Selfs in die kerk sien ek dit. ’n Ongelese Bybel. ’n Gebedslewe wat vervaag. ’n Ommekeer van prioriteite. “Ek is net besig, dis net vir ’n seisoen,” sê mense. So 'n Seisoen kan 'n uitstel word, en dit word ’n lewenswyse, en dan word mense Lou. Die passie vir God is weg. Hulle geloof is leeg.
Jesus As Die Waarheid Verlos Ons
Vriende, ek wil julle aanspoor: maak vandag klaar met die sonde wat jy al lank ignoreer. Noem dit. Bely dit. Konfronteer dit. Want as jy dit nie doodmaak nie, sal dit jou doodmaak. En dis presies waar Jesus inkom.
Waar Saul gefaal het, het Christus geslaag. Jesus het nie die sonde ontken of omseil nie. In die woestyn het Hy versoeking weerstaan (Matt. 4). In Getsemane het Hy die beker van lyding aanvaar. Op die kruis het Hy die volle gewig van ons sonde gedra. En toe het Hy die slang se kop vermorsel (Gen. 3:15). Hy het die draak verslaan.
Ons word nou geroep om dieselfde te doen. Nie in ons eie krag nie, maar in Syne. Neem vandag die swaard van waarheid. Sny die sonde los. Moenie wag tot dit groter word nie. Doen dit terwyl jy nog kan.
Want net die waarheid, vroeg omhels en met moed aanvaar, maak ons vry (Joh. 8:32).