Die verlore kuns van ware vriendskap

Al hoe meer hoor ek mense sukkel en wroeg oor die verlies aan kwaliteit, getroue en betekenisvolle vriendskap.

Die verlore kuns van ware vriendskap
Die verlore kuns van ware vriendskap

’n Jesus definisie van Vriendskap

Al hoe meer hoor ek mense sukkel en wroeg oor die verlies aan kwaliteit, getroue en betekenisvolle vriendskap.

Ons besige, gefragmenteerde lewens isoleer ons al hoe meer in eensaam groepies en eggo-kamers. Ons sukkel om gemeenskaplike temas en belangstellings te vind. Daar is baie gesels, ’n enorme hoeveelheid Facebook-vriende… maar is dit werklik vriende? Sosialisering raak moeilik en duur, en ons raak al hoe meer onbeholpe — selfs skugter en bang vir mense.

Simon Sinek noem vriendskap ’n verlore kuns wat weer ontdek en bemeester moet word. As ons eerlik is, beleef ons toenemend ’n wêreld sonder ware vriende. ’n Ware vriendskap moet, soos alle goeie en waardevolle dinge in die lewe, eers deur die smeltkroes van getrouheid gaan: om saam deur verlies te stap, nie gou aanstoot te neem nie, deur verskille te werk, begrip en fyn aanvoeling vir mekaar te ontwikkel, en mekaar werklik goed te leer ken.

“Hoe het Jesus vriendskap verstaan?”

24 Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het. 25 en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is. Johannes 2:24-25

1. Jesus het nie Homself aan skares toevertrou nie

Johannes skryf iets skokkend eerlik:

24 Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het. 25 en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is. Johannes 2:24-25

Jesus was lief vir mense — maar Hy was nie naïef oor mense nie. Hy het die verskil geken tussen:

  • aanhangers wat wonderwerke soek
  • en vriende wat waarheid soek.

Ons verwar soms dié twee.  Ons tel likes as liefde en omgee. Ons tel volgelinge as vriende. Maar Jesus bou nie Sy hart op applous nie.  

Ware vriendskap begin by onderskeiding.

2. Jesus kies dissipels — nie nostalgiese kindermaats nie

Die Evangelies vertel niks van kinderjare-vriende wat deel van Jesus se kernspan word nie.

Nie omdat Hy geen vriende gehad het nie — maar omdat Sy roeping nie op gemene delers, gerief of nostalgie gebou is nie.  Jesus kies dus nie mense almal van sy eie afkoms, klas, of groepering nie. 

Hy kies:

  • ’n visserman
  • ’n tollenaar
  • ’n radikale aktivis
  • gewone, gebroke mense

Deur die hele Skrif sien ons ’n merkwaardige patroon: God kies dikwels nie dié wat volgens die vlees die naaste is nie, maar dié wat volgens die Gees sien en reageer. Jesus self versamel nie dissipels uit bekende kinderjare-verhoudings nie, maar roep mense volgens die Vader se wil en sê:

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Joh. 15:16).

Net so word Dawid deur sy eie broers misgekyk totdat die Here herinner:

“’n Mens sien wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Sam. 16:7)

terwyl Josef deur sy broers verwerp en verkoop word omdat hulle nie sy Godgegewe droom kan raaksien nie (Gen. 37). Gideon beskou homself as die geringste in sy familie, tog sien God ’n held (Rig. 6:15), en Jeremia word selfs deur sy eie familie teengestaan (Jer. 12:6). Uiteindelik vervul hierdie patroon in Jesus self: sy broers glo nie in Hom nie (Joh. 7:5) en sy eie dorp verwerp Hom, want “’n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy vaderstad” (Mark. 6:4). Daarom herdefinieer Jesus ware familie en vriendskap wanneer Hy verklaar:

“Wie die wil van God doen, hy is my broer en suster en moeder” (Mark. 3:35)

— ’n diep waarheid wat wys dat God se koninkryk nie op biologiese nabyheid gebou word nie, maar op gehoorsame harte wat saam in Sy wil wandel.

3. Hy noem hulle eers later “vriende”

Eers in Johannes 15, naby die kruis, sê Jesus:

14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. 15 Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. (Joh. 15:15)

Let op die tydsberekening:

  • Ná jare se saamstap
  • Ná gehoorsaamheid
  • Ná vorming
  • Ná waarheid en toetsing

Ons kultuur wil instant intimacy hê. Jesus bou verbondsvriendskap

Die Skrif wys dat ware vriendskap nie vinnig of oppervlakkig gevorm word nie, maar stadig oor tyd, deur gedeelde lewe, getrouheid en beproewing. Jesus noem sy dissipels eers laat in Sy bediening “vriende”, nadat hulle lank saam met Hom gewandel, geluister en gehoorsaam geleef het: “Ek het julle vriende genoem… omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Joh. 15:15), en Hy verbind hierdie vriendskap aan blywende gehoorsaamheid en selfopofferende liefde: “Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel… Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:14,13). 

Net so beskryf Spreuke ’n vriend as iemand wat deur alle seisoene getrou bly:

“’n Vriend het te alle tye lief, en ’n broer word gebore vir die tyd van benoudheid” (Spr. 17:17),

terwyl ware nabyheid deur eerlike vorming groei:

“Yster slyp yster, so slyp die een mens die aangesig van die ander” (Spr. 27:17).

Daarom vind diep vriendskap in die Bybel nie vinnig plaas nie, maar word gevorm deur volharding, waarheid en gedeelde lyding — ’n band wat oor jare gevorm word totdat harte saam leer bly in God se liefde.

4. Jesus definieer vriendskap deur opoffering

“Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.” (Joh. 15:13)

Vir Jesus is vriendskap nie:

  • pret
  • gemeenskaplike belangstellings
  • emosionele gemak nie.

Aristoteles praat van drie soorte vriendskap:

  1. Nut – jy help my
  2. Plesier – jy laat my goed voel
  3. Deug – ons soek saam die goed 

Die Nuwe Testament beskryf ware verbondenheid as ’n geestelike band wat gebou word op selfopofferende liefde, broederlike trou en ’n gedeelde lewe in Christus. Gelowiges word geroep tot broederliefde wat opreg en volhardend is: 

“Laat die broederliefde bly” (Heb. 13:1),
“wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbewys” (Rom. 12:10).

Hierdie verbondenheid vloei uit die liefde van Christus self, want 

“hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê”(1 Joh. 3:16).

Daarom word die gemeente beskryf as een liggaam waarin lede mekaar dra en saam ly: 

“as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly” (1 Kor. 12:26),

gebind deur die “band van die vrede” in die eenheid van die Gees (Ef. 4:3). Só openbaar die Nuwe Testament verbondenheid nie as blote emosionele nabyheid nie, maar as ’n verbondsband van opofferende liefde, gedeelde lyding en volgehoue trou wat sy oorsprong en krag vind in Christus self.

Hoe sien Gen Z en Gen Alpha vriendskap?

Hulle het meer sosiale verbindings…

  • groepchats
  • aanlyn speletjies
  • sosiale platforms

…maar minder diepte

  • hoë eensaamheid
  • bang vir verwerping
  • min langdurige lojaliteit

Baie kontakte - Min verbondenheid. 

Hulle dors nie na nóg skerms nie —

Hoe definieer besigheids Leiers vriendskap?

In die werkplek beteken vriendskap dikwels:

  • vertroue in mekaar se vermoëns en woord.
  • wederkerige samewerking 
  • sielkundige veiligheid vry van skinder en kwaadpraat, en agterdog. 

Maar daar is ook gevare:

  • partydigheid
  • grense wat vervaag
  • konflik van belange

5. Vriendskap in die Nou-Oomblik

Jesus openbaar vriendskap nie net as ’n langtermynband nie, maar ook as ’n heilige ontmoeting in die werklike, huidige oomblik, waar liefde prakties sigbaar word. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan herskryf Hy die hele vriendskapskode: die naaste is nie noodwendig die bekende of verwagte persoon nie, maar die een wat jou nood raaksien en dadelik hulle oor jou ontferm (Luk. 10:33–37). Só wys Jesus dat ware vriendskap dikwels juis in die vreemdeling verskyn wanneer bekende vriende nie kan daar wees nie—soos wanneer Hy self water vra by ’n Samaritaanse vrou en ’n nuwe verhouding van genade skep oor kulturele grense heen (Joh. 4:7–10), of wanneer Hy die sondaarvrou se liefde ontvang terwyl ander haar verwerp (Luk. 7:36–50). Selfs aan die kruis skep Hy ’n nuwe band van sorg tussen Johannes en Maria (Joh. 19:26–27), wat wys dat Goddelike verbondenheid soms juis in oomblikke van lyding en alleenheid gevorm word. Daarom leer die Evangelie ons dat vriendskap nie slegs bestaan uit dié wat lank langs ons stap nie, maar ook uit dié wat God op die regte oomblik stuur—want in elke daad van barmhartigheid word die liefde van Christus self teenwoordig gemaak (Matt. 25:40).

Die uitnodiging van Jesus vandag

Jesus soek nie aanhangers nie. Hy soek vriende.

Hy soek nie toeskouers nie, Hy soek VOLGELINGE! 

Nie skare-entoesiasme nie — maar blywende gehoorsaamheid.

Nie oppervlakkige gesels nie — maar gedeelde lewe.

“Bly in My… en Ek in julle.” (Joh. 15)

Want uiteindelik is die grootste waarheid:

Die Seun van God het nie net vriende gesoek nie —

Hy het Sy lewe gegee sodat ons Sy vriende kan word.