Droom die Here se Droom deur Profetiese Input
Moenie net jou drome droom nie—droom God se droom, en leef dit met geloof, gehoorsaamheid en heilige oorgawe.
Kyk die Sondagdiens op Youtube
Ons almal droom—van ’n beter lewe, meer sukses, groter invloed en erkenning—maar die meeste drome bly net drome, as jy nie die werk insit om 'n droom te verwesenlik nie.
Baie drome is egter net selfsugtige ambisie en nie roeping nie. Daar is ’n wêreld se verskil tussen om jou eie droom na te jaag en om God se droom te leef: ambisie bou ’n naam, roeping bou ’n nalatenskap. Ambisie vra wat ek kan kry; roeping vra wat ek kan gee.
Josef se verhaal wys dit helder—hy droom God se droom, deel dit met sy broers (Gen. 37:5–11), en juis die droom bring hom in die moeilikheid. Jaloesie lei tot verraad; hy word verkoop aan Egiptiese slawehandelaars (Gen. 37:28). Van droom na put, van put na kettings—en tog sê Psalm 105:17–19 dat God selfs die kettings gebruik het om die droom te beproef en te vorm.
Josef word uiteindelik tweede in bevel in Egipte, en sy lyding word die redding van Israel in hongersnood—’n voorafskaduwing van Christus self: verwerp deur sy eie, verneder, maar verhoog sodat ander kan leef.
17Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. 18Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ’n ysterhalsband gesit 19tot sy woorde waar geword het, en die Here se woorde bevestig is. Psalm 105:17–19
Jesus het nie sy eie loopbaan gebou nie; Hy het God se droom volmaak geleef. Eeue lank is oor Hom geprofeteer—en toe Hy kom, leef Hy in volmaakte harmonie met die Vader se wil:
“My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het” (Joh. 4:34).
Romeine 8:29 sê dat God se droom vir ons is om gelykvormig te word aan die beeld van sy Seun—met ander woorde, Jesus is nie net ons Verlosser nie, maar ons Model.
God se droom begin nie by wat jy doen nie, maar by wie jy word.
Amos 3:7 herinner ons dat die Here sy planne altyd aan die Profete openbaar.
Bou Jou Drome
Rondom God se Droom vir Jou
Timoteus:
18Timoteus, my kind, hiermee gee ek my opdragte aan jou, gegrond op die profetiese woorde wat voorheen oor jou uitgespreek is. Mag hulle jou die selfvertroue gee om goed te veg in die Here se veldslae. 19Hou styf vas aan jou geloof in Christus, en hou altyd jou gewete skoon. 1 Timothy 1:18–19
Jeremia:
“Nog voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou geheilig. Ek het jou aangestel as ’n profeet vir die nasies.” Jeremia 1:5
Johannes die Doper:
“Hy sal groot wees in die oë van die Here… hy sal met die Heilige Gees vervul wees nog voor sy geboorte… om die volk gereed te maak vir die Here.” Lukas 1:13–17
Simson:
“Jy sal swanger word… die kind sal ’n Nasireër vir God wees… en hy sal begin om Israel te red.” Rigters 13:3–5
Josia - by naam geprofeteer 300 jaar voor sy geboorte
“’n Seun sal gebore word… Josia… hy sal die altaar vernietig…”1 Konings 13:2
Paulus:
“Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van my moeder se skoot af, om sy Seun in my te openbaar…” Galasiërs 1:15–16
Profesie is vir...
Opbouing en Stigting
In die Nuwe Testament word die gemeente aangemoedig om mekaar te stig, te bemoedig en te vertroos deur profetiese woorde (1 Kor. 14:3). Profetiese insig is nie om ego’s te voed nie, maar om roeping wakker te maak.
“Streef na liefde, en begeer die gawes van die Gees, maar veral om te profeteer.” 1 Korintiërs 14:1
“Wie profeteer, bou mense op, moedig hulle aan en bemoedig hulle.” 1 Korintiërs 14:3
“Wie in tale praat, bou homself op, maar wie profeteer, bou die gemeente op. Ek wens dat julle almal in tale kan praat, maar nog liewer dat julle profeteer… sodat die gemeente opgebou kan word.” 1 Korintiërs 14:4–5
“Aangesien julle so gretig is vir die gawes van die Gees, strewe daarna om daarin uit te blink om die gemeente op te bou.” 1 Korintiërs 14:12
“Maar as almal profeteer en ’n ongelowige of iemand wat nie verstaan nie kom in, word hy deur almal oortuig en geoordeel. Die geheime van sy hart word bekend, en so sal hy op sy knieë val en God aanbid, en erken: ‘God is werklik onder julle.’” 1 Korintiërs 14:24–25
“Laat twee of drie profete praat, en laat die ander beoordeel. Maar as iets aan ’n ander geopenbaar word wat daar sit, moet die eerste swyg. Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig kan word. Die geeste van die profete is onderworpe aan die profete, want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede.” 1 Korintiërs 14:29–33
“Moenie die werking van die Gees demp nie. Moenie profesie gering ag nie. Toets alles, en behou wat goed is.” 1 Tessalonisense 5:19–
Woeker Met Dit..
Wat Jy Alreeds Ontvang Het
Elke mens het iets ontvang—’n mate van geloof (Rom. 12:3), talente volgens vermoë (Matt. 25:15), en guns en genade (1 Kor. 15:10). Niemand staan met leë hande voor God nie; ons staan net met "verskillende pakkies".
God vra nie vergelyking nie, maar vermenigvuldiging.
Die ontroue slaaf het nie sy talent verloor omdat hy min gehad het nie, maar omdat hy niks daarmee gedoen het nie; en die talent word gegee aan die een wat reeds vermeerder het. Dit is ’n harde maar regverdige waarheid: God vertrou meer toe aan dié wat getrou is met wat hulle het. Wat behaag God? Nie slim planne of goeie bedoelings nie, maar lewende geloof—want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb. 11:6). Geloof wat waag, gehoorsaam, en opstaan wanneer omstandighede sê: Bly lê!
Selfsugtige ambisie sê: “Ek wil my droom laat waar word.” Roeping sê: “Here, laat U droom in my waar word—selfs al kos dit my iets.”
Ambisie soek die troon; roeping dra die kruis—en net die kruis lei na opstanding.
Miskien voel jy vandag soos Josef in die put, of in kettings, of soos Jesus in Nasaret—ongesien en onderskat. Maar hoor dit: God se droom vir jou lewe is groter as jou huidige seisoen; Sy woord oor jou is sterker as jou omstandighede; Sy roeping is dieper as jou eie ambisie. Moenie net jou drome droom nie—droom God se droom, en leef dit met geloof, gehoorsaamheid en heilige oorgawe.
Maak Oorlog Met Jou Profesieë
“Timoteus, my seun, ek vertrou hierdie opdrag aan jou toe, volgens die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is, sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry.” 1 Timoteus 1:18
Hou aan om in gehoorsaamheid jou gesindheid reg te hou voor die Here
- Josef beland in slawerny, daarna die Tronk. (Gen 37)
- Dawid word deur Goliat en sy broer gespot... selfs ook sy eie broers lag vir hom. (1 Samuel 17)
- Paulus het eers 14 jaar na die eerste ontmoeting met die apostels in Jerusalem weer met hulle vergader, waarna sy publieke bediening begin het. (Gal 2:1)
Lees die Woord en doen wat die Here sê deur Sy Gees
Nie almal ontvang miskien 'n direkte woord van die Here soos hierbo uiteengesit nie. Iemand het die skrif gelees: “Kyk, jou Koning kom na jou… nederig en ry op ’n donkie”(Sagaria 9:9); en die tekens van die tye reg gelees dat dit Jesus mag wees, en die jong vul gereed gekry vir hierdie doel. Sy eenvoudige gehoorsaamheid om te help om die skrif in vervulling te bring, was belangrik!! Anders, waar sou Jesus 'n vul kry wat nog nooit gery is nie.
“Toe hulle naby Jerusalem kom… het Jesus twee dissipels vooruit gestuur en vir hulle gesê: ‘Gaan na die dorp daar oorkant julle. Julle sal dadelik ’n donkie kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak hulle los en bring hulle vir My. As iemand vir julle iets sê, antwoord: Die Here het hulle nodig, en hy sal hulle dadelik laat gaan.’” Matteus 21:1–3 (NLV)
Toegewyde lewe met ontsag vir die Here
In Sesarea was daar ’n Romeinse weermagoffisier met die naam Kornelius, ’n kaptein van die Italiaanse Regiment.
2Hy het toegewy aan die God van Israel* geleef en het ontsag vir Hom gehad, hy en sy hele huishouding. Hy het baie bydraes vir die armes onder die Joodse volk* gegee en hy het deurentyd tot God gebid. 3Een middag teen drie-uur het hy in ’n gesig duidelik ’n engel van God na hom toe sien kom wat vir hom sê: “Kornelius!” Acts 10:1–3