Heilig Anders Teenwoordig

Die mees opvallende kenmerk van ware geestelike mense, is nie dat hulle altyd vreugdevol of voorspoedig is nie, maar dat hulle kan sien. Hulle sien God—selfs in die donker.

Heilig Anders Teenwoordig
Heilig Anders Teenwoordig

(Die ontmaskering van ’n oppervlakkige spiritualiteit) 

Kyk hierdie Livestream Diens op Youtube

JESUS IS ’n WERKLIKHEID!

“Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en wie regverdig is, laat hom nog meer regverdig word; en wie heilig is, laat hom nog heiliger word.” (Openbaring 22:11, Ou Vertaling)

In ’n wêreld wat sogenaamd meer tegnologies verbind is as ooit, is mense ironies meer verwyderd—van mekaar, van hulleself, en van God. Volgens die World Health Organization het wêreldwye angsversteurings met meer as 25% toegeneem sedert 2020, veral onder jong volwassenes. ‘n Pew Research Center-studie toon dat meer as 60% van jongmense in die Westerse wêreld voel hulle het niemand met wie hulle regtig kan praat nie. Sielkundiges merk op dat daar ‘n merkwaardige styging is in sosiale terugtrekking, wantroue teenoor instellings, en ’n gevoel van eksistensiële onsekerheid.

In hierdie spanning soek baie na ‘n vorm van spiritualiteit—‘n rustigheid, betekenis, ‘n innerlike aanvaardig van God se teenwoordigheid. Maar hier is die skokkende vraag: 

Verbind mense egter werklik aan die ware, lewende God—of net aan ‘n gerieflike, subjektiewe gevoel van ‘iets daar bo’?

Soos Paulus waarsku in 2 Timoteus 3:5, 

“mense sal ‘n gedaante van godsaligheid hê, maar die krag daarvan verloën.” 

'n Soeke Na Die Ware God

Die krisis is nie net dat mense meer en meer goddeloos word nie, maar daar sommige wel God soek op die verkeerde plekke.  

Die mees opvallende kenmerk van ware geestelike mense, is nie dat hulle altyd vreugdevol of voorspoedig is nie, maar dat hulle kan sien. Hulle sien God—selfs in die donker. In tye van tragedie, verlies, verwarring en lyding, sien hulle met die oë van geloof dat God steeds teenwoordig is. Terwyl ander net chaos en pyn raaksien, weet die gelowige dat daar ‘n onsigbare teenwoordigheid is—die Here self, wat nooit afwesig is nie. Die wêreld vra: “Waar is God?” Maar die geloof antwoord: “Hier is Hy. Ek sien Hom, ek voel Hom, ek ken Hom.”

“Waarheen sal ek gaan van u Gees, en waarheen vlug ek van u aangesig? As ek opklim na die hemel—U is daar; en maak ek die doderyk my bed—kyk, U is daar!” (Psalm 139:7–8)
23Is Ek miskien ’n God wat net op een plek is?”vra die Here. “Dink hulle Ek sien nie wat hulle doen nie? 24Dink enigiemand hulle kan vir My wegkruip en Ek sal hulle nie sien nie?” vra die Here. (Jer 23:23) 
“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20)

Peter Kreef verduidelik in sy boek "The Three Philosophies Of Life" hoe Job nadat hy alles verloor het, nog steeds in God se heilige teenwoordigheid glo.  

“Job’s friends talk about God; Job talks to God. That is the essence of the difference. That is what makes Job a true religious man and them mere theologians.” (Kreeft, 2011, p. 64)
“Job complains, questions, protests, and sometimes accuses God, but he never leaves the conversation. He never leaves God out of it. That makes all the difference.” (Kreeft, 2011, p. 65)

Wanneer iemand God waarlik ontmoet het—nie net as idee, dogma of oorerflike tradisie nie, maar as lewendige werklikheid—verander alles. Dis nie net ’n verandering van opinie nie; dis ’n ontploffing van 'n gans anderse nuwe perspektief, ’n herskepping van die innerlike wêreld. Soos vuur verteer wat doodgewoon is, verteer die teenwoordigheid van die Heilige alles wat oppervlakkig, selfgesentreerd en oneg is. 

'n Ware ontmoeting met God is nie net ’n warm gevoel of ’n toevallige religieuse ervaring nie, dit is lewensveranderend.

Die persoon wat só deur God aangeraak is, begin alles HEILIG sien: Iemand wat só ’n ontmoeting gehad het, kan nie meer op dieselfde manier dink, praat of leef nie. Hulle begin hulle spraak versigtig kies, hulle tyd heilig ag, hulle huise en ruimtes toewy aan die Here.

Soos Jesaja uitroep: “Wee my, ek is verlore, want ek is ’n man onrein van lippe …” (Jes. 6:5).

Die Verskil:

  •  Plekke wat voorheen bloot fisies was, word heilig—‘n stil kamer, ‘n huis, ‘n berg word ‘n heiligdom.
  • Tyd word nie meer as net skedules of geleenthede beskou nie, maar as kairos—God se tyd, vol potensiaal vir openbaring.
  • Mense word nie meer as irritasies of net name op ‘n skerm gesien nie, maar as draers van God se beeld.
  • Gedagtes word omvorm, nie net tot positiewe denke nie, maar tot heilige denke—waar geloof en waarheid oorheers.
  • Taal verander: nie meer leeg, sinies of klaend nie, maar houers van waarheid, genade en eerbetoon.

Gevolglik, ‘n mens leef nie meer van "Sondag na Sondag nie", maar van "glorie tot glorie". Selfs in pyn en verlies word oomblikke met God 'n dieper betekenis. So iemand begin vra: “Wat is God hier besig om te doen?” in plaas van: “Hoekom gebeur dit met my?” Dis hoe ’n lewe lyk wat getransformeer is deur die aanraking van die Heilige. Dit is wat gebeur wanneer God nie net ‘n idee in ons kop bly nie, maar ’n persoonlike teenwoordigheid wat ons hele lewe herskep.

Rudolf Otto: Die “Mysterium Tremendum et Fascinans”

Rudolf Otto beskryf die ontmoeting met God numinous—’n gevoel van die “heilige andersheid”, ’n ervaring wat vrees en verwondering bring: mysterium tremendum et fascinans. Dis die gevoel wat Moses gekry het toe God by die brandende bos verskyn: “‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is heilige grond’” (Ex. 3:5).

“In die heilige is iets wat ons aan die een kant vrees—die tremendum—maar wat ons terselfdertyd aantrek, wat ons wil aanraak—die fascinans.” (Otto, 1923, p. 31) 
“The feeling of it may at times come sweeping like a gentle tide, pervading the mind with a tranquil mood of deepest worship… It may burst in sudden eruption up from the depths of the soul with spasms and convulsions… It has its crude, barbaric antecedents and early manifestations… It may become the hushed, trembling and speechless humility of the creature in the presence of—whom or what? In the presence of that which is a mystery inexpressible and above all creatures.” (Otto, 1923, pp. 12–13)
“The feeling of the "numinous"… may come in the gentle tide of serenity, carrying a sense of peace… Yet it always remains something extraordinary, ineffable. It is at once alluring, fascinating—the mysterium fascinans.” (Otto, 1923, p. 31)

Mircea Eliade: Die skeiding tussen die Heilige en die Goddelose

Mircea Eliade sluit by Otto aan, maar brei dit verder uit: hy wys hoe die mens—veral die “archaïese mens”—alles probeer heilig maak: hulle dorpe, tempels, tyd, gereedskap en selfs seks en werk. Want...

...die heilige gee betekenis aan die wêreld. Sonder dit, word die wêreld chaoties.

Seks is intimiteit en heilig binne die mure van die huweliksverbond. Ons eet en drink ook nie enigeiets nie, sekere kosse word vermy omdat dit sleg is vir die mens, en tot wangedrag lei, soos om te veel alkohol te gebruik.

“Religieuse mens wil altyd leef binne die heilige ruimte … want dis die enigste plek waar die lewe werklik, ordelik en betekenisvol is” (Eliade, 1959, p. 21)

Dink aan Jakob se droom: toe hy wakker word sê hy, “Die Here is waarlik op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie … Hier is niks anders as die huis van God nie, en dit is die poort van die hemel” (Gen. 28:16-17).

Hierdie is die patroon:

Waar God verskyn, verander ruimte. Wat gewoon was, word heilig. En daarom bou Jakob ‘n altaar.

Eliade noem dit ‘n hierophany—’n verskyning van die heilige wat gewone dinge herskep.

Bybelse Heiligmaking: Van Moses tot Paulus

Die Bybel bevestig hierdie dinamika van heiligmaking:

  • Plekke: Sinai word heilig (Ex. 19:12), die Tabernakel en Tempel word afgesonder vir aanbidding.
  • Tyd: Sabbat word geheilig (Gen. 2:3; Eks. 20:8).
  • Mense: Israel word geroep om ‘n “heilige nasie” te wees (Lev. 11:44–45).
  • Spraak en denke: “Laat julle woorde altyd wees met genade …” (Kol. 4:6).
  • Jou liggaam: “Julle liggame is tempels van die Heilige Gees” (1 Kor. 6:19). 

Wat beteken dit?

Heiligmaking is nie net ‘n geestelike realiteit nie, maar dat selfs jou liggaam, jou werk, jou taal, jou huis, jou rus en jou liefdesverhoudings deur God se heiligheid gevorm word.

Die Duiwelse Alternatief:

‘n Goddelose Lewe Waarvan Alles Kom Tot Niks 

As jy nie strewe na die heilige nie, gly jy terug in ‘n wêreld van oppervlakkigheid, banaliteit, en geestelike doofheid.

Dis waar Eliade so raak sê:

“Die profane mens se wêreld is sonder sin; dit is fragmente van ’n gebroke kosmos.” (Eliade, 1959, p. 13)

Die goddelose leefwêreld is:

  • Plat, homogeen en neutraal. Alles daarin is dieselfde—daar is geen spesiale plekke, tye of handelinge wat betekenisvol of heilig is nie.
  • Sonder ‘n sentrum; daar is geen plek wat as die middelpunt van die wêreld ervaar word nie, geen tyd wat as heilig beskou word nie.
  • Elke dag voel soos die volgende, elke ruimte is bloot funksioneel. Die lewe word gereduseer tot skedules, pligte en prestasies—sonder verwysing na iets wat groter, verhewe of ewig is.

In so ’n wêreld word God:

  • Nie net ontken nie, maar eenvoudig irrelevant gemaak. Die mens leef asof God nie bestaan nie. Die heilige is nie net afwesig nie—dis ondenkbaar.
  • Belaster en ontheilig.  Tyd word nie as ’n ritme van God se werke beskou nie, maar as ‘n meedoënlose lyn wat vooruitstroom, sonder betekenis.

Die liggaam is net blote biologie, werk net oorlewing, liefde net emosie, en dood net die einde. Handelinge soos eet, werk, rus en seks het geen hoër betekenis nie—hulle is losgemaak van die Heilige en word net behoeftes of kultuurprodukte.

Hierdie leefruimte voel op die oppervlak veilig en vry, maar onder die oppervlak groei daar angs, vervreemding en ‘n diepe onsekerheid. Sonder toegang tot die Heilige is die wêreld koud, eensaam en eindeloos verwarrend. Vir die ongelowige leef die mens in ‘n geslote wêreld—sonder vensters hemel toe.

Die eindresultaat van 'n bestaan sonder God is ‘n lewe sonder oriëntasie, sonder rigting, sonder dieper sin en betekenis—‘n bestaan sonder aanbidding, sonder eerbied, sonder verwondering.

Dis hoekom ons vandag soveel depressie, sinloosheid, en identiteitskrisisse sien. Wanneer mense geen kontak met die heilige het nie, verloor hulle rigting, morele ankers en lewensdoel.

Toepassing:

Hoe heilig ons, ons wêreld?

  1. Heilig jou Woning – Doen wat Jakob gedoen het. Sit ’n hoek in jou huis opsy vir gebed, vir die Woord, vir stilte.
  2. Heilig jou tyd – Sondae is nie net rusdag nie; dit is heilige tyd. Skep ‘n ritme van Sabbatsrus en stiltetyd.
  3. Heilig jou spraak – Laat jou woorde genade bring. Spreek lewe.
  4. Heilig jou werk – Werk as diens en 'n roeping van God, tot Sy eer. (Kol. 3:23).
  5. Heilig jou gedagtes – “Dink aan dit wat waar, eerbaar, regverdig is …” (Fil. 4:8)

Slotgedagte:

Die Heilige Aanraking

Die mens wat werklik God ontmoet het, kan nie anders as om te begeer dat alles rondom hom weer aan God behoort nie. Hierdie heiligmaking is nie ’n wettiese taak nie, maar ‘n vurige reaksie op die heiligheid van God.

Die vraag is: Het jy Hom ontmoet?

“Sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie.” (Heb. 12:14)

Mag jy so leef dat alles in jou lewe—selfs die gewone dinge—deur die aanraking van God geheilig word.

 

📘 Rudolf Otto (1923) – The Idea of the Holy

Published by Oxford University Press

A theological classic exploring the mystery and awe of encountering the divine (mysterium tremendum et fascinans). Great for readers wanting to understand the non-rational, experiential side of religion.

Search on Amazon | Google Books

 

📘 Mircea Eliade (1959) – The Sacred and the Profane: The Nature of Religion

Published by Harcourt, Brace & Co.

A profound analysis of how ancient and modern people experience sacred space, time, and reality. Ideal for anyone exploring worldview shifts and religious symbolism.

Search on Amazon | Google Books

 

📘 Peter Kreeft (2011) – Three Philosophies of Life: Ecclesiastes (Life as Vanity), Job (Life as Suffering), Song of Songs (Life as Love)

Published by Ignatius Press

A short, accessible spiritual-philosophical guide that dives into the meaning of life through three biblical books. Perfect for those navigating questions of suffering, meaning, and love.

Search on Amazon | Ignatius Press