Herlewing—’n Godgesentreerde Raamwerk vir Ware Menslike Welsyn

Herlewing is ’n goddelike heroriëntering van gemeenskaplike waardes, gewoontes en prioriteite terug na God toe.

Herlewing—’n Godgesentreerde Raamwerk vir Ware Menslike Welsyn

Kyk die YOUTUBE Livestream Diens op 28 September 2025

Luister SPOTIFY: die Livestream Diens op 28 September 2025

Staan by die paaie… vra na die ou paaie, waar die goeie weg is; en wandel daarin, en julle sal rus vind vir julle siele.” Jeremia 6:16 

Menslike samelewings beweeg deur die loop van die geskiedenis in sikliese ritmes van morele hernuwing en verval — soms nader aan God se teenwoordigheid en voorskrifte, en soms in argelose wegval of openlike rebellie teen die Here. Hierdie fluksiasie word oor en oor bevestig in die Bybelse geskiedenis van Israel, van Abraham tot Maleági, waar verbondstrou herhaaldelik plek gemaak het vir afvalligheid en afgodediens.

Nasies, soos individue, is onderhewig aan sosiale en godsdienstige, sentripetale en sentrifugale kragte—soms beweeg ons na God toe in eerbied en geregtigheid, en ander kere in weg van God af in hartelose outonomie en selfvernietiging. Mircea Eliade (1957) het dit beskryf as die heen en weer fluksiasie tussen die heilige en die goddelose ("Holy & Profane").

Wat is Herlewing?

Herlewing is ’n goddelike heroriëntering van gemeenskaplike waardes, gewoontes en prioriteite terug na God toe. Dit is God se ingryping van her-sentrering van die mensdom rondom Homself, dikwels deur uitverkose gestuurde individue wat deur die smeltkroes van selfverloëning en verlies moes gegaan het.

Dink aan Augustinus, die briljante filosoof en welsprekende retorikus, wat as jongman rondgeslinger was tussen plesier en soeke na waarheid. Op ’n dag sit hy in ’n tuin in Milaan, gebroke en moedeloos, toe hy ’n kinderstem hoor roep: “Tolle lege, tolle lege”—“Neem en lees.” Hy maak sy Bybel oop en lees Romeine 13: “...beklee julle met die Here Jesus Christus en sorg nie vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” Daardie oomblik was ’n keerpunt—’n openbaring van God se teenwoordigheid wat nie net sy lewe verander het nie, maar ook die koers van die Westerse kerk.

Of Martin Luther—’n monnik wat sy hele lewe lank geworstel het met die vraag: “Hoe kan ek reg wees voor God?” Hy het gebid, gevas, homself gekasty, maar steeds gevoel hy doen nie genoeg nie. In die toring van Wittenberg het hy Romeine 1:17 herontdek: “Die regverdige sal uit die geloof lewe.” Dit het sy wêreld op sy kop gekeer—die evangelie het nie langer ’n las van skuld en werke beteken nie, maar ’n vryspraak uit genade. Daardie oomblik het ’n hele Reformasie ontketen wat Europa én die wêreld hervorm het.

En dan John Wesley, wat sy hele lewe lank al as sendeling en priester gewerk het, maar steeds onseker was van sy redding. Op ’n aand in Aldersgate het hy die voorwoord van Luther se Romeine-kommentaar gehoor, en hy het getuig: “Ek het gevoel my hart vreemd warm geword.” In daardie oomblik het hy geweet Christus het vir hom gesterf—vir hom persoonlik. Hierdie “hart-ontwaking” het ’n Metodistebeweging voortgebring wat miljoene mense oor kontinente geraak het.

Selfs in die 20ste eeu, in ’n nederige woonbuurt in Los Angeles, het William Seymour, ’n arm, swart prediker met ’n eenvoudige geloof, in gebed gebly totdat God Sy Gees opnuut uitgestort het. Die Azusa Straat-herlewing was gebore, en deur sy leierskap het mense van elke ras, klas en nasie die krag van die Heilige Gees ervaar. Vandag kan ons die invloed van daardie herlewing in elke Pinksterkerk regoor die wêreld sien.

Wat het hierdie verhale in gemeen?

  • Hulle was almal persoonlike ontmoetings met die lewende God—openbarings wat mense onherroeplik verander het.
  • Maar dit het nie by individue gebly nie. Augustinus, Luther, Wesley en Seymour se ervarings het ’n vuurgolf van vernuwing gebring wat gemeenskappe, kerke en selfs hele nasies getransformeer het.
Herlewing is: nooit net ’n emosionele hoogtepunt of ’n kerkdiens wat langer aanhou nie. Dit is ’n kollektiewe openbaring—’n hele gemeenskap wat die erns van sonde erken, in berou terugkeer, en weer die ou paaie van toewyding aan God begin loop.
“Kom, laat ons teruggaan na die Here toe! Hy het ons verskeur; Hy sal ons weer genees. Hy het ons geslaan; Hy sal ons wonde weer verbind. 2Hy sal ons na twee dae laat aansterk en op die derde dag weer laat opstaan sodat ons in sy teenwoordigheid kan lewe. 3Kom laat ons die Here ken! Laat ons ons inspan om ons aan Hom toe te wy! Dan sal Hy ons antwoord. Dis so seker as die aanbreek van die nuwe dag of die koms van die reën, die lentereëns wat die grond deurweek." Hos 6:1-3
"Toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir mense egter op die toneel verskyn. 5Hy het ons verlos, nie op grond van wat ons gedoen het vir ons vryspraak nie, maar slegs op grond van sy eie liefdevolle goedheid. Dit het Hy vermag deur die reiniging van die weergeboorte en deur die Heilige Gees wat ons vernuwe. 6Hy het die Gees ryklik op ons uitgestort op grond van wat Jesus Christus ons Verlosser gedoen het. 7Die gevolg was dat ons vrygespreek is deur sy onverdiende goedheid en dat ons erfgename geword het van die ewige lewe waarop ons ons hoop gebou het.
8Al hierdie dinge wat ek jou vertel het, is betroubaar. Daarom wil ek hê jy moet met groot sekerheid van al hierdie dinge getuig sodat hulle wat op God vertrou, hulle op goeie werke kan toespits, werke wat goed en voordelig vir die mense is." Titus 3:4–8
"Kom tot inkeer en maak reg met God sodat julle sondes uitgevee kan word. 20Dan sal die teenwoordigheid van die Here tye van oplewing tot gevolg hê," (Handelinge 3:19)

Vooruitgangs-Paradoks

Volgens die volgende boeke het dit nog nooit so goed met die mensdom gegaan nie:

  • Do Humankind’s Best Days Lie Ahead? – Pinker, Ridley, de Botton & Gladwell’n Debat-boek waarin Pinker en Ridley optimisme oor vooruitgang (rede, wetenskap, handel) verdedig, terwyl de Botton en Gladwell meer genuanseerde vrae vra oor sin, etiek en onbedoelde gevolge; die boek bied ’n skerp botsing tussen data-gedrewe optimisme en kulturele/filosofiese voorbehoude.
  • Enlightenment Now: The Case for Reason, Science, Humanism, and Progress – Steven Pinker. Pinker voer aan dat menslike welvaart oor dekades beduidend verbeter het danksy Verligtings-waardes; hy gebruik langtermyn-data oor gesondheid, veiligheid, rykdom en regte om morele en empiriese optimisme te regverdig.
  • Factfulness: Ten Reasons We’re Wrong About the World – and Why Things Are Better Than You Think – Hans Rosling (met Ola & Anna Rosling) Rosling wys hoe kognitiewe vooroordeel en verouderde kennis ons wêreldbeeld vertroebel; met globale statistiek toon hy aan dat baie aanwysers (armoede, kindersterfte, geletterdheid) verbeter, mits ons “feite-geletterdheid” beoefen.
  • The Moral Arc: How Science and Reason Lead Humanity Toward Truth, Justice, and Freedom – Michael Shermer. Shermer argumenteer dat wetenskaplike denke en liberale norme die morele sirkel verbreed het (burgerregte, vroueregte, LGBTQ-regte), en dat rede/empirie morele vooruitgang dryf eerder as openbaring of tradisie alleen.
  • Superabundance: The Story of Population Growth, Innovation, and Human Flourishing – Marian Tupy & Gale Pooley. Deur “tydpryse” te gebruik, voer die outeurs aan dat hulpbronne relatief méér bekostigbaar raak soos bevolking en vindingrykheid toeneem; hul tesis: mense is die “uiteindelike hulpbron”.
  • The Rational Optimist: How Prosperity Evolves – Matt Ridley. Ridley stel dat ruil, spesialisasie en idees wat “paar” oor tyd, welvaart laat groei; pragmatiese markte en oop kennisnetwerke word as kernmeganismes van vooruitgang aangebied.
  • Abundance: The Future Is Better Than You Think – Peter H. Diamandis & Steven Kotler. ’n Tegno-optimistiese visie waarin eksponensiële tegnologieë (AI, robotika, bioteg, energie) globale skaarste kan verminder; die boek skets padkaarte en entrepreneurs-voorbeelde vir ’n oorvloedige toekoms.
  • The Progress Paradox: How Life Gets Better While People Feel Worse – Gregg Easterbrook. Easterbrook beskryf die teenstrydigheid dat objektiewe lewensomstandighede verbeter, maar subjektiewe welstand stagneer/daal; hy ondersoek oorsake soos verwagtingsinflasie, vergelyking en kulturele pessimisme.
  • Humankind: A Hopeful History – Rutger Bregman. Bregman herlees geskiedenis/sielkunde om te argumenteer dat mense oorwegend geneig is tot samewerking en goedhartigheid; hy bepleit instellings wat hierdie wellewendheid versterk.

Die ironie is dus dat juis die samelewings wat hulself op vooruitgang beroem, ook die hoogste vlakke van vervreemding, angs en broosheid ervaar. Dit is die sogenaamde “vooruitgangs-paradoks” (Easterbrook, 2003). Herlewing spreek hierdie paradoks direk aan deur oorvloed te heroriënteer na transendente betekenis, gebroke gemeenskappe weer saam te weef, en "shalom" deur Christus te herstel.

Ten spyte van al hierdie materiële welvaart, is daar egter TEKENS van totale geestelike, morele, en sosiale verval!:

  • Ongelykheid: Ten spyte van algehele verbeteringe, verbreed die welvaartsgaping steeds. In baie liberale ekonomieë het die Gini-koëffisiënte gestyg, wat tot diep sosiale stratifikasie lei (Piketty, 2014).
  • Geestesgesondheidskrisis: Haidt (2023) toon dat Millennials en Generasie Z die angstigste en mees depressiewe generasies in die moderne geskiedenis is, ten spyte van ongekende materiële sekerheid.
  • Kognitiewe agteruitgang: Navorsing dui op dalende IK-tellings in tegnologies gevorderde samelewings, gekoppel aan die afname in diepgaande lees, ’n oorafhanklikheid van digitale media, en die verlies aan volgehoue aandag (Dutton & Lynn, 2015).
  • Verhoudingsverbrokkeling: Sosiale vertroue en diep gemeenskapsbande neem af, selfs terwyl digitale konnektiwiteit toeneem (Putnam, 2000).

Siklusse Van Die Hart

Van die heilige na die profane, en terug

Israel se verhaal wys ’n ritme: getrouheid → afdwaling → bekeringsroep → herstel (van Abraham tot Maleági). Dieselfde gebeur met nasies en individue. Herlewing is God se genade-ingryping wanneer ons “by die paaie staan” en terugvra na die ou paaie (Jer. 6:16). Dis nie net vroom godsdienstige voorneme nie—dis ’n algehele nuwe koers: God bo alles, gehoorsaamheid bo gewoonte, deernis bo self.

Waar het jy die kompas verloor? In jou huis? In jou besigheid? In jou gedagtes? Herlewing begin waar jy weer vra na die goeie weg—en daarin wandel.

Bybelse perspektief: Die Saligsprekinge (Matt. 5:3–12) keer die wêreld se definisie van welsyn om: "geseënd is die armes van gees" - die wat treur, die sagmoediges, die vredemakers. Jesus maak dit duidelik: floreer beteken gelykvormig aan Christus—nie net gemakliker lewenstyle nie (Rom. 12:2).

Tegnologie en die Weg van Christus

Tegnologie beweer dat dit uitsluitlik bestaan om die mensdom te verbeter, deur te help met take en om werk doeltreffender te doen.

Tog bring die opkoms van kunsmatige intelligensie en ander digitale tegnologieë dringende teologiese vrae na vore:

  • Wat beteken dit werklik om mens te wees?
  • Hoe bly dissipelskap aan Christus uniek in ’n era van gesimuleerde konneksie en “moeiteloosheid”?

Soos Marshall McLuhan (1964) beklemtoon het, brei elke medium nie net menslike vermoëns uit nie, maar hervorm dit ook – en in sommige gevalle verswak dit ons selfs. Die evangelie roep die mens egter na ’n ander manier van bestaan, een wat weerstand bied teen reduksie tot blote nut, doeltreffendheid of simulasie.

Die lewe van Jesus openbaar ’n teenkulturele etiek wat radikaal kontrasteer met die beloftes van tegnologiese moderniteit.

(1) Beliggaamlikheid teenoor Ontliggaamlikheid

Die "vleeswording" is die duidelikste teken van hoe die evangelie afwyk van tegnologie se trajek:

“En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon (Joh. 1:14).

Jesus se bediening was gewortel in teenwoordigheidaanraking (Mark. 1:41), tafelgemeenskap (Luk. 19:5–7), en persoonlike gesprek (Joh. 3:1–10). Digitale tegnologieë bemiddel daarenteen verhoudings op ’n afstand, en reduseer teenwoordigheid tot blote inligting of kennis.

Selfs die apostel Johannes skryf:

“Ek het baie dinge om vir julle te skrywe, maar ek wil dit nie met papier en ink doen nie; ek hoop om na julle toe te kom en mondelings te spreek, sodat ons blydskap volkome kan wees (2 Joh. 12).

Die verskil tussen bemiddelde konneksie en beliggaamde teenwoordigheid bly dus deurslaggewend.

(2) Vorming deur Wrywing teenoor Moeiteloosheid

Jesus het dissipelskap konsekwent as ’n duur proses van vorming beskryf:

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg” (Mark. 8:34).

Christelike volwassenheid word gevorm deur lyding, volharding en opoffering (Rom. 5:3–5). Tegnologie bied egter wat Andy Crouch (2017) die “superkrag-sone” noem – ’n buitensporige effek met minimale inspanning. KI verlei veral met beloftes van byna magiese produktiwiteit, wat die ou versoeking van “goedkoop genade” weerspieël (Bonhoeffer, 1959). Die kruisvormige pad leer egter dat liefde, karakter en deug net deur dissipline, geduld en selfs lyding gevorm word (Fil. 2:5–11).

(3) Heilige Stilte teenoor Konstante Stimulering

Jesus het gereeld in stilte en eensaamheid teruggetrek (Mark. 1:35; Luk. 5:16). Hierdie praktyke vorm ’n kern van Christelike vorming, waar afhanklikheid van God buite geraas en onmiddellike terugvoer gekweek word.

Tegnologie daarenteen leef van konstante interaksie. KI kan nie stil wees nie – sy wese is voortdurende verbale reaksie en stimulasie.

Soos Moeder Teresa gesê het:

"Gebed is nie hoofsaaklik praat nie, maar luister, en selfs God se antwoord is dikwels stilte." (Chatterjee, 1997).
Die onmiddellikheid van KI se antwoorde kan gelowiges egter deformeer om altyd onmiddellike reaksie te verwag, en so afhanklikheid van God se verborgenheid en misterie kort te sluit.

(4) Onvoorspelbaarheid van God teenoor Waarskynlike Antwoorde van KI

Die evangelies getuig van die ontstellende onvoorspelbaarheid van Jesus se antwoorde. Wanneer Hy bevraagteken word, antwoord Hy dikwels met ’n teen-vraag (Luk. 10:29–37) of ’n onverwagte gelykenis (Joh. 8:1–11). Sy lering skok, ontwrig en bring ware verandering. Groot taalmodelle daarenteen voorspel bloot die mees waarskynlike volgende woorde uit hulle data (Bender en Friedman, 2018). Hulle produseer dit wat voorspelbaar is – nie dit wat radikaal nuut is nie.

Christus beliggaam daarenteen Goddelike kreatiwiteit en vryheid, en dwing mense om hul aannames te laat vaar en tot bekering te kom.

(5) Verhoudingsrisiko Teenoor Gesimuleerde Veiligheid

Ware gemeenskap vereis kwesbaarheid, konflik en vergifnis (Hand. 2:42–47; Rom. 12:9–13). Verhoudings bring teleurstelling en versoening.

KI-simulasies van verhoudings belowe egter voorspelbaarheid, veiligheid en bevestiging – presies dit wat ware liefde nie kan waarborg nie.

Versoening is net moontlik deur werklike ontmoeting met verskille en selfs vyandskap, nie deur selfrefleksie of simulasie nie. Die evangelie vorm dus gemeenskappe deur betekenisvolle verbondenheid eerder as verbruikersvriendelike geselskap.

(6) Waarheid as ’n Persoon teenoor Inligting as Data

“Ek is die weg, die waarheid en die lewe” - Jesus. (Joh. 14:6).

In Hom is waarheid nie ’n konsep nie maar ’n Persoon wat die werklikheid heroriënteer.

Tegnologie bied daarenteen blote inligting: nuttig, beskikbaar, dikwels akkuraat – maar sonder gesag of transformerende krag. KI kan kennis naboots, maar nie waarheid beliggaam nie.

Christelike onderskeiding leer dat inligting, hoe wyd ook al, nooit dieselfde as wysheid is nie (Spr. 9:10).

(7) Afhanklikheid van God teenoor Ontvlugting van Menslikheid

Die tegnologiese projek word dikwels gedryf deur die droom om menslike beperkings te oorkom – arbeid, swakheid, sterflikheid, selfs die dood self (Kurzweil, 2005). Christelike dissipelskap daarenteen omhels afhanklikheid:

“My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (2 Kor. 12:9).

Die pad van Jesus gee waardigheid aan arbeid, kwesbaarheid en sterflikheid as plekke waar God se krag sigbaar word – nie as hindernisse om te ontsnap nie.

(8) Liefde as Doel teenoor Nuttigheid as Doel

Jesus stel die doel van die lewe as opregte liefde:

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand en jou hele krag, en jou naaste soos jouself” (Mark. 12:30–31).

Tegnologie prioritiseer gemak, nuttigheid, produktiwiteit en optimalisering. Hoewel dit nie verkeerd is nie, is dit ontoereikend as uiteindelike doel.

Die Christus-gefundeerde horison raam alle menslike aktiwiteit – tegnologies of andersins – binne die diens van liefde, wat alleen ware menslike innerlike volwassenheid (flourishing) moontlik maak. Ware liefde vereis immers dat ons betrokke raak in interaksies wat ongemaklik, gebroke en tydrowend is – soos om stadig te luister na ’n bejaarde, geduldig te wees met ’n kind, of getrou te bly by ’n geliefde wat met demensie of gestremdheid worstel. Hierdie “on-doeltreffende” ontmoetings is juis die plekke waar Goddelike genade sigbaar word (Fil. 2:3–5; 2 Kor. 12:9–10).

Tegnologie is nie vanself vyandig teenoor die evangelie nie, maar sy beloftes kan mense maklik verlei in ’n verdraaide visie van mag, konneksie en voorspoed.

Die weg van Jesus is uniek in Sy klem op beliggaamlikheid, vorming deur lyding, stilte, onvoorspelbaarheid, kwesbaarheid, waarheid as Persoon, afhanklikheid, en liefde.

Die geskiedenis toon dat herlewings, ontwakings, vernuwing, en reformasie nie bloot as godsdienstige gebeurtenisse opduik nie, maar dikwels dien as katalisators vir maatskaplike herstel. Sulke bewegings herorden die prioriteite van gemeenskappe—weg van materialisme, politieke oorheersing of selfverheffing, en terug na toewyding aan God se transendente waardes en ewige doelwitte.

Soos John Piper (1986) dit stel:

“Die siel is die mees tevrede wanneer dit volkome vervulling in God vind.” (Desiring God).

Dit herinner ons daaraan dat die mens se rusteloosheid nooit deur materiële vooruitgang genees kan word nie, maar slegs deur gemeenskap met die Skepper.

Vanuit God se perspektief word armoede nie primêr gedefinieer as die afwesigheid van geld nie, maar as die afwesigheid van die kennis van die Here, die ware waardering van self, familie, gemeenskap en die rentmeesterskap van die skepping (Mangalwadi, 2011). In hierdie sin is daar baie mense wat finansieel ryk is, maar geestelik bankrot.

Herlewing is dus nie ’n verbygaande opgewondenheid of tydelike entoesiasme nie, maar ’n goddelike heroriëntasie—’n kollektiewe ontwaking wat die morele kompas van samelewings herstel en dit weer vasbind aan God se ewige orde van liefde, geregtigheid en vrede.

Gebed:

“Here, wys ons die ou paaie en leer ons daarin wandel. Heilige Gees, wek in ons ware berou, heilige begeerte, en ’n nuwe gehoorsaamheid. Jesus, sentreer ons lewens, ons huise en ons land rondom U. Laat U Koninkryk kom; laat U wil geskied. Amen.”

Seënwoord:

“Mag die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, julle harte en gedagtes bewaar in Christus Jesus” (Fil. 4:7).