Is jy ryk of arm?

Hoe jou antwoord jou toekoms kan bepaal.

Is jy ryk of arm?

Hoe jou antwoord jou toekoms kan bepaal

Skriflesing: Openbaring 3:14-22 · Lukas 18:35–19

In vandag se tye voel ons ALMAL dikwels arm as gevolg van finansiële tekorte. God se weegskaal oor wie arm en ryk is, word egter anders gemeet. Nie hoe vol jou beursie is nie, maar hoe vol is jou hart?

Leer vandag in hierdie boodskap, wat God as armoede beskou, en hoekom dit belangrik is om reg te dink oor jou eie innerlike rykdom, want hierdie denke bepaal jou lewe.

’n Stad wat nie hulp nodig gehad het nie

Wat sal jy sê as die regering jou bel ná ’n ramp en vra of jy hulp nodig het? Die meeste van ons sal “ja, asseblief” sê voordat hulle klaar gepraat het.

In die jaar 60 n.C. het ’n swaar aardbewing die stad Laodisea in Klein-Asië platgeslaan. Rome het hulp aangebied. Laodisea het nee dankie gesê. Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus skryf dat die stad homself herbou het uit eie middele, sonder ’n sent van die keiser.

Laodisea het drie redes gehad om trots te wees. Dit was ’n bankstad – so ryk dat hy die keiser se geld kon weier. Dit was ’n klerestad, bekend vir sy fyn, glansende swart wol. En dit het ’n mediese skool gehad wat ’n beroemde oogsalf gemaak het, die sogenaamde Frigiese poeier.

Toe skryf Johannes vir die gemeente in daardie stad ’n brief. Luister hoe Hy presies op elkeen van hul drie trotsplekke druk:

Omdat jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie, en jy weet nie dat jy ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie (Openbaring 3:17)

Die bankstad? Arm. Die klerestad? Naak. Die oogsalfstad? Blind.

En dan kom die geestelike raad, amper met ’n glimlag: koop by My goud, koop by My wit klere, koop by My salf vir jou oë (3:18). Die bankstad moet goud kom koop. Die klerestad moet klere kom koop. Die stad wat oë genees, moet vir sy eie oë kom salf koop.

Die gevaarlikste armoede is die een wat jy nie kan sien nie. Niemand gaan dokter toe vir ’n siekte wat hy nie dink hy het nie.

Twee mans in Jerigo

Lukas vertel twee stories, in een stad, net ’n paar verse uitmekaar. Ek dink nie dis toevallig nie.

Die eerste man sit langs die pad buite Jerigo. Hy is blind en hy bedel (Lukas 18:35). Markus noem sy naam – Bartimeus. Hy het niks. Geen geld, geen werk, geen status nie. Maar toe hy hoor Jesus kom verby, skree hy. Die mense sê hy moet stilbly. Hy skree net nog harder.

Jesus gaan staan en vra hom ’n vraag wat op die oog af onnodig klink:

Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? (Lukas 18:41)

Dis ’n blinde man. Wat dink Jesus gaan hy vra – ’n nuwe kombers? Maar Jesus vra, omdat die man self sy armoede moet op die naam noem. En hy doen dit sonder om te huiwer: “Here, dat ek kan sien.”

Die tweede man is binne-in die stad. Saggeus. Hoof van die tollenaars, en Lukas sê kort en kragtig: “hy was ryk” (19:2).  Saggeus het iets anders nodig gehad. Moontlik 'n nuwe skoon hart! 

Wat bedoel die Bybel met “arm”?

Die Hebreeuse Bybel het nie net een woord vir armoede nie. Dit het ’n hele palet:

•       Dal – dun, uitgeteer. Soos ’n emmer wat leeggetap is.

•       Ebjon – iemand wat kort. Iemand wat altyd begeer, altyd wag, altyd hoop.

•       Ani – iemand wat gebuig is. Onderdruk, platgedruk deur ander.

•       Anav – uit dieselfde wortel: die nederige. Iemand wat buig, maar voor God.

Die Grieks van die Nuwe Testament maak ’n fyn onderskeid. ’n Penēs is ’n werkende arm mens – iemand wat elke dag werk en net-net uitkom. Maar ’n ptōchos is iemand wat inmekaarkrimp. Die bedelaar met die oop hand. Iemand wat niks het om aan te bied nie.

En raai watter woord gebruik Jesus in die Bergpredikasie? Hoi ptōchoi tō pneumati – “salig is die wat arm van gees is” (Matteus 5:3). Nie die effens arm nie. Nie die wat dit 'n bietjie knap het nie. Die bedelaars van gees. Mense wat weet hulle het niks om na God toe te bring nie, behalwe ’n oop hand uitgestrek vir hulp.

Die Bybel praat dus oor armoede vanuit God se perspektief.  Wie is volgens God arm? 

1. Armoede van geloof: om God nie te ken nie

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis (Hosea 4:6) 

Moenie die woord “kennis” hier misverstaan nie. Israel het die wet gehad. Hulle het die feeste gehou. Hulle het geweet. Die Hebreeuse woord is jada, en dis dieselfde woord wat in Genesis 4:1 gebruik word wanneer Adam sy vrou “beken”. Dis nie kennis van die kop nie; dis kennis van die hart. Intimiteit, nie inligting nie.

Jy kan dus ’n Bybel vol notas hê en steeds arm wees in geloof.  Moses het dieselfde ontdek. As seun van Farao se dogter het al die skatte van Egipte binne sy bereik gelê. Tog het hy dit laat staan, omdat hy “die smaadheid van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte; want hy het die oog gehou op die beloning” (Hebreërs 11:26). Moses het nie die paleis gekies nie. Hy het God gekies – en God self was sy ryk beloning.

Jesus vertel van ’n ryk boer wie se oes so groot was dat sy skure te klein geword het (Lukas 12:16-21). Luister na sy gesprek: “Wat sal ek doen? ... Ek sal my skure afbreek ... en ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed.” Sien jy wie almal aan daardie gesprek deelneem? Net een persoon. Hy praat met homself, oor homself, vir homself.

En dan sê God vir hom “dwaas”, en Jesus maak die gevolgtrekking:

So is hy wat vir homself skatte bymekaarmaak en nie ryk is in God nie (Lukas 12:21)

Hy het groter skure gebou, maar nie sy hart vergroot nie.

2. Armoede van identiteit: om nie te weet wie jy is nie

En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape (Genesis 1:27)

Die woord vir “beeld” is tselem. In die antieke Ooste het ’n koning standbeelde van homself in die gebiede wat verower is opgerig. Elke beeld het gesê: hierdie grond behoort aan my, hier geld my gesag. God het geen standbeelde nodig nie. Hy het lewende beelde gemaak – mense – en hulle oor die aarde versprei om te wys aan wie dit behoort.

Jy is nie ’n toevallige versameling selle nie. Jy is ’n ambassade. Paulus sê dit reguit:

Ons is dan gesante in die plek van Christus (2 Korintiërs 5:20)

En die bloudruk van daardie beeld is Christus self – “die beeld van die onsienlike God” (Kolossense 1:15). Die Griekse woord is eikōn. Ons moet nie ’n beter weergawe van onsself word nie; ons moet ’n duideliker weergawe van Hom word.

God se skeppingsdoel vir ons is om soos Christus te wees (Romeine 8:28-29). Jordan B. Peterson sê: “How to be in the world.” Dit is ’n belangrike deel daarvan om jou identiteit en doel in die lewe te vind. Identiteit is ’n paradoks – die een deel is die biologiese realiteit wat jy moet leer liefhê en aanvaar, en dan ontwikkel. Die tweede deel word bepaal deur wat jy doen, die werk waarmee jy besig is, die beroep wat jy vervul. Dit kan verander: die persoon by die werk en die een langs die gholfbaan? “To be in the world” verwys na ’n universele beste manier hoe om te leef en jouself in hierdie lewe te handhaaf. Jesus se weg is die beste manier om te leef. 

Dit is God se antwoord tot jou identiteit krisis: Om in die geloof, God se geregtigheid in Christus te ontvang en sê: "Ek is 'n seun en dogter van God!"

Wie nie weet wie hy is nie, sal enige rol aanvaar wat die wêreld vir hom gee. Wie het jou laaste vertel wie jy is – en het jy hulle geglo? Iemand wat nie sy of haar skeppingsdoel in Christus verstaan nie, leef sonder 'n rigting en doel.  

3. Armoede van familie: om alleen te wees tussen mense

Dit is nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18)

Let op. Die eerste keer in die Bybel dat God sê iets is “nie goed nie”, is nie ná die sondeval nie. Dis in ’n volmaakte tuin, met ’n volmaakte mens, in ’n volmaakte verhouding met God. En steeds: nie goed nie. Eensaamheid is nie net ’n gevolg van die sonde nie; dis ’n armoede waarteen God self van die begin af opgetree het.

God laat die eensames in ’n huisgesin woon (Psalm 68:7)

Ons ken dit in ons dorpe. Huise vol mense en harte vol eensaamheid. Kinders wat hul pa se motor ken, maar nie sy liefdevolle stem nie. Ouers wat hul kinders se skoolpunte ken, maar nie hul vrese nie. Paartjies wat dieselfde bed deel, maar nie dieselfde drome het nie.

Jy kan onder een dak woon en tog in verskillende lande bly.

Familie is nie net ’n plek waar jy hoort nie. Dis ’n plek waar jy ken, liefhet en dien. Paulus is ongewoon skerp hieroor: wie nie vir sy eie huisgenote sorg nie, het die geloof verloën (1 Timoteus 5:8). Dis sterk taal. Maar dit sê vir ons dat jou geloof in jou kombuis begin, nie in die kerkbank nie.

Wie in jou huis het jy die afgelope week regtig raakgesien? 

4. Armoede van gemeenskap: wanneer mense niks weeg nie

Wees mekaar voor in eerbetoon (Romeine 12:10)

Die Griekse woord vir eer is timē – waarde, prys. En die Hebreeuse woord, kavod, beteken letterlik gewig. Om iemand te eer, is om hom gewig te gee. Om te sê: jy tel, jy maak saak, jou lewe weeg iets in my lewe.

Armoede van gemeenskap is dus wanneer mense vir mekaar niks weeg nie. Wanneer verhoudings gebruik word in plaas daarvan om heilig gehou te word. Wanneer ek jou ken vir wat jy vir my kan doen, en nie vir wie jy is nie.

Leef in vrede met alle mense (Romeine 12:18; Hebreërs 12:14) – teenoor om ’n uitgeworpene te wees. Om teen almal te wees (Genesis 16:12). Om in isolasie, wrok en bitterheid te leef (Efesiërs 4:31; Hebreërs 12:15). Om as ’n selfaangestelde kluisenaar te leef (Spreuke 18:1). 

5. Armoede van hulpbronne: om te begrawe wat jy gekry het

En die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas (Genesis 2:15)

Twee Hebreeuse werkwoorde: abad en shamar. Abad beteken om te werk, maar ook om te dien – dis die woord wat later vir aanbidding gebruik word. Shamar beteken om op te pas, te bewaak. Die mens is nie ’n eienaar nie. Hy is ’n bestuurder van ’n ander se plaas.

Jesus vertel van drie diensknegte wat elkeen ’n bedrag ontvang (Matteus 25:14-30). Twee vermeerder dit. Die derde grawe ’n gat en begrawe syne. En wanneer die heer terugkom, gee die man sy rede: “ek was bang” (25:25).

Kyk mooi. Sy probleem was nie dat hy min gehad het nie. Sy probleem was vrees. Hy het nie te min kapitaal gehad nie; hy het te veel vrees gehad.

Die man met een talent was nie arm omdat hy min gehad het nie, maar omdat hy dit begrawe het.

Toe God vir Moses roep, het Moses al die redes gehad waarom hy nie kon gaan nie. God het net een vraag gevra: “Wat is dit in jou hand?” (Eksodus 4:2). Dit was ’n stok. Genoeg.

Wat is in jóú hand?

Hoe die Here al vyf hierdie dimensies in een oomblik herstel het vir Saggeus. 

Kom ons gaan terug na Saggeus. 

Eers ’n bietjie ironie. Die naam Saggeus kom van die Hebreeuse Zakkai – dit beteken rein, onskuldig. Die hele Jerigo het hom ’n sondaar genoem, maar elke keer as iemand sy naam sê, sê hulle eintlik: “Meneer Onskuldig.”

Hy is klein van postuur, en hy klim in ’n wildevyeboom. Jy moet verstaan: in daardie kultuur hardloop ’n ryk man nie, en hy klim beslis nie in bome nie. Hy offer sy waardigheid om Jesus te siene kry. En dan gaan Jesus onder daardie boom staan, kyk op, en sê:

Saggeus, kom gou af, want vandag moet Ek in jou huis bly (Lukas 19:5)

Die woord “moet” is die Griekse dei – dieselfde woord wat Jesus gebruik as Hy praat van sy lyding: die Seun van die mens móét ly. Dis Goddelike noodsaaklikheid. Jesus is nie toevallig in Jerigo nie. Hy het 'n afspraak met Saggeus. 

Kyk nou wat gebeur:

•       Geloof: “Vandag het saligheid in hierdie huis gekom” (19:9).

•       Identiteit: “omdat hy ook ’n seun van Abraham is.” Die skare het hom ’n verraaier genoem. Jesus noem hom ’n seun.

•       Familie: “in hierdie huis.” Die Griekse oikos – nie net die gebou nie, die hele huishouding.

•       Gemeenskap: Saggeus “het gaan staan” (19:8) – in die openbaar, voor die mense wat gemor het. Hy belowe om viervoudig terug te betaal. Die wet het net ’n vyfde ekstra vereis (Levitikus 6:5). Viervoudig was die strafmaat vir ’n man wat ’n skaap gesteel het (Eksodus 22:1). Saggeus behandel homself as ’n skaapdief.

•       Hulpbronne: “die helfte van my besittings gee ek aan die armes.”

En hier lê ’n paradoks wat Lukas doelbewus voor ons neersit. ’n Paar verse vroeër, in dieselfde hoofstuk, kom ’n ryk jong owerste na Jesus toe (Lukas 18:18-23). Hy het die wet gehou. “Al hierdie dinge het ek van my jeug af onderhou,” sê hy. Toe vra Jesus hom om alles te verkoop wat hy het, aan die armes te gee en Hom te volg. En die man gaan bedroef weg, “want hy was baie ryk” (18:23).

Saggeus het nie die wet gehou nie. Niemand het hom gevra om iets te verkoop nie. Tog gee hy uit eie wil die helfte van sy besittings weg – omdat hy Jesus ontmoet het.

Die man wat die wet gehou het, kon nie alles los om Jesus te volg nie. Die man wat die wet gebreek het, gee die helfte sonder dat iemand hom vra. Die verskil was nie gehoorsaamheid nie, maar ’n ontmoeting. Die owerste het sy rykdom vasgehou en Jesus laat gaan. Saggeus het Jesus gekry en sy rykdom laat gaan. Jesus het sy rykdom geword.

Wat by die owerste vir mense onmoontlik gelyk het, is vir God moontlik (18:27). By Saggeus gebeur dit oor middagete.

Hoe jou antwoord jou toekoms bepaal

Laodisea het gesê: “Ek is ryk.” En hulle toekoms? Jesus staan buite die deur van sy eie kerk en klop. Bartimeus het gesê: “Ek is blind.” En sy toekoms? Lukas sê hy het Jesus gevolg op die pad (18:43). Saggeus het ontdek dat hy arm was. En sy toekoms? ’n Hele huis gered.

Die Spreuke-skrywer het dit lankal raakgesien:

Daar is een wat hom ryk hou, en hy het niks; een wat hom arm hou, en hy het groot rykdom(Spreuke 13:7)

Wie sê “ek is ryk”, sluit die deur. Wie sê “ek is arm”, maak dit oop.

En onthou die tyd van die werkwoord in Matteus 5:3: salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk. Nie “sal eendag behoort” nie. Dit behoort nou al aan hulle. Die oomblik wat jy jou armoede eerlik benoem, begin jou rykdom.