Jesus - Die Sentrale Boodskap en Fokus

Jesus - Die Sentrale Boodskap en Fokus

Wanneer ek die boek Handelinge lees, raak dit vir my al hoe duideliker dat die vroeë kerk nie ’n boodskap oor ’n evangelie verkondig het nie, maar ’n Persoon. Hulle het nie ’n leerstelling versprei nie, maar ’n Lewende Persoon en Here. Hulle geloof was nie idees wat oorgedra is nie, maar ’n ontmoeting wat hulle hele wêreld herrangskik het. Hulle geloof het nie begin by wat hulle geglo het nie, maar by Wie hulle gesien het.  

Die dissipels het nie op Pinksterdag opgestaan met ’n nuwe teologiese raamwerk nie. Hulle het opgestaan met die vaste oortuiging dat Jesus leef. Die opstanding was nie vir hulle ’n abstrakte waarheid nie, maar ’n werklikheid wat alles verander het. Daarom klink Handelinge nie soos die geboorte van ’n godsdiens nie, maar soos die voortsetting van Jesus se lewe deur gewone mense. Hulle tree nie op as draers van inligting nie, maar as getuies. Hulle sê oor en oor: ons het Hom gesien, ons het Hom gehoor, ons kan nie stil bly nie.

Hoe Lyk "GETUIES Wees..."?

Ons sien dit telkens in hulle prediking. Hulle begin nie by beginsels nie, maar by Jesus se lewe, Sy kruis, Sy opstanding en Sy verhoging. Hulle nooi mense nie in tot ’n filosofie nie, maar tot oorgawe aan ’n Here. Daarom vra hulle nie bloot vir instemming nie, maar vir bekering.

Bekering was nie om van mening te verander nie, maar om algehele nuwe uitkyk op die lewe te verander; om jou lewe weg te draai van jouself, van ander valse gode, van ander lojaliteite, en dit te RIG OP JESUS ALLEEN.

Dit is waarom hulle nie bloot van geloof gepraat het nie, maar van gehoorsaamheid. Wanneer hulle verbied is om oor Jesus te praat, antwoord hulle eenvoudig dat hulle nie anders kan nie. Nie omdat hulle rebels was nie, maar omdat nadat hulle Hom ontmoet het nooit teenoor Hom dislojaal sal kan wees nie. Hulle "vrees" en agting vir Jesus was groter as hulle vrees vir 'n mens, 'n godsdiens, of aardse regering.  Die Persoon van Christus het vir hulle swaarder geweeg as politieke mag, godsdienstige gesag of persoonlike veiligheid.

Ek hoor dit ook in die taal wat Handelinge gebruik. Mense word gedoop in die Naam van Jesus. Wonders gebeur in die Naam van Jesus. Vergifnis word verkondig in die Naam van Jesus. Die kerk leef nie rondom ’n metode nie, maar rondom ’n Naam bo alle name. Want ’n naam dui op teenwoordigheid, gesag en identiteit. Vir hulle was Jesus nie ’n herinnering aan die verlede nie, maar die Here van die hede.

Die Demaskus Omkeer Ervaring

Wanneer Paulus tot bekering kom, verander hy nie omdat iemand hom oortuig het met beter argumente nie. Hy was reeds geleerd, ywerig en seker van homself. Wat hom breek, is ’n stem wat sê: “Ek is Jesus, hoekom vervolg jy My” (Han. 9:3-6). In een oomblik stort sy hele wêreldbeskouing in duie, en ’n nuwe fokus word gebore. Van daardie dag af preek hy nie ’n stelsel nie, maar ’n Persoon.

Paulus (Saulus) probeer nie mense wen vir idees nie, maar vir ’n Here wat leef.

Daarom noem die vroeë Christene hulself  die mense van “die Weg”. ’n Weg is nie iets wat jy onderteken nie. ’n Weg word geloop. Dit vra navolging, beweging, gehoorsaamheid en volgehoue oorgawe. Die evangelie was vir hulle nie iets wat jy verstaan nie, maar iemand wat jy volg. Om “in Christus” te wees, was nie simboliese taal nie, maar ’n nuwe manier van bestaan.

Wat my diep tref, is dat hierdie mense nie probeer het om die wêreld te verbeter met Christelike waardes nie. Hulle het:

  • Die wêreld uitgedaag met ’n nuwe Here.
  • Nie gesê: "Jesus maak jou 'n beter mens nie". Hulle het gesê: "Jesus is Koning!", en "elke knie sal buig, elke tong bely dat Hy die Here is!"  
  • Dat Jesus hul hele lewe bepaal — hoe hulle leef, hoe hulle liefhet, hoe hulle werk, hoe hulle ly en selfs hoe hulle sterf.

Die vroeë kerk het verstaan wat ons so maklik vergeet: ’n boodskap kan jou inlig, maar net ’n Persoon kan jou herskep. Idees kan inspireer, maar net ontmoeting kan bekeer. Daarom was hulle geloof nie koud of teoreties nie, maar passievol, lewend en gevaarlik vir enige stelsel wat nie onder Christus se heerskappy wou buig nie.

Die krag van die vroeë kerk het:

  • nie gelê in hoe goed hulle gepreek het nie, maar in Wie hulle geken het.
  • nie net Jesus as die inhoud van hul verkondiging geag nie, Hy was die bron van hul lewe.
  • Jesus as die middelpunt van hul denke
  • Jesus as die lens geag waardeur hulle alles gesien het.
  • die evangelie verkondig, nie net as "goeie nuus" nie maar die evangelie was Jesus self.

’n Christus-Gesentreerde Kerk

Die boek Handelinge openbaar sonder twyfel dat die eerste Christene radikaal en onwrikbaar Christus-gesentreerd was. Die kerk het nie begin met ’n struktuur, ’n strategie of ’n organisasie nie, maar met ’n lewende Persoon. Van die eerste hoofstuk af maak Lukas dit duidelik dat Jesus Christus nie net die oorsprong van die kerk is nie, maar ook haar inhoud, haar dryfkrag en haar doel. Die kerk word nie gebore uit menslike inisiatief nie, maar uit goddelike openbaring.

Lukas begin Handelinge deur Theofilus daaraan te herinner dat sy eerste boek geheel en al oor Jesus gegaan het. Handelinge is dus nie ’n nuwe storie nie, maar die voortsetting van dieselfde verhaal. Wat Jesus “begin het om te doen en te leer”, gaan nou voort, nie omdat Hy afwesig is nie, maar juis omdat Hy leef.

Die opgestane Christus is nie teruggetrek hemel toe en van die toneel verdwyn nie, maar is aktief teenwoordig deur sy Gees in Sy liggaam op aarde.

Die ontstaan van die kerk rus dus nie op herinnering of sentiment nie, maar op die historiese werklikheid van die opstanding van Jesus Christus. Dit is die spul waarom alles draai.

Sonder die opstanding is daar geen kerk nie; met die opstanding is alles moontlik.

Christus Se Bevel Vorm Die Kerk

Die laaste instruksie van Jesus, soos dit in beide Lukas en Handelinge voorkom, is opvallend eenvoudig maar diep vormend. Die dissipels moet "wag op die Heilige Gees". Hulle mag nie vooruit hardloop nie. Hulle mag nie self probeer bou nie. Hulle moet leer dat die kerk nie uit menslike ywer of organisasiekrag gebore word nie, maar uit goddelike instruksie en bemagtiging.

“Bly in Jerusalem totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte...” Handelinge 1:4–5
“Julle sal my getuies wees… tot aan die uiterste van die aarde...” Handelinge 1:8
Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Handelinge 2:38
Red julle van hierdie verkeerde geslag...” Handelinge 2:40
“Gaan staan en spreek in die tempel tot die volk al die woorde van hierdie lewe.” Handelinge 5:20
Gaan, en Ek sal jou sê wat jy moet doen.” Handelinge 9:6
Staan op en gaan na die straat wat Reguit genoem word.” Handelinge 9:11 
Staan op, gaan af en trek saam met hulle, sonder om te twyfel.” Handelinge 10:20
Wat God gereinig het, mag jy nie onheilig ag nie.” Handelinge 10:15
Staan op, Petrus; slag en eet.” Handelinge 10:13
Staan op en doop hulle...” Handelinge 10:48
Sonder My Barnabas en Saulus af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” Handelinge 13:2
Gaan oor na Macedónië en help ons...” Handelinge 16:9
Moenie vrees nie, maar spreek en moenie swyg nie...” Handelinge 18:9
Getuig ook in Rome...” Handelinge 23:11
Gaan na die heidene...” Handelinge 26:17
Die eerste daad van die kerk is dus nie sending nie, maar gehoorsaamheid.

Hulle bly. Hulle bid. Hulle wag. Die kerk begin nie met beweging nie, maar met onderwerping aan die woord van Christus.

Die Boodskap:

Jesus Christus Alleen

Wanneer die Heilige Gees uitgestort word, verander die dissipels se fokus nie, dit word net skerper. Petrus se eerste preek handel nie primêr oor geestelike ervaring nie, maar oor Jesus. Sy lewe, sy kruisdood en sy opstanding vorm die hart van die verkondiging.

“Aan wie Hy Hom ook ná sy lyde met baie kentekens lewend vertoon het deur veertig dae lank aan hulle te verskyn en te spreek oor die dinge wat die koninkryk van God aangaan.” Handelinge 1:3
“Jesus die Nasaréner, ’n Man deur God onder julle bevestig deur kragte en wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde gedoen het, soos julle self ook weet.” Handelinge 2:22
“Laat die hele huis van Israel dan sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” Handelinge 2:36
“Maar God het so vervul wat Hy deur die mond van al sy profete tevore verkondig het, dat sy Christus moes ly.” Handelinge 3:18
“En Hy Jesus Christus kan stuur wat vir julle tevore verkondig is.” Handelinge 3:20
“Laat dit dan aan julle almal en aan die hele volk Israel bekend wees dat deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom staan hierdie man gesond voor julle.” Handelinge 4:10
“En die saligheid is in geen ander nie, want daar is ook geen ander Naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie.” Handelinge 4:12
“En die apostels het met groot krag getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” Handelinge 4:33
“Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ’n hout te hang.” Handelinge 5:30
“Hom het God as Leidsman en Verlosser verhoog aan sy regterhand om aan Israel bekering en vergewing van sondes te gee.” Handelinge 5:31
“Wie van die profete het julle vaders nie vervolg nie? En hulle het hulle gedood wat die koms van die Regverdige tevore verkondig het, wie se verraaiers en moordenaars julle nou geword het.” Handelinge 7:52
“En Filippus het afgegaan na ’n stad van Samaria en Christus aan hulle verkondig.” Handelinge 8:5
“Maar toe hulle Filippus geglo het wat die evangelie van die koninkryk van God en van die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, mans sowel as vroue.” Handelinge 8:12
“Toe het Filippus sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en aan hom Jesus verkondig.” Handelinge 8:35
“En dadelik het hy in die sinagoges Jesus verkondig dat Hy die Seun van God is.” Handelinge 9:20
“Maar Saulus het al sterker geword en die Jode wat in Damaskus gewoon het, in verwarring gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is.” Handelinge 9:22
“Dit is die woord wat Hy aan die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede deur Jesus Christus verkondig het—Hy is Here van almal.” Handelinge 10:36
“Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.” Handelinge 10:43
“Uit hierdie man se nageslag het God volgens die belofte vir Israel ’n Verlosser verwek, Jesus.” Handelinge 13:23
Jy is my Seun; vandag het Ek U gegenereer.” Handelinge 13:33
“Laat dit dan aan julle bekend wees, manne broeders, dat deur Hom vergewing van sondes aan julle verkondig word.” Handelinge 13:38
“En hy het dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.” Handelinge 17:3
“Maar toe Silas en Timótheüs van Macedónië af kom, het Paulus hom geheel en al aan die woord gewy en vir die Jode betuig dat Jesus die Christus is.” Handelinge 18:5
“Want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê deur uit die Skrifte te bewys dat Jesus die Christus is.” Handelinge 18:28
“Dat die Christus moes ly en dat Hy as die eerste uit die opstanding van die dode lig sou verkondig aan die volk en aan die heidene.” Handelinge 26:23
“En hy het hulle uitvoerig uitgelê en van die môre tot die aand toe oor die koninkryk van God getuig en hulle probeer oortuig aangaande Jesus uit die wet van Moses en uit die profete.” Handelinge 28:23
“En hy het die koninkryk van God verkondig en geleer aangaande die Here Jesus Christus met alle vrymoedigheid, ongehinderd.” Handelinge 28:31

Dieselfde Patroon

Deur die hele boek Handelinge herhaal dieselfde patroon: Jesus se lewe, sy werke, sy lyding, sy dood, sy opstanding, sy verhoging en die oproep tot bekering. Die evangelie word nie aangebied as selfverbetering nie, maar as oorgawe aan ’n Persoon.

Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes; en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Handelinge 2:38

Waarom Die Jode Jesus Verwerp Het

Die verwerping van Jesus deur die meerderheid van die Joodse volk was nie toevallig of bloot emosioneel nie. Dit het diep historiese, teologiese en kulturele redes gehad. Om dit reg te verstaan, moet ’n mens eers verstaan wat die Jode van die eerste eeu verwag het, hoe hulle die Skrifte gelees het, en watter soort Messias hulle gesoek het. 

Die Messiasverwagting in Jesus Se Tyd

Teen die tyd van Jesus het Israel al vir eeue onder vreemde oorheersing geleef. Babiloniërs, Perse, Grieke en uiteindelik Romeine het oor hulle geheers. Hierdie voortdurende politieke onderdrukking het ’n sterk verwagting geskep van ’n Messias wat sou kom om Israel fisies en polities te bevry. Baie Jode het geglo dat die Messias ’n koning soos Dawid sou wees, ’n militêre leier wat Rome sou verdryf en die koninkryk van Israel sou herstel. Hierdie verwagting was gebaseer op tekste soos:

“Die Here God sal Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Lukas 1:32)

....maar hulle het hierdie belofte hoofsaaklik polities verstaan.

Toe Jesus kom, het Hy egter nie opgetree soos ’n militêre bevryder nie. Hy het nie Rome aangeval nie, nie ’n leër versamel nie, en nie politieke mag nagestreef nie. Hy het selfs gesê:

“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36, OAV).

Vir baie Jode het dit onmiddellik beteken dat Hy nie die Messias kon wees nie, want Hy het nie hulle politieke hoop vervul nie.

Die Struikelblok van ’n Lydende Messias

Nog ’n groot struikelblok was dat Jesus gely het en gekruisig is. Volgens die Joodse denke kon God se Gesalfde nie verneder word nie.

Die Skrif sê:

“Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang” (Deuteronomium 21:23).

Daarom het baie Jode geredeneer dat as Jesus gekruisig is, Hy deur God verwerp moes wees, nie deur God gestuur nie. Paulus bevestig later hierdie struikelblok wanneer hy skryf:

“Maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, vir die Jode wel ’n struikelblok” (1 Korinthiërs 1:23).

Die probleem was nie dat die Skrifte nie van ’n lydende Messias gepraat het nie, maar dat hierdie gedeeltes grootliks geïgnoreer of anders geïnterpreteer is. Jesaja 53, Psalm 22 en Daniël 9 wys duidelik op ’n Messias wat ly, verwerp word en sterf, maar hierdie tekste is dikwels toegepas op Israel as volk, nie op ’n persoon nie.

Jesus se Aanspraak op Goddelike Gesag

’n Verdere rede vir verwerping was Jesus se aansprake oor Homself. Hy het nie net as ’n profeet opgetree nie, maar met goddelike gesag gepraat. Hy het sondes vergewe, iets wat volgens Joodse teologie net God kon doen. Toe Hy dit doen, het die skrifgeleerdes gesê:

“Waarom spreek Hy só godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” (Markus 2:7).

Jesus het ook uitsprake gemaak wat Homself met God vereenselwig het, soos toe Hy gesê het:

“Ek en die Vader is een (Johannes 10:30).

Vir die Joodse leiers was dit onaanvaarbaar, omdat dit in hulle oë ’n verbreking van streng monoteïsme was.

Hulle het dit as godslastering beskou en daarom gesê:

“Jy wat ’n mens is, maak jouself God...” (Johannes 10:33).

Die Gesag van die Godsdienstige Leiers

Jesus het ook die gesag van die Fariseërs en skrifgeleerdes direk uitgedaag. Hy het hulle huigelary ontbloot, hulle wettisisme veroordeel en gesê dat hulle die mense belas met swaar laste sonder om self die hart van God te verstaan. Hy het gesê:

“Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is vêr van My af (Jesaja 29:13, aangehaal in die Evangelies).

Vir die godsdienstige elite het Jesus nie net ’n teologiese bedreiging geword nie, maar ook ’n sosiale en politieke een. Johannes sê dit openlik:

“As ons Hom só laat begaan, sal almal in Hom glo, en die Romeine sal kom en ons plek en volk wegneem” (Johannes 11:48).

Die verwerping van Jesus was dus ook gemotiveer deur vrees vir verlies van mag en stabiliteit.

Die Probleem van Bekering en Innerlike Verandering

Jesus het nie net ’n nuwe leer gebring nie, maar ’n oproep tot bekering van die hart:

  • Hy het gesê dat die probleem nie net uiterlike ongehoorsaamheid is nie, maar innerlike sonde.
  • Hy het geleer dat ware reinheid uit die hart kom en nie bloot uit rituele nie.

Hierdie boodskap het gebots met ’n godsdiens wat grootliks rondom wetsonderhouding en tradisie gebou was. Baie mense kon nie aanvaar dat hulle self geestelik arm, verlore en afhanklik van genade was nie.

Moderne Joodse Argumente Teen Jesus

Tot vandag toe verwerp die meeste Jode Jesus as Messias, en hulle argumente sluit grootliks aan by die antieke redes.

  1. Die hoofargument is dat Jesus nie die messiaanse profesieë vervul het nie. Moderne Joodse denkers wys daarop dat die Messias volgens hulle verwagting wêreldvrede moet bring, alle Jode moet versamel na Israel, en universele kennis van God moet vestig. Omdat oorlog, lyding en verdeeldheid steeds bestaan, redeneer hulle dat Jesus nie die Messias kan wees nie.
  2. Jesus is nie die Dawidiese koningskap wat fisies herstel is nie. Die Messias, volgens tradisionele Judaïsme, moet as ’n menslike koning regeer, nie as ’n hemelse Here nie. Die idee van ’n Messias wat sterf en later weer kom, word deur Judaïsme as onbybels beskou.
  3. Christenskap leer oor Jesus se goddelikheid wat volgens Joodse monoteïsme onversoenbaar is. Die Sjema sê: “Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here” (Deuteronomium 6:4). Daarom beskou baie Jode die leer van Jesus as Seun van God as ’n vorm van politeïsme, selfs al verstaan Christene dit binne die raamwerk van die Drie-eenheid.
  4. Die Nuwe Testament word as ’n latere Christelike dokument beskou en nie dieselfde gesag dra as die Hebreeuse Bybel nie. Daarom aanvaar moderne Judaïsme nie die apostoliese interpretasie van Jesaja 53, Psalm 22 of Daniël 9 as messiaans nie.

Die Bybelse Verklaring vir Israel se Verwerping

Die Nuwe Testament self erken dat Israel Jesus grotendeels verwerp het, maar sien dit nie as ’n mislukking van God se plan nie.

Paulus skryf:

“Hulle het hulle gestoot aan die steen van struikeling” (Romeine 9:32).

Hul identifiseer Jesus as daardie "steen". Hy voeg by dat hierdie verwerping tydelik is en dat God Israel nie verwerp het nie:

“Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie” (Romeine 11:1).
Volgens Paulus het Israel die Messias gemis omdat hulle geregtigheid deur werke gesoek het en nie deur geloof nie. Hulle het die wet geken, maar nie die vervulling van die wet in Christus herken nie.

Die Jode het Jesus nie verwerp omdat Hy swak of irrelevant was nie, maar omdat Hy nie in hul voorafbepaalde raamwerk gepas het nie. Hulle het ’n politieke Messias verwag, maar God het ’n Verlosser gestuur. Hulle het ’n koning sonder kruis gesoek, maar God het eers ’n kruis gestuur voordat die kroon sou kom.

Die tragedie van Israel se verwerping lê daarin dat hulle die Messias gesien het, maar Hom nie herken het nie, omdat Hy anders was as wat hulle verwag het. Hierdie spanning tussen verwagting en openbaring lê steeds vandag aan die hart van die gesprek tussen Judaïsme en Christendom.

Die Naam van Jesus as Bron van Krag

Wonderwerke in Handelinge gebeur nie deur tegniek, metode of formule nie, maar uitsluitlik in die Naam van Jesus.

Die apostels neem geen eer vir hulself nie en maak dit telkens duidelik dat die krag nie uit hulle kom nie:

“Maar Petrus sê: Silwer en goud besit ek nie; maar wat ek het, dit gee ek jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!” Handelinge 3:6.

Wanneer Petrus later verhoor word, wys hy weer weg van homself na Christus.

“Laat dit aan julle almal bekend wees… dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner… deur Hom staan hierdie man gesond voor julle.” Handelinge 4:10
Die apostels is nie genesers nie; Jesus is. Hulle is slegs getuies en draers van sy Naam.

Gehoorsaamheid aan Christus Bo Politieke Mag

Wanneer die Joodse Raad die apostels verbied om oor Jesus te praat, ontstaan daar ’n beslissende botsing van lojaliteite. Die kerk kies sonder huiwering gehoorsaamheid aan Christus bo gehoorsaamheid aan mense.

Die Jesus beweging is altyd 'n "COUNTER CULTURE" beweging: 

“’n Mens moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Handelinge 5:29

Hier word dit duidelik dat die vroeë kerk nie rebels was nie, maar Christus-lojaal. Hulle erken ’n hoër gesag as die Sanhedrin en uiteindelik ook hoër as Caesar.

“…en hulle sê dat daar ’n ander Koning is — Jesus.” Handelinge 17:7

Twee ryke bots: die Romeinse keiserryk en die koninkryk van Christus.

Doping, Identiteit en ’n Nuwe Bestaan

Wanneer mense tot geloof kom, word hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. Dit dui op meer as ’n uiterlike handeling; dit beteken toetrede tot ’n nuwe bestaansruimte:

“Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Handelinge 2:38
“Die wat sy woord graag aangeneem het, is toe gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele bygevoeg.” Handelinge 2:41
“Maar toe hulle Filippus geglo het wat die evangelie van die koninkryk van God en van die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, mans sowel as vroue.” Handelinge 8:12 
“Want Hy het nog op geen van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.” Handelinge 8:16
“En hy het opgestaan en is gedoop.” Handelinge 9:18
“Kan iemand miskien die water keer dat dié mense nie gedoop word wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het nie?” Handelinge 10:47
“En hy het beveel dat hulle gedoop moes word in die Naam van die Here.” Handelinge 10:48
“En toe sy gedoop is, en haar huisgesin, het sy ons versoek en gesê: As julle oordeel dat ek getrou is aan die Here, kom in my huis en bly.” Handelinge 16:15
“En hy het hulle in dieselfde uur van die nag geneem en hulle wonde gewas; en hy is dadelik gedoop, hy en al sy mense.” Handelinge 16:33
“En Crispus, die hoof van die sinagoge, het saam met sy hele huisgesin in die Here geglo; en baie van die Korinthiërs het gehoor en geglo en is gedoop.” Handelinge 18:8
“En hy sê vir hulle: Waarin is julle dan gedoop? En hulle antwoord: In die doop van Johannes.” Handelinge 19:3
“En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.” Handelinge 19:5
“En nou, waarom vertoef jy? Staan op en laat jou doop en was jou sondes af deur sy Naam aan te roep.” Handelinge 22:16
Die identiteit van die kerk is nie kultureel, etnies of nasionalisties nie, maar Christologies. Hulle behoort aan Hom en leef “in Christus”.

Christus Die Fondament van Elke Ware Kerk

Die boek Handelinge laat geen ruimte vir ’n afgewaterde Christus nie. Nie ’n simboliese Jesus nie. Nie bloot ’n morele leermeester nie. Nie ’n terapeutiese helper nie. Maar die gekruisigde Christus, die liggaamlik opgestane Here, die verhoogde Seun van God en die Koning van die koninkryk.

“Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.” 1 Korintiërs 3:11

Die eerste kerk het nie net oor Jesus gepraat nie; hulle het uit Hom geleef. Sy Naam was hulle krag. Sy kruis hulle boodskap. Sy opstanding hulle hoop. En dit bly vandag steeds so. Die kerk het nie ’n nuwe missie nodig nie; sy het nodig om terug te keer na die "missio Christi".

“My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ’n gestalte kry.” Galasiërs 4:19.
“Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens leer in alle wysheid, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel. Waarvoor ek my ook vermoei en stry volgens sy werking wat kragtig in my werk.” Kolossense 1:28–29.
“Want ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid; want ek het julle aan een man verloof om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel.” 2 Korintiërs 11:2.
“Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” 1 Korintiërs 2:2
“Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, laat hulle julle nie ledig of onvrugbaar in die kennis van onse Here Jesus Christus nie.” 2 Petrus 1:8
“Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.” Efésiërs 4:13.

VRAE WAT VERANDER:

“Wat maak jy met die Christus wat jy reeds ontvang het?”

Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. (Matt. 6:33).

Die soeke na SY GEREGTIGHEID kan net ontvang word as 'n geskenk want bekering is 'n opgee van JOU GEREGTIGHEID, en die self-regmaak-aksies en pogings van 'n mens.  

Bekering is die opgee van eie-ek en self-gedrewe mensgemaakte werke.  

As jy Christus ontvang het, dan besit jy 100% van Sy geregtigheid in terme van jou aanvaarding voor God—nie omdat jy dit verdien het nie, maar omdat jy met Hom verenig is.

Dit is die "skandaal" van Sy genadewerk:

·       Jy “groei” nie eers in aanvaarding in nie; jy groei vanuit aanvaarding.

·       Jy verdien nie geregtigheid nie; jy dra dit—soos ’n kleed, nie soos ’n medalje nie.

So die eerlike antwoord op “Hoeveel het jy ontvang?” (in regverdigmaking) is: alles daarvan. Nie “’n bietjie” nie. Nie net “op goeie dae” nie. Alles—want dit is Sy geregtigheid wat aan jou toegereken word, nie jou geregtigheid wat stadig verbeter nie.

Hierdie waarheid maak godsdiens-gedrewe-self-onsekerheid dood. Dit maak ook grootpratery dood. Niemand spog oor ’n geskenk wat hy nie voor betaal het nie.

"Hoeveel van Jesus se geregtigheid het jy vir jouself toegeëien?"

So die eerlike antwoord op “Hoeveel het jy al bereik?” (in geleefde geregtigheid) is: nog nie volkome nie.

Dis hoekom ’n apostel eintlik twee waarhede tegelyk kan sê:

  • “Ek het dit” (vaste standing), én
  • “Ek strek my uit daarna” (onvoltooide vorming).  (Phil 3:13-14) 

Hierdie “reeds / nog nie” is die ritme van volwasse Christenskap:

  • Reeds beklee - Nog nie volkome gelykvormig.
  • Reeds vergewe - Nog nie heeltemal vry van ou vleeslike reaksies nie.
  • Reeds ’n nuwe skepping - Nog nie klaar afgewerk nie. 

Die vrug van Sy geregtigheid wat in jou werk:  

  • Hoe jy praat wanneer jy moeg is.
  • Hoe jy mense hanteer wat met jou verskil.
  • Hoe jy geld bestuur wanneer niemand kyk nie.
  • Hoe vinnig jy bekeer wanneer jy verkeerd was.
  • Of jou gewete sag bly, of ’n prokureur word wat alles verdedig.

“Geregtigheid” is nie ’n "halo" (kroon van lig) nie; dis ’n nuwe bedryfstelsel.

Die Vrug-Toets

’n Goeie vraag is: Wat het makliker geword om te gehoorsaam sedert jy Christus ontmoet het?

Wat moet EK DOEN vs WAT DOEN DIE HERE?

Die sekulêre slagspreuk sê: “God help die mens wat homself help.” 

"S E L F   M A D E "- 'n tatoeëer merk op 'n man se vingers... 

Die Bybel sê: “Sonder God word jou ‘maak’ onrustige geswoeg—en uiteindelik leeg.” Maar die Bybel weier ook geestelike luiheid: “Moenie dit wat God reeds beveel het, vergeestelik om jou ongehoorsaamheid te verskoon nie.”

Spreuke sit die hart van die saak so eenvoudig en skerp: 

“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” (Spr. 3:5)

GEBED as Plaasvervanger vir Gehoorsaamheid ("Heilige Uitstel")

Dit is wanneer ons vir God “vra” om te doen wat Hy reeds vir óns gesê het om te doen:

  • God: “Vergewe.”
  • Ek: “Here, verander hulle eers, dan kan ek vergewe.”

Dis nie gebed nie; dis vertraging wat ’n aanbiddingsbaadjie aantrek. Jakobus is bot: geloof sonder werke is dood (Jak. 2:17).

AKSIE as Plaasvervanger vir Afhanklikheid ("Gedoopte Selfstandigheid")

Dit is wanneer ons die regte dinge doen, maar met ’n gees van beheer:

  • “Ek het beplan, gebou, geswoeg, gemanipuleer… en nou vra ek God om my masjien te seën.”

Die Bybel noem dit "ydelheid": bou sonder God word slapelose geswoeg (Ps. 127:1–2).

Dus: Gebed sonder Gehoorsaamheid is Godsdienstige Ontwyking - Gehoorsaamheid Sonder Gebed is Trotse Angs.

Die Bybel sê Béíde / en: God Werk... Daarom Werk Ons

Die skoonste formulering van die paradoks staan in Filippense:

Werk julle eie saligheid uit… want dit is God wat in julle werk…” (Fil. 2:12–13).

Let op die logika: God se werking is nie ’n verskoning om niks te doen nie; dis juis die rede hoekom ons íéts kan doen. Genade vervang nie inspanning nie; dit verlos inspanning.

En weer: “steun nie op jou eie insig nie” (Spr. 3:5) beteken nie “moenie dink nie”—dit beteken: moenie jou eie denke as jou finale fondament gebruik nie. Jou kop is ’n instrument; God is die Bron.

Dink aan die Lewe as Drie Sirkels:

Sirkel A: Wat Net GOD Kan Doen

  • Harte verander
  • Deure oopmaak
  • Reën bring in droogte
  • Guns gee
  • Blywende vrug voortbring

Jy kan dit beïnvloed, maar jy kan dit nie vervaardig nie. Hier bid jy vrymoedig, want uitkomste is bo jou salarisvlak (1 Kor. 3:6–7).

Sirkel B: Wat God Duidelik Beveel Het JY Moet Doen

  • Bekeer, vergewe, versoen
  • Praat waarheid, doen reg, bewys barmhartigheid
  • Werk getrou, bestuur wys
  • Verkondig, maak dissipels, dien, gee

Hier bid jy nie in plaas van gehoorsaamheid nie—jy bid terwyl jy gehoorsaam: “Here, versterk my om te doen wat U gesê het.” Hier woon volwassenheid.

Sirkel C: Die Samewerkingsone

Hier plant jy en jy gee water—en God gee groei.

’n Pragtige prentjie is Nehemia: hy het gebid én wagte opgestel (Neh. 4:9). Nie omdat gebed swak was nie—maar omdat gebed eg was.

Wanneer jy onseker is, vra:

1.    "Is daar reeds ’n duidelike opdrag?"

As ja, begin gehoorsaam. Moenie wag vir ’n mistieke gevoel nie.

2.     "Val dit binne my rentmeesterskap?"

As dit my verantwoordelikheid is (my woorde, my houding, my werk), is dit my skuif.

3.     "Vra ek God om my deel te doen?"

As ja, bekeer jou van passiwiteit en tree vorentoe.

4.     "Tree ek op asof alles van my afhang?"

As die antwoord ja is, bekeer jou van beheer en keer terug na afhanklikheid—steun nie op jou eie insig nie (Spr. 3:5).

5.     "Hoe lyk getrouheid vandag—nie fantasie nie?"

Getrouheid is gewoonlik die volgende regte stap, nie ’n dramatiese sprong nie.

Dis basies Spreuke-wysheid: die mens beplan; die Here rig (Spr. 16:9). 

Beplan soos ’n volwassene. Vertrou soos ’n kind.

Seil Teenoor Roei

  • Gebed is om die "seil te hys"—jy erken die wind kom van God.
  • Gehoorsaamheid is om die "seil te "trim" en die roer te hou—jy moet steeds die toue hanteer.

’n Seilboot sonder ’n seil is humanisme: alles sweet, geen wind.

’n Seilboot sonder stuur is fatalisme: “God sal,” terwyl jy op rotse dryf.

Bybelse geloof is: hys die seil - vat die roer, vertrou die Wind—en steun nie op jou eie insig nie. (Spr. 3:5)

Die Bybel prys rentmeesterskap: “Ek is nie die bron nie, maar ek is verantwoordelik.”

Selfs jou vermoë om te werk is ’n gawe (Deut. 8:18), maar luiheid bly sonde (Spr. 10:4). Daarom is die Christen nie “selfgemaak” nie, en ook nie “hands-off” nie. Hy is God-afhanklik én God-gehoorsaam.