Jesus ons ANKER in STORM Tye

Jesus ons anker in onseker, komplekse, onduidelike en wisselvallige tye van Storms.

Jesus ons ANKER in STORM Tye
Jesus ons ANKER in STORM Tye

’n Dieper Anker in ’n Gebroke Wêreld

19Hierdie vooruitsig is soos ’n betroubare en stewige anker – ’n anker wat onbeweeglik vasgemaak is in die Allerheiligste van die hemelse heiligdom, net agter die binneste gordyn. Heb 6:19

Hoe ouer ek word, hoe meer raak ek bewus van die broosheid, foute, tekortkominge en sondes van die Kerk — maar meer nog ook die van my eie lewe. Ek ontdek al hoe meer hoe beperk ek werklik is: beperk deur ouderdom, vermoëns, deur geslag, deur finansies, deur kultuur, deur die plek waar ek woon, en deur die eenvoudige feit dat ek maar stof is. Daarenteen, staan ek soms verstom oor die onskuldige, onkundige selfvertroue van die jeug wat blindelings sake nastreef wat ver bo hul ervaring lê. Met die jare maak ’n mens minder gewilde, triomfantelike uitsprake, want jy het te veel gesien. Jy het gesien hoe verhoudings in ’n oomblik verbrokkel.  Hoe ’n gesonde liggaam deur een ongeluk of siekte, of ’n enkele oomblik van teëspoed ’n hele lewenspad verander.

Hierdie week het ek met iemand gepraat wat ’n enorme bedrag geld verloor het omdat sy medelye gehad het met ’n godsdienstige bedrieër.  Intussen sien ons hoe mense toenemend kwaadwillig raak en hoe ongeregtigheid vermeerder.  By ons plaaslike GPF-vergadering hoor ek van ons kliniek wat nie meer die massas kan bedien nie a.g.v. 'n tekort aan personeel, maatskaplike werkers wat oorlaai is met kindermishandeling en verkragtingsake.  CLAWS vertel van meer gevalle van geweld deur kinders teen diere.   Die polisiestatestiek toon meer huisbrake, vandalisme en gesinsgeweld — en die toename van alkohol- en dwelmverwante misdaad.

Die wêreld word al hoe meer onseker, onduidelik, kompleks en wisselvallig.  

Selfs groot kerke sluit a.g.v. hulle leiers wat verval in een of ander morele sonde. Tans word charismatiese kerke beskuldig van 'n "liefde bedek sonde kultuur" ten koste van die slagoffers.  Nuwe teologiese stemme stel hulself aan as wagte van waarheid maar wie hou hulle aanspreeklik?  

Maar as ons eerlik is, was dit ook die werklikheid van mense wat in Jesus se tyd geleef het. Hulle wêreld was net so gebreek — vol onderdrukking, armoede, siekte en geestelike duisternis.  Dit is presies in daardie werklikheid waar Jesus 'n beteknisvolle Lewensanker uitgooi!  Hy begin nie met politieke oplossings of menslike triomf nie, maar met genade: 

10God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het en dit nog steeds doen nie. 11Dit is ons hartsbegeerte dat elkeen van julle enduit dieselfde entoesiasme sal vertoon sodat julle toekomsverwagting bewaarheid kan word. 12Dan sal julle nie geestelik afgestomp raak nie. Inteendeel, julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.
Julle kan daarop reken: God se beloftes staan onwrikbaar vas 13Neem byvoorbeeld God se belofte aan Abraham. Omdat daar niemand groter as Hy self was by wie God ’n eed kon aflê nie, het Hy ’n eed in sy eie Naam afgelê deur te sê:
14“Ek sal jou vir seker ryklik seën en Ek sal aan jou ’n baie groot nageslag gee.” 15En so het Abraham volgehou en begin ontvang wat God beloof het. 
16Mense lê gewoonlik ’n eed af by iemand wat belangriker as hulleself is. Vir hulle is die eed dan absoluut bindend. Daar kan geen dispuut daaroor wees nie. 17Omdat God bo alle twyfel vir hulle wat die belofte ontvang het, wou bewys hoe onwrikbaar vas sy besluit staan, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. Hy het dus vir ons ’n belofte sowel as ’n eed gegee. 18Hierdie twee dinge waarborg dat God sy woord sal hou. En so het ons wat onsself aan God toevertrou het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die vooruitsig wat vir ons wink. 
19Hierdie vooruitsig is soos ’n betroubare en stewige anker – ’n anker wat onbeweeglik vasgemaak is in die Allerheiligste van die hemelse heiligdom, net agter die binneste gordyn. 20Dít is tog waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het – Hy, ons ewige Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek. Hebreers 6:10-20

Die anker wat Jesus gee, is nie prestasie nie, maar genade (Ef. 2:8–9).

Wanneer Jesus die sondeprobleem aanspreek, wys Hy dat die krisis dieper lê as strukture of sisteme — dit lê in die menslike hart self (Jer. 17:9; Matt. 5:21–28). Daarom kan geen nuwe wet of stelsel die mens red nie (Gal. 2:16). Wat nodig is, is ’n nuwe hart (Eseg. 36:26).

En dan doen Jesus die ondenkbare: Hy gee nie net lering nie — Hy gee Homself. Aan die kruis dra Hy ons sonde en ons oordeel (Jes. 53:4–6; 1 Pet. 2:24). Die kruis wys dat sonde ernstiger is as wat ons dink, maar dat God se genade groter is as wat ons durf hoop (Rom. 5:8; 5:20). Die opstanding verkondig dat die dood en die kwaad nie die laaste woord het nie (1 Kor. 15:54–57).

Jesus se antwoord vir ’n wêreld vol geweld, bedrog, siekte en verval is dus nie oppervlakkige optimisme nie, maar ’n koninkryk wat in die hart begin (Luk. 17:21), ’n Vader wat weet wat ons nodig het (Matt. 6:8), ’n Verlosser wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29), en ’n hoop wat selfs deur die dood herleef (Joh. 11:25). Daarom roep Hy ons om ons lewens op die rots te bou, want storms sal kom — maar in Hom hoef ’n lewe nie in te stort nie (Matt. 7:24–25).

Hoe ouer ek word, hoe minder glo ek in groot menslike beloftes. Maar hoe ouer ek word, hoe dieper vertrou ek hierdie eenvoudige waarheid: Jesus Christus bly die enigste vaste anker in ’n wêreld wat losraak (Heb. 6:19; Heb. 13:8). Nie die perfeksie van die Kerk nie, nie die sukses van leiers nie, nie die stabiliteit van strukture nie — maar Christus alleen (1 Kor. 3:11). En miskien is dit die stille wysheid wat met die jare kom: om uiteindelik te ontdek dat die hoop van die wêreld nog nooit in ons was nie, maar nog altyd in Hom (Kol. 1:27). Amen.