Laat jou siel gevoed word deur God se Woord

Soos jou liggaam sterf sonder kos, so verdor jou siel sonder die Woord.

Laat jou siel gevoed word deur God se Woord

Die Woord van God is nie net in ink geskryf nie – dit is God self, vleesgeword in Christus Jesus.

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (Johannes 1:1)

Alles wat bestaan, het deur Hom tot stand gekom. Sy Woord het lewe voortgebring; Sy asem het stof in ’n siel verander. Sonder die Woord is daar geen lewe nie, want die Woord dra lewe, gee lewe, en onderhou lewe. Toe God in die begin in die mens se neusgate blaas (Genesis 2:7), het Hy meer as suurstof gegee — Hy het Homself gegee. Jou asem is dus geleende asem; jou lewe, ’n stuk van Sy eie lewe in jou.

Daarom sê Prediker 12:7: “En die stof keer terug na die aarde soos dit was, en die gees keer terug na God toe wat dit gegee het.”

Wanneer jy dus die Woord hoor, raak jy weer verbind met jou oorspronklike bron. Dis waarom die mens, hoe gevul of besig ook al, steeds leeg voel sonder God — want jy kan nie met dinge versadig wat jou bron nie is nie. Net die Een wat jou gemaak het, kan jou siel vul.

Jou siel honger nie vir kos of status of aanvaarding nie — dit honger vir waarheid, vir die stem wat dit geskep het.

“Die mens leef nie van brood alleen nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matteus 4:4)

Soos jou liggaam sterf sonder kos, so verdor jou siel sonder die Woord. Die Bybel noem hierdie Woord soos brood (Mat. 4:4), melk (1 Pet. 2:2), heuning (Ps. 119:103), en vleis (Heb. 5:14) — elkeen ’n beeld van groei en voeding.

Wanneer jy dus jou hart oopmaak vir die Skrif, asem jy weer God se asem in. Sy Woord bring orde waar daar chaos is, lig waar daar donkerte is, en vrede waar daar verwarring is. Dit herinner jou:

  • Jy het van God gekom,
  • jy behoort aan Hom,
  • en jy keer terug na Hom.

Daarom sê Jesus:

“My woorde is gees en lewe.” (Johannes 6:63)

Wanneer jy tyd in die Woord spandeer neem jou TYD

 Om net ’n vers per dag op Instagram te lees is soos snacks eet. Dis nie sleg nie, maar dit hou jou nie aan die lewe nie. Jy moet kou – stadig lees, oordink, toelaat dat dit jou diep in jou hart tref.

“Toe ek U woorde gevind het, het ek dit geëet; en U woorde was vir my vreugde en blydskap.” – Jeremia 15:16 (NLV).  

Prakties:

  • Lees stadig, 
  • Lees hardop.
  • Vra: “Wat sê dit vir my oor God se hart en manier van lewe?"
  • Oordink dit deur die dag oor en oor.  

Dis nie ’n Bybelkennis toets nie; dis ’n gesprek met jou Skepper.  Die Bybel is nie net inligting nie; dis openbaringkennis. As die Heilige Gees jou hart aanraak, word die teks lewendig. Wanneer jy net lees, stimuleer jy jou intellek, wanneer 'n skrif met jou praat. STOP Skryf dit neer, en begin daaroor nadink. Nou is jy besig om jou Gees te voed.

“Het ons harte nie in ons gebrand toe Hy met ons op pad gepraat en vir ons die Skrif verduidelik het nie?” – Lukas 24:32 (NLV)

Dis soos wanneer ’n lied of ’n aanhaling jou presies tref waar jy is — dis die oomblik wanneer die Woord jou begin lees.

Die Woord moet Vlees word - die stryd om te onthou.

“Soos pasgebore babas moet julle honger wees na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei.” – 1 Petrus 2:2 (NLV)

Ons vergeet gewoonlik wat ons gelees het, omdat ons die Woord nog nie ingeneem en geinternaliseer het nie.

Dis soos om kos te kou, maar nooit in te sluk nie — jy proe dit, maar dit voed jou nie. Net wat in jou bloedstroom kom, kan lewe gee; net wat in jou hart sak, verander jou. Die Woord moet dus meer as kennis word — dit moet vlees word in jou lewe.

“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon.” (Johannes 1:14)

Om die Woord te lees sonder om dit te beleef, is soos om die resep te memoriseer sonder om ooit te kook. Baie mense ken die teks, maar min laat die teks húl ken. Ware voeding gebeur wanneer die Woord deel van jou denkpatrone, emosies, en reaksies word.

“Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek nie teen U sal sondig nie.” (Psalm 119:11)

Wanneer die Woord in jou geberg is, herinner dit jou — selfs wanneer jy nie ’n Bybel oop het nie. Dit fluister in die stilte, korrigeer in versoeking, troos in swaarkry, en lei in verwarring.

God se Woord is nie bedoel om net gelees te word nie, maar om geherkou te word, soos ’n skaap wat weerkou — stadig, herhaaldelik, totdat die voedingstowwe in elke vesel van die wese intrek.

“Maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.” (Psalm 1:2)

Dis wat meditasie beteken: nie om jou gedagtes leeg te maak nie, maar om dit te vul met waarheid — totdat waarheid jou manier van dink word.

Dan begin jy anders voel, anders praat, en anders leef. Die Here wil hê dat sy Woord deel van jou DNA word — nie net op jou lippe nie, maar in jou lewe; nie net op papier nie, maar in jou hart.

Wanneer die Woord só deel van jou word, begin jy soos Jesus leef: nie meer net deur wat jy weet nie, maar deur wie jy geword het — ’n mens waarin die Woord vlees geword het.

 Gehoorsaam en Doen die Woord

“Wees doeners van die woord, nie net hoorders wat hulleself mislei nie.” – Jakobus 1:22 (NLV)
Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. 3 Want ons wat geglo het, gaan die rus in, Heb 4:2

Om te “voed” beteken om die Woord deel van jou lewe te maak.

  • As jy lees oor vergifnis — gaan en vergewe iemand.
  • As jy lees oor liefde — wys dit prakties.
  • As jy lees oor vrede — bring Vrede en versoening tussen partye.
  • Geloof groei nie deur te weet nie, maar deur te doen.

Die Bybel is nie ’n reëlsboek om jou vas te bind nie; dis ’n spieël wat jou ware self wys — sodat jy kan sien soos God sien.

As jy jou siel voed met Sy Woord, bou jy geestelike spiere, vrede in jou gedagtes, en helderheid in jou lewe. Dis die oorspronklike “self-care” plan wat regtig werk.

“Proe en sien dat die Here goed is.” – Psalm 34:9 (NLV)

 So: lees dit, kou dit, leef dit, deel dit. Want dit wat jy voer, groei. En jou siel honger vir iets eg. 

Smith Wigglesworth het altyd gesê: The Word of God

  • Read it through
  • Write it down
  • Pray it in
  • Work it Out

Laat die Woord orals deel word van jou lewe.

Ons leef in ’n era waar jy die Bybel kan deel maak van jou lewe.

  • Luister na Bybeltoepassing-apps of YouVersion se “verse van die dag”.
  • Sit ’n audio Bybel aan terwyl jy ry of stap.
  • Skryf een vers in jou notas uit vir die dag. 
  • Luister musiek wat skrif aanhaal, en jou geloof bou.
  • Joernaal en skryf neer wat jy van die Here ontvang.  
  • Plak Skrif verse op teen jou mure.

Eet saam met ander gelowiges en "feast on the Word" 

“Laat die boodskap van Christus volop in julle leef. Leer en bemoedig mekaar met wysheid.” – Kolossense 3:16 (NLV)
  • Ons groei vinniger saam as alleen.
  • Deel wat jy leer met vriende of familie.
  • Wees deel van 'n huiskerk.
  • Wanneer jy die Woord uitpraat, verstaan jy dit beter.

Dis soos ete – dis altyd beter in goeie geselskap.