Om te BEHOORT aan die LIGGAAM van Christus
Hoe vaar ons as Kerk om in hierdie snelbewegende inligtingsera mense te laat voel dat hulle werklik behoort?

LUISTER POTGOOI OP SPOTIFY
KYK OP YOUTUBE
“En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. En vrees het oor almal gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. En almal wat gelowig geword het, was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit; en hulle het hul eiendomme en besittings verkoop en dit uitgedeel aan almal volgens elkeen se behoefte. En hulle het almal eendragtig in die tempel volhard en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoud van hart geneem, terwyl hulle God loof en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks tot die gemeente gevoeg die wat gered is.” (Handelinge 2:42-47, Afrikaanse Ou Vertaling)
Ek is seker dat feitlik elke geestelike geloofgemeenskap droom om die bogenoemde getuienis te kan hê! Moet ook nie vergeet dat die kerk se grootste aantrekkingskrag ons EENHEID in Christus is nie!
"dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het" (Joh 17:21).
Wanneer mense tydens ons jaarlikse dankdiens hulle getuienisse bring, is dit altyd vir my opmerklik hoe baie mense die Here dank vir die liggaam! Baie sal getuig dat hulle nog nooit so diep liefde ervaar het nie. Tog is daar ander mense wat nie geliefd voel nie, en sukkel om deel te word?
Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom was dit so dringend nodig dat mense eenwording en verbondenheid met God en mekaar in Sy liggaam ervaar soos nou nie!

"TRYING TO CONNECT IN A DISCONNECTED WORLD"
David Brooks se boek How to Know a Person wys op verskeie bewyse dat mense al hoe meer distansieer en geïsoleerd raak in die moderne samelewing.
Samevatting van die Kernpunte:
- Toenemende Eensaamheid – Statistieke toon dat mense minder naby-vriende het as vroeër, en dat eensaamheid ‘n groot gesondheidskrisis geword het, veral onder jongmense en bejaardes.
- Afname in Gemeenskapsbetrokkenheid – Mense woon minder sosiale byeenkomste by, is minder betrokke in kerke, gemeenskapsorganisasies en vrywillige werk.
- Die Opkoms van Digitale Verhoudings – Interaksie gebeur al hoe meer deur skerms eerder as persoonlik. Dit lei tot oppervlakkige verhoudings en ‘n afname in ware intimiteit en empatie.
- Polarisasie en Groeiende Sosiale Skeiding – Politieke en ideologiese verdeeldheid dryf mense verder uitmekaar. Dit skep ‘n klimaat van wantroue eerder as samehorigheid.
- Afname in Empatiese Luister – Mense is meer gefokus op self-uitdrukking en menings deel as om werklik na mekaar te luister en ander se stories te verstaan.
- Sosiale Verbrokkeling in Gesinne – Familiebande is nie so hegte soos vroeër nie; daar is meer geskeide en gebroke gesinne, en geslagte woon dikwels ver uitmekaar.
- Werkplekkultuur wat Verhoudings Verswak – Baie werkplekke fokus net op produktiwiteit en prestasie, terwyl menslike konneksie en spanbou agterweë bly.
- Verlies aan Rituele en Tradisies – Rituele soos gesins-etes, kerkbywoning en buurtbyeenkomste raak al hoe minder, wat die strukture vir gemeenskaplike ervarings ondermyn.
Hierdie tendense wys hoe mense minder in verbondenheid lewe met mekaar as in die verlede, en onderstreep die noodsaaklikheid van ‘n herontdekking van werklike, betekenisvolle verhoudings.
Wat het hierdie eerste groep gelowiges onderskei van die Jode, die Romeinse elite, en ander groepe soos die Selote, Fariseërs, Skrifgeleerdes, Sadduseërs, Belastinggaarders en soldate?
Die Eerste Gelowiges Was 'n Groepering Mense wat:
1) EEN van Hart en Siel in Eenheid saam beweeg in die LEER van die Apostels (Handelinge 2:42-47; Handelinge 4:32-35; Handelinge 5:12-14; Handelinge 6:1-7; Romeine 12:4-5; 1 Korintiërs 1:10; 1 Korintiërs 12:12-27; Efesiërs 2:19-22; Efesiërs 4:1-6; Efesiërs 4:11-16; Filippense 1:27; Filippense 2:1-4; Kolossense 3:12-15; 1 Tessalonisense 5:11-15; Hebreërs 10:24-25; 1 Petrus 3:8-9)
2) Deurdrenk met 'n Diepgaande en Ware Omgee, LIEFDE, Samesyn en Fisiese sorg vir mekaar. Hulle het alles met mekaar gedeel. (Acts 2:44-45; Acts 4:32-35; Romans 12:10-13; Romans 15:1-2; 1 Corinthians 12:25-26; 2 Corinthians 8:13-15; Galatians 6:2; Galatians 6:9-10; Ephesians 4:2-3; Ephesians 4:28; Philippians 2:3-4; Colossians 3:12-14; 1 Thessalonians 5:11; 1 Timothy 5:8; Hebrews 6:10; Hebrews 10:24-25; Hebrews 13:16; James 1:27; James 2:14-17; 1 Peter 3:8; 1 Peter 4:8-10; 1 John 3:16-18; 1 John 4:11)
3) Die Bonatuurlike KRAG van God is Gereeld Sien Werk in hulle midde. (Acts 2:1-4; Acts 3:1-10; Acts 5:12-16; Acts 5:17-20; Acts 8:6-7; Acts 9:1-19; Acts 9:32-35; Acts 9:36-43; Acts 12:5-11; Acts 13:6-12; Acts 14:8-10; Acts 16:16-18; Acts 16:25-26; Acts 19:11-12; Acts 20:7-12; Acts 28:3-6; Acts 28:7-9; 1 Corinthians 12:7-10; 2 Corinthians 12:12; Hebrews 2:3-4)
4) Gereeld SAAM gekom, in die tempel en in huise, nagmaal by elke geleentheid gevier, en sodoende Jesus se Dood en Opstanding herdenk. (Acts 2:42; Acts 2:46; Acts 20:7; 1 Corinthians 10:16-17; 1 Corinthians 11:17-34; 2 Corinthians 8:4; 2 Corinthians 9:13)
Hulle het by die hele volk in guns toegeneem. Vandag wil ons in hierdie boodskap die vraag ondersoek, hoekom en hoe het hierdie merkwaardige eenheid, en samewerking gebeur?
"The Church needs to do three things right to have a lasting cultural impact:
BELIEF - BELONG - BEHAVIOR".

Die moderne kerk het ongetwyfeld ‘n mate van sukses behaal in die onderrig van die "regte" geloofsoortuigings—iets van wesenlike belang, want wat ons glo bepaal hoe ons die lewe sien en leef. Maar geloof is nie net ‘n stel leerstellings nie; dit is ‘n lewende realiteit wat in gemeenskap ervaar word.
HOE verkry ons hierdie goddelike verbondenheid met mekaar?
My vraag is: Hoe vaar ons in hierdie snelbewegende inligtingsera om mense te laat voel dat hulle werklik behoort? Het ons dalk die kuns verloor om ‘n diep, betekenisvolle gemeenskap te skep? Sonder ‘n egte gevoel van behoort, bly geloof dikwels abstrak en intellektueel, en mense sukkel om ‘n werklike transformasie in Christus te ervaar. Behoort is nie ‘n bysaak nie—dit is die konteks waarin dissipelskap, groei en geestelike verandering plaasvind.

Gemeenskaplike balangstellings:
Vir die meeste mense ontstaan 'n gevoel van behoort wanneer hulle mense ontmoet met soortgelyke belangstellings—soos gholf, kampering, motorfietse, boekklubs of gimnasium—of wanneer hulle ander vind wat deur dieselfde pyn, lyding en trauma gegaan het, soos chirurgie, siekte, die verlies van 'n geliefde of ekonomiese swaarkry.
Jongmense, veral, streef daarna om met almal oor die weg te kom, in te wees, en niemand aanstoot te gee nie—'n oppervlakkige, gedigitaliseerde verbondenheid wat soms meer interkonneksie as werklike gemeenskap skep. Die wêreld bied verskeie alternatiewe vorms van behoort: aansien, status, politieke groeperings en groepsidentiteite. Sommige soek ‘n dieper sin van behoort deur die herontdekking van hulle kulturele erfenis.
Fisiese Snellers wat Binding Versterk:
Sekere aktiwiteite kan binding intensifiseer deur fisiologiese meganismes:
- Oogkontak: Verhoog oksitosien en skep intimiteit.
- Fisiese Aanraking (drukkies, hande vashou): Bevorder oksitosien en endorfiene.
- Saam Lag: Stel endorfiene vry, wat positiewe assosiasie versterk.
- Dade van vertroue (iemand vertrou, kwesbaarheid): Versterk oksitosien-bane.
- Gedeelde traumatiese & ervarings: Verhoog vasopressien en dopamien, wat verbinding versterk.
Geestelike Verbondenheid:
Wat die Jesus-beweging egter uniek maak, is dat ons nie net deur gemeenskaplike belangstellings of gedeelde ervarings verenig word nie, maar deur ons eerstehandse ontmoeting met Jesus Christus. Ons deel ‘n geloof in Hom—Sy sterwe en opstanding, en die lewende werk wat Hy nou in ons doen. Ons storie is een van selfverloëning, die kruis opneem, en geloof wat prakties uitgeleef word. Dit is hierdie diep, geestelike verbondenheid wat ons werklik aan mekaar bind. Die teendeel is ook, dat wanneer ons nie meer naby in Christus ons bestaan vind nie, is daar ook nie meer rede vir ons om vriende te bly wees nie. Want ons het niks anders wat ons genoegsaam verbind nie.
1) Saam Bid – Geestelike konneksie.
Wanneer mense saam bid, verenig hul geestelik band voor God. Gebed bou vertroue, kwesbaarheid en belyning met God se wil. Jesus het vir Petrus gebid (Luk. 22:32) en sodoende hul geestelike band versterk.
2) Aanbidding & Die Belewenis van God se Teenwoordigheid Saam
Wanneer ons saam met ander aanbid, kom ons gees in harmonie met God en met mekaar. In Handelinge 2:1-4 is hulle almal met die Heilige Gees vervul, en is ontvang verskillende nasies, EEN geestelike taal.
3) Gedeelde Struggles wat ons Saam Oorkom
Dieper bande word in die smeltkroes van vuur gesmee—wanneer mense saam geestelike stryd voer, vorm hulle onbreekbare bande. Paulus se band met Timoteus (Phil 2:20-22) is versterk deur gedeelde bediening en lyding.
4) Lewe Spreek & Mekaar Bemoedig
Spreuke 18:21 sê: "Dood en lewe is in die mag van die tong."
Wanneer ons geloof, waarheid en bemoediging spreek, bou ons geestelike versterking in mekaar.
5) Mekaar se Laste Dra (Gal. 6:2)
Om iemand anders se emosionele, geestelike en fisiese laste te dra, verenig ons harte. Ware geestelike verbondenheid oorleef toetse, mislukkings en beproewings.

Die EENHEID wat binne die liggaam van Christus bestaan is 'n geskenk!!
Hierdie is 'n baie belangrike punt om te verstaan!! Ons kan eintlik nie hierdie goddelike eenheid bewerk nie, ons moet wel hierdie EENHEID bewaar!! Mense wat werklik IN Christus se geregtigheid leef beleef eenheid, ten spyte van taal en kulturele verskille. Het jy al 'n gelowige van 'n ander etnisiteit bv. op 'n lughawe onmoet, en onmiddelik voel jy een met die persoon?
wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra
en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is. (Eph 4:1-6)
Wat Het Ons in die Begin Reg Gedoen?
Die LIGGAAM beginsel is 'n uitstaande kenmerk van Harvester sedert ons ontstaan. In die vroeë jare van Harvester het mense sterk gevoel dat hulle deel is van iets nuuts. Dit het soos 'n beweging gevoel, nie net 'n kerk nie:
· Mense het uit gebroke, dooie kerklike strukture gekom en 'n vars ontmoeting met Jesus gehad.
· Alles was nuut, en dit het 'n opwinding en dinamiek gebring.
· Elke persoon was 'n medeskepper van iets wat God besig was om te doen.
· Die bonatuurlike was wydverspreid en werklik.
· Verandering was tasbaar; mense het bereidwillig offers gebring vir hierdie nuwe uitdrukking van die kerk.
Die Groei van die Vroeë Kerk
Hoe het 'n klein, onbekende messiaanse beweging aan die rand van die Romeinse Ryk 'n klassiek-heidense regering omver gewerp en die dominante geloof van die Westerse beskawing geword?
Die vroeë kerk het as 'n klein groep begin:
Handelinge 1:14-15 noem 120 gelowiges. Handelinge 4:4 noem 5,000. Teen Handelinge 21:20 was daar 'menigte duisende Jode' wat in Jesus geglo het. Teen 300 n.C. was daar 5-7 miljoen Christene. Hierdie eksponensiële groei wys dat die vroeë kerk iets reg gedoen het. Hierdie beweging was so aantreklik, dat die regering van die dag uiteindelik dit nie langer probeer keer het nie, maar eerder probeer integreer het.
Waarom Het die Kerk Gegroei?
· In die antieke wêreld was familie die kern van sosiale en ekonomiese oorlewing. Om ‘n nuwe geloof aan te neem, kon beteken dat jy jou familie verloor en verwerp word. Christene het ‘n alternatiewe gesinsmodel geskep – een waar mense as broers en susters aanvaar is, ongeag hulle biologiese afkoms.
· Die kerk het sosiale sekuriteit gebied, iets wat mense nie kon bekostig om te ignoreer nie. Weduwees, armes en verstotenes het 'n tuiste gevind. Christene het mekaar en buitestaanders met buitengewone liefde en omgee behandel, veral tydens rampe soos die pes.
· Terwyl ander mense siekes en sterwendes laat vaar het, het Christene gebly en hulle versorg. Dit het gelei tot hoër oorlewingsyfers, wat beteken het dat Christene langer leef en dus op die langer duur hulle invloed verbreed.
· Hierdie selfopofferende liefde het ‘n enorme impak gehad en mense getrek tot die geloofsgemeenskap. Die aristokrasie, denkers, hervormers, gemeenskap bouer tipe mense het aanklank gevind met die kerk, omdat hulle die algehele sosiale verval van die Romeinse Kultuur nie meer kon uitstaan nie.
· Die vroeë kerk was deurdrenk met wonderwerke en bonatuurlike ervarings wat hulle geloof ‘n werklikheid gemaak het, en deur gewone alledaagse mense verrig is. Hierdie was 'n onaanvegbare onteenseglike bewys van hulle egtheid en oortuiging van waarheid. Hierdie leefwyse toon werklike resultate. Soos mense aanklank vind met 'n sekere dieet, omdat dit eenvoudig werk, en die regte langdurige resultate lewer.
· Hierdie ervarings het mense se verbondenheid met God en mekaar versterk en ‘n gevoel van ek is deel van iets groters geskep. Elke gelowige het eienaarskap geneem van die gemeenskap van gelowiges. Niemand het vir 'n leier gewag nie. Almal het deelgeneem en saam gebou aan die onderlinge welheid van die liggaam. (Eph 11:15-16; 1 Cor 14:26)
· Die Romeinse samelewing het ‘n lae geboortesyfer gehad, deels weens hoë sterfdes tydens geboorte (veral van dogters). Christene het aborsie veroordeel en het hoër geboortesyfers gehad, wat gelei het tot ‘n natuurlike bevolkingsgroei van die kerk. Christelike vroue het sterker regte en veiligheid in die kerk beleef, wat die geloof aantrekliker gemaak het vir gesinne.
· Die vroeë kerk het onder ernstige vervolging gely, maar Christene se bereidheid om te sterf vir hulle geloof het mense beïndruk. Martelaars is as helde beskou, en hulle voorbeeld het mense se geloof versterk en nuwe bekeerlinge geïnspireer.
· Mense het meestal deur vriendskap- en familiebande tot geloof gekom.
· Die kerk het ‘n veelrassige en klasoorbruggende gemeenskap geword, iets wat in die Romeinse samelewing ongekend was.
· Die vroeë Christelike leefstyl was aantreklik: geen losbandigheid, geen korrupsie, ‘n hoë etiese standaard en ‘n verbintenis tot reinheid. Hulle etiese kontras met die Romeinse sekulêre verval van die wêreld het heidene laat wonder oor die waarheid van hulle geloof. Soos tans besig is te gebeur met die Muslim geloof.
· Anders as ander godsdienstige bewegings, was die Jesus-beweging nie afhanklik van ‘n enkele leier ná Jesus se dood nie. As gevolg van die vervolging veral van die leiers in die eerste 200 jaar, was daar nie plek vir charismatiese persoonlikhede nie, maar wel leiers wat met opregtheid and deernis ten spyte van lyding, en selflose opoffering voorgeloop het. Dit was ‘n volhoubare, gedesentraliseerde beweging met gewone mense wat die evangelie versprei het.[1]
Gewone ordinêre Mense Verrig die Onmoontlike ("Ordinary Radicals")
Die eerste gelowiges was gewone, eenvoudig mense sonder groot sosiale onvloed en welvaart. Jesus het gesterf, en selfs die dissipels was eenvoudige mans sonder veel invloed. Maar dit was juis hul eenvoud en die krag van God deur hulle wat mense oortuig het dat hierdie geloof eg was. Selfs aristokrate en intellektuele was aangetrokke tot die radikale beweging van eenvoudige mense wat bonatuurlike dinge doen.
1. 1 Korintiërs 1:26-29
"Let net op julle roeping, broeders, dat daar nie baie wyses na die vlees, nie baie magtiges, nie baie edeles is nie. Maar wat vir die wêreld dwaas is, het God uitgekies om die wyse te beskaam, en wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterk dinge te beskaam; en die onedelstes van die wêreld en die veragtes het God uitgekies, en die wat niks is nie, om die wat iets is tot niet te maak; sodat geen vlees voor Hom sou roem nie."
2. Handelinge 4:13
"En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien, en bemerk dat hulle ongeleerde en eenvoudige mense was, was hulle verwonderd; en hulle het hulle herken dat hulle saam met Jesus gewees het."
3. Jakobus 2:5
"Luister, my geliefde broeders: Het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies om ryk in die geloof en erfgename van die koninkryk te wees wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?"
4. 1 Korintiërs 2:3-5
"En ek was by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my woord en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in betoning van die Gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God."
5. Matteus 11:25
"In daardie tyd het Jesus gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, omdat U hierdie dinge vir die wyse en verstandiges verberg en dit aan kindertjies geopenbaar het."
As ons wil sien dat mense werklik deel word van die Liggaam van Christus, moet ons meer doen as om net die "regte" geloofsoortuigings te leer. Mense moet voel dat hulle behoort. Wanneer die kerk 'n sterker gemeenskap en familie bied as die wêreld, wanneer die bonatuurlike sigbaar is, wanneer mense sien dat dit nie net om 'n persoon of 'n leierskap gaan nie, maar dat elkeen 'n rol het, dan begin die kerk eksponensieel groei.

Die uitdaging vir vandag is: Hoe kan ons daardie vroeë kerk-dinamika herwin sodat ons nie net 'n verbeterde weergawe van die huidige kerk bou nie, maar 'n beweging van mense wat werklik in Christus behoort?
Wat Moet ons Prakties Doen om in Dieper Verbondheid met Mekaar te Leef in die Lokale Gemeenskap van Gelowiges:
Deur te put uit 3,000 jaar se geskiedenis en sy persoonlike ervaring, stel Charles Vogl sewe beproefde beginsels voor vir die ontwikkeling van volhoubare en verbonden gemeenskappe. Hierdie beginsels sluit in:
- Binne sirkel: ’n Pad na groei deur ons deelname. Geestelike leierskap en tradisies dra by tot gemeenskapsvorming. Leiers gee die toon aan, en help om strategiese tradisies te vestig wat sosiale kohesie bevorder. Familie-oordrag van leierskap versterk 'n gemeenskap se identiteit en eenheid. "Kom ons doen dit saam..." Jesus het 'n binnekring van drie dissipels gehad, toe die 12, toe die 70, die 120 en die skares.
- Simbole: Dinge wat idees verteenwoordig wat vir ons belangrik is. Simbole, naam en assosiasie laat (Branding) gee mense 'n naam, en 'n doelstelling, waarmee hulle vereenselwig. Ons voel deel, ons begin soos mekaar lyk, en aantrek, ons doen saam, en word saam gevorm. Die eerste christene was bang om hulleself te publiek te adverteer, vir vrees vir vervolging. Daarom is daar min simbole sigbaar in argelogiese opgravings buiten hier en daar die ichtus, die vis, en die kruis tekens. Hulle klem was op die "branding" van die hart!
- Stories: Dit wat ons deel en wat ons waardes aan onsself en ander openbaar. Gedeelde ervarings van genesing en konneksie deur gemeenskaplike etes, en deur mekaar te bedien met die hulp van ons geestelike gawes, en spesiale genesingsdienste skep 'n verbintenis met die spirituale, ewige en onveranderlike wêreld. Getuienisse versterk sosiale bande. Wanneer lidmate hul persoonlike verhale deel, bou dit empatie en solidariteit. Moderne digitale praktyke soos foto’s en video’s deel, dra by tot gemeenskaplike konneksie, veral in 'n digitale era. Sosiale media help lidmate om emosionele bande te behou buite fisiese kerkbyeenkomste.
- Tempel: ’n Spesiale plek waar ons ons gemeenskap vind. Die kerk is meer as net ’n plek van aanbidding—dit funksioneer as ’n wederkerige steunnetwerk wat vertroue, eenheid en ’n gesamentlike doel onder sy lidmate bevorder. Kerk is vir ons nie net 'n gebou nie, maar hoe ons JESUS BELIGGAAM, hoe ons Hom vlees maak in mekaar se lewens. Daardie oomblik kom God se Koninkryk hier op aarde soos wat die in die hemel is.
- Rituele: Die dinge wat ons doen en wat betekenis het. Geestelike rituele speel ’n sleutelrol in die skep en versterking van sosiale bande tussen lidmate. Gemeenskaplike nagmaal, lofprysing, gebede en liturgiese aksies bevorder 'n gevoel van behoort en identiteit. Die dinamiese aard van prediking word die bewoording van ons gesamentlike bewussyn, en fokus die groepering om God se NOU-This-Is-That.
- Inisiasie: Die aktiwiteite wat 'n nuwe lid identifiseer. Mens word nie maar net deel nie. Vir die eerste kerk was Bekering, Wedergeboorte, Doop in Water, en vervulling met die Heilige Gees die inisiasie rites waardeur ons Sy geregtigheid en kindskap in Christus ontvang. (Sien Hand 19:1-5)
- Grense: Die grens tussen lede en buitestaanders. Sosiale kapitaal verbondenheid speel 'n besondere rol in intimiteit en wedersydse sorg tussen lidmate, wat mekaar ondersteun in persoonlike en sosiale uitdagings. Wanneer ons fisies betrokke raak in mense se lewens, leer ons mekaar om 'n heel ander vlak ken. Baie mense maak net ontrekkings uit die gemeenskap, sonder om enige iets te deponeer. Daar is ook 'n duidelike skydslyn, tussen die heilige, toegewyde "ons" binne die kerk, en die afvallige, rebelse, goddelose "buite". Die kerk verwelkom almal net soos hulle is, maar ons bly nie dieselfde nie.
[1] The Rise of Christianity: A Sociologist Reconsiders History" by Rodney Stark
