Verslaan die draak deur Heiligmaking en Naasteliefde

“Waar ware liefde is, sal jy heiligmaking sien; waar ware heiligmaking is, sal jy ongeveinsde liefde sien.”

Verslaan die draak deur Heiligmaking en Naasteliefde

“Verslaan die draak deur die Krag van Sy Gesproke Woord”

Ons leef in ’n wêreld vol storms: Suid-Afrika staar 30% tariewe op sy uitvoere in die gesig, wat armoede en werkloosheid nog dieper dreig te maak; die oorloë in Israel en Oekraïne ruk die wêreldorde uitmekaar; ons hoor daagliks van die Islamitiese aanslag op Christene in lande soos Nigerië, Iran en Sirië. Selfs in ons eie strate sien ons hoe mense wat hulleself “Christene” noem, maar nie God ken nie, blindelings geld, plesier, status en eiebelang agternasit, terwyl huwelike leeg en koud word, want die ander is “nie meer teenwoordig nie. Intussen neem terminale siektes en verskeie plae van moderne siektes steeds toe – ten spyte van die grootste mediese vooruitgang in die geskiedenis. Dit alles laat miljoene mense met ’n gevoel van wanhoop, onsekerheid en die diep vraag: Waar is God?

En dit is juis in só ’n wêreld, vasgevang tussen vrees en vrae, dat Petrus – die apostel wat self gestruikel en geval het, maar deur Christus herstel is – sy stem laat hoor met ’n boodskap van hoop, en sekerheid wat nie kan vergaan nie.

Verklarende Verduideliking van (1 Petrus 1:22–25) 

Die eerste brief van die apostel Petrus word algemeen gedateer omstreeks 64 n.C., dertig jaar na Jesus se upstanding in die tyd van Nero se vervolging van die vroeë Christene in Rome. Wat opvallend is, is die diepte, insig, gesag en literêre vlotheid waarmee hierdie brief geskryf is – eienskappe wat jy nie sou verwag van die eenvoudige visserman van Galilea nie.  Dit was immers dieselfde Petrus wat Jesus probeer tereg wys oor die lyding wat Hy sou verduur en hard berispe is: “Gaan weg agter My, Satan!” (Matt. 16:22–23). Dit was hy wat by die verheerliking op die berg ongepas voorgestel het om drie hutte te bou vir Moses, Elía en Jesus (Matt. 17:4), asof dié hemelse heerlikheid in 'n gebou vasgevang sou kon word. Dit was hy wat in oorhaastige ywer die oor van Malgus, die hoëpriester se dienaar, met ’n swaard afgekap het (Joh. 18:10), en later in vrees drie maal verklaar het dat hy Jesus nie ken nie (Luk. 22:57–60). Hierdie selfde Petrus, eens so roekeloos en vol van sy eie krag, skryf nou met ’n stem vol genade, wysheid en vaste geloof – ’n duidelike bewys van hoe radikaal ’n mens kan verander in Christus. In 1 Petrus lees ons nie meer die stem van ’n onstuimige visserman nie, maar die stem van ’n gesoute apostel, ’n ware herder, wat ander versterk terwyl hy self getransformeer  is (Luk. 22:32).

Petrus skryf aan gelowiges aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadócië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, wat as vreemdelinge immigrante en verstrooides in die wêreld leef.  

Pontus, Galasië, Kappadócië, Asië en Bithinië was vyf Romeinse provinsies in die destydse Klein-Asië (die huidige Turkye), waarheen Petrus sy eerste brief gerig het; Pontus lê aan die Swartsee en was bekend vir sy afgeleë berge en vroeë Christelike gemeenskappe; Galasië, in die binneland, is veral onthou uit Paulus se brief aan die Galasiërs en was ’n streek van gemengde Keltiese en Grieks-Romeinse bevolking; Kappadócië, ’n droë hooglandstreek met sy unieke rotsformasies, het ’n sterk Joodse diaspora en later ’n invloedryke Christelike teologiese tradisie (o.a. die Kappadosiese Vaders) opgelewer; Asië, met Efese as hoofstad, was ’n welvarende en strategiese provinsie, waar Paulus lank bedien het en Johannes later die Openbaring ontvang het; en Bithinië, noordwes teen die Swartsee, het groot stede soos Nikomedië en Nikea gehad, en is bekend as die plek waar vroeë Christene deur Plinius die Jongere (ca. 112 n.C.) aan die Romeinse keiser Trajanus geskryf het – ’n bewys dat die evangelie reeds vroeg diep in hierdie streke posgevat het.

'n onverganklike ewige realiteit

onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons. (1 Pet 1:4)  

Hierdie geboorte van 'n nuwe mens en volkswording vind nie plaas deur menslike pogings nie, en is nie tydelik van aard nie:

Dit is baie duidelik dat die Heidense Christine ingesluit is in hierdie verbondsbelofte wat God eertyds net met die Jode gehad het as Sy spesiale uitverkorendes. Hier nuwe nasie van heilige priesters is Jode sowel as heidene wat nou in Christus God se kinders gemaak is.  (1 Pe 1:14; 23, 2:10; 4:3) Die nalaatingskap van die nuwe geboorte is ’n nuwe erfenis – een wat beskryf word as onverganklik (nie vernietigbaar nie), onbesmet (suiwer en onbevlek), wat nie verwelk nie (altyd vars en lewend), en bewaar (veilig gehou) in die hemel vir julle. 

Vir Petrus se lesers, wat reeds afstand gedoen het van hul deel in Israel se aardse erfenis en grondgebied – die beloofde land van die vaders – en wat boonop sou ervaar hoe aardse besittings afgeneem en geplunder word (vgl. Heb. 10:34), sou hierdie gedagte van ’n seker hemelse erfenis groot vertroosting en balans bring.  Dit is duidelik uit ander verse in hierdie brief dat hierdie gelowiges vervolg was, en dit nie maklik gehad het nie: (1 Pet 1:6; 2:12, 15; 4:12, 14–16; 5:8–9).  Dit roep sterk herinneringe op aan ons Here se leringe aan sy dissipels om hul aardse besittings om te ruil vir ware, ewige rykdom (bv. Luk. 12:33–34).  

Verder verduidelik Petrus hoe heiligmaking en liefde wat uit God gebore is uit onverganklike saad die drake van die lewe verslaan.  Beide liefde en heiligmaking is onmoontlik vir die mens om vol te hou uit hulle eie krag, veral in tye van liefdeloosheid en goddeloosheid.  

Vermaning om HEILIG te lewe 

13  DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. 

Wanneer Petrus sê: “Omgord die lendene van julle verstand” (1 Pet. 1:13), gebruik hy ’n beeld wat mense van daardie tyd goed geken het. In die Ou Testament het die Israeliete by die Paasmaal hul lang klere opgetrek en vasgebind sodat hulle reg kon staan vir die reis uit Egipte. Ook werkers, hardlopers, vegters en pelgrims het so gedoen – jy trek jou klere styf vas sodat dit jou nie hinder nie, en jy span jou lyf vir aksie. Jesus gebruik ook hier term in Lukas 12:35 " LAAT julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand." m.b.t. die maagde wat hulleself gereed moes maak. “Lampe brandend” beteken: hou jou lig aan, bly wakker en paraat.  Met ander woorde: Leef soos iemand wat altyd reg is vir aksie, wie se geloof sigbaar brand soos ’n lamp in die donker, en wat enige oomblik die Here se koms verwag. “Maak jou kop reg, fokus jou gedagtes, wees wakker en gereed.   Met ander woorde: “wees paraat en gefokus.” Net soos ’n atleet sy skoene vasmaak voor ’n wedloop, moet jy jou innerlike mens vasmaak met die waarheid van Christus, gereed om nie vasgevang te word deur slordigheid, vertwyfel of afleidings nie.

14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. 15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, 16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.  (1 Pet 1:13-16)

So baie mense word vasgevang in sonde omdat hulle eenvoudig nie dink oor die gevolge, die pyn en die seer wat dit vir ander bring nie. Sonde maak blind; dit laat jou net aan jou eie plesier dink. Maar Petrus wys vir die gelowiges dat ons, deur die openbaring van Christus Jesus en die ontvangs van Sy geskenk van geregtigheid, nie meer onwetend sondig nie. Nee, Hy het ons oë oopgemaak en ons verlos van die mag van misleiding van die groot leuenaar. Daarom mag ons nie weer terugval in die ou patrone van sonde nie.

Die Nuwe Testament noem sondes by die naam, en ons moet dit ook doen: hoerery, egbreuk, onsedelikheid, dronkenskap, gulsigheid, afguns, jaloesie, twis, haat, nyd, woede-uitbarstings, hebsug, gierigheid (wat afgodery is), afgodsdiens, towery, leuens, skinder, kwaadpratery, vloek, hoogmoed, trots, selfverheffing, ongehoorsaamheid aan ouers, ondankbaarheid, liefdeloosheid, wreedheid, geweldenaars, moord, doodslag, roof, steel, onregverdige handel, liefdeloosheid vir die armes, wraaksug, verharding van hart, en selfs die liefdeloosheid wat ander se nood ignoreer.(vgl. Rom. 1:29–31; Gal. 5:19–21; Kol. 3:5–9; Ef. 4:31; 1 Kor. 6:9–10) Petrus se oproep is duidelik: moenie weer vasgevang word in die strikmag van hierdie sondes nie. Ons is geroep om die ou mens af te lê en die nuwe mens aan te trek wat volgens God se beeld vernuwe word.

Vermaning om mekaar innig Lief te hê

22  As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ’n rein hart; 23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. 24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, 25           maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.  (1 Pet 1:22-25) 

Wanneer ons in Christus geheilig word, raak ons onvermydelik meer bewus van ons eie sondes—maar dikwels ook van ander se foute. Dit is ’n fyn balans. Te gereeld hoor mens hoe gelowiges vir heiligmaking bid, maar dan hul eie onvolmaakthede op ander projekteer en oorbewus raak van ander se verkeerd. Petrus wys egter: ware gehoorsaamheid aan die waarheid deur die Gees begin by liefde – “het julle julle siele gereinig… hê dan mekaar innig lief” (1 Pet. 1:22). Die waarheid vra altyd eers jou persoonlike gehoorsaamheid. En dit maak jou nederig, want nederigheid, geduld, selfbeheersing, nugterheid en dissipline is nie maklik om te leef nie.

Heiligmaking begin wanneer jy jou oë op Sy geregtigheid rig (Matt. 6:33). Soos die Israeliete na die koper slang moes kyk om genesing te ontvang (Num. 21:9; Joh. 3:14–15), so kyk ons na Christus. Hy is die Woord van geregtigheid wat aan die owerspelige vrou sê: Gaan en sondig nie meer nie (Joh. 8:11); wat vir die misdadiger aan die kruis sê: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Luk. 23:43); en wat die gebed van die tollenaar hoor: Wees my genadig, o Here, sondaar (Luk. 18:13). In Hom ontvang ons ’n nuwe identiteit – ’n nuwe geboorte, ’n nuwe wese, ’n transformasie in Christus self.  

Petrus beskryf ons nuwe identiteit as gelowiges deurgaans in sy brief: ons is wedergebore tot ’n lewende hoop (1 Pet. 1:3), erfgename van ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis (1:4), losgekoop nie met verganklike dinge nie maar met die kosbare bloed van Christus (1:18–19). Ons is wedergebore uit onverganklike saad deur die lewende Woord van God (1:23), soos pasgebore kindertjies wat voed op die suiwer melk van die Woord (2:2) Die hoogtepunt is dat ons nou ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie en God se eiendomsvolk is, wat geroep is om die deugde van Hom te verkondig wat ons uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig (2:9–10).

Juis dán in CHRISTUS hou jy op om net na binne te staar. Jy begin die wet van Christus vervul deur mekaar se laste te dra (Gal. 6:2). God het ons twee oë gegee nie om vasgevang te wees in eindelose introspeksie nie, maar om na buite te kyk: om ander opreg en sonder skyn lief te hê, met deernis wat in hulle skoene klim en hulle wêreld probeer verstaan. En ons kán so leef omdat ons die onverganklike Woord van redding en die geregtigheid van Christus ontvang het.

Heiligmaking is nie self-verbetering nie; dit is om Sy identiteit te ontvang – Sy onverganklike Woord as saad van nuwe menswees in jou te laat wortel – en dan, vanuit daardie nuwe lewe, ander vurig lief te hê.

“Waar ware liefde is, sal jy heiligmaking sien; waar ware heiligmaking is, sal jy ongeveinsde liefde sien.”
“Moenie jou heiligmaking wys sonder liefde nie, en moenie jou liefde wys sonder heiligmaking nie.”

Jy kan nie in die land van GENADE en OORDEEL tergelyke tyd leef nie!!

👉 Om sonde te oorwin en Christus se identiteit te ontvang, moet jy in GENADELAND leef en handel.

Die oomblik as jy jou fokus skuif na OORDEELLAND – waar jy net kritiek lewer, foute raaksien en dit uitwys – het jy reeds jou burgerskap daar ingeskryf. En as jy in OORDEELLAND woon, moet jy reg wees om ook self geoordeel te word.

Maar in GENADELAND is die reëls anders: jy ontvang vergifnis, daarom gee jy vergifnis; jy leef uit liefde, daarom bewys jy liefde; jy is vrygemaak, daarom maak jy ander vry.

🙌 Jy kan nie sê jy het ’n verhouding met die Here, maar jy behoort nie en is nie geïntegreer in ’n plaaslike gemeente nie.

🙌 Jy kan nie sê jy is lief vir die Here, maar jy verneder jou kind voor sy of haar maats nie.

🙌 Jy kan nie sê jy het God lief, maar jy haat, verag of veroordeel jou broer nie.

🙌 Jy kan nie vol van die Heilige Gees wees, maar jou lewensmaat verag en aanhoudend kritiseer nie.

🙌 Jy kan nie sê jy hoor God se stem, maar daar is geen groei, geen verandering in jou lewe nie.

📌 ’n Ware verhouding met Christus is sigbaar in hoe jy ander behandel.

Waar daar liefde is, daar is heiligmaking. Waar daar heiligmaking is, daar is liefde.

Heiligmaking sonder liefde is net godsdienstigheid.