Verstandige perspektief op die Seën van die Here
Die seën van die Here is Sy
Dis een van die redes hoekom die Bybelstories oor die eeue heen waar en relevant bly: Die Here maak nie mooi praatjies, om ons toewyding te probeer koop nie. Hy verkoop nie vir jou ’n “maklike pad” met ’n geestelike plakker op nie. God is waarheid, eerlik, nugter, en realisties oor die toekoms. Dit is die vyand wat vir jou versoek met al die lekker eerste, en dan kom die elende later.
Toe Moses by die brandende bos staan, was dit nie: “Gaan net na Farao toe en alles gaan seepglad verloop” nie. God het hom vooraf gewys daar gaan weerstand wees, dat Farao nie sommer gaan buig nie, dat daar ’n stryd voorlê. (Eks. 3–4; vgl. Eks. 7:3–4) Moses se roeping was nie ’n VIP-kaart na gemak nie—dit was ’n uitnodiging tot gehoorsaamheid, met ’n prys om te betaal.
En dan Paulus. Toe Ananías vir hom kom bid na sy ontmoeting met Christus, sê die Here iets wat baie mense vandag nie op ’n vakansiereispamflet sal druk nie: “Ek sal hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” (Hand. 9:16) Die Here belowe nie vir Paulus ’n fluweelpad nie; Hy belowe hom ’n getroue teenwoordigheid te midde van ’n moeilike roeping.
Die Here maak nie beloftes was nie waar word nie. Hy verkoop nie 'n kar, sonder om jou van al die gebreke te vertel nie. Want Hy weet: 'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig; 'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe. (Spreuke 13:12)
Geloof is nie goedkoop nie!
As ons eerlik is… kom goeie én slegte dinge oor almal.
Hier is nog ’n waarheid wat die Bybel nie probeer wegsteek nie: negatiewe én positiewe dinge gebeur met alle mense—ongeag status, roem of rykdom. Party mense is beroemd en depressief. Party mense is arm en vol vrede. Party mense is ryk en siek. Party mense is “onsigbaar” en tog geestelik sterk. Die lewe werk nie soos ’n netjiese Excel-formule nie.
Prediker sê dit in sy droog-humor manier:
Verder het ek in hierdie wêreld gesien:
dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie,
nie die sterkstes wat die oorlog wen nie,
nie dié met wysheid wat kos het nie,
nie die verstandiges wat ryk word nie,
nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.
Alles word bepaal deur tyd en geleentheid.
Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie.
Soos visse wat gevang word in 'n net,
soos voëls wat gevang word in 'n wip,
so word die mens gevang as die teëspoed kom,
as dit hom skielik oorval. (Pred. 9:11–12).
Jesus self sê die reën val op regverdiges én onregverdiges (Matt. 5:45). En dis hoekom dit gevaarlik is om seën net te meet aan “wat gebeur” in jou omstandighede.
Seën is nie net ’n gebeurtenis nie. Seën is ’n verhouding. Dis God-met-ons—Immanuel—ook wanneer ons teëspoed in die oë staar.
Die hartklop-metafoor: op en af beteken jy’s lewendig.
Ek hou van daardie beeld wat Celna Genis onlangs tydens ons Dankdiens gebruik het: die lewe is soos ’n hartklop-monitor. Daar is oppe en affe. Pieke en valle. Sukses en verlies. Lig en donker. En eintlik is dit goeie nuus, want as dit net ’n reguit lyn is… dan is jy dood. ’n Flatline is nie vrede nie; dis die einde.
So wanneer jou lewe soms op en af gaan, beteken dit nie God het jou los nie. Dit beteken jy is nog in die storie. Jy is nog op pad. Jy is nog in die oefenskool van die Koninkryk.
Die Nuwe Jaar: hoekom hoop ons altyd dit gaan “beter” wees?
Die einde van die jaar kyk ons terug en sê: “Jinne, wat ’n jaar.” En dan kyk ons vorentoe met daardie stille hoop: “Volgende jaar móét beter wees.”
En dan kom die nuwejaarsvoornemens. Ons maak lysies. Ons belowe: “Nou gaan ek regtig…” En as ons eerlik is, hou ons dit nie. Nie omdat ons sleg is nie—maar omdat ons mense is. Ons onderskat die ou patrone, die ou vrese, die ou gewoontes. Ons dink ’n nuwe kalender gaan ’n nuwe hart outomaties bring.
Maar ’n nuwe jaar verander nie die wêreld se gebrokenheid nie. Dit verander nie die realiteit dat ons in ’n wêreld leef waar daar beproewing, versoeking, verdrukking is nie. (Joh. 16:33)
Wat die nuwe jaar wél kan verander, is hoe jy kyk, en wie jy vertrou.
Wat as ons die nuwe jaar in die oë kyk… met nugtere geloof?
Dalk is die grootste genade vir die nuwe jaar nie dat dit pynloos gaan wees nie, maar dat ons dit VERSTANDIG binnegaan. Nie naïef nie. Nie sinies nie. Maar met nugtere geloof.
Ek onthou hoe iemand eenkeer vir my gesê het: “Jan, as God regtig vir my lief is, hoekom voel my lewe soos ’n hindernisbaan?” Ek het nie ’n vinnige, slim antwoord gehad nie—En toe tref dit my: ons het iewers tot die valse afleiding gekom dat God se liefde altyd beteken "everything keeps going right", terwyl die Bybel baie keer wys God se liefde beteken meer vorming in volwassenheid in Christus.
Psalm 66 sê dit so eerlik soos ’n boer wat die weer lees: “U het ons beproef… U het ons in die net gebring… ons het deur vuur en water gegaan; maar U het ons uitgelei in oorvloed.” (Ps. 66:10–12). Let mooi op: die psalm sê nie God bring jou uit vuur en water nie; hy sê jy gaan deur vuur en water. En dan, ja—Hy bring jou uit in “oorvloed”, “ruimheid”, “rich fulfillment”—maar die pad daarheen is dikwels nie ’n roltrap nie. Dis ’n staptoer.
Wat as die “prosperity gospel” net ’n halwe foto is?
Kom ons praat reguit. Die prosperity gospel klink aantreklik, want dit behels net ’n deel van die waarheid—God is goed, God voorsien, God is ’n liefdevolle Vader!
Ja, God wil die beste vir jou. Maar God se “beste” is nie altyd “die meeste gemak” nie. God se beste is dat jy meer soos Christus word. (Rom. 8:29) En soms is die enigste manier om sekere afgode uit jou hart te kry soos: beheer, trots, selfgenoegsaamheid, mensevrees—is om jou in ’n seisoen te bring waar jy nie meer jou eie redder kan wees nie.
Paulus skryf nie: “Almal wat godvrugtig wil lewe, sal ’n maklike pad hê” nie. Hy skryf: “Almal wat godvrugtig wil lewe… sal vervolg word.” (2 Tim. 3:12) Dis nie ’n vloek op gehoorsaamheid nie; dis ’n teken dat lig en donker nie vriende is nie.
Soos Jakobus sê: beproewing vorm volharding; volharding vorm volwassenheid. (Jak. 1:2–4)
Soos Paulus self leer: God se krag word juis in swakheid volbring. (2 Kor. 12:9–10)
En soos Jesus belowe: "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh. 16:33)
“Here, ek weet nie wat kom nie. Maar ek weet Wie saam met my gaan.”
Het jy al opgemerk: gehoorsaamheid koop nie outomaties gemak nie?
Dit is een van die groot misverstande wat mense laat struikel: “As ek God gehoorsaam, moet die Here my mos seën.” En dan bedoel ons: my omstandighede moet beter raak. Ons voel as te ware "entitled" tot die seën van die Here.
Maar kyk na die Bybel se rolverdeling:
Josef doen reg… en beland in ’n put en in ’n tronk. Tog sê die teks herhaaldelik: “Die Here was met Josef.” (Gen. 39:2, 21) Josef was 17 toe sy broers hom verkoop het (Gen. 37:2, 28). Hy het toe ’n tyd lank as slaaf in Potifar se huis gedien, en daarna in die tronk beland. Die Bybel sê Josef was 30 jaar oud toe hy voor Farao gestaan het en oor Egipte aangestel is (Gen. 41:46). Daarom praat Bybelkenners dikwels van “13 jaar” se “wag-tyd” (van 17 tot 30). Josef se seën was nie dat hy vinnig uitkom uit die tronk nie; Josef se seën was dat hy nie alleen daarbinne is nie—en dat God sy storie aan die bou is wanneer die menslike storie lyk of dit tot stilstand kom.
Job vrees God… en sy wêreld val uitmekaar. En toe begin die teologie-kenners om hom sit met goedkoop verklarings. Maar Job sê iets wat ek al by mense in rou gesien het—daardie rou-waarheid:
“Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud. Ek volg Hom waar Hy gaan, ek hou op sy pad en draai nie af nie.” (Job 23:10)
En dan die grootste skok van alles: Jesus—volmaakte gehoorsaamheid—loop reg in die kruis in. (Fil. 2:8) As gehoorsaamheid ’n waarborg vir gemak was, sou Golgota nooit gebeur het nie.
Is “geseënd” altyd gelyk aan “gemaklik”?
Ek wil jou ’n vraag vra wat mens gewoonlik eers vra wanneer die lewe jou met die rug teen die muur druk: Wat as God se seën nie altyd soos jou idee van seën lyk nie?
Ons praat maklik oor “die seën van die Here” asof dit ’n soort hemelse stempel is wat beteken: dinge gaan nou glad verloop, jou planne gaan werk, jou liggaam gaan saamwerk, jou bankrekening gaan glimlag, en jou kinders gaan nooit rebels wees nie. Dis mos hoe “geseënd” voel… né?
Jesus herbewoord “geseënd” — Hy sien die seën in armoede, algehele afhanklikheid van God, die donker rouproses, en selfs vervolging. (Matt. 5:3–12) Hierdie is een van die Koninkryk agterstevoor, onderstebo perspektiewe: As jy wil lewe moet jy sterwe, as jy wil lei moet jy dien, as jy eerste wil wees verkies eerder om laaste te wees, as jy wil hê leer om eers te gee... as jy moeilike omstandighede beleef... sien dit as 'n seën! Soek as te ware die seën van die Here in die MOEILIK!
Die oomblik as jy jou omstandighede as 'n seën begin beleef, het die vyand sy mag oor jou verloor. Jou vreugde en vrede is terug ten spyte van wat gebeur het.
Please present my cordial regards to your brother. I sympathize deeply in his misfortunes. I use this expression, in conformity to common usage, but it does not express the sentiments of my heart. I am convinced that the loss of wealth, worldly honor, persecutions, are the best instruments to unite us to Jesus Christ. All evils, or apparent evils, are great blessings when they unite us to our All in All. I pray God, to sustain him. His sufferings only increase my sympathy and love for him in our Lord. My health is still feeble, but all is well in the depths of my heart. God is there. Madame Jeanne Guyon
Met haar kenmerkende spiritualiteit en wysheid pak Emily Levine haar uiteindelike uitdaging as komediant/filosoof aan: sy maak sterwe snaaks. In hierdie persoonlike praatjie neem sy ons saam op haar reis om vriende te raak met die werklikheid—en vrede te maak met die dood. Die lewe is ’n enorme geskenk, sê Levine: “Jy verryk dit so goed as wat jy kan, en dan gee jy dit terug.”