Visualiseer 'n Goddelike Perspektief vir 2026

Ons moet onsself bly oriënteer volgens vaste koersbepalings op ons instrumentpaneel: God se Woord, God se Gees, en God se Liggaam. Kry jou fokus reg vir die nuwe jaar!

Visualiseer 'n Goddelike Perspektief vir 2026
Visualiseer 'n Goddelike Perspektief vir 2026

Visualiseer jou Jaar met Goddelike Perspektief begin by ’n eenvoudige waarheid: ons as gelowiges is mense wat glo—en geloof is om die onsienlike te “sien”, om vanuit die Koninkryk se realiteite en met die Ewigheid se perspektief na die lewe te kyk. Maar elke dag word ons oorlaai met ander mense se idees, vrese en prentjies oor môre. Daarom moet ons—soos ’n vlieënier in digte wolke—nie op gevoelens, nuusopskrifte of ons eie sintuie staatmaak nie. Ons moet onsself voortdurend heroriënteer volgens God se “instrumentpaneel”: 

Sy Woord, Sy Gees en Sy Liggaam (die kerk)

Visualisering ís kragtig—dit kan óf ’n Godgegewe vermoë wees wat jou hart leer om waarheid, gehoorsaamheid, moed en hoop vooruit te “inoefen”, óf dit kan ontaard in wensdenkery wat verantwoordelikheid verdoof en ’n vals “sekerheid” probeer skep sonder bekering, wysheid en werk. Daarom: kry jou fokus reg vir die nuwe jaar—nie deur jou eie prentjies te aanbid nie, maar deur jou verbeelding in Christus te laat dissiplineer.

Wat ’n wonderlike en kragtige gawe is verbeelding: dit is daardie innerlike oog wat kan sien wat nog nie bestaan nie, en tog begin bou asof dit reeds moontlik is. Kyk maar na Ripley’s Believe It or Not en die Guinness Book of Records—mense wat soms met die vreemdste maar ook soms die vindingrykste idees vorendag kom: rekords, uitvindings, kunswerke, ongelooflike prestasies; dit wys vir ons dat die menslike gees ’n ongelooflike vermoë het om te droom, te ontwerp, te oefen en te skep. Maar verbeelding sonder tuels kan ook ’n wilde perd word—dit kan weghardloop met vreesflieks, selfverheffing, misrekende begeertes en leuens. Daarom nooi God ons nie om verbeelding te stop nie, maar om dit te heilig: om die teuls in Christus se hand te sit, sodat dieselfde verbeelding wat vreemde dinge kan uitdink, nou kan begin sien wat God sien—Sy Koninkryk, Sy wil, Sy mense, en ’n lewe wat Hom eer—en dit dan met wysheid, gehoorsaamheid en liefde prakties kan uitbou.

Vrees, teleurstelling en foute werk soos ’n “yslaag” oor die verbeelding: nie omdat jy skielik dom of lui geword het nie, maar omdat jou hart vir oorlewing begin kies bo risiko. Ná ’n paar harde stampe begin ’n mens jou drome “afskaal” tot iets veilig, klein, beheerbaar—en jy noem dit wysheid, maar baie keer is dit eintlik net selfbeskerming. Dis soos ’n kind wat een keer hard geval het: hy hardloop nie minder omdat hy nie kan nie; hy hardloop minder omdat hy onthou.

Die probleem is: vrees beroof jou van God se toekoms vir jou. Teleurstelling steel goddelike verwagtings. Foute steel selfvertroue. En al drie saam skryf ’n innerlike storie wat sê: “Moenie weer hoop nie… moenie weer probeer nie… moenie weer glo nie.” Dan word jou verbeelding nie meer ’n venster nie, maar ’n tronk.

Die Bybel gee vir jou ’n heilige fokus om mee te visualiseer

  • Hebreërs 12:2 (NLV): “ons oë vasgenael op Jesus …”  
  • Kolossense 3:2 (NLV): “Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie.”  
  • Filippense 4:8 (NLV): “vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.”  
  • Romeine 12:2 (NLV): “laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe …”

Met ander woorde: Christelike “visualisering” is nie om jou drome te aanbid nie—dis om jou binnewêreld te laat herbedraad sodat jy God se wil kan onderskei en doen.  Jy begin God se DROOM sien! Hoe meer jy SY wil, hemel, en koninkryk begin sien, hoe meer wil ons dit sien realiseer in hierdie lewe, hier en nou! 

Dieselfde verbeelding kan ook donker draai (die Bybel waarsku reguit)

Die Skrif is eerlik: menslike innerlike beelde/idees kan korrup raak—en as dit korrup raak, begin dit jou loop bepaal.

Genesis 6:5 (NLV): “Hy het opgemerk dat hulle gedagtes gedurig sleg was.”  

Genesis 8:21 (NLV): “die mens se gedagtes is boos van sy jeug af.”  

Deuteronomium 29:19 (NLV): “Ek is veilig, selfs al hou ek aan om my eie harde kop te volg …”  

Spreuke 6:18 (NLV): “’n hart wat slegte planne beraam …”  

En Jeremia slaan hierdie spyker soos ’n trom: mense “stap” volgens hulle innerlike storie eerder as God se Woord.

Jeremia 7:24 (NLV): “Hulle het hulle eie idees gevolg …”  

Jeremia 9:14 (NLV): “hardkoppige mense wat net doen wat hulle wil …”  

Jeremia 11:8 (NLV): “Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg …”  

Jeremia 13:10 (NLV): “Hulle is hardkoppig en doen net wat hulle wil. Hulle dien ander gode.”  

Jeremia 18:12 (NLV): “Ons sal aanhou lewe soos ons wil …”  

Jeremia 23:17 (NLV): vals troos vir hardkoppigheid: “Die HERE sê julle sal vrede hê! …”  

Die sleutel: jou verbeelding moet onder Christus se gehoorsaamheid kom

Hierdie is 'n dissipel-pad—nie om gedagtes net te “voel” of te “volg” nie, maar om hulle in lyn te bring met 'n Goddelike plan, 'n strategie, om te bou.

4Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die argumente, 5asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. 6Ons is ook oorgehaal om met elke ongehoorsaamheid af te reken, sodra julle eie gehoorsaamheid in plek geval het. 2 Korintiërs 10:5 (NLV)

Jy sien dit in die Bybel se “ontwerp”-oomblikke

  • Noag “manifesteer” nie ’n ark nie—hy ontvang ’n patroon en gehoorsaam dit (heilige verbeelding + harde werk).
  • Moses en die tabernakel: detail, materiaal, vakmanskap—verbeelding onder God se opdrag.
  • Besaleël en Oholiab: gawes, kuns en kundigheid—maar steeds onder God se bedoeling (kreatiwiteit wat aanbid, nie wat afgod word).

Dieselfde enjin. Verskillende bestuurder.

  • Wanneer vrees bestuur, maak verbeelding Riller flieks. 
  • Wanneer selfsugtige begeertes bestuur, maak verbeelding self-gerigte ek-is-die-held flieks.
  • Wanneer minderwaardigheid bestuur, maak verbeelding 'n sprokie-prent.
  • Wanneer onvergifnis en wrokke bestuur, maak verbeelding vernietigende en verwoes gedrewe flieks.
Wanneer Christus bestuur, word verbeelding kruisvormig: waarheid, nederigheid, moed, liefde, geduld—en gehoorsaamheid.

Wat DROOM en SIEN ek vir HARVESTER GEMEENTE in 2026!