Wanneer Jesus die werklikheid van jou pyn en verlies HERSKRYF

Rig weer jou fokus op Jesus, en laat Hy jou realititeit herskryf vanuit Sy perspektief.

Wanneer Jesus die werklikheid van jou pyn en verlies HERSKRYF

Die geloofstryd in die storm

Laas week het ons saam met Johannes die Doper in die tronk gaan sit. Die man wat met oortuiging gesê het: “Kyk, die Lam van God,” sit nou vasgevang in onreg en teleurstelling en vra: “Is U regtig die Een, of moet ons ’n ander verwag?” (Matt. 11). Vir baie gelowiges is die krisis nie om te glo dat God bestaan of dat Christus opgestaan het nie, maar om te glo dat God nou liefhet, nou goed is, nou teenwoordig is. Dis Petrus op die water: solank hy na Jesus kyk, loop hy; toe hy na die golwe kyk, begin hy sink (Matt. 14). Ons vertwyfeling vat pos die oomblik as ons omstandigehede so negatief begin raak, dat ons God se karakter in twyfel trek.

God is altyd liefde! Hy kan nie ontrou wees of lieg nie! Daarom sê Jesus vir Johannes se dissipels gaan vertel weer vir hom wat julle sien gebeur: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. (Mat 11:5) God het nie verander nie. Johannes se lewe gaan God verheerlik, maar nie soos hy gedink het nie.

Johannes is nie bang om Herodus aan te vat en te oordeel nie... maar dit is nie hoekom Jesus gekom het nie. "Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word." (Joh 3:17) Sonder dat ons weet het ons fokus van die Here verloor, ons self raak die outeurs van ons lewe. Ons wil bepaal hoe dinge moet uitwerk.

Twyfel is dikwels nie ’n intellektuele probleem nie, maar ’n aanbiddingsprobleem — iemand anders het die Here se plek ingeneem. ’n Afgod, ’n valse god, ’n “skat” wat ons harte vasgehaak het.

Jesus sê dit reguit: “Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matt. 6:21; vgl. Luk. 12:34). Wat is vir jou die meeste waardevol en van belang? Waaraan spandeer jy al jou tyd en aandag? Wie en wat het jou voorsiening geword? Wie se hulp en advies soek jy? In wie stel jy jou vertroue? Wie bepaal jou identiteit? Alles tekens van 'n ander god.

Wanneer hierdie valse gode wegval, sterf, verdwyn, of vervaag, raak ons harte verbyster — want ons het ons lewens rondom hulle gebou. Gesondheid, geld, mag, aansien, selfs ’n kind of ’n lewensmaat kan ’n afgod word, nie omdat hulle sleg of boos is nie, maar omdat ons ons hele bestaan om hulle begin inrig en aan hulle begin toewy. Wat bedoel is om ’n gawe te wees, word ’n god. En elke valse god vra uiteindelik meer as wat hy kan gee, en neem uiteindelik meer as wat hy belowe het.

Daarom is die vraag nie net: “Waarom twyfel ek?” nie, maar: “Wat het my skat geword?” Wat het vir my so waardevol geraak, dat ek dit eenvoudig nie kan afstaan nie. Want as die Here weer jou skat word, vind jou hart weer sy rus. Soos die Psalmis sê: 

Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.  (Ps. 73:25–26).

Wanneer Christus weer die middelpunt van ons hart is, kry jou siel weer ’n anker. (Heb 6:19) Wanneer iets anders die middelpunt word, verander jou binnewêreld soos ’n see sonder vuurtoring — onstuimig, rondgeslinger, vol onsekerheid. Dis hoekom afgode jou nooit rus gee nie: hulle kan jou vir ’n rukkie dra, maar hulle kan jou nie verewig vashou nie. 

Die Here is nie wreedaardig deur ons van ons geluk te ontneem nie. Inteendeel: Hy is die Vader van ligte, uit wie elke goeie gawe kom (Jak. 1:17). Maar Hy is ook wys genoeg om te weet dat niks in hierdie wêreld ewig staan nie. Alles is verganklik: liggaam, geld, posisie, aansien, selfs die kosbaarste mense om ons. “Die gedaante van hierdie wêreld gaan verby” (1 Kor. 7:31). Daarom is God se jaloesie nie kleinlik nie; dis liefde wat jou wil beskerm teen teleurstelling. Hy weet: as jy jou hart aan iets vasmaak wat nie kan bly nie, gaan jou hart saam met dit breek.

Net één ding is werklik ewig: die Here se liefde. “Die liefde van die Here is van ewigheid tot ewigheid” (Ps. 103:17). Alles ander is soos gras wat verdor, blom wat verwelk (Jes. 40:6–8). Daarom vind ons net blywende vreugde wanneer ons én ons geliefdes in Christus geanker en verewig is. Want wie in Hom is, staan in iets wat nie kan sink nie. Soos Jesus sê: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde nie… maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel” (Matt. 6:19–20). Met ander woorde: sit jou hart waar mot en roes nie bykom nie, waar dood nie steel nie, waar tyd nie breek nie.

Dis die paradoks van die geloof: God neem nie jou vreugde weg nie; Hy neem jou vreugde uit die brose hande van verganklikheid en sit dit in die veilige hande van Sy ewige heerlikheid. 

As gevolg van hierdie goddelike ewigheidsperspektief is die Here die Gees van Waarheid.  “Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.” Johannes 18:37

1. Die Mandaat van Genesis: Om te Regeer deur Name te Gee. 

Skepper-mandaat: heers oor die aarde

In Genesis word Adam en Eva nie net geskep om te oorleef nie, maar om te regeer. God gee hulle die mandaat om oor die aarde te heers en dit te bewerk en te bewaak (Gen. 1:26–28; 2:15). Dis belangrik: menswees is van die begin af posisies van gesag en outoriteit gegee.  Ons het hierdie gesag verloor, toe ons van God af wegstap, maar weer in Christus verkry! 

Die tweede opdrag: noem die diere

Kort daarna gee God vir Adam ’n baie spesifieke taak: hy moet die diere name gee (Gen. 2:19–20). In die Bybelse wêreld is ’n naam nie ’n toevallige etiket nie—dit is ’n verklaring van betekenis en ’n uitoefening van gesag. Om iets te noem, is om dit te verstaan, te orden, en onder jou rentmeesterskap te plaas. Soos ’n koning wat lande benoem, of ’n ouer wat ’n kind benoem—die een wat noem, neem verantwoordelikheid en dra gesag.

Moderne toepassing: Jy kan nie regeer oor dit wat jy nie reg benoem nie

Dis hoekom ons in die praktyk vandag nog so werk:

  • Jy gee jou troeteldier ’n naam—en daarmee begin gesag én beheer.
  • Jy benoem jou emosies (“ek is bang”, “ek is kwaad”, “ek is hartseer”)—en dan kan jy dit beter verwerk en hanteer; dis basiese sielkunde. Emosies wat naamloos bly, word monsters.
  • Jy benoem jou geld met ’n begroting—en skielik “regeer” jy oor finansies in plaas daarvan dat finansies oor jou regeer. 
  • Jy benoem jou tyd met ’n dagboek/rooster—en dan word tyd ’n bate en nie meer 'n tugmeester nie.

Wat jy nie reg benoem nie, beheer jou. Wat jy reg benoem, kan jy beheer.

2. Jesus herskryf die tydelike vanuit 'n Ewigheidslens.

Jesus se bediening is deurdrenk van die ewige horison: Hy praat openlik oor die hel as werklike waarskuwing teen ’n lewe buite God—met beelde van buitenste duisternis, “geween en gekners van tande,” en onuitblusbare vuur (Matt. 8:12; Matt. 22:13; Matt. 25:30; Matt. 10:28; Mark. 9:43–48; Matt. 13:41–42; Matt. 25:41);

Hy praat oor die hemel as die Vader se huis en die komende volheid van die Koninkryk (Joh. 14:2–3; Luk. 12:32; Matt. 25:34; Luk. 23:43);

Hy leer van oordeel waar elke mens rekenskap gee en geregtigheid finaal reggestel word (Matt. 12:36; Matt. 25:31–46; Joh. 5:22–29);

Hy belowe beloning waar getrouheid met min hier opleiding word vir veel daar, en waar skatte in die hemel getel word (Matt. 25:21,23; Luk. 19:17; Matt. 6:19–21; Matt. 16:27);

Hy verkondig ewige lewe nie as ’n vae troos nie maar as ’n nuwe kwaliteit van lewe wat nou begin en ewig voortgaan in Hom (Joh. 3:16; Joh. 5:24; Joh. 10:10; Joh. 17:3; Joh. 11:25–26); daarom gebruik Hy soveel gelykenisse om die “nou-en-nog-nie” van die Koninkryk te verduidelik—dat God se regering reeds deurbreek, maar eers volkome kom (Matt. 13:1–52; Mark. 4:26–32; Luk. 17:20–21; Luk. 19:11–27);

Hy belowe sy glorieryke wederkoms, wanneer die Seun van die mens met mag en heerlikheid terugkeer om sy volk te versamel en die wêreld te herskep (Matt. 24:30–31; Matt. 25:31; Mark. 13:26–27; Luk. 21:27);

Hy plaas alles in die perspektief van Sy kruis en opstanding as die spil waarom die geskiedenis draai—Hy voorspel dit herhaaldelik en open dit ná sy opstanding as God se plan (Mark. 8:31; Mark. 9:31; Mark. 10:33–34; Luk. 24:26–27; Joh. 12:24–32);

en Hy bevestig die opstanding van die heiliges, dat die dood nie die laaste woord het nie, maar dat God sy kinders liggaamlik sal opwek om vir ewig saam met Hom te leef en te regeer (Joh. 6:39–40,44,54; Joh. 5:28–29; Matt. 22:29–32; Luk. 20:35–38)—sodat ons vandag se pyn, gehoorsaamheid, roeping en hoop nie los dryf nie, maar vasgeanker is in die groot storie wat eindig in Christus se triomf en ons deel daarin.

3. Die Saligsprekinge: Jesus se Eerste Groot “Herbenaming” van mense se oënskynlike negatiewe werklikheid. 

Die Koninkryk draai wêreld-etikette om
In Matteus 5:3–12 neem Jesus die wêreld se woordeboek en skryf dit oor met hemelse ink. Wat die wêreld as vervloek afmaak, noem Hy “salig”. Armoede is nie ’n teken dat God jou verlaat het nie, maar ’n plek waar die Koninkryk tuiskom: “Salig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Matt. 5:3). 

Treur is nie ’n dooie punt van verlies nie, maar ’n poort na God se vertroosting: “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt. 5:4; vgl. Jes. 61:2–3). 

Sagmoedigheid is nie swakheid nie, maar die pad na erfenis: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matt. 5:5; vgl. Ps. 37:11). 

Honger en dors na geregtigheid is nie naïwiteit nie, maar ’n belofte van versadiging: “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matt. 5:6). 

Vervolging is nie bewys dat God teen jou is nie, maar dat jy aan Christus behoort: “Salig is julle wanneer hulle julle beledig en vervolg… want julle loon is groot in die hemele” (Matt. 5:11–12; vgl. 1 Pet. 4:14). Jesus ontken nie pyn nie; Hy ontneem dit van die reg om jou finale identiteit te word. Hy sê jou storie word nie deur jou omstandighede geskryf nie, maar deur Sy Koninkryk realiteit.

“Salig…” is ’n nuwe naam op ou ervarings
Die woord “salig” is Jesus se goddelike herdefinisie van lyding—’n nuwe naam op ou ervarings. Hy noem trane “salig” omdat daar troos op pad is (Matt. 5:4), Hy noem verlies “salig” omdat die Koninkryk jou erfenis is (Matt. 5:3, 5), en Hy noem verdrukking “salig” omdat dit jou nie vernietig nie maar jou in Christus se pad inlyf (Matt. 5:10–12). Só word swaarkry nie jou graf nie, maar jou tuin vir heerlikheid: “Want ons ligte verdrukking… bewerk vir ons ’n allesoortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor. 4:17–18), en “die lyding van die teenwoordige tyd weeg nie op teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Rom. 8:18). Met “salig” gee Jesus aan jou pyn ’n naam wat dit nie jou einde maak nie, maar jou voorberei vir God se toekoms.

4. Paulus se Christus-lens: Die Lewe as ’n “As-of” Paradoks

Paulus leef Jesus se herbenaming as ’n gans nuwe werklikheid, amper soos iemand wat in ’n ander taal begin dink het. In 1 Korintiërs 4:10–15 neem hy die wêreld se etikette en dra dit doelbewus “om Christus wil”: “ons is dwaas… swak… verag” (1 Kor. 4:10), maar juis dáárin lê die ironiese eer—die wêreld se skande word Christus se glorie, want hy sien homself as ’n vader wat deur lyding kinders in die geloof verwek (1 Kor. 4:14–15).

In 2 Korintiërs 4:8–18 beskryf hy sy nood sonder versagting: “verdruk… maar nie benoud nie; raadop… maar nie radeloos nie; vervolg… maar nie verlate nie; neergewerp… maar nie vernietig nie” (2 Kor. 4:8–9), en dan herskryf hy die maatstaf: hierdie verdrukking is “lig en kortstondig” teenoor “’n allesoortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor. 4:17–18).

Hy lieg nie oor die pyn nie; hy plaas dit net langs ’n groter weegskaal. In 2 Korintiërs 6:3–10 hoor jy die “as-of”-lewe van die Koninkryk, die paradoks van heretikettering: “as bedroef, maar altyd bly; as arm, maar wat baie ryk maak; asof niks het nie, en tog alles besit” (2 Kor. 6:10) — ’n lewende kommentaar op Jesus se Saligsprekinge.

En wanneer hy in 2 Korintiërs 11:23–28 die eerlike lys van sy lyding deurgee—slae, tronk, skipbreuke, gevare, honger, koue (2 Kor. 11:23–28)—sien hy dit nie dat God teen hom is nie, ook nie dag God hom verlaat het nie, maar dis die pad van roeping en deelname aan Christus se lewe (vgl. Fil. 3:10; Kol. 1:24). Hierdie man kan regeer in ’n wêreld wat hom slaan, omdat Jesus sy werklikheid herskryf het: lyding is nie sy identiteit nie; Christus is.

Your perception is your reality
Faith does not deny reality. It defies reality.  

Dr Brian Adams 

5. Om Reg te Dink is om Reg te Regeer

Dokters se diagnoses help—maar kan verkeerd wees

Hier kom ons by ’n belangrike metafoor. Dokters moet siektes benoem. ’n Diagnose help om te behandel. Maar ons almal weet: dokters kan ook verkeerd wees. ’n Verkeerde naam gee ’n verkeerde behandeling. Dis hoekom tweede opinies bestaan. Die punt is nie dat ons dokters minag nie—inteendeel, God gebruik hulle. Die punt is: die regte naam maak die regte pad oop.

Dieselfde geld vir jou siel en omstandighede

Baie keer benoem ons ons seisoene verkeerd:

“God straf my.”
“Ek is verwerp.”
“Dis die einde.”
“Ek is niks werd.”

Dis soos ’n verkeerde diagnose. En as jy ’n verkeerde naam op jou situasie sit, gaan jy ’n verkeerde reaksie leef. Jy gaan sink al is Jesus naby, omdat jy die golwe se interpretasie glo.

Jesus herskryf jou realiteit sodat jy kan heers

Wanneer Jesus jou omstandighede herskryf, wys Hy vir jou hoe jy hier kan regeer. Hy gee jou die hemel se naam vir jou aarde-ervaring. Hy neem nie altyd die tronk weg nie, maar Hy vat die tronk se reg om jou te definieer weg. Hy leer jou om te sê:

“Hierdie pyn is nie straf nie—dit is vorming.”
“Hierdie wagtyd is nie verwerping nie—dit is voorbereiding.”
“Hierdie verlies is nie die einde nie—dit is saad.”

Dis nie selfbedrog nie; dis dissipelskap. Dit is om te leef met Christus se lens.

6. Praktiese Stappe: Hoe om Jou Werklikheid saam met Jesus te Herbenoem

  • Erken die golwe.
    Moenie maak of dit nie seer is nie. Sê dit vir God. God vra nie ontkenning nie; Hy vra waarheid. Die Psalms is vol eerlike klag (Ps. 13; Ps. 42), Klaagliedere huil hardop (Klaagl. 3), en Jesus self het getreur (Joh. 11:35). Begin dus hier: “Here, dit is seer. Dit is verwarrend. Ek is bang.”Erkenning is nie ongeloof nie; dis rou materiaal vir geloof.
  • Sien waar jou fokus is
    Vra: “Watter storie vertel ek oor hierdie seisoen?” Skryf jou ou etiket neer: “Ek is alleen,” “God is kwaad,” “Dit is die einde,”  “God het my vergeet”? “Ek is ’n mislukking”? “Dit gaan nooit beter word nie”? Dis jou ou etiket. Bring dit lig toe (Ps. 139:23–24). ’n leuen kan net bestaan, in die afwesigheid van die waarheid.  Bely hierdie menslike, aardse perspektiewe, en vra die Here om jou Sy perspektief te wys.
  • Skuif jou oë terug na Christus.
    Loof die Here, in die geloof vir die goeie wat jy het. Sien nie wat gebeur het nie, maar wat het nie gebeur nie. Sien Sy genade! Sien sy liefde, sien Sy wysheid, Sy heerlikheid.  Sien wat jy het! Tel jou seëninge! “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Heb 12:2-3) Ontvang Sy Liefde, vreugde en vrede! 
  • Leef die nuwe naam uit—saam met mense.
    Maak dit prakties in gehoorsaamheid: vergewe, volhard, aanbid, bly getrou, wees vrygewig. En doen dit nie alleen nie—gemeenskap help jou fokus hou wanneer jou oë moeg raak (Gal. 6:2).  Herbenaming word eers werklik wanneer dit vlees word. Paulus se “lig en kortstondig” was nie ’n slagspreuk nie—dit was sigbaar in volharding, aanbidding, en diens (2 Kor. 4:8–18).

Die Groot Herbenaming—Die Kruis

Die kruis is God se GROOTSTE herdefinisie en herskryf van die werklikheid. Rome noem dit nederlaag; die skare noem dit skande; God noem dit verlossing. Skuld word genade. Dood word 'n deur. Graf word 'n poort. Daarom is jou pyn nie naamloos chaos nie. In Christus kry dit ’n nuwe naam, en daardie nuwe naam maak jou nie klein nie—dit maak jou koninklik. Jy is nie ’n slagoffer wat net moet oorleef nie; jy is ’n kind van God wat moet leer regeer. So vandag sê ons saam met ’n bewende maar volhardende hart: “Here, ek verstaan nie alles nie… maar ek kyk na U.” En daardie kyk, daardie vasvat aan Jesus se naam oor jou storm, is waar sink ophou en loop weer begin.