Wie se LIG Trek Jou Aandag?
Ons leef in 'n tyd waar tegnologie en sosiale media 'n integrale deel van ons daaglikse lewens geword het. Is dit vir ons geestelik goed of sleg?

Hoe Sosiale Media Ons Geestelike Lewe Beïnvloed
Ons leef in 'n tyd waar tegnologie en sosiale media 'n integrale deel van ons daaglikse lewens geword het. Terwyl hierdie platforms ons verbind en inligting verskaf, is dit noodsaaklik om bewus te wees van die geestelike gevare wat hulle kan inhou.
Sosiale media is deel van ons daaglikse lewe, maar het ons al regtig besin oor hoe dit ons geestelike lewe raak? Navorsing wys dat hoe meer tyd ons op sosiale media spandeer, hoe moeiliker dit word om geestelik gefokus te bly.
‘n Studie getiteld: "Relationship Between Spirituality and Social Media Addiction Among Adults" (Demiroğlu & Taş, 2021) het bevind dat mense met ‘n sterk geestelike lewe minder verslaaf is aan sosiale media. Waarom? Omdat spiritualiteit, stilword, refleksie en ‘n dieper verbondenheid met die Here verg—iets wat moeilik is as ons gedurig deur kennisgewings en aanlyn goedkeuring gejaag word.
Hoe langer jy sosiale media gebruik, hoe groter is die kans dat jy minder tyd aan gebed, Bybelstudie en stilword voor God spandeer.

Enkellopendes blyk meer verslaaf aan sosiale media te wees as getroude mense, moontlik as gevolg van eensaamheid. Verder skep sosiale media ‘n valse sin van waarde, waar mense hulle selfbeeld bou op 'likes' en 'shares' getalle eerder as op wat die Woord sê.
Die Bybel sê in Psalm 46:10,
"Wees stil en weet dat Ek God is."
Maar as ons gedagtes altyd deur ‘n skerm besig gehou word, wanneer luister ons regtig na God? As ons luister na al die eksterne stemme, kan ons hoegenaamd Sy "stil, sagte stem" in ons hoor?
Sosiale Media en Spiritualiteit: ‘n Geleentheid of Gevaar?
In ons moderne era sien ons ‘n opkoms van spiritualiteit op digitale platforms. Oral op die internet deel mense gedagtes oor geloof, bewussyn, en dieper lewenswaarhede. Dit is asof die digitale wêreld ‘n weerspieëling is van ons kollektiewe bewussyn—‘n plek waar ons geloof, denke en perspektiewe bots en vermeng.
Die vraag is: Is sosiale media ‘n hulpmiddel tot geestelike groei, of ‘n afleiding wat ons wegtrek van ware spiritualiteit?
Ons lewe in ‘n tyd waar spiritualiteit selfs ‘n #trending onderwerp geword het. Op platforms soos Facebook, Instagram en TikTok sien ons ‘n verskeidenheid “geestelike” inhoud. Party plasings deel diep wysheid, ander is oppervlakkig en uiterlike vertoon. Dis maklik om vasgevang te raak in ‘n beeld-ego-selfgesentreerde-gedrewe spiritualiteit, waar ‘n persoon meer fokus op hulself as op hul boodskap.
Die Bybel waarsku ons teen die stryd tussen vlees en gees (Galasiërs 5:17; Rom 8:1-6). Sosiale media kan daardie stryd vererger. Dit trek ons aandag na buite, eerder as na binne, na Christus toe. Mense soek na die Here in INLIGTING (kennis van goed en kwaad) in plaas van direk by die Boom van Lewe te kom eet . Hierdie tipe digitale geestelikheid kan maklik ‘n selfgesentreerde spiritualiteit skep, eerder as ‘n diep verhouding met die Here. "Instead of trying to FEEL good start BEING good!" As jy die meeste mense en kinders vandag sou vra; "Wat moet mens doen om toegang tot die hemel te verkry?" is die antwoord in die meeste gevalle "om 'n goeie mens te probeer wees". Om in Jesus te glo, en Sy geregtigheid te ontvang is nie 'n intellektuele kognitiewe oefening nie, dis 'n algehele oorgawe van my hele wese om Hom en Sy manier van leef na te volg!
Boonop skep sosiale media ‘n konstante vloei van eksterne insette wat ons bewussyn beïnvloed. Elke keer as ons deur ons "feeds" blaai, word ons gedagtes gevorm deur dit wat ons sien en hoor. As ons nie selektief is oor wat ons inneem nie, kan ons onbewustelik beïnvloed word deur oppervlakkige, ego-gedrewe boodskappe wat min met ware geloof te doen het.
Sosiale Media: Geestelike Hulpmiddel of Strik?
Ja, as ons dit reg gebruik! Net soos enige ander hulpmiddel, hang die impak af van hoe ons dit benut. ‘n Gees-vervulde wedergebore kind van God kan sosialemediaplatforms gebruik om lig en waarheid te deel. Dit kan ‘n kragtige manier wees om mense te bemoedig, evangelisasie te bevorder, en God se woord wyd te versprei.
Maar, dit verg selfdissipline. Ons moet ons digitale dieët bestuur soos ons ons liggaamlike dieët bestuur—deur te kies wat gesond en opbouend is.
Het jy al ooit deur jou sosiale media-blaaie "ge-scroll" en skielik minderwaardig gevoel? Vergelyk jy jou lewe met die "perfekte" beelde van ander? Of het jy al ‘n vinnige kykie geneem en ‘n uur later besef jy het waardevolle tyd verloor?
Sosiale media is oral. Dit bied verbinding, inligting en vermaak. Maar onder die oppervlak skuil ‘n gevaar vir ons geestelike welstand. Terwyl dit ‘n platform vir geloofsboodskappe kan wees, bring dit ook versoekings en afleidings wat ons verhouding met God kan verswak.

Meer nog, sosiale media boodskappe floreer om buitengewone, drastiese, oordrewe, dramatiese boodskappe om ons aandag te kry, dit skep 'n virtuele prentjie van die wêreld dat ons besig is om te vergaan, die einde is naby, ons is in 'n wêreldwye kosmiese krisis. Goeie nuus verkoop nie! Ons word dus oorweldig deur slegte nuus! Ons brein kan nie onderskei wat die werklike realiteit is nie, dit reageer bloot op die stimilus wat ons dit gee. Spandeer een dag in die natuur sonder enige foon of rekenaar, en sien hoe rustig en kalm jy word!

Sosiale media word bemark as ‘n plek om verhoudings te bou, maar in werklikheid skep dit selde diep, wederkerige en opbouende bande. Ons versamel bloot inligting oor mekaar, maar leer mekaar nooit werklik ken nie!
Die Gevaar van Vergelyking
Sosiale media wys net ‘n selektiewe werklikheid. Dit kan ‘n verkeerde beeld van sukses skep en ons laat dink ons is nie goed genoeg nie. Miskien sien jy hoe ander in die kerk bedien of op sendingreise gaan, en jy voel asof jou geestelike lewe nie op dieselfde vlak is nie.
Maar 1 Johannes 2:6 sê:
"Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het."
God meet nie ons geloof aan "likes" en "shares" nie, maar aan die toestand van ons hart. Galasiërs 1:10 herinner ons:
"As ek nog mense wou behaag, sou ek nie ‘n dienaar van Christus wees nie."
Tydbestuur en Afleiding
Ek is self skuldig daaraan dat ek meer tyd op my foon spandeer as in gebed. Facebook en Instagram kan ure steel wat vir God bedoel is. Soms selfs tydens die kerkdiens! Dit veroorsaak dat ek nie regtig in die Here se teenwoordigheid inbeweeg nie. Inderdaad raak ons geestelik afgestomp en passief!
Kolossense 3:2 sê:
"Rig julle gedagtes op die dinge daarbo, nie op aardse dinge nie."
As ons geestelik wil groei, moet ons intensioneel tyd maak vir God en minder toe laat dat ons fone ons beheer. Hoe lank kan jy werklik aaneen en sonder afleiding bid?
Die Soeke na Aandag
Het jy al ‘n Bybelvers of kerkfoto geplaas net om "likes" te kry? Dit kan maklik gebeur dat ons meer fokus op hoe mense ons sien as hoe God ons sien. Ware geestelike groei gebeur nie op ‘n skerm nie, maar in ons hart.
Romeine 12:2 sê:
"Moenie aan hierdie wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe."
Ons hoef nie mense se aanvaarding te soek nie—ons moet God se stem hoor.
Die Verlies van Regte Gemeenskap
Baie mense voel dat aanlyn kerk genoeg is. Ware gemeenskap gebeur egter wanneer ons saam aanbid, bid en mekaar ondersteun.
Jesus sê in Matteus 18:20:
"Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde."
Iemand vertel en getuig: "Ek was self na die pandemie huiwerig om weer kerk toe te gaan. Dit was maklik om net aanlyn te kyk. Maar ek het gou besef ek mis die warmte van geselskap, gebed en ware geloofsverbindings."
Negatiwiteit en Verdeeldheid
Sosiale media is vol konflik en debatte. Mense argumenteer oor geloof, politiek en kultuur. Dit steel ons vrede en fokus. Ander vermy hierdie komplekse gesprekke en dialoog en weet glad nie wat in die wêreld aangaan nie.
1 Johannes 3:18 sê:
"Liewe kinders, laat ons nie net met woorde en lippetaal liefhê nie, maar met daad en in waarheid."
Moet nooit toelaat dat sosiale media jou geloof en liefde vir mense vervang met kritiek en twis nie.
Vind balans deur Sosiale Media Reg te Gebruik
Sosiale media is nie boos nie, maar ons moet dit wys gebruik. Hier is ‘n paar wenke:
Hoe Behou Ons ‘n Gesonde Digitale Spiritualiteit?
- "Toets die geeste" (1 Johannes 4:1) – Moenie alles glo wat jy aanlyn sien nie. Meet dit teen die Woord van God.
- Beperk jou tyd op sosiale media – Te veel blootstelling kan jou geestelike fokus verswak.
- Kies om inhoud te volg wat jou geloof versterk – Luister na mense wat Christus verheerlik, nie net hulleself nie. (John & Lisa Bevere, John Eldridge, Henry Cloud)
- Spandeer meer tyd in gebed en Bybelstudie as op jou skerm – Jou verhouding met God moet die sterkste stem in jou lewe wees.
Geestelike Waaksaamheid en die Rol van die Gawes van die Gees in ‘n Digitale Era
Ons leef in ‘n tyd waar mense ure op sosiale media spandeer, onbewustelik vasgevang in ‘n wêreld van skerms, likes en oppervlakkige interaksies. Terwyl tegnologie ‘n doelmatige hulpmiddel kan wees, kan dit ons ook geestelik versmoor as dit ons afleiding eerder as aktivering bring. Die Bybel leer egter dat God se kinders geroep is om wakker en aktief in die Gees te wees, nie geestelik afgestomp en dooierig nie.
Een van die belangrikste maniere waarop ons geestelik waaksaam bly, is deur te beweeg in die gawes van die Gees en om God se bonatuurlike werking te ervaar. Paulus sê in 1 Korintiërs 1:7:
"So dat julle aan geen enkele gawe gebrek het terwyl julle die openbaring van onse Here Jesus Christus verwag nie."
Sosiale media trek ons gedagtes weg van God se teenwoordigheid en vervang bonatuurlike ervarings met oppervlakkige vermaak. Dit steel ons passie vir gebed, profesie, genesing en God se kragtige werking. Maar die vroeë kerk was juis geestelik aan die brand omdat hulle in die krag van die Gees geleef het!
1. Die Gawes van die Gees Hou Ons Geestelik Wakker
Wanneer ons bid vir ander, profeteer, mense genees en die bonatuurlike werking van die Gees beleef, word ons versterk en gefokus. Paulus skryf in 1 Korintiërs 12:1:
"Aangaande die geestelike gawes, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie."
God wil hê ons moet geestelik aktief wees en Sy gawes beoefen, want dit bou ons geloof en maak ons skerp in die Gees. Sosiale media, aan die ander kant, het die vermoë om ons af te stomp, ons passie te steel, en ons onvermoë om God se stem te hoor te versterk.
In Handelinge 2:1–18 sien ons hoe die Heilige Gees uitgestort word op Pinksterdag en gewone mense begin profeteer, in tale praat en wonderwerke beleef. Dit is ‘n beeld van hoe ‘n lewendige kerk lyk—‘n liggaam wat met die bonatuurlike gevul is, nie ‘n kerk wat geestelik dood is agter ‘n skerm nie!
Handelinge 10:44–48 wys hoe die Gees onverwags geval het op mense wat nie eens gedoop was nie. Hulle het die krag van God eerstehands ervaar—iets wat geen video of sosiale media-plasing kan vervang nie!
Sosiale media gee ons inligting, maar dit kan nooit vir ons ‘n ontmoeting met God gee nie.
2. ‘n Lewe Sonder Geestelike Gawes Maak Jou Geestelik Doof
Wanneer ons nie bid vir genesing, profesie beoefen of die stem van die Gees hoor nie, raak ons geestelik traag en dof. Paulus waarsku in 1 Tessalonisense 5:19–22:
"Blus die Gees nie uit nie."
Dis presies wat sosiale media kan doen: dit blus die Gees in ons lewens deur ons onvervuld, verward en geestelik onversadig met wêreldse dinge te laat.
Daarteenoor moedig Paulus Timoteus aan:
"Moenie die gawe wat in jou is, verwaarloos nie" (1 Timoteus 4:14). Hy sê verder:
"Blaas die gawe van God in jou weer aan die brand" (2 Timoteus 1:6–7).
Ons kan nie verwag om God se krag te ervaar terwyl ons ure op ons fone sit en geen tyd in gebed, aanbidding of bediening spandeer nie!
3. Geestelike Gawes Bring Ware Verandering, Nie Net Woorde Nie
Sosiale media is vol "inspirerende" plasings—Bybelverse, motiverende woorde, en “geestelike” aanhalings. Maar ware geestelike impak lê nie in leë woorde nie, maar in die demonstrasie van God se krag! Dink hoeveel meer impak 'n direkte profetiese woord van kennis het in iemand se lewe!
Hebreërs 2:3–4 sê:
"Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam? Dit is deur die Here verkondig en deur tekens, wonders en verskeie kragtige dade bevestig."
Christus se bediening was nie net teorie nie, dit was ‘n demonstrasie van God se krag! (1 Cor 4:20)
"En my rede en my prediking was nie met oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in betoning van Gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou wees nie, maar in die krag van God." 1 Korintiërs 2:4-5
Paulus herinner die kerk in Jakobus 5:13–18 dat ware geloof werk deur aksie:
- Is iemand siek? Bid vir hulle vir genesing!
- Is iemand moeg? Laat die ouderlinge hulle met olie salf!
- Is daar sonde? Bely dit en ontvang vryheid!
Dít is ware geestelike betrokkenheid—nie net ‘n vinnige skermblaai met ‘n inspirerende boodskap nie.
4. Sosiale Media Bring Passiwiteit, Maar die Gees Bring Groei
Paulus sê in Efesiërs 4:7–16 dat God geestelike gawes gegee het om die liggaam van Christus op te bou en te versterk. Dit is hoe ons groei en sterk word in die Here.
Sosiale media kan maklik ‘n passiewe toeskouermentaliteit skep. Mense kyk, lees en hou selfs daarvan—maar doen niks! Geestelike groei gebeur nie deur net te lees oor God se krag nie, maar deur dit te beleef!
1 Petrus 4:10–11 sê:
"Elkeen moet die gawe wat hy ontvang het, gebruik om mekaar te dien, soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God."
Dit beteken: As jy nie jou gawes beoefen nie, gaan jy geestelik dood raak.
Slotgedagte
Sosiale media weerspieël ons wêreld—daar is lig en daar is duisternis. Dit is ons keuse watter pad ons volg. Moet nooit jou spiritualiteit laat vorm deur ‘n media maatskappy algoritme nie, maar deur die Heilige Gees. Gebruik sosiale media as ‘n hulpmiddel om Christus te verheerlik, nie jouself nie.

Mag ons digitale voetspore nie net in data gemerk word nie, maar in siele wat deur ons woorde en dade nader aan God kom!
https://www.thegospelcoalition.org/article/internet-vibes-arguments/
https://www.knowablegod.com/spiritual-dangers-of-social-media/
https://www.backagainwords.com/p/social-media-is-a-spiritual-distortion
