Is jy DWAAS of is jy VERSTANDIG?
Hoe jou antwoord jou toekoms bepaal.
Lukas 16:1-13
Die skeidslyn wat Jesus trek
As jy vir die gemiddelde mens vra hoe Jesus die wêreld verdeel, sal hy waarskynlik sê: in goeies en slegtes. Heiliges en sondaars. Mense wat kerk toe gaan en mense wat nie gaan nie.
Jesus het verbasend min tyd daaraan bestee om mense in goeie en slegte kampe te sorteer. Trouens, Hy is gedurig daarvan beskuldig dat Hy by verkeerde mense kuier en tyd uithang.: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” (Lukas 15:1-2)
Waar Jesus wél ’n skerp lyn trek, is elders. Twee Huisbouers – een verstandig, een dwaas (Matt 7:24-27). Tien meisies – vyf verstandig, vyf dwaas (Matt 25:1-13). Twee slawe – een getrou en verstandig, een wat dink die baas bly lank weg (Matt 24:45-51). ’n Ryk boer met groot skure vir wie God sê: “Dwaas!” (Luk 12:20) Weer en weer is die groot skeidslyn in Jesus se stories nie heilig teenoor sondig nie, maar wys teenoor dwaas. Wakker teenoor aan die slaap.
In die storie wat ons vanoggend lees, neem Jesus ’n man wat ons almal sou afskryf as ’n sondaar – ’n skelm, ’n verkwister, ’n oneerlike bestuurder – en Hy sê: kyk na hom. Hy is wyser as julle.
En die heer het die oneerlike bestuurder geprys, omdat hy verstandig opgetree het; want die kinders van hierdie tydvak is in die omgang met hulle eie soort verstandiger as die kinders van die lig. (Lukas 16:8)
Lukas plaas hierdie storie direk ná die verlore seun. Jesus het pas vertel van ’n dwase seun, wat alles verloor het, en uiteindelik besluit het om weer terug te gaan na sy ouerhuis, en genade ontvang het. Nou vertel Hy van ’n sondaar wat verstandig, vindingryk, skerpsinnig, spitsvondig, veerkragtig en slim is.
So sou die storie vandag in ons eie dorp gebeur:
Piet is die bestuurder van ’n groot koöperasie. Hy hou die boeke, teken die kontrakte en bestuur die kredietrekeninge van die boere – kunsmis, diesel en saad wat ná die oes betaal word. Die eienaar woon in die Kaap en kom selde dorp toe. Toe kom die ouditverslag: voorraad verdwyn, uitgawes is opgeblaas, die syfers klop nie. Of dit diefstal of slordigheid is, maak eintlik nie saak nie – die eienaar vermoed oneerlikheid en wanbestuur.
Die eienaar skakel: “Piet, wat hoor ek van jou? Bring die boeke. Aan die einde van die maand gaan ek jou afdank, as jy nie kan bewys wat aangaan nie.”
Maar Piet het nog sy wagwoord. Hy het nog sy tekenbevoegdheid. Die stempel lê nog in sy laai. En die boere weet nog niks.
Hy bel die olyfboer wat R500 000 skuld: “Kom gou in. Hier’s jou rekening. Teken ’n nuwe erkenning vir R250 000.” Hy bel die koringboer wat R400 000 skuld: “Maak dit R320 000.”
Aan die einde van die maand as Piet nie meer ’n werk het nie, het hy twee van die invloedrykste boere in die distrik wat hom ’n baie groot guns skuld.
Die eerste-eeuse agtergrond bevat egter besonderhede wat ons met moderne oë mis.
Wakker – hy hoor die vonnis en ontken dit nie
Daar was ’n sekere ryk man wat ’n bestuurder gehad het, en hy is by hom aangekla dat hy sy besittings verkwis. Hy het hom geroep en vir hom gesê: ‘Wat hoor ek van jou? Gee rekenskap van jou bestuur, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.’ (Lukas 16:1-2)
Die woord vir “verkwis” is diaskorpizō – dieselfde woord wat Lukas ’n paar verse vroeër gebruik het vir die verlore seun wat sy erfdeel “verkwis” het (Luk 15:13). Twee verkwisters langs mekaar. Die een verloor alles. Die ander maak ’n plan.
Die bestuurder verdedig homself nie. Hy maak nie verskonings nie. Hy hoor die woorde “Gee rekenskap” en hy word wakker geskud tot nugterheid.
Die meeste van ons spandeer wanneer 'n krisis ons tref spandeer te veel tyd met hoekoms en waaroms, en ontkenning. Ons hoor die dokter, die bankbestuurder of ons eie gewete, en ons sê in ons hart: “Dis seker nie so erg nie.” Ons dink baie, maar doen niks!
“Gee rekenskap.” is tans 'n geestelike wekroep vir elkeen wat leef!!
Verstandig – hy ken sy eie perke
Toe sê die bestuurder by homself: ‘Wat gaan ek doen, noudat my heer die bestuur van my wegneem? Om te spit is ek nie sterk genoeg nie, om te bedel skaam ek my.’ (Lukas 16:3)
Lukas laat ons graag mense se binnesgeprek in hulle hart afluister – die ryk dwaas (Luk 12:17-19), die verlore seun (Luk 15:17-19), die onregverdige regter (Luk 18:4-5). Telkens wys die binnegesprek die innerlike worsteling. Hierdie man se gesprek met homself is eerlik. “Spit kan ek nie.” Hy is ’n kantoorman, nie ’n arbeider nie. “Bedel skaam ek my.” Hy het trots, en hy weet dit. Hy maak nie asof hy iemand anders is nie. Hy oorweeg sy opsies koud, eerlik en nugter.
Die Griekse woord wat Jesus later vir hom gebruik, is phronimos – verstandig, praktieswys. Dit kom van phrēn, die middelrif. Die ou Grieke het geglo jy dink met jou binneste, nie net met jou kop nie. ’n Phronimos-mens is iemand wat sy situasie – en homself – reg lees, en dan optree.
Vergelyk dit met die ryk boer in Lukas 12. Hy praat ook met homself, maar hy praat net oor sy skure, sy oes, sy siel – en God noem hom aphrōn. Dieselfde woord met ’n a- voor: sonder binneste. Die een man lees sy situasie reg; die ander een glad nie.
Waar in jou lewe sê jy nog vir jouself “dit gaan wel regkom”, terwyl jy eintlik weet jy kan nie spit nie en jy skaam jou om te bedel?
Vindingryk – “Ek het dit!”
Ek weet wat ek gaan doen, sodat mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek uit die bestuur ontslaan word. (Lukas 16:4)
Die Griekse werkwoord is egnōn – die uitroep van skielike insig: “Ek het dit!” Eureka! 'n Oomblik van heldere insig!
Ons het ’n spreekwoord daarvoor: ’n Boer maak ’n plan.
Hy soek nie geld nie. Hy wil guns hê by invloedryke mense wat dalk vir hom sal werk hê in die toekoms? (Luk 16:4). Hy het begryp wat die ryk dwaas nooit begryp het nie: wanneer jy alles verloor, is die enigste ding wat oorbly die mense met wie jy in verhouding staan.
Skerpsinnig – hy lees die stelsel
Hy het elkeen van sy heer se skuldenaars ingeroep. Vir die eerste het hy gesê: ‘Hoeveel skuld jy my heer?’ Hy sê: ‘Honderd vate olyfolie.’ Hy sê vir hom: ‘Vat jou skuldbrief, gaan sit en skryf gou vyftig.’ Toe sê hy vir ’n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy sê: ‘Honderd sakke koring.’ Hy sê vir hom: ‘Vat jou skuldbrief en skryf tagtig.’ (Lukas 16:5-7)
Honderd bat olie is meer as drieduisend liter – die oes van ’n hele olyfboord. Honderd kor koring is ’n hele vragmotor vol. Dit is nie arm plaaswerkers nie. Dit is mense met grond, eienaars met invloed en status. Die bestuurder het sy teikens noukeurig gekies.
Waarom moes die skuldenaars die skuldbrief self oorskryf? Waarom het hy nie net die syfer self verander nie? En waarom sou eerbare boere bereid wees om deel te word van ’n bedrogspul? Die antwoord lê in hoe skuld in die antieke wêreld gewerk het.
Eerstens: die skuldbrief was die skuldenaar s’n. Vandag skryf die skuldeiser die faktuur. Destyds was dit andersom. ’n Skulderkenning is deur die skuldenaar geskryf – in sy eie handskrif, of deur ’n skrywer en dan deur hom onderteken: “Ek, so-en-so, erken dat ek verskuldig is…” Die Grieke het dit ’n cheirographon genoem, letterlik ’n handskrif. Paulus skryf so ’n brief aan Filemon: “Ek, Paulus, skryf dit met my eie hand: Ek sal betaal” (Filem 19).
Daarom sê die bestuurder: “Vat jou skuldbrief.” Die dokument het aan die boer behoort. Dit was sy erkenning. As die bestuurder self die syfer verander het, sou dit vervalsing gewees het – en maklik om te bewys. Antieke skulddokumente is boonop gemaak om peutery te voorkom; dikwels was daar ’n verseëlde en ’n oop afskrif (vergelyk Jer 32:10-14). Jy kon nie net ’n syfer uitkrap nie. Jy het ’n nuwe, geldige dokument in die skuldenaar se eie hand nodig gehad. Dit is presies wat hy vra.
Tweedens: die agent se woord was die eienaar se woord. In die Joodse reg was daar ’n bekende beginsel: “’n Man se gevolmagtigde is soos hyself” (Mishna, Berakhot 5:5). Wat die bestuurder teken, het die eienaar geteken. En die boere weet nog nie dat hy afgedank is nie. Daarom die woord gou – “gaan sit en skryf gou vyftig.” Hy moet klaarkry voordat die nuus versprei en iemand vrae begin vra.
Derdens: die skuldenaars is nie skuldig nie. Uit hulle oogpunt het niks verkeerd gebeur nie. Die eienaar se amptelike verteenwoordiger het hulle ingeroep en hulle skuld verminder. Hulle het ’n nuwe, wettige erkenning in hulle eie hand geskryf. Hulle het nie bedrieg nie – hulle is net goed behandel. As daar iemand skuldig is, is dit die bestuurder alleen.
Vierdens: die geleerde J.D.M. Derrett (New Testament Studies, 1961) het iets in die syfers raakgesien. Van tagtig na honderd is presies 25%. Van vyftig na honderd is presies 100%. Dit pas by die rentekoerse wat destyds op lenings in natura gevra is – olie was duurder omdat dit maklik verdun en bederf het. Die Tora het egter verbied om rente van ’n mede-Israeliet te vra (Eks 22:25; Lev 25:36-37; Deut 23:19-20). Dus het mense die rente in die hoofsom weggesteek: “Jy skuld honderd”, terwyl net tagtig of vyftig werklik geleen is.
As Derrett reg is, het die bestuurder niks gesteel nie. Hy het die woeker uitgehaal en die kontrakte terugbring na wat die Wet van God vereis. Nie almal stem saam nie – Lukas noem hom steeds die oneerlike bestuurder – maar dit sou verklaar waarom die eienaar hom nie kon aankla nie. Hoe sou hy in die openbaar kon sê: “My bestuurder het my verbode rente gekanselleer”?
Die man het die reg, die dokumente, die tydsberekening en die godsdienstige gevoelighede geken. Hy het die situasie gelees.
Veerkragtig – sy einde word sy begin
Sou die man afgedank word, word hy in die openbaar beskuldig. Sy reputasie sal in skerwe wees, en niemand sal hom aanstel nie. Hierdie man is veerkragtig, hy trek nie die gordyne toe en bly in sy bed lê nie.
Veerkragtigheid kom van veer – iets wat onder druk inbuig en dan terugspring.
Die Nuwe Testament se woord daarvoor is hupomonē: hupo is “onder” en menō is “bly”. Veerkragtigheid is om onder die las te bly sonder om pad te gee.
Watter mislukking in jou lewe lê nog met die gordyne toe? En wat sou gebeur as jy dit nie as ’n einde nie, maar as ’n venster sien?
Wys – hy het sy meester geken
En die heer het die oneerlike bestuurder geprys, omdat hy verstandig opgetree het. (Lukas 16:8)
Waarom sou die eienaar dit doen? Kenneth Bailey, wat sy lewe lank tussen dorpsmense in die Midde-Ooste gewoon en die gelykenisse bestudeer het (Poet and Peasant, 1976), wys daarop: Toe die eienaar die verkwisting ontdek, het hy die bestuurder nie dadelik in die tronk laat gooi nie. Hy het nie terugbetaling geëis nie. Hy het verantwoordbaarheid verwag. In ’n eerkultuur is daardie stilte genade. Die bestuurder het dus reeds iets ervaar: sy baas is ’n genadige man. En op daardie een feit bou hy sy hele plan.
Die boere het hulle nuwe skuldbriewe geskryf. Teen sononder vier elke plaas fees: “Die eienaar het ons skuld gesny! Wat ’n goeie man!” In die Midde-Ooste skep so ’n guns ’n diep ereskuld. Die boere voel nou verplig om terug te gee – aan die eienaar, maar ook aan die man wat die goeie nuus gebring het. Dit is presies die “huise” waarin hy wou ontvang word.
Die eienaar is nou in 'n hoek. Hy kan die afslag omkeer – en die skurk van die distrik word. Of hy kan dit laat staan, die prys betaal, en die lof aanvaar. Hy kies die tweede. En hy kyk na die skelm en skud sy kop met teësinnige bewondering: Jy’s baie slim!
Die bestuurder se genialiteit was dat hy sy meester se goedheid in die openbaar bekend gemaak het voordat die meester anders kon besluit.
Vergelyk hom met die slaaf in Matteus 25 wat sy talent in die grond begrawe het. Hy sê: “Ek was bang, want ek het geweet u is ’n harde man.” Twee mense, twee beelde van hulle meester. Die een ken hom as genadig, en waag. Die ander ken hom as hard, en begrawe.
Hoe ken jy jou Meester – as hard, of as genadig? En hoeveel waag jy op wat jy van Hom weet?
Maar onthou: hy bly ’n skelm
Lukas noem hom steeds die oneerlike bestuurder. Die Joodse geleerde Amy-Jill Levine wys daarop dat Lukas se karakters wat met hulleself praat – die verlore seun, die ryk dwaas, die onregverdige regter en hierdie bestuurder – telkens op moreel dubbelsinnige maniere optree. Die bestuurder is nie ’n held om na te volg nie.
Die eienaar prys nie die bedrog nie. Hy prys die wakkerheid. Jesus sê nie: “Wees so oneerlik soos hy nie.” Hy sê: “Kyk hoe wakker is ’n man wat net vir hierdie lewe leef – en hoe slaperig is julle wat vir die ewigheid leef.”
Dis ’n argument van die mindere na die meerdere – wat die rabbi’s qal wachomer noem. As ’n skelm so hard kan dink om ’n paar maande se skuiling te kry, hoeveel te meer behoort die kinders van die lig te dink oor die ewige tente?
Die kinders van die lig slaap laat
…want die kinders van hierdie tydvak is in die omgang met hulle eie soort verstandiger as die kinders van die lig. (Lukas 16:8)
Jesus sê: die kinders van hierdie tydvak – mense wie se horison by hierdie lewe ophou – is wakkerder as die kinders van die lig.
“Kinders van die lig” was destyds ’n trotse etiket van die Essene wat by die Dooie See in isolasie geleef het (1QS 1:9; 1QM 1:1). Die Joodse geleerde David Flusser het geglo dat Jesus hier spesifiek na hulle verwys. Die Essene het hulle van die wêreld afgesonder en het geweier om sake te doen met buitestaanders – hulle het hulle hande skoon gehou deur uit die wêreld se ekonomie te onttrek. Jesus sê vir sy dissipels: moenie so wees nie. Gebruik selfs die “oneerlike mammon” om vriende te maak.
Dit is soms makliker om heilig te voel deur weg te bly as om wys te wees deur betrokke te raak. Maar Jesus noem onttrekking nie heiligheid nie. Hy noem dit dwaasheid.
Maak vir julle vriende
En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende met die oneerlike mammon, sodat wanneer dit opraak, hulle julle in die ewige tente kan ontvang. (Lukas 16:9)
“Wanneer dit opraak” – in die Grieks eklipē, waarvandaan ons woord eklips kom. Geld gaan eendag in ’n eklips. Die vraag is net: waarin het jy dit omskep voordat die lig uitgaan?
Die bestuurder het tydelike syfers in blywende verhoudings verander. Hy het ’n baas se skuld in vriende omskep. Jesus sê: doen dieselfde, maar met ’n ewige horison.
Koning Monobaz van Adiabene, wat tot die Jodedom bekeer is, het in ’n hongersnood al sy skatte aan die armes uitgedeel. Sy broers het hom verwyt: “Jou vaders het skatte bymekaargemaak, en jy het dit weggegooi.” Hy het geantwoord: “My vaders het vir onder gebêre; ek het vir bo gebêre” (Babiloniese Talmoed, Bava Batra 11a).
Jesus sit dadelik ’n heining om die gelykenis:
Wie in die kleinste getrou is, is ook in baie getrou… Geen huisslaaf kan twee here dien nie… Julle kan nie God en mammon dien nie. (Lukas 16:10, 13)
Die skuldbrief in ons eie hand
Onthou die cheirographon – die skuldbrief in die skuldenaar se eie handskrif. Die bestuurder in Lukas 16 laat die boere hulle eie skuldbriewe oorskryf sodat hulle minder skuld. Maar dit bly ’n skuldbrief.
Paulus gebruik die woord cheirographon in sy brief aan die Kolossense:
Hy het die skuldbrief wat met sy bepalings teen ons was, uitgewis, dit uit die weg geruim en dit aan die kruis vasgespyker. (Kolossense 2:14)
Ons het elkeen ’n skuldbrief in ons eie hand geskryf. Elke keuse, elke woord, elke dag – ons handtekening onderaan. En die Meester kom nie met ’n afslag van twintig persent nie. Hy kom nie met “skryf gou vyftig” nie. Hy vat die hele skuldbrief en spyker dit aan die kruis.
“Now here’s a surprise: The master praised the crooked manager! And why? Because he knew how to look after himself. Streetwise people are smarter in this regard than law-abiding citizens. They are on constant alert, looking for angles, surviving by their wits. I want you to be smart in the same way—but for what is right—using every adversity to stimulate you to creative survival, to concentrate your attention on the bare essentials, so you’ll live, really live, and not complacently just get by on good behavior.”