Jy is presies op die regte plek waar jy moet wees

Daar's 'n oomblik wat ons amal al op 'n tydstip beleef het: Is ek op die regte plek? 

Jy is presies op die regte plek waar jy moet wees
Jy is presies op die regte plek waar jy moet wees

'n Boodskap oor klein begin, vrede maak en sout wat sy sout hou

Is ek op die regte plek? 

Daar's 'n oomblik wat ons amal al op 'n tydstip beleef het: jy staan in die kombuis, of staan in 'n ry by SPAR, of sit agter 'n rekenaar, of in 'n kerk, en 'n stemmetjie vra of jy nie eintlik êrens anders moet wees nie. Elia voel verlate onder ’n besembos (1 Kon. 19:4).
Moses swerf in die woestyn ver weg van sy mense (Num. 11:15).
Jona vlug van die bose stad Ninevé (Jonah 4:3).
Job sit op die ashoop (Job 3:11).
Jeremia in treur oor die sonde van sy volksgenote wat nie wou luister nie (Jer. 20:14). Paulus onder ondraaglike druk (2 Kor. 1:8).

Vandag gaan ons na drie mense kyk wat nooit eers tyd gehad het om die vraag te vra nie – 'n seun met padkos, 'n diensmeisie sonder naam, 'n skinker in 'n vreemde land .

Niemand van hulle het geweet hulle gaan geskiedenis maak nie. Hulle was net beskikbaar presies op die plek waar God hulle geplaas het.  

Vyf brode en twee vissies, en 'n ma wat in vrygewigheid geglo het

Vyfduisend mans sit op 'n grasperk heuwel buite Betsaida, sonder dat die vroue en kinders getel is. Filippus doen die somme en weet hulle kan nie die mense help nie. Andreas vind 'n seun met vyf gars brode en 2 visse. “Maar wat is dit onder so baie?” vra hy – nie geloof wat praat nie, eerder rekenkunde wat moedeloos geraak het.

Hier's 'n vraag wat min mense vra: hoekom het 'n kind se ma vyf brode ingepak as hy net een sou eet? Sy kon nie geweet het van vyfduisend mense op 'n bult nie. Sy het hom net, soos sy waarskynlik elke oggend gedoen het, met genoeg gestuur om te deel. Die wonderwerk by Betsaida het nie by Jesus se hande begin nie. Dit het jare vantevore by 'n kombuistafel begin, met 'n vrou wat haar kind geleer het om altyd 'n bietjie ekstra te dra.

Wat het jý, sonder dat jy ooit daaroor nagedink het, geleer om altyd ekstra van te dra?

Wanneer ons die wonder van die vermeerdering van die brode en visse lees, dink ons dikwels aan twee klein sardientjies in ’n kosblik. Maar die geskiedenis van die See van Galilea vertel ’n ander verhaal.

 

Interessant genoeg is dit slegs Johannes wat vir ons meer besonderhede gee oor die twee vissies. In Johannes 6:9 gebruik hy die Griekse woord opsarion (ὀψάριον), ’n verkleiningsvorm wat dui op klein vissies of vis wat as bykos gebruik is. Die gedagte van “kleinheid” lê dus reeds in die woord self opgesluit; daar is nie nog ’n aparte Griekse byvoeglike naamwoord wat “klein” by die vis voeg nie.

Matteus, Markus en Lukas noem eenvoudig “twee visse” (Matt. 14:13-21; Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17). Johannes alleen beklemtoon die nederige aard van die seuntjie se bydrae.

Die See van Galilea het ongeveer 18 visspesies gehuisves, waarvan sowat tien kommersieel gevang is. Die algemeenste vangste was tilapia (musht), babers en karpagtige visse. Sommige van hierdie visse kon indrukwekkende groottes bereik. Die bekende langkopbarbeel kon byvoorbeeld tot 75 cm lank word en meer as 7 kg weeg, terwyl sekere tilapia-spesies tot ongeveer 45 cm lank en 2 kg swaar kon word. 

Tradisioneel beklemtoon ons die kleinheid van die seuntjie se bydrae: vyf broodjies en twee vissies vir vyfduisend manne. Maar miskien mis ons iets. Vyf garsbrode en twee vissies was nie bloot ’n happie nie. Dit was ’n ordentlike middagete. Genoeg vir hom. Miskien selfs genoeg om met ander te deel.

Die Skrif sê nie vir ons wie die kos ingepak het nie. Ons weet nie of sy ma dit voorberei het nie. Maar ek hou van die gedagte dat daar iewers ’n moeder was wat haar seun met genoeg gestuur het, nie net om self versadig te wees nie, maar met die moontlikheid om met ander te deel.

En dalk is dit die punt. God begin dikwels nie met mense wat niks het nie. Hy begin met mense wat genoeg het, en wat bereid is om dit oop te maak vir ander.

Die wonder was nie dat ’n seuntjie amper niks gehad het nie. Die wonder was dat hy nie aan sy kos vasgeklou het nie. Hy het nie gesê: “Dis myne nie.” Hy het nie bereken hoeveel hy oor sou hê nie. Hy het eenvoudig sy genoeg in die hande van Jesus geplaas.

En wat in sy hande genoeg was vir een, het in Christus se hande genoeg geword vir duisende.

Miskien het sy moeder hom geleer: “My kind, moenie net genoeg saamneem vir jouself nie. Neem genoeg saam om te kan deel.”

Dit was sy ouerhuis se normaal, en op die dag, is hy op die regte plek, op die regte tyd, en word sy gawe die basiese materiaal van 'n wonderwerk. 

'n Diensmeisie wat 'n generaal laat beweeg het

In die huis van Naäman, bevelvoerder van die leër van Aram en ’n hooggeagte man in diens van koning Benhadad van Sirië, het ’n jong Israelitiese meisie as diensmeisie vir Naäman se vrou gewerk. Sy was tydens een van die Aramese strooptogte uit Israel weggevoer (2 Kon. 5:1-2). Haar naam word nooit genoem nie. Sy het geen titel gehad nie, geen aansien nie en geen reuse invloed nie.

Maar sy het iets geweet wat selfs die koning van Sirië nie geweet het nie. Sy het geweet dat daar in Samaria, ongeveer 200 kilometer suid van Damaskus, ’n profeet van die Here was – Elisa – deur wie God genesing kon bring (2 Kon. 5:3).

Sy het nie met die koning gepraat nie. Sy het nie ’n boodskap aan die generaal geskryf nie. Sy het eenvoudig met haar meesteres gepraat, waarskynlik op ’n doodgewone dag in ’n gewone huis. “Ag, as my heer net voor die profeet in Samaria kon kom, dan sou hy hom van sy melaatsheid genees” (2 Kon. 5:3).

Daardie eenvoudige getuienis het ’n kettingreaksie aan die gang gesit. Die boodskap het Naäman bereik, toe die koning van Aram, en uiteindelik het hierdie magtige generaal met sy perde en strydwaens die lang pad van Damaskus na Samaria aangepak (2 Kon. 5:4-5). Van daar is hy na die Jordaanrivier gestuur, waar hy sewe maal moes onderdompel volgens die woord van Elisa (2 Kon. 5:10,14).  En daar, langs die Jordaan, het ’n vyand van Israel nie net gesond geword nie; hy het ook bely: “Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel” (2 Kon. 5:15).  

Met wie gesels jy elke dag wat dalk meer invloed het as wat jy, of sy, besef?

Nehemia se beker was sy kansel

Nehemia was nie ’n profeet soos Jesaja, nie ’n priester soos Esra, en ook nie ’n koning nie. Hy was die skinker van koning Artasasta I van Persië (Neh. 1:11). Sy taak was om die koning se wyn te bedien en, indien nodig, eerste daarvan te proe, om te verseker dat dit nie giftig is nie.  Hy moes dus sy lewe elke keer op die spel plaas. Dit was dus ’n posisie van groot vertroue, want die skinker het gereelde toegang tot die koning gehad en moes absolute lojaliteit bewys.

Toe Hanani en ander manne uit Juda by die Persiese winterhoofstad Susan aankom, het hulle aan Nehemia vertel dat die oorblyfsel in Jerusalem in groot ellende verkeer en dat die stad se mure nog afgebreek en sy poorte met vuur verbrand was (Neh. 1:1-3). Jerusalem was ongeveer 1 300 kilometer van Susan af geleë.

Nehemia het nie onmiddellik bedank en op sy eie na Jerusalem vertrek nie. Hy het eers gaan sit, gehuil, getreur, gevas en vir dae lank voor die God van die hemel gebid (Neh. 1:4). Vanaf die maand Kislef, ongeveer November/Desember, het hy gewag tot die maand Nisan, ongeveer Maart/April – byna vier maande later (Neh. 1:1; 2:1).

Toe, op ’n gewone dag in die paleis, terwyl hy die wyn voor koning Artasasta bedien het, het die koning sy bedroefde gesig opgemerk. Omdat dit gevaarlik was om hartseer voor die koning te verskyn, was Nehemia bevrees. Maar die koning het gevra: “Waarom lyk jy so bedroef?” (Neh. 2:2).

Daardie vraag het die deur oopgemaak. Nehemia het nie uit die paleis gevlug om God se wil te vind nie. Hy het God gedien op die plek waar God hom reeds geplaas het. En die gesprek wat gevolg het, binne-in die paleis van Susan, het uiteindelik gelei tot die herbou van Jerusalem se mure.

Waar het God jou reeds 'n oor gegee – by die werk, oor 'n heining, in 'n WhatsApp-groep – wat jy nog nie as bediening raaksien nie?

Vrede maak op vyf fronte

Om te glo jy is op die regte plek, op die regte tydstip moet jy op vyf vlakke vrede maak. 

Vrede met God: 

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Rom 5:1-5 

Vrede met jouself: 

“Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie. Inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal — eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.” 1 Korintiërs 15:10 (Afrikaanse Nuwe Vertaling 1983)

“Vir my maak dit egter min saak dat ek deur julle of deur enige menslike hof beoordeel word. Ek beoordeel nie eers myself nie. Want ek is my van niks bewus nie, maar daardeur is ek nie vrygespreek nie. Dit is die Here wat my beoordeel.”
(1 Korintiërs 4:3-4, DV 2020)

Vrede met jou naam en familie:

“Ellende wag vir hom wat met sy Maker twis, ’n potskerf tussen ander potskerwe op die grond. Vra die klei vir die een wat dit vorm: ‘Wat maak jy?’ Vra die maaksel vir sy maker: ‘Hy het nie hande nie!’ Ellende wag vir hom wat vir sy vader sê: ‘Waarom verwek jy my?’ en vir sy moeder: ‘Waarom bring jy my in die wêreld?’”Jesaja 45:9-10 (1983 Afrikaanse Vertaling)

 

Vrede met jou dorp en jou gemeenskap. 



“As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Rom. 12:18). En die skrywer van Hebreërs spoor ons aan: “Jaag die vrede na met almal” (Heb. 12:14). 

 

 

En vrede met die omgewing: 

“Elisa vra haar: ‘Wat kan ek vir jou doen? Sê vir my, wat het jy in die huis?’ … Toe sê hy: ‘Gaan vra vir jou by al jou bure leë kanne; vra soveel as wat jy kan kry.’” 2 Kings 4:2-3 

“Bou huise en bewoon hulle, plant tuine en eet die opbrengs daarvan … Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die Here, want sy voorspoed is ook julle voorspoed.” Jeremiah 29:5-7

“Wat het jy in jou huis?”

Tydens die groot droogte in die dae van koning Agab stuur die Here die profeet Elia uit Israel noordwaarts na Sarfat, tussen Tirus en Sidon in Fenisië, sowat 15 kilometer suid van Sidon en ongeveer 140 kilometer van Samaria af (1 Kon. 17:8-9). Daar ontmoet hy ’n weduwee wat besig is om houtjies op te tel. Sy vertel hom dat sy net ’n handjievol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die fles oor het – genoeg vir een laaste maaltyd vir haar en haar seun (1 Kon. 17:10-12). Elia vra haar nie vir iets wat sy nie het nie. Hy vra haar om in geloof en gehoorsaamheid te handel met dit wat reeds in haar huis is. En volgens die woord van die Here het die meel in die kruik nie opgeraak en die olie in die fles nie minder geword nie, totdat die Here weer reën op die aarde gegee het (1 Kon. 17:14-16).

Later, in die bediening van die profeet Elisa, kom die weduwee van een van die profeteseuns na hom met ’n ander probleem. Haar man het gesterf en ’n skuldeiser wou haar twee seuns as slawe neem om die skuld te vereffen (2 Kon. 4:1). Elisa se eerste vraag is merkwaardig: “Vertel my, wat het jy in die huis?” (2 Kon. 4:2). Sy antwoord: “U dienares het niks in die huis nie behalwe ’n flessie olie.” Elisa stuur haar nie na die paleis van die koning in Samaria nie. Hy stuur haar na haar bure. “Gaan leen vir jou by al jou bure leë kanne; nie te min nie” (2 Kon. 4:3). Die wonder begin nie met iets wat ver weg is nie, maar met wat reeds in haar huis is en met die mense wat reeds rondom haar woon. Nadat die olie vermenigvuldig is, beveel Elisa haar om die olie te verkoop, haar skuld af te betaal en van die res saam met haar seuns te leef (2 Kon. 4:7).

Eeue later, ongeveer 900 jaar daarna, kom Jesus van Judea af op pad na Galilea. In plaas daarvan om die langer pad oos van die Jordaan te neem, reis Hy deur Samaria – ’n streek wat baie Jode van sy tyd verkies het om te vermy weens eeue se vyandskap tussen Jode en Samaritane (Joh. 4:4). By die dorp Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het, gaan sit Hy moeg by Jakob se put, sowat 60 kilometer noord van Jerusalem (Joh. 4:5-6).

 

Omtrent die sesde uur – ongeveer twaalfuur die middag – kom ’n Samaritaanse vrou water skep (Joh. 4:6-7). Sy hoef nie na Jerusalem te gaan om die Messias te vind nie. Die Messias ontmoet haar by dieselfde put, waarby sy seker al vir jare gaan water skep het.  Nadat sy Jesus ontmoet het, keer sy terug na haar eie dorp, na haar eie mense. En Johannes vertel dat baie Samaritane uit daardie dorp in Jesus geglo het op grond van die vrou se getuienis (Joh. 4:39).

Die patroon is opvallend. God begin dikwels nie met wat ons wens ons gehad het nie, en Hy stuur ons nie altyd na verre plekke nie. Hy begin met wat reeds in ons huis is, met die mense wat reeds ons bure is, en met die plek waar Hy ons reeds geplant het.

Wanneer oorlewing jou wil wegjaag

Een van die grootste redes hoekom mense dikwels wil trek of emigreer is nie om uit hebsug weg te hardloop van 'n klein dorp na groener weivelde nie, dis bloot oorlewing. Wanneer die geld min raak, die werk op raak, klink elders altyd beter, en dis nie 'n sonde om daardie druk te voel nie. Dis menslik.

Maar onthou: die weduwee se voorsiening was nie in 'n ander dorp nie. Dit was in haar eie kruik, vir haar eie bure. Die uitdaging wat jou wil wegjaag – die droë jaar, die stadige ekonomie, die klein mark – is soms presies die plek waar 'n geleentheid lê wat nog niemand raakgesien het nie, juis omdat almal te besig is om elders te kyk. 'n Droogte dwing 'n boer om dieper te boor. 

Waar in jou huidige uitdaging lê 'n geleentheid wat jy nog net nie raakgesien het nie?

Sout wat nog smaak het

Jesus sluit een van Sy hardste leerstellings oor dissipelskap af met 'n landbou-beeld wat ons maklik mis: sout is goed, maar as dit sy smaak verloor, waarmee sal dit weer gesout word? Dit is dan nie eers goed vir die grond nie, en ook nie vir die mishoop nie – dit word net uitgegooi (Lukas 14:34-35).

Dit klink vreemd totdat jy onthou hoe sout in die ou-Midde-Oosterse gewerk het. Sout is op die mishoop gegooi, nie net as smaakmiddel nie, maar as bewaarmiddel – om die afbreekproses te reguleer sodat die mis stadig kon verander in vrugbare bemesting, in plaas daarvan om net te verrot. Sout met krag was nuttig op twee fronte: dit het iets goeds gehelp groei, en dit het iets bederflik gehelp bewaar sonder om dit te laat vrot of vol parasiete te raak.

Dis presies wat jy en ek geroep is om te wees, op presies die plek waar ons staan. Nie net vriendelik nie. Nuttig. Sout wat sy geur verloor het, is nie skadeloos nie – dis nutteloos, te swak om voeding te wees, te swak om te bewaar, en dit word vertrap.

Daarom is hierdie boodskap nie net “wees positief, jy's op die regte plek” nie. Dis skerper as dit. Wees die soort sout wat iets help groei wat andersins sou verdor – 'n bemoediging, 'n geleentheid, 'n stukkie waarheid wat iemand broodnodig het, soos die seun se brood. En wees die soort sout wat iets help bewaar wat andersins sou bederf – 'n grens wat jy trek, 'n waarheid wat jy nie laat wegglip nie, 'n parasitiese patroon wat jy weier om te voed.

Nie elke ding wat aan jou vasklou, verdien om gevoed te word nie. 'n Mishoop sonder sout word nie vrugbare grond nie. Dit word net 'n stinkende plek waar siekte broei. Soms is jou rol presies om die sout te wees wat sê: tot hiertoe en nie verder nie, sodat wat goed is, kan groei, en wat parasities is, nie kan floreer nie.

Amen.